.

Oom Tjol en sy Leeu (circa 20 000 vC)

Deur Eben van den Heever op 1 Mei 2016

.

"Pa, ek het 'n probleem en ek weet nie hoe om dit op te los nie" vra klein Njar my een aand terwyl ons langs mekaar om die flou vuurtjie voor ons grot sit. "As ek so rondom my kyk, sien ek die son, maan en sterre, water, bome, wilde diere en mense. Daar is ook visse in die rivier," gaan hy voort. "Dinge gebeur mos nie net sommer vir geen rede nie. Iets moes lank gelede gebeur het om hierdie lekker blyplek en alle dinge vir ons te skep." Hierdie eenvoudige vraag dwing my net daar om weereens behoorlik aan die ontstaan van alles te dink! Daar moet mos 'n begin wees?

"Boeta, dit het my ook al lankal gepla, maar ek ken nie die antwoorde nie. Aanvaar en glo maar net dat alles maar so met die tyd ontstaan het. Ek weet ook nie hoe nie en ek bekommer my ook nie te veel daaroor nie. Vir my is dit ook vreemd dat niks aan niemand behoort nie. Ons glo mos dit is maar vir ons verniet gegee om te oorleef, maar niemand het nog ooit gevra wie is die skenker nie. Alles het tog een of ander maker of eienaar en alles word baie sorgvuldig gemaak en bewaar. Jou wapens en velklere is deur jou gemaak en behoort aan jou. Die bok wat jy skiet of die vrugte wat jy eet is mos joune. Maar aan wie behoort ons as mens eintlik en wie het alles wat ons kan sien vir ons gemaak." En net daar steek my brein weer viervoet vas.

"Ek weet Pa, maar wie is die groot eienaar wat alles gemaak het. Dis beslis nie mensgemaak nie." Ek kan uitmaak dat hy eendag 'n denker gaan wees maar wat antwoord ek hom nou? Iets groots moes gebeur het maar wat?

"Jou oom Tjol, vertel my die ander dag van sy noue ontkoming met 'n leeu daar naby die knoppiesdorings. 'n Groot maanhaar het hom bekruip, en toe hy homself kom kry, storm die ta hom met mening. Toe hy sien dat die leeu hom gaan bykom, begin hy baie benoud om hulp roep, wat natuurlik nie beskikbaar was nie want hy was dan man alleen. Hy draai toe net daar om en skreeu op die leeu terwyl hy sy spies reghou om homself te verdedig." En ek probeer die storie 'n bietjie lyf gee.

"Maar Pa, wie het die leeu gemaak?"

"Moenie my aanjaag nie, ek kom daarby" probeer ek bietjie om tyd te wen.

"En toe Pa, wat het hom gered?" En hy wag met blink ogies vir die einde van hierdie storie.

"Oom Tjol weet self nie mooi wat toe gebeur het nie want hy sê hy het half en half toe-oog vir sy einde gewag. Toe daar na 'n rukkie nog steeds niks gebeur het nie, en die maanhaar se gebrul stil word, sien hy toe hoe 'n buffeltrop die leeu omsingel het en met mening bykom! Hy het vir 'n lang ruk onder 'n wildevyeboom gaan sit en peins oor sy noue ontkoming."

"Oom Tjol is oortuig daarvan dat daar iets moes wees wat hom gered het. Miskien is daar tog iets wat na ons welsyn omsien want dinge gebeur mos nie net so met die toeval nie en dalk het hierdie onsigbare iets ook alles wat ons kan sien en gebruik, gemaak. Dit kan nie 'n mens wees nie. Soms verwonder ek my self aan hoe dinge ontstaan het."

Maar Njar skud net sy kop en dit is duidelik dat hy nie hierdie storie van toeval eintlik aanvaar nie. Moet ek hom vertel hoe nederigheid my soms oorval as ek na ons omgewing se skoonheid kyk, die blomme, watervalle en veral van die klein jakkalsies wat soos kinders wegkruipertjie speel?

So 'n paar aande later, terwyl ons gemeenskappie so om die vuur weer na Tjol se saga luister en bespreek, sluit Past Veliet, die plaaslike weet-alles ken-alles doen-niks by ons aan. Dit was ook nie lank nie en Past begin die gemoedelike gesprek oorneem.

Hierdie klong was een van die soort mense wat millennia later, 'n profeet of 'n sjamaan genoem sou word. 'n Swerwer van ete tot ete en wat niks tot die gemeenskap bydra nie maar oorloop van eie wyshede. Vreemde visioene en toekomspraatjies was sy eintlike sterk punt. Hy het menige van ons met sy stories van vreemde gebeure en onsigbare wesens by geleentheid vermaak. 'n Stukkie spesiaal gesnyde boklewer of 'n snaakse kring om die maan het die toekoms vir hom openbaar. Sy voorspellings het uit sy eie verbeelding voortgespruit en hy het hierdie voorspellings as realiteite van ons toekoms voorgehou. Die kinders was maar skrikkerig vir hom en sy wilde groot oë. Die stukkie vleis en pusawyn het hom ook dadelik aan die praat gesit.

"Ek het julle mos al lankal terug vertel van die vreemde stemme en gebeure daar by die klip skuiling. Ja broeders, laat ek julle vertel bla bla bla..." Intussen weet ons baie goed dat hy weer op een van sy vele verbeeldingsvlugte is. Hierdie keer het hy byna onmiddellik Tjol se leeustorie oorgeneem en voluit begin om ons van die vreemde onsigbares te oortuig en hoedat hulle vir ou Tjol kwansuis gered het. Hoe 'n mens so vinnig 'n storie met eie verbeeldingsvlug in 'n amperse geloofwaardige storie kon verander, is seker net vir sommiges beskore. Eeue later was hulle seker kerk-vaders, geestelikes, advokate en motorverkoopsmanne genoem.

"Kom môre daar by die skuiling bymekaar dan vertel ek julle alles wat ek weet. Miskien eet hierdie onsigbare wesens ook iets dus bring iets lekker saam, net ingeval. Is daar nog 'n stukkie vleis oor?" en hy lek sy lippe ook af vir nog 'n slukkie pusa-wyn.

Maar die ou mense het mos hoeka gesê dat as iemand 'n storie vertel, en sy ogies word klein en hy kyk so op en na die linkerkant toe en staar in die vertes in, dan weet jy hy lieg. Dit het ook nie veel poging van hom gekos om ons ou klompie, behoorlik aan die dink te sit nie en het hy met sy gestaardery en eentonige stem, hierdie stories oor vreemde wesens, met soveel oortuiging oorgedra, dat ons hom begin glo het. Opvallend was sy ewe dramatiese gesigsuitdrukkings en handgebare waarmee hy ons gedagtes saamgesleep het. Hier was 'n orator van formaat!

Wat ons as 'n lekker gemeenskap uitstappie na die klipskuiling voorsien het, het die volgende dag verander in 'n volbloed indoktrinasie lesing. Past en sy handlanger, Oor, was netjies skoon gewas en gepolish, nie 'n haar uit sy plek nie. Die skuiling word versier met blomme en die rotswande met vreemde en onverstaanbare tekeninge. Past het ook snaaks begin praat en vreemde geluide begin maak. Ons het almal geweet dat hy nie juis 'n sanger was nie maar hierdie geluide was onbekend. Seker die vreemde wesens se tale? En Oor kap dit uit met sy trommetjies vir dramatiese agtergrond-musiek om Past se vertoning te benadruk. Indrukwekkend by uitstek!

Hy het ons selfs oortuig om ons hande en voete in die stroompie te gaan afspoel, want mens kon mos nie vuil voor hierdie onsigbares verskyn nie! Hierdie aksie het mettertyd selfs oorgegaan in 'n was-ritueel. Ons periodieke samekomste het in rituele etes met wyn verander! Manlike lede moes ook 'n pynlike operasietjie ondergaan om hulle lidmaatskap van die stam te bewys. Alles opdragte van die onsigbare wesens wat net met Past die geroepende, gepraat het.

"Hulle is nie van ons wêreld nie en ek moes heelnag lank hulle taal staan aanleer" en ewe trots rammel nog 'n paar onverstaanbare geluide af.

"Geagte vriende, of liewers broers en susters, na gisteraand se geselsie, het ek hierheen gekom want 'n stem het my beveel om die plek mooi skoon te maak en te versier met blomme. Hierdie skuiling is nou sy huis en ek sy assistent. Ek is aangestel as spreekbuis vir hom en ek moet julle mense van ons nuwe geloof vertel. Ons stam is gelukkig om nou ons eie god, wat in die toekoms na ons wel en weë sal om sien, te besit," rammel hy voort terwyl hy nou en dan diep voor 'n ou houtstomp buig wat glo die gees verteenwoordig.

En die spoeg spat soos hy voortgaan met sy boodskap. Die gehoor word oor hulle wilde en soms roekelose leefwyse aangespreek, terwyl sommiges van die gehoor hier en daar kopknikkend met hom saamstem. 'n Paar het selfs opgespring om vreemde danse te doen asof hulle in 'n beswyming was. Miskien ook maar die effek van daardie "happy sampioene" en die gebruiklike gandjatwakkies wat ons vir enige skeet rook. Hierdie mense het totaal selfbeheer verloor!

"Ek moet julle waarsku, dat dit slegs ek is wat hierdie geeste se taal ken en weet wat hulle behoeftes is. Solank as julle die nodige bydraes bring, sal dit met julle goed gaan maar wee die een wat nie in hulle glo nie. Sy lewe is eintlik niks meer werd nie! Dis net ek wat met hulle kan praat," en hy slaan ewe dramaties sy kierie teen die rotswand stukkend.

Met 'n vreemde hoogdrawende stem verduidelik hy hoedat alles deur die werk van hierdie naamlose en onsigbare geeste ontstaan het, van die son wat deur leeus deur die lug getrek word, tot die gees wat jou vuurtjie aansteek. Daar is een vir die Somer en een vir die Winter. Nog een bring die reën en een vir wind. Alles is mooi en goed gemaak en is vir ons kosteloos gegee om op te pas. Ons moet ook gereeld by die skuiling saamkom en kom luister na die groot gees se stem. Moenie die dankiesê goed vergeet nie. Hy en Oor het selfs 'n lekker braaiplek aangelê, kwansuis om ons swaar gejagde vleisie vir die onsigbare geeste te braai. Die geeste hou van die braaivleis se reuk en ons besef te laat dat Past en sy assistant, nie meer deelneem aan ons jagtery nie maar wel saam eet. Was dit ons verbeelding of het ons leermeester redelik mollig begin word?

Die dag toe iemand hom vra waar ons mense vandaan kom, het hy net vir 'n oomblik gehuiwer en toe sy uitleg aangebied: "Van alles was ons as mens, heel laaste gemaak, dis nou nadat die gees die ape as prototipe gemaak het. Hulle was te lelik na sy sin en kon ook nie praat of werk nie. Die hoof onsigbare een, sê vir my dat ons is sy enigste gemeenskappie en is spesiaal deur hom gekies as sy toekomstige volk."

En Past maak die een na die ander reël of verspotte wet, soos om nie jou buurman se vrou te piets nie. En hy sien meer en meer visioene wat hy aan ons verduidelik. Dis ook so dat die toehoorders al meer begin neersien op mekaar. Jarelange vriendskappe het nou weens afguns gesneuwel want die een wil meer heilig as die ander wees. Dit was nooit in die verlede so nie.

Niemand het ooit besef dat Past eintlik totale beheer oor ons lewes deur vrees vir die onbekende, geneem het. Hy het gedurig daarop gehamer dat ons eintlik van geboorte af sleg is en dat groot teenspoed vir ons wag na ons dood. Ek het nog altyd gedog dat as jy doodgaan, alles verby is, net soos laasweek se gemsbokvleisie. Nou kom staan en vertel hy ons van hoe goed of sleg dit met ons sal gaan nadat ons gedood het. Hy kon ook nie vir ons mooi verduidelik wat met hulle wat reeds gedood het, gebeur nie. "Die gees het seker maar 'n plan vir hulle. Ons sal maar moet sien," en hy lyk baie onseker van sy storie!

Ons het ons eeue-oue rustige leefwyse net hier staan en verloor en die juk van die skuldgevoel begin dra. Moenie dit of dat doen nie want dit is sonde. Selfs nadat jy gedood het, sal die slegte geeste jou bykom! En hy het ons so bevrees laat voel dat ons begin besef dat die mens eintlik gebore is om ná sy dood gestraf te word. Dit maak mos geen sin nie. Waarom is jy dan gebore? Selfs die stam het nou onder mekaar begin twis want party het hulle as beter as anderes begin beskou!

"Dis die groot misterie wat jy tog nooit moet bevraagteken nie. Glo net in dit wat ek jou vertel want ek ken die gees se planne," en ek weet Past skuil agter sy vername posisie as leermeester in ons samelewing. Die vrees vir die onsigbare geeste se straf, sal hom mos spesiaal beskerm teen ongemaklike vrae.

Soos die jare verby gegaan het, en ons ou klompie die wêreld begin beset het, vind ons toe uit dat ons nie die enigste mense was nie. Ons loop toe 'n ander klompie mense raak wat verbasend soos ons lyk maar 'n hele ander storie oor hulle ontstaan vir ons vertel.

Alle mensegroepe het blykbaar 'n eie onsigbare skeppergees in hulle geskiedenis. Vele van hierdie gemeenskappe se geestelike geloof en kultuur is ook eeue ouer as ons storie! Hier en daar stem ons stories so baie ooreen, dat dit kompleet geklink het asof ou Pastie, van die ander stamme se stories as sy eie oorgeneem het. Hy het dit egter heftig ontken! Past, en Domni, die ander groep se segsman, het gou aan die stry gegaan oor wie se skeppergees die enigste een was.

Nodeloos om te sê dat dit tot erge onverdraagsaamheid, haat en selfs rassisme gelei het. Hulle manier van eerbetoon was vreemd en vir ons totaal onaanvaarbaar. Onderlinge gevegte was nou volop en dit alles in die naam van elke groep se geloof in die onsigbares? Meantime hou Past by sy storie en hy weier om te erken dat die hele rituele affêre heeltyd sy eie vrugbare verbeelding en sienswyse is.

Soos dit maar seker moes gebeur, konfronteer ek hom toe met die onbeantwoorde vrae in my gemoed. "Past, jy is nou al lank besig om vir ons te preek, maar jy het nog nooit vir ons eintlik van die wese van die skeppergees vertel nie." Ek sien toe dat hierdie vraag hom skud. "Lyk hy soos 'n mens of wat? Jy hamer gedurig op ons sondes maar het nog nooit ons eintlik van ons ware Skepper vertel nie. Ek wed jou jy kan Hom nie beskryf nie want in my opinie is Hy te groot en heilig om soos 'n mens beskryf te word."

"Maar hoe bedoel die broer dan nou? Hy het dan alles geskape en kyk baie mooi na sy mense. Jy moet net sy boodskap soos ek jou vertel het, gehoorsaam en hy sal vir jou sorg net soos 'n vader. En as jy sterf, sal jy aanhou lewe mits..." En dit lyk al asof hy wil wegkom van die gesprek.

"Pastoor, maar ek hoor dat jy hom soos 'n mens beskryf, iemand met menslike eienskappe en dan is hy nog manlik ook? Jy gee hom die liefdeseienskap, maar praat niks van haat en jaloesie nie? As hy so wonderlik is dat hy alles gemaak het, waarom is hy slegs ons gemeenskappie se behoeder en nie die ander mense s'n nie? Waar woon hy en waarom moet ons nog so swaarkry alhoewel ons gereeld vir sy dienaar bydrae en kos moet gee om die groot gees se skynbare woede te kalmeer? Past, hoe is dit moontlik dat jy die enigste een is wat weet wat die skepper dink en wat hy gaan doen? Dink jy nie dat jy ietwat voor op die wa is nie of is hierdie geloofsgesprekke en sedepreke maar net die produk van jou eie oorvrugbare verbeelding en verstandjie?" My vrae wil net nie ophou nie! "En dan reken jy dat ons altyd skuldig sal wees, maak nie saak hoe goed ons eintlik lewe nie!" My vrae borrel uit soos 'n fontein.

"Pastie, en verder, hierdie bose kreatuur, Natas, waarvan jy altyd so geheimsinnig oor praat en ons so lekker mee bangmaak, dis mos niks anders as dit wat jy in jou hart ronddra nie. Hoe kan jy iemand anders en nogal 'n ander slegte onsigbare gees aanspreeklik hou vir die slegte dinge wat jy self uitdink en doen? Hoe lyk hy en waar woon hy."

Pastoor se ogies raak groot toe ek hom daarop wys dat die skeppergees ons nie met die natuur soos stormwinde, oorstromings en droogtes straf nie. Ons was dan mos reeds gereeld gestraf, eeue voordat ons van hom gehoor het! Honger, siektes, koue is dan deel van ons leefwyse en is dus nie 'n straf nie. En whatever will be will be! "Jy kan mos ook nie enige onmoontlike beloftes van welvaart namens hom maak nie."

"Maar broer, ek het darem jare en jare se ondervinding van hierdie dinge en jy krap nou waar dit nie jeuk nie! Hoekom trek jy my woorde in twyfel? Glo my woorde want waarom sal ek nou vir jou liegstories opmaak. Julle weet mos ek is sy enigste spreekbuis en kry daagliks my opdragte direk van hom af. Ek was spesiaal geroep vir hierdie doel." Hy kyk my met verontwaardig aan. Die skewe trek om sy mond verraai egter sy binneste.

"As jy dink jy gaan al my jare se werk onder julle tot niet maak, is jy in lyn vir 'n ernstige verrassing. Ek, Past Viliet, sal nie toelaat dat jy met jou twyfelagtige hart, alles kom staan afbreek nie. Ek praat nie weer nie maar ek sien klaar jy gaan nie lank lewe nie. Groot pyniging wag vir jou. As jy nie saam met my stem nie is jy vervloek," en sy stem bewe van ware verontwaardiging en woede. Hoe durf ek?

"Jammer vir jou Pastoor, ek kan nie blindelings alles glo wat jy verkondig en kwytraak nie. Dit is duidelik dat jy jou eie skepper volgens jou eie behoeftes gemaak het. Dit klink beslis of jy as gewone mens, die skepper se gedagtes haarfyn kan lees. Daar bestaan beslis 'n skepper, en ons moet maar net die wêreld se basiese etiese reëls volg. Nou wil jy nog jou eie sienswyses op ons afdwing. My Skepper is uniek en tree heel anders as joune op! Hoekom het jou stories soveel verskillende lyne en uitlegte wat mens net verder deurmekaar maak. En hoe is dit dat jy onuitvoerbare beloftes namens hom maak. Jy het gesê dat dit sal reën as ons ekstra vleis as offers bring en steeds is ons landerye en oeste kurkdroog."

"Nou toe nou, wil jy vir my as 'n leek, iets oor geloof kom vertel. En wat sal jy as die basiese etiese reëls vir die mens gee?" Pastoor is briesend en ek besef dat daar baie op die spel vir hom is. Sy aansien in die gemeenskap en sy lekker gemaklike leefwyse kan 'n lelike knou kry. Hy moet nou verdedig dat dit vrek or else! En hy besef dat hy vinnig besig is om beheer oor die stam te verloor. Dis toe eers dat ek ook opmerk dat daar 'n hele klompie van onse mense om ons saamgetrek het.

"Vertel liewer vir die mense van ons skepper, nie soos jy hom graag wil tipeer as mens nie, maar as 'n Skepper wat aan ons basiese behoeftes voorsien en volle geleenthede vir eie selfverbetering daarstel. Alle ander menslike behoeftes soos jou voedsel, klere en behuising sal jy net kan bevredig as jy jou moue oprol en daarvoor begin werk en nie by Hom gaan bedel nie. Vir hierdie krag moet ons dankbaar met ons hele wese wees. Waarvoor het die Skepper ons voorsien van die vermoë om te dink? Die ander een is dat ons ook moet sorg en omgee vir ons medemens deur dinge soos haat, onverdraagsaamheid, afguns, diefstal moord mee weg te doen. Ou Pastie, besef jy hoe wonderlik die lewe dan sal wees? Onthou net dat die Skepper is nie 'n denkbeeldige mens nie maar 'n God en Hy hou die hele Skepping ongevraagd in stand."

En ek sien dat hy uiteindelik begin besef dat die Skepper nie in menslike terme verstaan of beskryf kan word nie, en nog minder aan jou eie sienswyse en voorwaar-des onderhorig kan wees. Hy besef ook dat sy lekkerdroom dae verby is en hy na die ware Skepper sal moet gaan soek. En hy sak stadig op sy knieë neer as hy vir die eerste keer besef dat die Skepper in alles is en alles in Hom is.

"Dankie broer, ek besef nou dat die Skepper nie mensgemaak kan wees nie. Ek erken dat ek nog altyd myself as die kenner van die Skepper se wil beskou het. Ek het my al as sy eweknie begin beskou. My vrugbare breintjie was naderhand oortuig dat ek selfs die toekoms kon voorspel. Dankie dat jy my arrogansie uitgewys het. Ek is bitterlik jammer. Sal julle my ooit kan vergeef," en sy rou snikke weerklink in die gemeente se grot.

"En wat gaan nou van my word?"

Slotgedagte

"Is die ware lewe nie maar 'n kwessie van 'n etiese leefwyse, diepe dankbaarheid en kinderlike geloof in jou Skepper en mededeelsaamheid met diegene wat minder as jy besit nie? Onthou dat slegs die waarheid en nie mensgemaakte sienswyses, rituele, sakramente of simbole, jou vrymaak van die juk van skuldgevoel wat reeds vir eeue deur ons geloof, op ons gelê word.

Het die Skepper nie maar alles vir die mens gegee om te deel en te geniet binne Sy ongeskrewe etiese reëls en natuurwette nie? Indien nie, was al Sy werk dus tevergeefs?

Eben van den Heever –

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.