Ope brief aan Christen-Afrikaners oor ongeloof en soeke!

Deur Elisia Strydom op 1 April 2011

Nee, miskien moet ek eerder sê: Liewe Afrikaners (want dis net julle wat moontlik my probleem sal verstaan. Afrikaners wat moontlik dieselfde as ek deurgemaak het. Of Afrikaners wat my gaan veroordeel. Ek soek juis julle opinie. Want ek PROBEER verstaan...)

My hart is stukkend van dink en peins en worstel ... En nou roep ek om hulp. 2010 het vir my ellendig geëindig. En 2011 het nog erger begin. Ek hoop julle gaan my verduur en 'n oomblik toelaat om die gebeure van Oujaar 2010 te skets. Net sodat julle kan verstaan om te help.

Ek en my sus wat 5 jaar jonger is as ek – en ons onderskeie families – kuier die aand saam. Heerlik! Ons het mekaar lanklaas gesien. En omdat ek en my familie al vir 10 jaar oorsee bly, gebeur dit min dat ons mekaar sien, wat nog te sê Oujaarsaand saam in die Kaap deurbring.

Die lag en gesels is vir my kosbaar. Daar het nuwelinge bygekom in die familie wat ek nou eers leer ken. En nie genoeg van kry nie!

En toe raak die gesels ernstig. Dit raak oor gays en hoe "gebeur" hulle. Eers is daar die huiwerige opinies – versigtig en met gekose woorde. Die opinie dartel in die rigting van aangeborenheid teenoor sonde. In my stilligheid het ek nog altyd gedink evolusie speel 'n rol.

Teer nader ek die gesprek met vrae soos: glo jy in evolusie? Versigtig word daar geantwoord.

"Ja, maar ek glo dat God die hemel en aarde in, min of meer, sewe dae gemaak het" (my sus).

"Nee, ek glo dat dinge bietjie anders verloop het. Dinge het tog bietjie ontwikkel" (haar man).

Ek sien my man skuif hom reg vir sy groot gesels en ek trek my oë vir hom groot. Ek ken die emosies en werkinge van my sus.

Versigtig begin my man verduidelik van evolusie en die big bang (oerknal). Van hoe almal nog nie heeltemal seker is hoe die klein niks gekom het om te bestaan nie. En hoe die klein niks ontwikkel en gegroei het.

Toe spring my suster op en gil: "Wil jy vir my sê julle glo nie dat God alles geskape het nie? Glo julle nie meer aan God nie? Glo my suster nie meer aan God nie?"

Sy slaan met haar hande op die tafel.

Teen die is ek al in die kombuis. Ek wil wegkom. Ek weet wat gaan volg. Ek probeer nog mompel van "stof is jy en tot stof sal jy terugkeer" maar ek word doodgegil.

Ek gaan stap langs die see. My hart sink. Want die geheim wat ek nou vir die afgelope twee jaar so toehou, gaan nou ontbloot word. En ek weet nie wat om te verwag nie. Ek kom terug by die huis en sien die gegil gaan nog aan. Arms swaai en borskaste hyg op en neer van angstigheid. In die middel van alles sit my man, stomgeslaan en verdwaas oor die reaksie. Van die jongmense wat "ernstig" voel oor hulle godsdiens, gil sonder ontsag op hom.

Ek sit buite op die stoep. Saam met my een seun en ons probeer nog giggel oor die onsinnigheid van die reaksies. Dan kom my dogter na buite. Sy is in trane. Sy kan nie glo dat hulle ons so kan uitkryt vir alles wat sleg is nie.

"Mamma, wat het ons gedoen wat sleg is dat hulle so met ons te kere gaan?"

Die skoonseun van een my sus se dogters, spring skielik op en begin gil.

"Ek gaan nie toelaat dat daar so met my familie omgegaan word nie." (Ek weet nie waarna hy verwys nie want my arme man wat ons hele familie se standpunt alleen probeer verdedig, kry nie 'n woord in nie.)

Ek hoor nie die res van sy sin nie maar ek hoor hy sê dat hy – wat hy ook al vooraf gesê het! – nou vir my gaan kom vertel.

Hy kom uit en ek kan sien hy sidder van woede. Hy's ongeskik met my. Maar hy kom nie tot enige punt nie.

Al wat ek uit hom kan kry is dat hy nie geweet het dat ek nie in God glo nie. En dat ek durf (ai tog!!!) om my oë toe te maak as daar aan tafel gebid word.

Ek probeer verduidelik dat ek my oë toemaak omdat ek respek het vir dit waaraan hulle glo. En dat ek dit nie aan hulle gesê het nie want ek was bang vir juis hierdie reaksie.

Toe word dit 12 uur en ons drink stram 'n heildronk. Elkeen beweeg stadig na sy eie kamer toe.

Die volgende oggend vra ek my man in die bed, wat wou die skoonseun dan nou vir my kom vertel. My man sê dat hy gedreig het om sy tasse te pak en te waai.

'n Gat val in my hart...

Ek staan op. 'n Paar van die ander is al op maar hulle is nie baie vriendelik nie. Ek lag en maak grappies en neem foto's van die baba. My suster roep my in haar kamer in. Sy sê dat hulle besluit het om op te pak en te gaan. Na net drie dae saam!!!! Ek het gekom van Europa om saam met hulle te kuier! Sy en haar man was nog nooit in die Kaap nie en uiteindelik is hulle nou hier! Ek sien hoe al my drome om die mooie Kaap vir hulle te wys, platval.

Ek kan dit nie glo nie ... Ek staan op en klim in die kar en ry weg. My hartseer is te groot. Ek kan myself nie so ver kry om te sien dat hulle regtig hulle planne deurvoer nie. Wat beteken dit? Dit dat hulle besluit om hulle van ons te skei?

Ons glo nie meer in die God waarmee ek en sy grootgeword het nie. Beteken dit dat ons nou nie meer goed genoeg is om mee geassosieer te word nie? Is ons dan nou skielik so sleg?

Of is hulle bang ons "besoedel" hulle? Of dat ons hulle waardes gaan aantas? Of dat ons 'n seance gaan hou en duiwels oproep?

Ek ry ver. Yzerfontein toe. Gaan sit en kyk na die golwe vanaf 'n groot rots. My selfoon styf teen my bors – in my bra gedruk sodat ek tog nie 'n piep van hom sou mis nie. Dalk bel hulle om te sê hulle is jammer en dat hulle gaan bly. Sodat ons die probleem kan uitpraat.

Na hulle weg is, hou ons familie nabetragting. Ek hoor die vorige aand is daar dinge gesê soos:

(Wel, as ek nie in God glo nie, glo ek ook nie meer in die duiwel nie. Dis seker hoekom ek sedert my afskakeling van die geloof, so 'n gezoem in my ore het. Dis die duiwel wat hier binne my kop leef. Moet my dokter kry om my van die bloeddrukpille af te haal!)

En dis min of meer die einde van die gebeure. Ek gaan nie vertel van die SMS wat ek gestuur het en die ene wat ek terug ontvang het oor die duiwel in my kop nie. En toe was dit dit! Niks verder nie. En ek gaan ook niks verder doen nie. Nie totdat ek verstaan wat gebeur het nie.

Nou my vraag aan julle liewe Afrikaners is:

(En ek vra dit aan julle want ek het dieselfde vrees om my nuwe menswees aan julle te vertel. Want ek weet hoe sommige van julle my gaan veroordeel. Ek was mos daar en ek het dit ook gedoen. Maar is dit meeste van julle? Ek ken julle nie meer so goed as wat ek wil nie, maar hoop dat my sus-hulle deesdae in die minderheid is. Ek verstaan net nie meer nie. Dalk raas die duiwel te veel in my kop sodat ek nie te lekker meer hoor nie.)

As daar een ding is wat ek geleer het die afgelope 15 jaar – sedert hierdie "reis" van my begin het, is dit juis dat 'n mens ander mense moet verdra. In my omgang met soveel kulture en gelowe oorsee, moes ek leer om minder te word sodat ek ander kan verstaan. Net as ek hulle verstaan, kan ek hulle "taal" praat om op gelyke voet te kan kom. En as ons op gelyke voet is, kan ons saam redeneer oor sake. En hoe meer mens praat en redeneer, hoe minder baklei mens.

Ek het ook geleer van respek vir ander mense en hulle gevoelens en opinies. Net omdat hulle nie dieselfde sê as ek nie, beteken dit nie dat hulle verkeerd is nie. En selfs as ek redelik seker is hulle is verkeerd beteken dit nie hulle is sleg of my teenwoordigheid nie "waardig" nie.

Hoekom is ons Afrikaners nie bereid om te luister, om te gee en te redeneer nie? Hoekom moet alles altyd persoonlik word? (Ek is jammer as ek veralgemeen maar ek ken nie ander volkere se harte so goed soos ek ons s'n ken nie.) Hoekom word ons, wanneer ons nie die saak kan beveg nie, kwaad vir die aanhanger van die saak?

Deur die afgelope week of so sedert hierdie gebeure, het ek so gedink aan die gedagte oor ons voorvaders wat almal ken: baklei die aand stoele stukkend op mekaar se koppe en die volgende dag hou ons basaar vir nuwe stoele.

Dit sal 'n moerse basaar moet wees om te betaal vir die seer in my hart...

Elisia Strydom en haar gesin woon al die afgelope 10 jaar in die buiteland (Europa). Elisia kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za