.

“Openbare gesprek” en “oop gesprek” is nie
dieselfde ding nie

Deur Prof. Pieter Craffert op 1 April 2013

.

In 'n brief aan Beeld (2013-02-19) skryf Dr. Abel Pienaar die "kerk mis weer 'n gulde geleentheid tot ope gesprek". Dit word opgevolg met 'n artikel in By (2013-03-02) met die titel: Uitdaging tot 'n oop gesprek waarin hy die kerk (lees NG Kerk) beskuldig dat hoewel hulle nie meer mense op brandstapels verbrand nie, hulle steeds "nuwe stemme stilmaak". Hy beweer die tradisionele kerke is onder enorme druk as gevolg van hul wêreldvreemde wêreldbeskouing en sal daarom eerder laer trek as om deel te neem aan oop gesprek. Hul strategie, beweer hy, is om met mag en gesag die vrae en nuwe stemme stil te maak. Sonder oop dialoog en debat word 'n kerk "vinnig die broeiplek van onderdrukking, ongelykheid, korrupsie, miskenning en selfs geweld" en dit reken Pienaar, is presies wat binne baie tradisionele kerke plaasvind. Die aanloop tot die aanval, weet ons, is die onttrekking van die NG Kerk as borg van gesprekke by die Woordfees op Stellenbosch.

1.  Wat is "oop gesprek"?

"Oop gesprek" en "openbare gesprek" is nie noodwendig dieselfde ding nie. En omdat Pienaar die onderskeid nie handhaaf nie, lyk sy pleidooi om "oop gesprek" veel meer na 'n rookskerm vir sektariese denke (ek gebruik die term sektaries deskriptief en nie normatief nie). Voordat sy argumente ontleed word, is dit nodig om 'n paar algemene opmerkings oor "oop gesprek" as sodanig te maak. Anders as wat Pienaar aanvaar, is oop gesprek nie 'n neutrale ruimte of onskuldige konsep nie. Dit is nie 'n geval dat "hulle" onvoorwaardelik oor "my" vrae moet praat nie, en dit is nie 'n eenvoudige keuse van "vir" of "teen" oop gesprek nie. Die rede is omdat die idee van 'n "oop gesprek" refleksie oor die volgende komplekse vraag vereis: "Wie wil waaroor op watter manier met wie gesprek voer?". Dit is nie net in die godsdiensdebat nie, maar ook in ander openbare kwessies, soos byvoorbeeld oor rassekwessies, dat gepraat moet word oor die voorwaardes van oop gesprek, of anders gestel, wat dit beteken om "oop gesprek" te voer.

Wie is dit wat "oop gesprek" wil voer? Op 'n spektrum kan ten minste drie groepe geïdentifiseer word: lojale binnestaanders, ontgogelde binnestaanders en buitestaanders. Waaroor gepraat word en die manier waarop gepraat word, sal onder andere afhang van wie hierdie gespreksgenote is.

Lojale binnestaanders sal normaalweg met mekaar praat en waarskynlik nie die gedeelde waarhede bevraagteken of verwerp nie. "Kritiese gesprek" is 'n bevestiging of hoogstens 'n verfyning van gedeelde aannames. Kom ons noem dit die lojale gesprekvoerders.

Ontgogelde binnestaanders het 'n alternatiewe agenda en bied nuwe antwoorde op bestaande vrae. Die oue word afgemaak en 'n beter alternatief word verskaf. Hierdie is die sektariese gesprekvoerders, want "ons" antwoord is altyd beter as "julle" s'n.

Buitestaanders praat in die eerste plek nie met die binnestaanders nie, maar oor hulle. Anders gestel, die kritiese blik van buite praat oor die saak of verskynsel sonder om noodwendig kant te kies. Die oogmerk is nie om 'n saak te verdedig of om alternatiewe aan te bied nie, maar om te verstaan en te analiseer wat ter sprake is. Tradisioneel was die universiteit die ruimte waar oop gesprek oor elke denkbare saak gevoer is. Uit byvoorbeeld Godsdiensstudies en Antropologie weet ons dat een van die grootste uitdagings binne hierdie ruimte is hoe om op 'n sensitiewe en waardige manier kritiese en analitiese gesprek te voer oor "die ander". Hoe laat mens reg geskied aan die diepste oortuigings en sieninge van mense terwyl dit onderwerp word aan die snydende kritiek van die analitiese blik. Dit is iets anders as om mét iemand te praat.

Die verskille kan kortliks met 'n voorbeeld uit die Christelike tradisie geïllustreer word. Die doop in een of ander vorm is deel van die tradisie. Binne 'n spesifieke kerk (of selfs tussen kerke) kan daar oop gesprek wees oor die vorm en betekenis daarvan, maar die idee van doop kan (of sal) nie bevraagteken word nie. Mens kan jou beswaarlik 'n "oop gesprek" tussen kleindopers en grootdopers indink indien die onderwerp iets is soos, Kleindoop is van die satan. Die voorwaarde vir oop gesprek in dié geval is respek vir mekaar se sieninge.

Kenmerkend van die sektariese gesprek is dat die ander se siening verkleineer of afgemaak word terwyl die eie standpunt verheerlik word. 'n Voorbeeld is waar een groep beweer kleindoop is net 'n menslike handeling terwyl die ware doop (soos Jesus dit gedoen het) slegs volwassenes insluit. Oop gesprek is hier eintlik uitgesluit.

Die analitiese blik kyk byvoorbeeld na doop as 'n inlywingsritueel, vergelyk dit met ander vorme van inisiasie en vra wat is ter sprake wanneer mense doop. "Oop gesprek" oor 'n spesifieke vorm (of alle vorme van) doop is nie in die eerste plek gerig op die betrokke partye nie en verwag nie van hulle om sulke navorsing te borg, te ondersteun of selfs deel te neem nie. Terwyl mense gerespekteer word, kan alle vorme van dooppraktyke krities en vergelykend ondersoek word.

In die lig van hierdie kursoriese opmerkings oor "oop gesprek" is daar twee uiters teleurstellende aspekte in Pienaar se argumente.

2.  "Oop gesprek" en openbare vrae

Die eerste is die aanname dat oop gesprek kan en moet plaasvind net omdat 'n vraag gestel is of 'n onderwerp op die tafel geplaas is. Sy argument word aangebied asof daar 'n eenvoudige keuse is tussen vir of teen oop gesprek. Daar is geen aanduiding dat hy besef dat wie, waaroor op watter manier met wie gesprek wil voer, is sentraal tot die kwessie van oop gesprek nie. Is dit nie gewoon naïef en moedswillig om van enige kerk te verwag om gesprekke te borg wat haar eie bestaansgrond ondergrawe nie? Die Sentrum vir Spiritualiteit sal waarskynlik nie 'n openbare gesprek elders borg met 'n onderwerp soos: Die "misterie van die lewe": hallusinasies uitgedruk as spirituele ervaringe. Die rede is eenvoudig omdat die tema disrespekvol is teenoor die ervaringe en mense se eie belewenisse misken.

Pienaar het klaarblyklik geen aanvoeling dat die spesifieke vrae wat tot hierdie debakel aanleiding gegee het, geen neutrale of vriendelike vrae is nie. Die blote feit dat 'n vraag gestel kan word, beteken nie dat dit tot vriendelike of oop gesprek sal lei nie. Slaan jy nog jou vrou? is so 'n vraag. Die vraag of hemel en hel bestaan of net deur mense geskep word (in welke formulering ook al) is geen neutrale of onskuldige vraag nie. So gestel kan dit slegs met 'n "ja" of "nee" beantwoord word. As vraag toon dit geen respek vir die oortuiging van miljoene mense deur die eeu heen nie. Selfs as openbare gesprek voldoen die soort vraag nie aan die reëls van ordentlikheid nie.

Dit mag so wees dat die kerk (NG Kerk?) oop gesprek wil verhinder, maar hierdie is beswaarlik 'n bewys daarvan. Ek weet nie wat die kerk se argumente was nie, maar deur te onttrek van 'n ongemaklike situasie is nog lank nie om gesprek stil te maak nie. Pienaar beweer ook dat Jean Oosthuizen, redaksielid van die Kerkbode, summier geskors is omdat hy 'n openbare forum wou gee aan mense se twyfelvrae. Is die waarheid werklik so simplisties? My punt is eenvoudig: sonder begrip vir "wie wil waaroor met wie praat", is generiese beskuldigings dat die kerk oop gesprek wil stilmaak (soos Pienaar byvoorbeeld met die voorbeeld van Bruno wil uitwys) eenvoudig nie goed genoeg nie. Openbare gesprek en oop gesprek is nie dieselfde ding nie.

In die verband bied hy sommer ook 'n bietjie gratis advies aan die kerk aan. Een van die redes waarom tradisionele kerke se getalle afneem is omdat hulle laer trek en nie deelneem aan openbare geleenthede soos die Woordfees nie. In sy brief aan Beeld wys hy dat die kerk 'n geleentheid tot relevansie mis indien hulle nie deelneem aan 'n vraag wat hulle nie geformuleer het nie. Verder sê hy dat om eerlik, twyfelend in die openbaar te mag praat en verskil is nie net nodig vir die kerk se groei nie, maar onontbeerlik vir sy relevansie. Ek kan nie insien hoe enige van die stellings waar kan wees nie. Geen kerk of spirituele groep groei omdat hulle in die openbaar worstel en stry nie. Om die waarheid te sê, nêrens in Suid Afrika of die wêreld groei kerke omdat hulle oop gesprek bevorder nie; inteendeel, die komplekse redes waar godsdienste sterk groei het met oop gesprek niks te doen nie. Alle godsdienstige groepe groei sterk waar tradisionele antwoorde aangebied word en dít roep om kritiese besinning.

3.  Is "oop gesprek" net 'n verskoning vir 'n sektariese alternatief?

Die tweede teleurstellende aspek is dat Pienaar se argumente net te veel neig na die tipiese sektariese styl. Ek noem twee voorbeelde van ons-is-beter-as-julle wat eintlik die hele artikel deurspek: hulle wêreldbeskouing is agterhaal en die kerk klou vas aan 'n verstaan wat volgens hulle die enigste korrekte een is.

Pienaar begin sy artikel deur te wys dat die kerk se wêreldbeskouing agterhaal is, gebou op 2000 jaar gelede se wetenskap en kosmologie en dit maak hulle "wêreldvreemd". Uiteraard gaan sy alternatief nie mank hieraan nie. In 'n rubrieke wat in dieselfde tyd in Rapport verskyn (Kop & hart: spiritueel of godsdienstig?, 2013-02-28), argumenteer Pienaar juis dat die soort spiritualiteit wat hy voorstaan selfs deur 'n wetenskaplike (Fritjof Capra) gedeel word (dus dit is versoenbaar met 'n moderne wetenskaplike wêreldbeeld?) en dit gee uitdrukking aan mense se individuele en direkte belewenisse van die "misterie van die lewe". Dit is anders, sê hy, as iemand wat glo in 'n teïstiese god. Inderdaad, maar waarom is dit noodwendig beter?

Hier sit ons met die dilemma, want die argument hou slegs water vanuit 'n sektariese perspektief. Dit kan met twee argumente gemotiveer word.

Die verwysing na Capra is blote retoriek, want tradisionele christene sou daarop kon wys dat Dr Francis Collins, voormalige hoof van die Menslike Genoom Projek en direkteur van die VSA Nasionale Gesondheidsinstituut, gemaklik met tradisionele oortuigings leef. Verder sou mens die wortels van die wêreldbeskouing onderliggend aan die misterie-spiritualiteit ook in die antieke wêreld kan vind. Nie een van die twee posisies is meer wetenskaplik as die ander of nader aan 'n moderne kosmologie nie. Anders gestel, daar is geen dwingende wetenskaplike insigte wat 'n lewe as misterie-spiritualiteit bo 'n teïstiese een bevestig nie. Geloof in 'n teïstiese god en in misterie van die lewe is ewe min gegrond op enige wetenskaplike bewyse.

Die tweede argument is dat die wêreldbeskouing van die verre meerderheid mense op aarde wat 'n teïstiese god en 'n hemel en hel insluit, as wêreldvreemd afgemaak word. Soos reeds gesê, Pienaar se alternatief is sekerlik nie wêreldvreemd nie. Op grond waarvan word die wêreldbeeld van meer as 5 biljoen mense afgemaak as "wêreldvreemd"? Hierdie ís hoe die wêreldbeeld van die meeste mense in die 21ste lyk. Dit is ten minste net so outentieke 21ste eeus as die misterie-wêreldbeskouing. Die werklike misterie hier vir die wetenskap om te ontrafel, is hoe en waarom kan mense wat in vliegtuie vlieg (of dit sien vlieg) nog in gode en "misteries van die lewe" glo? Wat maak dat die meerderheid mense op die planeet een of ander teïstiese (21st eeuse) wêreldbeeld het terwyl die wetenskap 'n heel ander wêreld voorstel. Hierdie vraag word nie hanteer deur dit wêreldvreemd te noem nie. Die misterie hier is hoe outentiek 21ste eeuse wêreldbeelde sulke uiteenlopende elemente kan harmonieer.

Dit bring my by die tweede voorbeeld van sektariese denke. Waar sy artikel begin met die afwys van die agterhaalde siening van tradisionele kerke, sluit hy dit af met die beter alternatief, "die nuwe generasie van vrydenkers". Hulle is "diep spiritueel", integreer teenstellings en opponerende inligting sinvol en bevorder die vrye vloei van inligting. Ek wil hier drie argumente gebruik en vra of hierdie net maar 'n vorm van sektariese denke is nie.

Die ironie van die tradisionele wêreldbeeld wat hy hier afwys, is dat dit sekerlik een van die beste voorbeelde ooit is van mense wat juis gemaklik 'n sinvolle middelpunt soek tussen tradisionele en moderne sieninge (vgl. Dr Collins hierbo). Die wêreldbeeld van die tradisionele kerk is nie net outentiek 21ste eeus nie, maar ook 'n uitstekende voorbeeld van hoe opponerende inligting en teenstellings deur mense sinvol geïntegreer word. Roep dít nie tot kritiese nadenke nie?

Tweedens, Pienaar sê hy wil veg, veral vir die reg van diegene wat van hom verskil, en sal hierdie reg met sy lewe verdedig. Dit klink alles so mooi! Maar waar is die tradisionele kerke se reg om in 'n teïstiese god te glo of 'n hemel en 'n hel sonder om bespot te word? Waarom word hulle wêreldbeeld as agterhaal afgemaak? Waarom is 'n spiritualiteit van iemand wat langs die see gestap het of 'n spirituele ervaring in die natuur of met musiek gehad het, meer outentiek as die van iemand wie se lewe onherroeplik verander is deur 'n ontmoeting met 'n teïstiese god of wie in Jesus glo? Wat maak 'n misterie-spiritualiteit anders (of beter) as 'n teïstiese-spiritualiteit? My ouma sal presies dieselfde soort verwondering oor haar "god" kan verwoord as wat Capra oor sy misterie doen.

Derdens, Pienaar verwyt die kerk dat hulle krampagtig vasklou aan hul eie verstaan van die wêreld (wat 'n teïstiese god en 'n hemel en 'n hel insluit). Net soos hy vasklou aan 'n wêreldbeeld wat sin vind in die misterie van die lewe en nie hierdie elemente kan akkommodeer nie. Kan die diep spiritualiteit van die nuwe generasie dan nie hierdie teenstellings en opponerende inligting integreer nie? Hoe oop is oop voordat dit ook geslote is? Misterie-spiritualiteit is mos net so geslote as die tradisionele siening indien dit nie ruimte laat vir laasgenoemde se elemente nie. Dit is maklik om die ander te beskuldig van geslotenheid indien dit nie ruimte laat vir jou alternatief nie, maar laat jou alternatief ruimte vir hulle alternatief?

4.  Slotgedagtes

Ek wil afsluit met twee opmerkings. Pienaar is verkeerd deur te insinueer dat die kerk se tradisionele wêreldbeeld noodwendig lei tot woede, geweld, menseregte-miskenning en selfs bloedvergieting. As 'n godsdiens of spiritualiteit mense uitbuit, skade aandoen, ens. dan is dit die probleem en nie die feit dat hulle in geeste, klippe, 'n hemel of hel, of selfs 'n teïstiese god of 'n misterie glo nie. 'n Werklike oop gesprek oor godsdiens/spiritualiteit kan nie gevoer word vanuit enige van die ons-teenoor-hulle posisies (hetsy die tradisionele of die misterie posisies) nie, maar wel as ons elkeen en almal as eksponente van dieselfde menslike kulturele verskynsel beskou. Kom ons praat oor die karakter van jou god/misterie sonder om vooraf te besluit die ander s'n is kwaadwillig.

Vanuit die analitiese perspektief van 'n buitestaander is hier 'n magdom aspekte wat bespreek kan word. Ek noem slegs 'n paar. Wat beteken dit vir mense om in die 21st eeu aan 'n hemel en 'n hel of die misterie van die lewe te glo? Hoe kry mense dit reg om sulke oortuigings in stand te hou in 'n wêreld wat deur wetenskaplike uitvindings verander word? Hoekom het mense ervaringe van teïstiese gode, die misterie van die lewe and nog vele ander wat hul lewensbeskouing radikaal bepaal of verander? Vele vrae kan bygevoeg word, want die hoeveelheid data wat godsdienste en spiritualiteite bied is onoorsigtelik. 'n Oop gesprek oor hierdie belangrike aspek van menswees moet poog om dit wat mense beleef, glo en bely ernstig te neem sonder om slegs die waar of vals en die "bestaan dit regtig" vrae te stel. 'n Kritiese oop gesprek stel nie belang om enige groep of kerk in die debat te oortuig nie en bied ook nie 'n alternatief aan nie. Ook is die oogmerk nie om enige kerk of groep te oortuig of selfs om hulle by die gesprek te betrek nie. Die ruimte van 'n openbare gesprek kan nie gebruik word om sektariese denke teen mekaar af te speel nie.

Oop, kritiese gesprek oor iets so belangrik soos godsdiens en spiritualiteite, goed wat menswees direk en alomvattend raak, is myns insiens, van die uiterste belang. As samelewing het ons 'n geweldige behoefte aan godsdienstige geletterdheid – die vaardigheid om byvoorbeeld te verstaan waarom mense sekere dinge glo, wat hulle glo en hoe godsdienste en sogenaamde spiritualiteite aanmekaarsit, hoe ervaringe wêreldbeskouinge inklee, ensovoorts. Maar ons gaan nooit daarby uitkom deur hierdie of daardie kerk of groep se oortuigings met simplistiese vrae te analiseer nie. Dit is, myns insiens, ook naïef om te dink dat enige of alle godsdienstige groeperinge aan so 'n oop gesprek moet en kan deelneem. Die meeste kan nie en wil nie.

Dalk is die belangrikste eerste stap om 'n oop gesprek te voer oor die vraag "Wie wil waaroor op watter manier met wie gesprek voer?" Dan sal ons wegkom van verwagtinge wat nie vervul kan word nie. Geen kerk kan onvoorwaardelik deelneem aan 'n openbare gesprek ('n sogenaamde "oop gesprek") wat juis handel oor dit wat hul identiteit bepaal nie. Die openbare ruimte om oor godsdiens/spiritualiteit te praat is iets anders as om met hulle te praat en dit moet ons begin raaksien.

Prof. Pieter Craffert
Opgedateer op Dinsdag 12 Maart 2013

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.