.

Op Pad Met Lyding en verdriet

Deur Dr. Piet Muller op 1 Junie 2019

.

Jesus se preek op die berg, waarin ook sy saligspreuke voorkom, was die manifes van die jong Jesusbeweging; maar dit verdien ook om na 2000 jaar steeds beskou te word as die kern-waardes van die Christendom. Hoe revolusionêr dit in werklikheid was, besef mens eers as jy die waardes daarin vergelyk met wat 'n Bybelboek soos Deuteronomium te sê het oor die oorsprong van lyding.

'n Mens sou dit selfs skokkend revolusionêr kon noem, want dit staan in skrille kontras met die opvatting dat armoede, hongersnood, politieke verdrukking, werksverlies, sake-terugslae, siekte en vroegtydige dood, kortom, alle vorme van lyding, 'n straf van God is. Of anders gestel: Lyding kom as gevolg van sonde en sonde is per definisie ongehoorsaamheid aan God.

In Deuteronomium 7:13-15 staan byvoorbeeld geskryf: "Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak en jou 'n groot volk maak. Hy sal jou grond 'n ryk oes laat lewer: volop koring, wyn en olie. Hy sal jou grootvee en jou kleinvee laat aanteel ... Dit sal met jou beter gaan as ander volke. Nie een van jou mense of jou vee sal onvrugbaar wees nie."

Maar: "As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode aanhang en hulle dien en vereer, verklaar ek vandag dat julle beslis tot niet sal gaan." (Deut. 9:19, 1983-vertaling)

Selfs in Jesus se tyd nog het mense vasgehou aan die opvatting dat enige vorm van ellende wat jou tref 'n straf van God is. As sy dissipels 'n man sien wat blind gebore is, kom hulle met 'n strikvraag: "Wie het gesondig, hierdie man of sy ouers?" (Joh. 9:2)

In die periode tussen die voltooiing van die Ou Testament en voor die ontstaan van die Nuwe Testament is Israel se geloof tot in sy fondamente geskud deur 'n reeks politieke rampe; dit het ook gelei tot 'n herwaardering van ou waardes – soos dat God 'n regverdige sal seën met 'n lang lewe en baie kinders.

Eers het die Grieke die land binnegeval en selfs 'n afgodsbeeld in die tempel geplaas. 'n Bloedige burgeroorlog het uitgebreek en duisende jongmense het in die fleur van hul lewe gesterf, terwyl hulle die eer van hul God en sy tempel verdedig het. Dit het gelei tot die geloof in 'n opstanding, eendag in die "eindtyd". In Jesus se tyd nog was dit geen uitgemaakte saak nie. Die onderskeid tussen die Fariseërs en die Sadduseërs was dat eersgenoemde aan die opstanding geglo het en laasgenoemde nie.

Daarna het die Romeine die land verower en hul juk was nog veel swaarder as die van die Grieke. Kleinboere is sistematies van hul grond gedruk, sodat die aristokrasie hul eie grond kon vergroot om mega-boerderye tot stand te bring. Baie kleinboere het dagloners of vissers geword en hul vroue en dogters is dikwels tot prostitusie gedwing.

Soms was hulle so arm dat hulle selfs nie die verpligte tempelbelasting kon betaal nie en was dus ook kulties "onrein" en kon nie offers in die tempel bring nie. Hierdie mense het Jesus se "gemeente" gevorm en aan hulle het hy gesê:

"Salig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van God.
Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Salig is hulle wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word." (1933-vertaling)

Hiermee sê Jesus dat die armes en verdruktes nie skuldig is voor God nie: Dit is nie hulle skuld dat hulle ly nie; hulle het nie sonde gepleeg of teen God in opstand gekom nie; hulle ly omdat die Romeinse Ryk nie naastenby lyk soos wat die koninkryk van God veronderstel is om te lyk nie.

Jesus se antwoord op lyding is méér liefde en méér medelye. Die soort medelye wat oorgaan in praktiese ondersteuning en hulp. "Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker ek julle." (Mat. 10:42, 1983-vertaling)

In sy daaglikse meditasie van 3 Januarie 2-19, haal Richard Rohr vir Brian McLaren, skrywer van The Great Spiritual Migration aan, waar hy skryf:

"As ons werklik Christene wil wees maak dit sin om na Jesus te kyk vir die antwoord. Van die baie radikale dinge wat Jesus gesê en gedoen het, was sy onverskrokke klem op liefde die mees radikale. Liefde was die groot gebod ... die dryfkrag agter alles wat hy gedoen het – liefde vir God, vir jouself, vir jou naaste, vir onbekendes, vir vreemdelinge, vir buitestaanders, vir uitgeworpenes en selfs vir jou vyande, en hiervoor het hy self die voorbeeld gestel. Die nuwe gebod van liefde (Joh. 13:14) beteken dat nóg oortuigings, nóg woorde, nóg taboes, sisteme, strukture en die etikette waaronder dit verdedig word, belangriker is as liefde. Liefde desentreer alles, liefde relativeer alles; liefde kry voorkeur bo enigiets – bo alles."

Dit is 'n boodskap – wat na 2000 jaar nog nie behoorlik ingesink het nie. Tog is dit die agtergrond waarteen Jesus se ander opdragte verstaan moet word: "Seën die wat julle vervloek ... Bid vir hulle wat jou vervolg..."

In die eerste eeue van ons jaartelling sou hierdie standpunt van Jesus ook 'n groot invloed op die karavane hê, wat heen en weer op die Groot Syroete tussen Oos en Wes gereis het. Op hierdie roetes het Jode, Christene en Manicheërs uit die Midde-Ooste vryelik gemeng met Taoïste, Hindoes en Boeddhiste uit die Verre-Ooste.

Saans om die kampvure is stories vertel en dit is hoe flenters van Boeddha se geboorte en sy lewe ook in die Weste bekend geraak en 'n plek gevind het in die kinderevangelie van Thomas. Dit is ook hoe die verhaal bekend geraak het van die jong prins Siddharta Gautama, wat een nag uit sy pa se paleis gevlug, weelde en roem opgesê het om 'n wandelende monnik te word, wat later bekendheid sou verwerf as die Boeddha, die verligte.

In die verchristelike weergawe van die verhaal was Boeddha se naam Bodisat (waarskynlik afgelei van Bodhisattva) en was dit 'n sendeling, Barlaam, wat hom tot die Christendom bekeer het. Daarom dat die jong prins Sri-Lanka toe gevlug het om daar, saam met Barlaam, by 'n klooster aan te sluit. Onder hierdie naam het die Boeddha toe 'n heilige in sowel die Rooms Katolieke as die Grieks-Ortodokse kerk geword.

Maar Jesus se verhaal het ook ander mense beïnvloed. Onder mense wat aan reïnkarnasie geglo het, het die idee van karma (die wet van oorsaak en gevolg) 'n groot rol gespeel: wat in jou lewe met jou gebeur is die direkte gevolg van dade in 'n vorige lewe of in hierdie lewe. Die enigste manier om daaraan te ontsnap was om by wyse van spreke "jou vonnis uit te dien" en jou skuld af te werk. In ekstreme gevalle het dit selfs beteken dat mense wat aan aan karma geglo het, ook geglo dat 'n mens nie iemand met slegte karma moet bystaan en ondersteun nie, want dan kan jy die slegte karma na jouself "aantrek."

Die antwoord van Jesus-volgelinge hierop was dat 'n mens in sulke gevalle juis moet hulp verleen en ondersteun. Hierdie gesindheid moes 'n groot indruk gemaak het, want dit het ook deel geword van die Boeddhistiese Bodhisattva-ideaal – mense wat hul kans op onmiddelike verlossing prysgee terwille van die taak om ander mense na verlossing te help lei, al moet hulle hierdeur weer al die lyding wat die lewe meebring verduur.

Die sewende eeuse Indiese mistikus, Shantideva, het hierdie ideaal mooi verwoord in 'n gebed:

Solank die lug blou is
En solank daar voelende wesens is,
Mag ek hier wees om hulle
Uit hul lyding te help verlos.

Neem en gee

Let opdat Jesus nooit lyding verheerlik nie. Hy sê nie dat dit goed of mooi is, of dat dit beter is om te ly as om ryk en voorspoedig te wees nie. Hy sê bloot dat God nie die oorsaak van lyding is nie.

Maar as 'n mens die woorde van die saligspreuke versigtig lees, is dit ook duidelik dat die manier waarop 'n mens jou lyding dra en verduur, ook sy eie belonging kan hê. Daarom moet 'n mens altyd probeer om jou lyding met waardigheid, geduld, en, indien moontlik, ook met blymoedigheid te dra; en die maklikste manier om dit te doen is om ander se lyding as belangriker as jou eie te beskou.

Van al die onderhoude wat ek in my beroep gevoer het, is daar een wat bo almal uitstaan: Die onderhoud met Dr. Gerald Jampolski, van die Institute for Attitudinal Healing in Tiburon, Kalifornië. Hier werk hulle hoofsaaklik met sterwende kinders of kinders met lewensbedreigende siektes en hul ouers. Die ideaal is dat al kan almal nie gesond word nie, almal tog genees moet word, selfs al sterf hulle.

En genesing is niks anders nie as innerlike vrede en liefde. Liefde vir jouself en liefde vir almal.

Daardie dag het Dr. Jampolski my vertel van 'n pasiënt wat besig was om aan 'n besonder pynlike vorm van kanker te sterf, maar wat nooit haar blymoedigheid verloor het nie – omdat sy meer besorg was oor ander se pyn as oor haar eie. Sy het tot op die laaste nog van bed na bed gegaan en haar medepasiënte bemoedig en gemaklik probeer maak, voordat sy self rustig gesterf het.

Dit laat 'n mens dink aan Sogyam Rinpoche se definisie van deernis (in sy boek The Tibetan Book of Living and Dying): Dit is nie bloot, 'n gevoel van simpatie of van omgee vir iemand anders nie. Dit is ook nie bloot 'n warm hart vir iemand wat ly nie – dit is 'n volgehoue besluit om alles moontlik te doen om iemand se lyding te versag.

Dit is eers as 'n mens nie net met jou kop nie, maar met elke vesel van jou liggaam besef het dat jy sterflik is en dat alle ander wesens net so sterflik is soos jy, dat deernis ten volle kan ontwikkel.

Die groot Indiese mistikus van die 7de eeu, Shantideva, het geskryf:

Net kinderagtiges werk vir hul eie belange.
Die Boeddhas werk vir die voordeel van ander.
Kyk net na die verskil tussen hulle.
As ek nie my geluk verruil vir die
Ongeluk van iemand anders nie,
Sal ek nooit 'n Boeddha word nie.
En selfs in samsara (= die daaglikse lewe) sal ek nie vreugde ken nie.

Tonglen

Tonglen is 'n Tibetaanse woord wat as "neem en gee" vertaal kan word. Dit is 'n vorm van meditasie waarin 'n mens iemand anders se pyn en lyding op jouself neem en vir die ander party jou standvastigheid, troos en sekerheid stuur.

Hoe en waar Tonglen in Tibet begin het, weet ons nie. Ons weet wel dat Geshe Chekhawa in die elfde eeu Tonglenlesse begin gee het. Die titel Geshe is die ekwivalent van ons doktorsgraad. Die storie lui dat Geshe Chekhawa op 'n dag in sy professor se studeerkamer 'n boek sien oop lê het by die woorde:

Gee alle wins en voordeel aan ander.
Neem alle verlies en onreg op jouself.

Die ongelooflike deernis wat uit hierdie woorde gestraal het, het hom op soek laat gaan na die skrywer daarvan. Maar skynbaar vergeefs. Op 'n keer het hy 'n melaatse raakgeloop wat hom vertel het dat die skrywer daarvan lankal dood is. Tog het Geshe Chekhawa volhard in sy soektog, totdat hy die skrywer se belangrikste leerling opgespoor het. Hy het hom gevra hoe belangrik hierdie woorde is. Waarop hy die antwoord gekry het: "Of jy daarvan hou of nie, as jy dit nie toepas nie sal jy nooit Boeddhaskap bereik nie."

Twaalf jaar lank het hy onder hom studeer en in hierdie jare dikwels die grootste ongemak, lyding en vernedering deurgemaak. Maar so effektief was hierdie lering dat hy na ses jaar ontslae was van alle selfsug en eiebelang.

Aanvanklik het hy Tonglen net aan 'n handjievol studente geleer en nog later aan 'n groep melaatses. Die uitwerking daarvan op hulle was, volgens die legende, skynbaar so groot dat verskeie van hulle van hul siekte genees geraak het.

Maar nog was hy nie bereid om dit algemeen aan sy leerlinge te onderrig nie, totdat hy gesien het wat met sy broer gebeur. Die broer was 'n siniese mens wat openlik met godsdiens gespot het. Tog kon hy nie help om raak te sien wat besig is om met die groepie melaatses te gebeur nie. Hy het toe sy broer begin afluister terwyl hy klas gee en self die lesse begin toepas, wat 'n volkome ommekeer in sy lewe veroorsaak he. Toe Geske Chekhawa dit sien, het hy besef dat dit sy plig is om Tonglen so wyd moontlik te onderrig.

Wanneer 'n mens dit inoefen is dit altyd beter om met jouself te begin. Wanneer jy gemaklik en rustig sit, begin deur jou egoïstiese self voor jou te sien sit, vol van sy of haar eie belangrikheid en selfsug. Terwyl jy rustig asem haal, asem ook hierdie negatiewe eienskappe van jou alter ego in. As dit sal help, sien hierdie eienskappe as vuil rook wat jy inasem, totdat jou egoïstiese self skoon is. Asem dan skoon lug en liefde uit; en sien in jou verbeelding hoedat dit eers jou self bedek en daarna jou alter ego se liggaam deurtrek en suiwer.

Hierdie oefening klink maklik maar is nogtans moeilik om aan te leer. Eers as jy dit gemaklik vir jouself kan doen, doen dan ook tonglen vir mense wat treur of wat in pyn verkeer.

Dit kan jou nie kwaad aandoen as jy iemand se hartseer of pyn op jou neem nie, inteendeel, dit kan 'n diep katarsis veroorsaak wat vir jou sowel as die persoon vir wie jy dit doen, uiters voordelig kan wees.

Dikwels besoek 'n mens iemand wat so siek of hartseer is dat hulle net iemand se nabyheid wil hê, maar verder alleen gelaat wil wees. Dit bied die ideale geleentheid om stil by iemand te sit en die tonglen-meditasie te doen.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.