Oor fundamentalisme

Deur Prof. Diek van Wyk op 1 Desember 2011

Hierdie bydrae van Prof. Diek van Wyk het oorspronklik in die elektroniese nuusbrief Markplein (Mei 2011) verskyn. Dit word hier oorgeneem met sy goedkeuring.

Fundamentalisme is 'n problematiese begrip. Elkeen gebruik dit asof hy/sy presies weet wat dit beteken en tog blyk dit al gou dat dit 'n vlag is wat in baie verskillende windrigtings gehys kan word. Dit word veral gebruik vir ultra-konserwatiewe religie, maar ek moes al van twee geleerde teoloë hoor dat die nuwe hervormers, wat seer sekerlik nie konserwatief in hulle opvattings is nie, fundamentalisties is. Ek was dus nie verbaas nie toe ek in 'n soektog oor fundamentalisme op die internet afgekom het op 'n webwerf wat die onderwerp inlui met die opskrif "The chaos of religious terminology." Dit is dus miskien goed om 'n bietjie kop skoon te maak rondom hierdie tergende verskynsel, al lei dit nie tot finale klaarheid nie.

Kenners is dit eens dat die woord fundamentalisme sy opwagting om en by die eerste kwart van die vorige eeu gemaak het na die verskyning tussen 1910 en 1915 van 'n reeks boeke getitel The Fundamentals: A Testimony of the Truth. Hierin is 'n vyftal grondbeginsels van die Christelike geloof uitgespel, t.w. die goddelike inspirasie en onfeilbaarheid van die Bybel, die letterlike waarheid van die Bybel, die maagdelike geboorte van Jesus, die liggaamlike opstanding van Jesus, en sy plaasvervangende boetedoening aan die kruis. Die woord is in verband met aanhangers van hierdie, oorspronklik uitsluitlik Protestantse, teologie gebruik en dit bly tot vandag die semantiese bodem van die woord in Christelike verband. Rondom die tyd van die Irannese revolusie in 1978-79 is die begrip uitgebrei om ook op konserwatiewe Moslems van toepassing te wees.

Spoedig is dit egter veralgemeen om alle vorme van religieuse konserwatisme en uiteindelik ook alle vorme van ideologiese konserwatisme in te sluit. In die literatuur oor fundamentalisme lees ons dus vandag van fundamentalisme in die Katolisisme, die Judaïsme, die Hindoeïsme, die Boeddhisme, die ateïsme, die kommunisme en selfs in die politiek en die ekonomie. In die proses het dit iets van 'n skelwoord geword: om 'n fundamentalis te wees sou dus beteken om intellektueel 'n bietjie agteraf te wees. Geen wonder, dus, dat dit haas onmoontlik is om fundamentalisme eenduidig te definieer. Om enigsins sinvol oor fundamentalisme te kan praat is dit nodig om van die semantiese vrag wat dit oor die laaste sowat drie dekades opgetel het af te gooi. Dus sal ek die woord beperk tot religie en wegdoen met enige verkleinerende konnotasie.

Fundamentalisme het sy eie dinamiek en wetmatigheid

Karen Armstrong se boek, The Battle for God, is seker die omvattendste ontleding van fundamentalistiese bewegings in die drie monoteïstiese godsdienste wat hul oorsprong in die Midde-Ooste het. Sy wys daarop dat elke fundamentalisme sy eie dinamiek en wetmatigheid het en dat daar geen enkele gemene deler is in al die strominge wat as fundamentalisties beskou kan word nie.

Tog is daar sekere tipiese kenmerke wat dikwels waargeneem word, na aanleiding waarvan gesê kan word dat fundamentalismes tipiese beleërde vorme van spiritualiteit is wat ontstaan in reaksie op vernuwende religieuse of sekulêre idees wat beleef word as 'n bedreiging van hul geloof.

Dit word gemotiveer deur angste, vrese en begeertes wat betreklik normale reaksies is op probleme om aan te pas in 'n moderne wêreld. Fundamentaliste voel nl. dat hulle stry teen magte wat hul heiligste waardes bedreig. Hulle vrees ondergang en verskans hulle dan daarteen deur 'n terugkeer na leerstellings en gebruike van die verlede. Wat is die kenmerke van fundamentalisme wat uit literatuur oor die onderwerp na vore kom? Die grondoorsaak van fundamentalisme is verandering as gevolg van modernisering. Die teenpool daarvan is dus modernisme: modernisme in die godsdiens, die wetenskap, die staatsbestel, ens. In Amerika het veral die liberale teologie, die sekularisering van die staat en later die koms van die evolusieleer stukrag aan fundamentalisme gegee. Fundamentalisme is gevolglik wesenlik konserwatief. Dit is daarom dat dit by moderniste 'n negatiewe kleur van agterlikheid gekry het.

Fundamentalisme wil meesal terugkeer na die spiritualiteit van die verlede

Paradoksaal genoeg is fundamentalismes dikwels juis baie modern omdat fundamentaliste baie bedrewe is met die benutting van moderne tegnologie, instellings en strukture. Fundamentalistiese opwekkingspredikers in Amerika weet bv. heel goed hoe om reklametegnieke en massamedia soos TV en die internet vir hulle doeleindes aan te wend. Fundamentaliste wil meesal terugkeer na die spiritualiteit van die verlede. Dié terugkeer is egter byna altyd selektief. Fundamentalistiese Christene sal bv. bely dat die Bybel letterlik deur God geïnspireer en dus onfeilbaar is, maar sal nie Ou Testamentiese voorskrifte i.v.m. dieet, offerandes of steniging gehoorsaam nie. Fundamentalisme teer dikwels op eenvoudige, kernagtige beginsels en slagspreuke wat die verbeelding aangryp. Sulke beginsels en slagspreuke lei die aandag af van die kompleksiteit van verskynsels en situasies en stuur die denke van aanhangers weg van 'n oop gesprek met diegene wat sake anders sien. Dit is dus in die reël moeilik om met fundamentaliste in gesprek te tree. Die gesprek tussen fundamentalisties gesinde kreasioniste en evolusioniste in die openbare pers is hiervan „n voorbeeld. 'n Algemene kenmerk van fundamentaliste is 'n sendingywer om die wêreld te hervorm. Hulle is nie tevrede om in 'n hoekie te bly sit nie. Daarom vind fundamentalismes dikwels neerslag in openbare aksies wat die samelewing na hulle beeld wil buig.

'n Baie algemene kenmerk van fundamentalisme is 'n aggressiewe onverdraagsaamheid teenoor ander standpunte

Omdat fundamentaliste dikwels georganiseerde aksies loods, gryp hulle meermale die politiek aan om hul oogmerke te verwesenlik. In die 60-ger tot die 90-ger jare het die sogenaamde Christian Right 'n beduidende rol as drukgroep in die Amerikaanse politiek gespeel. In Israel het fundamentalistiese groepe politieke partye gevorm wat staatsbeleid beïnvloed het en in Iran het 'n fundamentalistiese Islamitiese staatsorde in reaksie teen die Sjah se bewind ontstaan.

'n Ander baie algemene kenmerk is 'n aggressiewe onverdraagsaamheid teenoor ander standpunte. Dit kan verskillende vorme aanneem: beskuldigings van leerdwaling, Godslaster of kettery, protesaksies, georganiseerde bewegings, en so meer. Dit is omdat onverdraagsaamheid part en deel van fundamentalisme is, dat die begrip uitgebrei is na onverdraagsaamheid in ateïsme, die politiek en die ekonomie. Dit is hierop wat die twee geleerde teoloë hulle, myns insiens foutiewelik, beroep het toe hulle (alle) nuwe hervormers van fundamentalisme beskuldig het. Die onverdraagsaamheid van fundamentaliste gaan dikwels wyer as die eng konfessionele. Amerikaanse fundamentaliste was bv. geneig om ook anti-Joods, anti-Katoliek en anti-Neger te wees. Ander tipiese aangeleenthede waarteen fundamentaliste ook gekant is sluit in gay-regte, aborsie, en, in die geval van sommige Moslems, vroueregte en demokrasie. Wanneer mens die literatuur oor fundamentalisme lees is daar een ding wat hinder: daar word nie duidelik genoeg tussen fundamentalistiese strominge en fundamentalistiese oortuigings onderskei nie.

'n Fundamentalistiese stroming sou beskrywe kon word as enigiets van 'n duidelik waarneembare algemene tendens tot 'n georganiseerde drukgroep met fundamentalistiese kenmerke. Fundamentalistiese oortuigings kan beskou word as die voorkoms van die kenmerkende eienskappe van fundamentalisme by individue sonder dat dié individue noodwendig by 'n fundamentalistiese beweging betrokke is.

Daar moet onderskei word tussen fundamentalisties en godsdienstige konserwatisme

Ek meen dat dit ook nodig is om te onderskei tussen fundamentalisme enersyds en godsdienstige konserwatisme andersyds. In ons gemeenskap is daar baie Christene wat die vyf beginsels van 1910-19 se Fundamentals, miskien hier en daar effens aangepas, sal onderskryf. Verskeie van die tipiese kenmerke van fundamentalisme ontbreek egter by hulle, bv. deurdat hulle heel gemaklik is met modernisme, deurdat daar met hulle gesprek gevoer kan word en veral deurdat hulle nie aggressief onverdraagsaam teenoor ander sienings is nie. Hulle is m.i. godsdienstig konserwatief eerder as fundamentalisties. In die literatuur word meesal op fundamentalistiese bewegings gekonsentreer. Dit ken ons nie eintlik in ons land nie. Daar ontstaan van tyd tot tyd woelinge binne kerkverband teen neigings wat as reaksies teen modernisme beskou kan word, maar dit lei gewoonlik nie tot standhoudende bewegings nie.

'n Mens sou kon vra of die Mighty Men beweging nie dalk fundamentalisties is nie. Hoewel dit beslis konserwatief en reaktief is, mis dit tog sommige van die kenmerke van fundamentalisme, veral aggressiewe onverdraagsaamheid. Daarom kan dit eerder beskou word as 'n konserwatiewe herlewingsbeweging. Nadat dit alles gesê is moet toegegee word dat ons steeds met 'n baie problematiese gegewe te doen het. Daar bly baie grys areas oor. Religieuse konserwatisme skakeer bv. aan die een kant ongemerk oor in fundamentalisme en aan die ander kant net so ongemerk oor in modernisme. Daar is ook geen duidelike grens tussen fundamentalistiese oortuigings wat algemeen voorkom en fundamentalistiese strominge nie. Die onderskeide wat gemaak is belig dus fokuspunte binne een groot kontinuum eerder as wat dit onderling uitsluitende terreine wil afbaken. Gaan ons nie so te werk nie, loop ons ons egter vas in die situasie na aanleiding waarvan Lionel Caplan beweer: "We are all of us, to some degree and in some senses, fundamentalists." 'n Gesprek oor fundamentalisme is noodsaaklik. Trouens, 'n gesprek tussen moderniste en fundamentaliste, met begrip, verdraagsaamheid en openheid vir mekaar se standpunte en motiewe as vertrekpunt, is selfs nog noodsaakliker, hoe moeilik dit ook al is.

Diek van Wyk

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za