Oop gesprek tussen Godsdiens en Wetenskap

Deur Dr. Ben du Toit op 1 Mei 2012

(Dr. Ben du Toit is kommunikasie-direkteur van die NG sinode van die Wes- en Suid-Kaap. Hierdie artikel is ook gepubliseer in Die Burger.)

Dit kan geen twyfel laat dat godsdiens 'n baie prominente plek inneem in die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie. Dit is ook die geval met koerante se lesers wanneer ons week ná week artikels en briewe aantref wat die een of ander aspek van godsdienstige oortuigings tot bespreking bring.

Een van die onderwerpe wat gereeld aan die orde kom, het te doen met die verhouding tussen geloof en rede, tussen kerk en wetenskap, tussen ondersteuners van godsdiens en kritici daarvan.

In hierdie en ander argumentatiewe skrywes lees 'n mens gereeld die beskuldiging dat die kerk stil is. Hoekom neem "kerkleiers" nie deel aan die gesprek nie? Wat sou die rede hiervoor wees? Is hulle bang? Onseker? Of wat? Onderliggend hieraan is die klagte dat die kerk deur sy openbare stilswye die lidmate in die steek laat – of (in stilte) toegee aan die beskuldigings van die kritici.

Dalk sou 'n mens ter verdediging van die kerk kon sê die kerk het sy amptelike publikasies wat gereeld inligting en standpunte aan die lidmate oordra. Vir die NG Kerk is daar die Kerkbode asook die tien elektroniese sinodale nuusbriewe wat weekliks direk deur middel van gemeentes en predikante na meer as 'n miljoen lidmate kerklike inligting en standpunte oordra.

Die kerk kommunikeer dus nie in die eerste plek met sy lidmate deur middel van die openbare media (in dié geval, die dagpers) nie. Tog, en dit wil 'n mens graag beklemtoon, speel die openbare media 'n uitermate belangrike rol in die kommunikasie van inligting van godsdienstige aard – en sou die kerk onwys wees om nie daaraan deel te hê nie.

Dus stel ek baie graag deur middel van hierdie artikel die standpunt-dokument (opgestel in Junie 2009) van die algemene sinode se moderamen (ASM – die "dagbestuur" van die sinode) aan lesers bekend.

Dit is belangrik om in ag te neem dat enige verwysing hierin na "wetenskap" die totale spektrum van wetenskaplike dissiplines veronderstel. Met ander woorde, die natuurwetenskap, sowel as die sosiale/mens-wetenskaplike dissiplines. Hopelik sal dit 'n konstruktiewe bydrae tot die openbare debat kan lewer.

Kerk en Wetenskap

Die vraag oor die aard van die verhouding tussen kerk en wetenskap speel van tyd tot tyd onderliggend 'n bepalende rol in die lewens van ons lidmate, waar hulle hulself ook al bevind in die diverse sektore van ons samelewing. Dit is dan dat standpunte en argumente oor onderwerpe soos die evolusie (teorieë oor die ontstaan van die mens), die oerknal (teorieë oor die ontstaan van die skepping), en ander sake soos die invloed van gebed op (byvoorbeeld) reën, klimaatsverandering en dies meer, dikwels tot onverkwiklike gesprekke lei.

Dit lê ten grondslag van die Gereformeerde tradisie dat onderrig en opvoeding, ook ten opsigte van die volle spektrum van die multidissiplinêre wetenskap, deel is van die kerk se roeping om sy lidmate te begelei tot verwondering oor die God van hierdie skepping/heelal, soos wat ons dan ook gereeld gelowig oor Hom bely.

Alhoewel dit anders is as God se openbaarmaking deur Jesus Christus, is sy skepping ook 'n bepaalde openbaarmaking van die misterie en wonder van God self. Die onvermoeide wyse waarop die kerk dan ook in sy geskiedenis die inisiatief geneem het tot die oprigting van skole en ander opvoedkundige inrigtings, is prakties tekenend van hierdie wedersydse respek tussen geloof en kennis.

As sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorieë nie – is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. Ons beskou dan ook nie die Bybel as 'n handboek wat vir ons allerlei wetenskaplike uitsprake maak wat buite hierdie bundel geskrifte se historiese konteks lê nie. Juis omdat ons respek het vir die teks van die Bybelse geskrifte, het ons respek vir die historiese konteks waarin hulle ontstaan het.

Wat die kerk wel ondersteun en bely, is 'n bepaalde geloofsuitspraak, naamlik dat God die Skepper van hemel en aarde (heelal/veelal) is. Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder, veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.

Dit is daarom jammer dat daar dikwels vanuit beide die kerklike, sowel as die wetenskaplike kontekste, uitsprake gemaak word wat dui op 'n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap, asof beide nie bepaalde uitdrukkings kan wees van God se onbeskryflike grootheid en mag nie.

Die NG Kerk sal graag vanuit hierdie perspektief wil deel wees van die gesprek tussen kerk en wetenskap – en ons daardeur laat begelei in die hantering en beoordeling van sake wat met hierdie verhouding verband hou.

Uit dié standpunt-dokument behoort dit dus duidelik te blyk die NG Kerk ondersteun of verwerp nie bepaalde teorieë oor evolusie of die oerknal nie. Enigeen wat die wetenskaplike debatte volg oor, byvoorbeeld, die teorieë met betrekking tot die ontstaan van die heelal, of die menslike geskiedenis, sal opmerk dat sodanige teorieë beredeneer word met tegniese taal en begrippe wat sekere gespesialiseerde kennis vereis om te verstaan (of te beoordeel). Die kerk het hiervoor nie die nodige bevoegdheid nie. Dit is nie die terrein van die teologie nie.

Maar ook die teenoorgestelde is waar. Die natuurwetenskappe se taak is nie om teologie te beoefen nie – met ander woorde om teorieë of geloofsuitsprake oor God te verdedig, te verfyn of selfs te weerlê nie. Dit is die taak van die teologie om met die grootste mate van integriteit die kerk te help om tot bepaalde geloofsuitsprake en belydenisse oor God te kom – en, afgeleid daarvan, opinies oor die kerk en haar rol en funksionering daarop na te hou.

Vir die kerk is die eerste en belangrikste kernbron van hierdie uitsprake en belydenisse uiteraard die Bybel. Omdat ons die historisiteit van die Bybel erken en die integriteit daarvan hoog ag, moet ons hierdie bundel geskrifte interpreteer in terme van verantwoordelike vertolkingspraktyke. Hierin word ons juis ook bygestaan/gehelp deur die wetenskaplike dissiplines wat te doen het met die verstaan en vertolking van tekste, asook die verstaan van menslike gedrag en die funksionering van sosiale strukture.

Daarom is dit juis belangrik om te onthou dat die Gereformeerde kerktradisie in terme van sy eie oorsprongskonteks nie afwysend gestaan het ten opsigte van die ontwikkeling van die verskillende wetenskaplike dissiplines nie. Indien ons ernstig is met ons belydenis dat God die Skepper van die heelal/veelal is, behoort dit by ons geen spanning te bring as die wetenskaplike dissiplines hierdie komplekse werklikheid (wat ook die mens as psigies-biologiese wese insluit) geleidelik ontsluit nie.

Om jouself dus byvoorbeeld as Christen-wetenskaplike of as wetenskaplike-maar-ook-Christen, te beskou, behoort nie langer onmoontlik te klink of as twee onversoenbare pole beskou te word nie. Die teendeel is waar.

Wanneer ons dus in die openbare media as gelowiges met mekaar wil debatteer, sal dit ons as Christene daarom pas om met die nodige beskeidenheid uitsprake te maak oor wetenskaplike teorieë en terselfdertyd ernstig kennis te neem van alle ontwikkelinge op hierdie gebied, om dit te integreer met ons belydenisse oor God.

Terselfdertyd hoop ons dat diegene wat nie die Christelike geloof in God as Skepper deel nie, hulle daarvan sal weerhou om onwelkome aanvalle te doen op die kerk en haar geloofsgoedere. Natuurlik is die kerk (geloofsgemeenskap) nie bo kritiek verhewe nie. Daarom moet ons ernstig daarna luister wanneer ons gewys word op onhoudbare uitsprake uit ons geledere. Ook hier behoort vanuit kritiese geledere gewaak te word teen ongenuanseerde uitsprake oor die kerk en geloof, asof dit 'n homogene groep mense is.

Ons hoop dat hierdie standpunt-dokument sal bydra tot 'n meer genuanseerde openbare gesprek oor die verhouding tussen kerk en wetenskap.

Dr. Ben du Toit is ook die skrywer van die boek: God? Geloof in 'n postmoderne tyd. Dit is 'n goed-geskrewe boek en het die teologiese debat in die kerk gestimuleer soos min ander boeke die afgelope paar jaar. Dit het ook die Andrew Murrayprys gewen.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za