Die Opstanding: ‘n behoefte aan ‘n her-interpretasie

Deur Ds. Schalk Naudé op 1 Oktober 2011

Inleiding

In my eerste gemeente, Goedgegun, in Swaziland, in die vroeë 1980's, het ek op 'n stadium 'n aanhaling in 'n preek gemaak waarmee ek toe heelhartig saamgestem het. Die aanhaling het gekom van 'n bejaarde swartman êrens in die VSA, wat sou gesê het: "I believe the Bible from cover to cover, and sometimes even the covers too."

Wel, ek kan dit nie meer sê nie. Ek klou nie meer krampagtig en op 'n fundamentalistiese wyse aan die Bybel vas nie. Daarvoor het ek te veel en krities uit ander bronne begin lees, waaruit ek algaande tot die insig gekom het dat die Bybel nie 'n onfeilbare bron is nie.

Ek kan my ook nie meer skaar by 'n teolgie ('n ou-teologie) waar teoloë van bo-op 'n kansel en van agter 'n kanselkleed (onaantasbaar?) met die woorde: "So spreek die Here..." sogenaamde "onveranderbare waarhede" op my probeer afdwing nie. Want: "So spreek die Here..." spreek die Here lankal nie meer nie. Die indruk dat die Evangelies verbatim ooggetuie verslae bevat, is helaas nie korrek nie.

Wat die Bybel betref, stem ek nou heelhartig saam met John Shelby Spong wat sê: "When someone tells me that they believe the Bible is the 'literal and inerrant word of God,' I always ask, 'Have you ever read it?"

So skryf die internasionaal bekende Nuwe-Testamentikus, Bart Ehrman, in sy boek Jesus Interrupted (2009) dat die Bybel nie net die topverkoper en die mees gelese boek in die geskiedenis van die Westerse beskawing is nie, maar dat dit ook dié boek is wat, veral deur die gewone leser, ten diepste misverstaan word.

Volgens Ehrman is daar, in die Verenigde State alleen, duisende Bybelwetenskaplike navorsers wat met toenemende noukeurigheid die ryk ontstaansgeskiedenis en die werklike betekenis van die Bybel probeer ontrafel. Hulle navorsingsresultate vorm deel van die onderrigmateriaal van studente en voornemende predikante. Tog is die grootste gedeelte van die Amerikaanse bevolking salig onbewus van, of onkundig oor, hierdie navorsing. Hy vermoed dit is omdat professionele Bybelwetenskaplikes nie die nuwe bevindings op 'n verantwoordelike manier aan die publiek deurgee nie, en ook omdat predikante, wat wel oor die inligting beskik, om een of ander rede dit nie met hulle gemeentes deel nie.1

Daarom maak Ehrman oor onder andere die opstanding van Jesus die volgende opmerking: "If you do believe it, it is not as a historian, but as a believer." Om dit te verduidelik wil ek dit waag dat ons bietjie gaan stilstaan by die vertellinge van van die Paasgebeure en veral dan die Opstanding.

Paasgebeure

Die Christelike geloof is gebore vanuit die ondervindinge wat mense rondom die Paasgebeure gehad het. Dit was hierdie Paas-ondervindinge van mense wat uiteindelik daartoe gelei het dat aan Jesus 'n tipe bo-aardse outoriteit toegeken is. Dít het verder sy volgelinge daartoe genoop om sy leringe ter harte te neem deur dit te probeer bewaar. Aanvanklik eers mondelings by wyse van oorvertellings en later ook skriftelik. Die evangelies het dus evolusionêr as vroeg-Christelike volksvertellings op grond van meestal annonieme bronne ontwikkel.

Dit is tog sekerlik duidelik, dat sonder die Paasgebeure sou daar geen Christelike geloof gewees het nie. Ek dink dat ons almal hiermee saamstem. Hierdie stelling is nouliks te betwyfel. Maar waaroor daar nie saamgestem word nie, is die verskil in interpretasie oor wat die Paas-ondervindinge dan werklik sou wees of nie. Dit is oor hierdie punt waaroor daar algaande 'n wyer meningsverskil in voorkom tussen – kom ons noem dit maar – 'n Bybel-wetenskaplike en 'n fundametalistiese interpretasie en benadering.

Fundamentaliste is, weet ons nou al, baie seker van hulle feite deur 'n letterlike interpretasie van die Paasgebeure voor te hou. Hiervolgens is Jesus gekruisig, is Hy in die graf op Goeie Vrydag as 'n dooie man neergelê en is Hy deur die kragtige werking van God na drie dae weer opgewek tot die lewe. Daardeur is die laaste vyand wat die mense bedreig vernietig en word alle gelowige mense van die krag van die dood verlos. Die fudamentalistiese standpunt word verder gehandhaaf deur te verkondig dat as die liggaam van Jesus nie fisies uit die dood en tot die lewe opgewek is nie, dan het die Paasgebeure geen waarde nie. Hieroor sê hulle, kan daar geen kompromieë wees nie.

Dit maak wedersydse gesprek natuurlik baie moeilik.2 Diegene (so sê en skryf hulle) wat enigsins oor hierdie waarheid begin wonder en daaroor twyfel, verwerp die essensie van hulle geloofsoortuiginge. Maar, en dit is die vraag wat John Spong vra: is dit so?

Lees 'n mens die Nuwe Testament in die tyds-orde waarin die boeke geskryf sou wees, word daar 'n fasinerende voortgang of uitbouing van 'n oorspronlike gedagte gesien. Ons moet egter onthou dat hierdie vertellinge van Jesus is nie geskryf deur mense wat ooggetuienisse was van die gebeure nie, maar deur mense wat jare later hulle verhale gebasseer het op die mondelinge oorvertellings deur mense wat vir dekades lank op hierdie wyse ander mense wou oortuig om in Jesus te glo. Tog, is hierdie geskrewe dokumentasie gevul met teenstrydighede, veral wat die opstandigs-gebeure betref. Dit maak natuurlik enige historiese ondersoek baie moeilik want die historisiteit van die opstanding kan nie bewys word nie maar slegs geglo word.

Paulus

Paulus, wat tussen die jare 50 en 64 (of 20 tot 23 jaar) nadat die aardse lewe van Jesus tot 'n einde gekom het en sy briewe geskrywe het, het nooit die opstanding van van Jesus beskryf as 'n fisiese liggaam wat uit die dood opgewek is nie. Daar is, volgens John Spong, nie sprake daarvan by Paulus dat iemand, wat dood was, later met grafdoeke en al uit die graf uitgestap het en deur sy dissipels gesien is nie.

In Paulus se uitsprake oor die opstanding uit die dood, moet ons sy Fariseër-agtergrond in berekening bring. Voor sy bekering was die apostel Paulus 'n Fariseër, soos hy self verklaar het: "Broers, ek is 'n Fariseër en kom uit 'n familie van Fariseërs. Dit is oor die verwagting dat die dooies weer sal opstaan dat ek verhoor word" (Hand. 23:6).

Ons kan nie verwag dat hy sy teologiese agtergrond moes weggooi nie. Trouens, dit is juis daardie teologiese raamwerk binne die Fariseëe-tradisie oor veral die opstanding (wat 'n eeue lange ontwikkeling gehad het) wat hy uitnemend gebruik het om geloofwaardigheid aan die Jesus-verhaal te gee.

Daar was egter ook ander invloede van buite wat ingewerk het op Paulus en ander skrywers van die Nuwe-Testamentiese opstandingsgeloof. Hiervan was die Griekse invloed die belangrikste. Dit is egter 'n preek vir 'n volgende geleentheid. Kortliks net die volgende:

In die Grieks-Romeinse leefwêreld was daar wydverspreide voorstellings van sterwende en opstanende gode. Daarom skryf Andries van Aarde in sy boek Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God: "As with the virginal conception, I do not trace the empty tomb tradition back to the Jesus faction in Jerusalem, but to common Greek thinking that manifested in the stories of the deification of Hercules" (p 112) en verder "We have seen that the myths of virginal conceptions, ascensions to heaven, and being adopted by the gods are almost recycled ideas ... "

Wat Paulus egter wel suggereer oor wat die Paasgebeure sou beteken – en dit is die punt – is dat God die oordeel wat die wêreld oor Jesus uitgespreek het, nietig verklaar het, deurdat Jesus vanuit die dood in God opgewek is. Dit was, daarom vanuit God, dat Jesus in 'n transformerende /gedaantewisselende /metamorfiese soort van hemelse visioen aan sekere uitgesoekte mense verskyn het. Paulus som hierdie verskynings op in 1 Korintiërs 15:5-8 as hy noem dat Jesus aan Sefas, die twaalf (blykbaar het Judas volgens Paulus nog gelewe) en daarna aan meer as vyf honderd broers (waar is die susters?)3, aan Jakobus en al die apostels verskyn het.

Laastens vertel hy dat dieselfde Jesus ook aan hom verskyn het. Niemand veronderstel dat Paulus ooit 'n opgewekte liggaam gesien het nie.4 Paulus het 'n 'n visionêre belewenis gehad het wat as "geestelik" (pneumaties) beskryf kan word en daarom kan ons volgens Andries van Aarde sê dat: "... because God turns shame into honor, the resurrection faith is, according to Paul, the sign of a new birth, a new start, a new creation..."

Daarom kon Paulus moontlik die volgende skryf: "Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit." – Kolossense 3:1.5

Wat verder hier belangrik is, is om daarop te let dat die verhaal van die Hemelvaart ook nog nie neergeskryf was toe Paulus (?) bogenoemde woorde sou geskryf het nie. Soos reeds gesê: Paulus het nie die opstanding van Jesus gevisualiseer of voorgestel as synde dat Jesus in hierdie wêreld tot die lewe herstel is nie, maar eerder dat Jesus in God opgestaan het. Dit was nie 'n gebeure in die tyd nie, maar 'n transenderende, verby die sintuiglike, verhewe en veranderlike waarheid. Daarom maak Julian Müller die volgende opmerking: "Reg verstaan, bring die opstandingsboodskap jou tot die nederige, maar blye ontdekking dat jy ook ingesluit is in die lang tou mense aan wie die Opgestane verskyn (het)."

Paulus het na ons beste skating, rondom die jaar 64 nC gesterf. Die eerste Evangelie (Markus) was nie voor die vroeë 70's geskryf nie. Paulus het dus nooit 'n kans gehad om die die Paasverhaal in enige van die evangelies te lees nie. Hy het ook waarskynlik nooit die Paasverhaal gehoor of verstaan soos wat dit in die Evangelies opgeteken is nie. Die tragedie van die Christelike geskiedenis is dat Paulus deur die bril van die Evangelies gelees is en gelees word. Daarom sit ons vandag met 'n verdraaide interpretasie van Paulus, en op die koop toe, ook met 'n teologie wat verwarrend is.

Markus

In Markus, die Evangelie wat eerste geskryf is, in die vroeë 70's, verskyn die opgestane Christus nooit nie. Die laaste keer wat Jesus in hierdie Evangelie gesien word, is toe sy gestorwe liggaam van "die kruis afgehaal is ... in linne toegedraai is ... en neergelê is in 'n graf wat in die rots uitgekap was" (Markus 15:46).

Markus se verhaal oor die opstanding vertel van die treurende vroue wat 'n oop graf ontdek met 'n jongman (boodskapper) wat aan die regterkant sit met lang wit klere aan en vir hulle vra om vir die dissipels te gaan sê dat Hy (Jesus) hulle in Galilea sal ontmoet (16:4-7). Markus eindig dan sy verhaal met 'n tekening van die vroue wat in vrees wegvlug en vir niemand anders iets daarvan sê nie (16:8).

Hierdie slot was blykbaar so kortaf en plotseling dat ander mense 'n ander weergawe begin neerskryf het en wat hulle gedink het die slotboodskap van Markus se onvolledige verhaal moes wees. Verse 9-20 word dus nie erken as oorspronlike woorde van die skrywer van die Markus-Evangelie nie.6

Die belangrikste opmerking hier, is dat volgens die nuutste navorsing dit duidelik is dat die Markus-Evangelie eindig sonder dat die opgestane Christus ooit deur iemand gesien is.

Matteus

Beide Matteus, wat tussen 80 en 85, en Lukas wat tussen 88 en 92 geskryf is, het Markus as verwysingsbron vir hulle verhaal gebruik. Beide het sekere veranderings, aanvullende byvoegings en uitbreidings aangebring. Dit is interessant om na hierdie aanvullende byvoegings en uitbreidings te kyk en ondersoekend te vra oor waarom sou Matteus en Lukas dit dan individueel in hulle onderskeie verhale aan die Markus-verhaal doen? Het hulle nuwe bronne gehad? Het die verhaal anders ontwikkel en is daarop uitgebrei deur jare se oorvertelling?

Die eerste opmerklike byvoeging in Matteus se verhaal is dat hy Markus se verhaal oor die vroue by die graf verander. Eerstens word die jongman met lang wit klere in die Markus-verhaal verander na 'n bo-natuurlike wese/engel. Vervolgens meld Matteus dat die vroue na hulle aanvanklike bangheid en blyheid en gehardloop skielik vir Jesus (steeds in die tuin?) ontmoet het. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid (28:9). Hier het ons vir die eerste keer in die geskiedenis van die Christendom daarmee te doen dat die opstanding voorgestel word as 'n fisieke opwekking. Dit gebeur in die 9de dekade van die Christelike era. Dit het dus meer as 50 jaar geneem voordat die Paasgebeure geïnterpreteer word as synde dat Jesus se gestorwe liggaam (fisies?) opgewek is tot lewe.

As Matteus verder sy verhaal van die (skielike?) verskyning van die opgestane Jesus, wat met mag toegerus is vanuit die hemel (v.18), aan die elf dissipels aan die einde van die laaste hoofstuk skets, gebeur dit in Galilea bo-op die top van 'n berg. Ons moet ook weereens daarop let dat toe Matteus sy verhaal geskryf het, was die verhaal oor Jesus se hemelvaart nog nie deel van die tradisie waarin Matteus geleef het nie.

Lukas

Lukas volg die storielyn van Markus oor die vroue by die graf, maar vermeld dat hulle nie vir Jesus op daardie Paasoggend by die graf gesien het nie. Lukas verander verder Markus se jongman/boodskapper na "twee manne met blink klere aan" (v4).
Lukas verander ook die lokaliteit. Sy gebeure speel af in Jerusalem en hy vermy (doelbewus?) Markus se vertelling dat die jongman opdrag gegee het dat Jesus die dissipels, volgens afspraak, in Galilea sou ontmoet.

Lukas verhaal ook dramaties die fisieke van die opgestane Jesus. In sy verhaal, loop, praat, eet, leer en interpreteer Jesus aan die Emmausgangers die Paasgebeure. Hy verskyn en verdwyn ook willekeurig. Hy nooi sy dissipels ook uit deur fisies aan Hom te vat en voel (24:39). Hy verseker hulle ook dat hy nie 'n gees sonder vleis en bene is nie.
Om dan ten slotte 'n slot vir sy Evangelie te verkry en die fisieke opgestane Jesus van die toneel te laat verdwyn, ontwikkel en vertel Lukas dan die verhaal van die hemelvaart (24:51).

Maar selfs in die verhaal oor die Hemelvaart is (die einste?) Lukas nie konsekwent nie. Later meer hieroor.

Waar die jongman-boodskapper in Markus, die engel in Matteus word, die dissipels beveel om die opgestane Jesus in Galilea te ontmoet, ontken Lukas op sy beurt enige ontmoeting in Galilea. In die Lukas-verhaal word die dissipels beveel om in Jerusalem te bly "totdat hulle met krag van bo toegerus is" (24:49). Die verhaal groei en ontwikkel dus beslis.

Johannes

In die Johannes-Evangelie, wat moontlik in 95-100 nC geskryf is, word die liggaamlikheid van die opstanding nog verder ontwikkel. In hoofstuk 20 van hierdie Evangelie, verskyn Jesus eerste in die tuin aan Maria Magdalena en sê aan haar: "Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie" (20:17).

Die vraag is: kan 'n mens aan iets vashou wat nie-fisiek is nie? Daarna suggureer Johannes dat Jesus direk na die hemel opgevaar het (20:17), nadat Hy dan, waarskynlik toe vanuit die hemel aan die dissipels (sonder Tomas) verskyn het. Jesus was ook klaarblyklik in staat om t.s.v. die feit dat die deure (en die vensters?) van die vertrek waar die dissipels uit vrees vir die Jode vergader het, skielik in hulle midde te kon staan. Hier word hy ook werklik fisiek voorgestel. Hierdie fisieke verskyning word verder vergroot toe Jesus 'n week later 'n tweede verskyning aan die dissipels maak. Dié keer was Tomas teenwoordig. In hierdie gedeelte word vertel dat Tomas uitgenooi word om met sy vinger en hand die kruiswonde van Jesus te kom ondersoek. Hierdie gebeure vind almal in Jerusalem plaas.

Hoofstuk 21 van Johannes se Evangelie beskrywe 'n verskyning van Jesus in Galilea. Hierdie gebeure vind ook blykbaar later in tyd plaas, want die dissipels het weer na hulle oorspronlike beroep as vissermanne teruggekeer. Hier begelei Jesus vir die dissipels om 'n groot vangs van 153 visse te vang. Jesus eet ook saam met hulle en aan die einde van die hoofstuk herstel hy ook die verhouding met Petrus, wat Hom driemaal sou verloën het.

Uit bogenoemde dus die volgende

Al vier die Evangelies stem saam dat op die derde dag na Jesus se kruisiging en begrafnis vroue na die graf gegaan het en dit leeg gevind het. Maar oor die detail word daar geweldig baie verskil. Kom ons kyk weer kortliks daarna:

Een beskrywing in hierdie geval, soos ons reeds gesê het, blyk heeltemal onversoenbaar te wees. In Markus 16:7 se beskrywing word die vroue opdrag gegee om die dissipels te vertel dat hulle Jesus in Galilea moet ontmoet maar weens vrees "sprak hulle geen spraak" teenoor iemand nie.

In die Matteus 28:7 word verhaal dat aan die dissipels vertel word dat hulle na Galilea moet gaan om Jesus daar te ontmoet wat hulle dan skynbaar ook dadelik doen. Jesus verskyn daar aan hulle en gee aan hulle finale opdragte. In Lukas word die dissipels nie vertel om na Galilea te gaan nie. Daar word vertel dat Jesus reeds vooraf vertel het dat Hy uit die dood sou opstaan terwyl hy in Galilea besig met sy publieke bediening was. Hulle het volgens die verhaal dan ook nooit Jerusalem – in die suide van Israel – verlaat en na Galilea in die Noorde gegaan nie.
Op die dag van die opstanding sou Jesus aan twee dissipels wat op weg was na Emmaus, verskyn het (Luk. 24:13-35) en later die dag vertel hierdie dissipels aan die ander wat hulle gesien het en Jesus verskyn aan hulle almal (24:36-49) en dan daarna begelei Jesus hulle na Betanië aan die buitewyke van Jerusalem, gee aan hulle sekere opdragte en vaar op na die hemel.

In Lukas se tweede boek, die boek Handelinge, word verhaal dat Jesus baie duidelik opdrag gegee het dat die dissipels na sy hemelvaart nie Jerusalem moet verlaat nie (Hand. 1:4) maar om daar te wag totdat hulle die Heilge Gees op die dag van Pinkster sou ontvang, 50 dae na die Paasfees. Jesus sou ook in die loop van 40 dae by verskeie geleenthede aan die dissipels verskyn het. Nadat Jesus tóe sy opdragte gegee het, het hy opgevaar na die hemel. Die dissipels het toe, volgens opdrag, in Jerusalem gebly en gewag op die uitstorting van die Heilge Gees (Hand. 2).

Hier het ons dus 'n geweldige teenstrydigheid. As Matteus reg is in sy verhaal dat die dissipels direk na Galilea gegaan het en Jesus daar sien opvaar het na die hemel, hoe kan Lukas ook reg wees as hy verhaal dat die dissipels die hele tyd in Jerusalem was en Jesus daar na 40 dae sien opvaar het na die hemel?

Gevolgtrekking en slot

Dit blyk of die Paasverhaal, en byname die opstanding, deur die jare dramaties en aansienlik ontwikkel het. Wanneer ons al hierdie Bybelse data bymekaar bring en van naderby ondersoek, is daar die volgende wat uitstaan:

"Dat Jesus lewe en in die gelowige opstaan, het weinig te doen met 'n saaklike uitspraak oor 'n graf wat leeg is. Dit het eerder te doen met die misterie van 'n geloofsverbondenheid met God." – Julian Müller

Geza Vermes se woorde maak ook sin: "Sentence was passed, and [Jesus] was led away. Crucified, dead, and buried, he yet rose in the hearts of his disciples who had loved him and felt he was near ... he is rising again, today and tomorrow, in the hearts of men who love him and feel he is near."

Ek sluit af met W.E.G. Louw se gedig:

Ek sal opstaan

Ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
om alles te vergeet, en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos 'n kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
en moet ek gaan, en aan sy voete val

Voetnotas

1. Jurie van den Heever: Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA, http://kletskerk.co.za/tuisblad/archives/445
2. John Shelby Spong skryf: "I do not believe that talking to or with fundamentalists about their beliefs is productive. There is no common vocabulary for a serious conversation with a fundamentalist since fundamentalism is far more a response to an inner need for security than it is a rational way to explore the mystery of God. To try to force people out of their security blanket with convincing words has never seemed to me to be possible and may even be received as hostile. I do want to proclaim that all people live inside the experience of the love of God so demonstrating that love brings the kind of security that makes conversation possible."
3. Elizabeth Schüssler Fiorenza verwys na 1 Kor. 15:3-8 as 'n "... list intended to legitimate male authority".
4. Terloops watter drie weergawes van Paulus se ontmoeting met Jesus, op die pad na Damaskus is korrek? In Hand. 9:7 hoor die omstanders 'n stem maar sien niemand nie. In Hand. 22:9 hoor hulle nie die stem nie maar sien die lig en in Hand. 26:13-14 word slegs 'n stem gehoor.
5. Volgens Sakkie Spangenberg in sy boek Jesus van Nasaret (p. 137) word Kolossense vandag nie meer as 'n egte Pauliniese brief beskou nie.
6. Twee van hierdie byvoegings word in die King James Version gesamentlik as verse 9-20 ingevoeg. In ander vertalings soos die New International en ook die Afrikaanse 1983 vertaling verskyn 'n voetnota wat sê dat: In sommige manuskripte is 'n deel bygevoeg, naamlik verse 9-20. Die Revised Standard noem as voetnota die volgende: "Some of the most ancient authorities bring the book to a close at the end of verse 8. One authority concludes the book by adding after verse 8 the following: "But they reported briefly to Peter and those with him all that they had been told. After this, Jesus himself sent out by means of them, from east to west, the sacred and imperishable proclamation of eternal salvation." Other authorities include the preceeding passage and continue with verses 9-20. In most authorities verses 9-20 follow immediately after verse 8, a few authorities insert additional material after verse 14.
7. Prof. Andries van Aarde haal vir Peter Auer soos volg aan: "What has been mentioned before in a text may become an indexed feature of the co-text of a later utterance; at the same time, it is part of the situation-specific common background [con-text] knowledge participants may rely on in the production and interpretation of future activities."
8. Hoe langer teoloë Jesus se sogenaamde verskynings aan mense, die ideologiese perspektief agter dié verksynings, die volgorde van die verskynings, en aan wie Hy verskyn het, bestudeer, hoe meer sien hulle daarin die politiek van die vroeë kerk in verhaalvorm en simboliek en hoe minder sien hulle enigiets letterliks daarin." – Flip Schutte

Bronne

Tekste, ko-tekste en kon-tekste van die leë graf in die Jesus tradisie – Andries G. van Aarde
John Shelby Spong – verskeie: www.goodreads.com/author/show/45659.John_Shelby_Spong
Verskeie artikels in die Beeld en Rapport
Julian Müller – webwerf
Bart D. Ehrman – Jesus, Interrupted
Ralph Barnard – Lewe na die dood (artikel)

Schalk Naudé, afgetrede NG predikant.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za