Beeld Rubriek: Oprah praat Sokrates skoon stil

Deur Dr. Wilhelm Jordaan op 11 Januarie 2011

Nouja toe! Nou weet ons daar is min verskil tussen die moderne TV-praat(ster) Oprah Winfrey en die immer debatterende antieke Griekse filosoof Sokrates (470-399 vC).

Dít na aanleiding van die opskrif by 'n artikel deur Frieda le Roux (By, 8 Januarie) oor Ferdinand Mount se boek Full Circle: How the Classical World Came Back to Us – waarin hy argumenteer vandag se wêreld is wesenlik 'n spieëlbeeld van toentertyd.

Mount se al te maklike eiening van ooreenkomste en die ignorering van aansienlike verskille tussen tóé en nóú is 'n debat op sy eie.

'n Interessante vergelykingspunt is die florering van die hedendaagse openbare debat waaraan almal kan deelneem – danksy dinge soos inbelprogramme oor die radio; werklikheids- en besprekings-programme op TV; briewe- en SMS-kolomme in koerante en tydskrifte; en die internet se steeds toenemende praatruimtes.

Ek is omdat ek praat, het 'n kenmerk van ons tyd geword. Dit behels dan die vryheid om, hoe ongebreideld ook al, menings te hê en jou sê te sê, te skryf én, as jy wil, te skreeu.

Onderliggend daaraan, volgens Mount, is die beklemtoning van dialoog wat as gespreksgereedskap via mense soos Sokrates uit die Griekse wêreld na ons gekom het.

In die breë is dit waar. Solank 'n mens onthou dialoog was nie vir Sokrates 'n gespreksfoefie wat toegelaat het dat wie ook al wil oor alles onder die son na hartelus kon klets en babbel nie. Sokrates se dialogiese metode behels iets gans anders.

Toe die orakel van Delphi verklaar het Sokrates is die wysste van alle wyses, het Sokrates gesê sy enigste wysheid is die wete dat hy eintlik nie weet nie.

Slordig geklee, bebaard en kaalvoet was sy geliefkoosde plek die markplein waar hy graag geredeneer het en homself gesien het as 'n "vroedvrou" wat mense help om "geboorte te gee" aan hul eie idees.

Hoe hy dit gedoen het, was om in 'n debat oor die een of ander saak eers sy eie onkunde te bely. Deur oënskynlik onskuldige vrae te vra (dikwels met 'n sublieme moedswilligheid) het hy die meningsvormers van sy tyd tot die insig probeer bring dat hul uitsprake op onuitgespelde aannames berus en dat daar geen maklike antwoorde op lewensvrae is nie. Die waarheid oor enigiets is skuiwend en immer ontwykend.

Verplaas nou in die verbeelding dié soort mens en dié soort styl na 'n tipiese Oprah Winfrey-kletsgleuf en jy wil-wil begin giggel.

Want in die reël kry jy nie hier saampraters wat onkunde bely nie. Dit is mense wat weet hoe dinge nou eintlik is; en wat met die oorvloed van woordvloed (her)geboorte gee aan hul voorafingenome standpunte en vaste menings. Onsekerheid of twyfel oor 'n eie posisie word selde gehoor.

In 'n ruim mate het dít 'n wesenstrek van hedendaagse openbare debatvoering geword. Nie dialoog nie; eerder monoloë wat die skyn van 'n oop gesprek het.

N.P. Van Wyk Louw se idee van 'n "heilige onrus" oor eie standpunte kom selde tereg. Sy uitspraak in Groot ode geld des te meer vandag: "Ons weet nie ons weet nie... / die wat sê die weet nie / die wat weet die sê nie."

In die vergelyking tussen Oprah en Sokrates is daar 'n heerlike ironie: In sy tyd had Sokrates nogal moeite (én pret) met eietydse Oprah's – in die gedaante van die Sofiste.

Hulle was redenaars (soos Thrasymachus en Protagoras) geoefen in die kuns van retoriek – die "lekker" sêding; die maklike gevolgtrekking; die skoonklinkende argument wat die drogredenering bedek; die hoogdrawendheid wat as wysheid paradeer.

Juis húl soort gee hedendaags beslag aan die openbare gesprek en ons sien dit, tragies, aan as dialoog. Die werklik (self)kritiese Sokratiese stemme word al hoe minder en stiller...

BEELD: Wilhelm se oproep tot ware dialoog verfris nes koelteboom

Deur Dr. Abel Pienaar van SES, op 11 Januarie 2011

Wilhelm Jordaan se rubriek "Oprah praat Sokrates skoon stil" is soos 'n koelteboom op 'n warm dag.

Wat ek veral as verfrissend beleef het, is die oproep tot ware dialoog. Ek dink dit lê in die hart van ons soeke na waarheid en vrede.

Jordaan gaan voort om te verduidelik dat daar 'n verskil is tussen dialoog wat insig en groei bring en die kunsmatige monoloë wat eintlik net propaganda is. Sy verwysing na Sokrates as die een wat ons kom leer hoe om sinvol te soek, is in die kol.

Wat Sokrates so 'n besonderse leermeester gemaak het, was dat hy sy studente geleer het 'n mens moet nooit ophou vrae vra nie.

Hy het onbevange elke gesprek betree, met die grootste ontsag en respek vir sy "opponent". Met sy ingesteldheid dat hy eintlik niks weet nie, kon hy oop en eerlik na die ander een luister.

Die jammerte is dat die meeste mense verleer het om oop te wees. Mense is geslote en vasgevang binne hul politieke, kulturele en godsdienstige programmerings. Luister maar net hoe mense al in 'n sirkel kan redeneer.

Ons moet bereid wees om eerlik te kyk na hoe idees waarhede word. En hoe waarhede gelowe word. As metafoor – kyk hoe 'n houtblad 'n tafel word? Sodra die tafel vier pote kry natuurlik.

Dieselfde geld 'n idee. Vier "bewyse" is nodig vir "waarheid". Slaan die spykers in en jy het 'n geloof. Die vier bewyse of redes hoef natuurlik nie korrek of op werklikheid gegrond te wees nie. Die meeste van die sterkste gelowe en oortuigings van mense is op misverstande, globale bygelowe, aannames en leuens gebou.

Sogenaamde oortuigings waarvoor mense bereid is om te sterf en nog erger, om voor dood te maak. Hierdie ingesteldheid van eerlike soeke is so nodig in 'n wêreld waar globalisering ons op mekaar se drumpels laat leef.

As ons enigsins hier in Suid-Afrika en ook in die res van die wêreld 'n kans tot oorlewing wil hê, sal ons moet leer om na mekaar te begin luister. Werklik luister! Soos iemand wat nie weet nie en wil uitvind.

Dan sal daar selfs 'n dialoog moontlik wees tussen geswore vyande. Want soos Sokrates leer, sal die gesprekke tussen vyande 'n veilige ruimte word waar daar nie probeer oortuig word nie, maar waar daar saam gesoek word.

'n Dialoog-model van kritiese denke, integrasie van ou verstaan en nuwe verstaan. Eerlike eietydse soeke!

Dankie, Wilhelm!

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za