.

Oos Wes Boeddha en Jesus ontmoet

Deur op 1 Augustus 2015

Die Dans met God

Die dans met God deur Abel Pienaar. Uitgewer: Naledi. Prys: R189.

Wanneer twee oënskynlik onversoenbare wysheidsfigure soos Jesus en Boeddha as "broers" langs mekaar staangemaak word, sal die meeste Christene waarskynlik meer as net 'n wenkbrou lig. Baie sal in hul graankos stik by die aanhoor van so 'n vreemde gedagte en dit selfs as godslasterlik beskou.

Vir Abel Pienaar is dit glad nie so vreemd nie. Die meeste mense dink, leef en beweeg slegs binne hul eie geloofstradisie met oogklappe aan, skryf hy in sy jongste boek, Die dans met God.

Pienaar is goed geplaas om die ooreenkomste tussen Jesus en Boeddha raak te sien. Hy is opgelei as NG predikant en was tien jaar lank 'n NG dominee terwyl hy hom ook ingegrawe het in Oosterse denkrigtings soos Zen-Boeddhisme.

Sy ontmoeting by Plum Village in Frankryk met die Zen-leermeester Thich Nhat Hanh het hom gehelp om 'n dieper insig te kry in die Oosterse wysheidstradisie. Dit het hom in staat gestel om met nuwe oë te kyk na die Christelike tradisie waarmee hy grootgeword het.

Hoewel die skrywer sê hy staan buite die Zen-Boeddhisme net soos hy vandag ook buite die Christendom staan, kan hy hom nie regtig heeltemal losmaak daarvan nie. "Ek kyk na albei met die hart van 'n filosoof. My behoefte is om sin vir my lewe hier en nou te vind."

Die naelstring wat hom en sy eie geloofstradisie van ouds met mekaar bind, en waarvan hy nie heeltemal kan of wil loskom nie, blyk uit die titels van sy boeke wat deurgaans op God fokus. Eers was daar God se oë is blou in 2014 en nou Die dans met God. Maar dit is 'n ander God as die tradisionele God wat jy op Sondagskool en in die katkisasieklas raakloop.

Pienaar is 'n omstrede skrywer wat nie oral ewe gewild is nie. Een van die hoofredes waarom die NG Kerk se koerant Kerkbode sy borgskap in 2013 onttrek het aan 'n gespreksreeks by die Woordfees in Stellenbosch, was omdat Pienaar een van die deelnemers sou wees.

Dit het hom egter nie van stryk gebring nie. Hy bly een van die groot trekpleisters by sulke gesprekke. Wanneer hy optree, is die sale gewoonlik stampvol.

Terwyl die Jesus-verhaal aan die meeste mense in die Weste bekend is, is Boeddha se storie nie so welbekend by die gemiddelde Westerling nie. Daarom lewer Pienaar se werk 'n groot bydrae om 'n beter begrip by Afrikaanse mense te kweek vir die Boeddhisme wat vandag nog in baie Afrikaanse huishoudings as iets uit die bose beskou word.

Die ooreenkomste tussen Jesus en Boeddha wat Pienaar in sy boek uitwys, bied stof tot nadenke vir diegene wat meewarig neerkyk op Oosterse tradisies.

Natuurlik is daar groot verskille tussen die tradisie van Boeddha en dié van Jesus. In teenstelling met Jesus het Boeddha immers nie 'n God verkondig nie.

Maar soos die skrywer tereg uitwys, is dit hoogs onwaarskynlik dat Boeddha of Jesus hulself sou herken in die mitologiese taal wat hul volgelinge later gebruik het om hulle te beskryf. Die ooreenkomste wat Pienaar uitlig, kan nie sonder meer afgemaak word nie, al hou sommige teoloë nie daarvan nie.

Pienaar slaag daarin om die skanse van die eens onaantasbare dogmas wat as die absolute waarheid voorgehou is te bevraagteken en af te breek sonder om van die leser te verwag om saam te stem met alles wat hy sê. Vir diegene wat self graag verder wil delf, is daar 'n uitgebreide bronnelys agter in sy boek, asook elektroniese bronne wat nuttig te pas kom.

(Soos geplaas in Rapport, 12 Julie 2015.)

Jean Oosthuizen is 'n vryskutjoernalis.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.