.

Ontrol

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Mei 2016

.

In die jaar 760 voor ons huidige jaartelling, praat die profeet Amos met die vroue van Israel en hy sê vir hulle: Julle skynheilige klomp koeie. Julle lê uitgevreet op die rusbanke en maak of julle omgee vir die armes en ellendiges. Uiterlik blink julle maar innerlik vrot julle. Baie jare later sê Jesus vir die Fariseërs: Julle is 'n klomp wit gepleisterde grafte. Uiterlik netjies, maar binne is julle vol doodsbeendere. Die Evangelie van Tomas stel dit effe meer genuanseerd en sê: Hoekom was julle 'n beker se buitekant? Besef julle nie dat die een wat die buitekant gemaak het ook die binnekant gemaak het nie?

Om eg te wees; om eerlik te wees; om net jouself te wees, is 'n geestelike deug so oud soos die mensdom self.

Maar om te doen wat jy moet doen en om te wees wie jy moet wees, sonder dat dit 'n rol word wat jy vertolk, is nie so maklik nie. Dit is een van daardie moeilike lesse wat ons moet leer tydens ons reis deur die lewe.

Ons almal loop die gevaar om van tyd tot tyd in die toneelstel-sindroom te verval. Wanneer 'n fliek gemaak word, of 'n teaterstuk opgevoer word en 'n toneel speel byvoorbeeld in 'n straat af, bou die tegniese span die dekor.

'n Straattoneel van vals fasades, vooraansigpanele wat met stutte regop gehou word om die indruk van stewige geboue te skep. Wanneer mens by so 'n skyngebou instap, ontdek jy dis nog steen, nog beton, maar bloot geverfde karton. Uiterlik mooi, maar innerlik leeg. Want dit is bloot daar om 'n bepaalde rol te vervul en 'n funksie te verrig.

Amos, Jesus, Tomas ... almal deel die waarheid met ons dat ons nooit mag toelaat dat ons lewe bloot 'n rol sal word om 'n bepaalde funksie te verrig nie. Dis leeg. Dis oneg. Dis nie wie ons bedoel is om te wees nie.

'n Mens is op jou kragtigste wanneer jy doen wat jy doen ter wille van die ding wat jy doen self en nie ter wille van jou ego, of rol of identiteit nie. Want elke rol wat jy aanneem of speel, word 'n fiktiewe karakter van jouself. Dis nie jy nie. En daarom is dit oneg. En mense om jou kan dit op 'n myl aanvoel.

Jy het byvoorbeeld die idee of prentjie in jou kop dat 'n ma of 'n pa op 'n bepaalde manier moet optree, sekere goed vir die kinders moet sê, sekere goed van die kinders mag verwag, op 'n sekere manier moet praat, gesag en dissipline op 'n sekere manier moet handhaaf ... en omdat dit jou beeld of prentjie is, klim jy in daardie karakter in en word jy daardie karakter. Daardie fiktiewe karakter. Jy speel ma. Jy speel die rol van pa.

Of jy het 'n idee van hoe jy reken of jy het êrens iets geleer, of êrens iets gehoor van hoe 'n eggenoot of 'n lewensmaat behoort te wees. En wat jy van die ander party kan of mag verwag. En dan begin jy optree en dinge sê en doen en eise stel en verwagtinge koester van hoe jy dink of glo of dink jy weet of gelees of gehoor of by jou ouers gesien het van hoe 'n lewensmaat optree. En verlaat jy jou ware self en jy gaan word die karakter wat jy glo jy moet wees om die ideale en regte lewensmaat te wees. Maar die oomblik wanneer jy begin optree soos wat jy glo jy behoort op te tree, begin jy 'n rol vertolk en 'n karakter speel. En dan is jy nie meer jouself nie.

En omdat jy hierdie idee het van hoe lewensmaats teenoor mekaar behoort op te tree, begin jy ook van jou maat te verwag om 'n bepaalde karakter te vertolk. Jou maat moet dan die rol speel van die karakter wat aan jou verwagtinge voldoen. Die karakter wat optree soos wat jy glo 'n lewensmaat behoort op te tree. En sodoende is nie net jy oneg nie, maar verwag jy eintlik van jou maat om ook oneg te word, in karakter te klim en die rol te vertolk soos wat jou meesternarratief dit voorskryf. En dan kan mense nie verstaan waarom hulle konflik het en nie volkome gelukkig is in hulle verhoudings nie. Dis omdat dit nie hulle twee is wat in verhouding met mekaar is nie, maar hulle twee se karakters wat rolle teenoor mekaar in 'n verhouding vertolk. 'n Tipe Proesstraat improvisasie! Want niemand weet wat volgende gaan gebeur nie. Karakters wag vir mekaar om te reageer en dan word daar vinnig aan teks gedink wat by die rol inpas voordat daar gereageer word.

Maar dit gebeur ook in die werkplek, in verhoudings met kollegas en selfs vriende. Partykeer identifiseer mense so sterk met hulle rolle dat jy na totale vreemdelinge op straat kan kyk en dan weet jy daardie persoon is 'n dokter of 'n prokureur, 'n akteur of 'n professor, 'n sakevrou of 'n direkteur, 'n dominee of 'n kunstenaar. Mense verlaat hulleself en word hulle titel. Hulle klim uit hulle self en vertolk 'n rol.

En so leef hulle 'n lewe by hulleself verby. En so bou hulle spanning op en raak moeg en uitgebrand en konk in, want om 'n leeftyd lank in karakter te bly en die rol te bly speel, is stresvol. Dit word 'n vuur waarin jy jouself offer, verloën, verbrand, verwoes, verloor!

In 'n wêreld vol rol-vertolkende karakters, is daar altyd 'n paar wat nie 'n self-geskepte-beeld na buite probeer projekteer nie, maar wat vanuit die kern van hulle diepste wese leef, die wat nie probeer om meer en groter en belangriker en meer korrek en merkwaardiger te wees as wat hulle eenvoudige self is nie. En dis die mense in die lewe wat uitstaan en wat die ware verskil in ander se lewens maak. Hulle teenwoordigheid alleen is soms genoeg om 'n situasie te transformeer. Die geruis in hulle stemme bring kalmte en hulle nabyheid genereer hoop.

Maar dis nie maklik om net eg jouself te wees nie, want die oomblik as jy gaan begin dink: "wie is ek?" en "hoe behoort ek te wees?" is jy al klaar weer besig om jouself te definieer en jouself in 'n bepaalde rol in te dink. Is jy al klaar weer besig om 'n karakter van jouself te skep.

Wanneer jy nie 'n rol speel nie, is daar ook geen sekondêre agenda of bybedoelings nie ... en dis dan en dan alleen wanneer jou dade krag het. Wanneer jy totaal fokus op die situasie, word jy een daarmee en probeer jy nie om iemand te wees nie ... dis wanneer jy volkome net jouself is. Maar moenie jouself probeer wees nie, want dan word dit weer 'n rol wat jy vertolk.

'n Mens moet dus ophou om jouself te probeer definieer en verdedig teenoor jouself en teenoor ander. Die oomblik wanneer jy jouself begin definieer, en jou optrede verdedig, beperk jy jouself, perk jy jouself in. Wanneer jy interaksie met ander mense het, moenie daar wees in die kapasiteit van een of ander rol nie, as gas, as baas, as ouer, as kind, as lewensmaat, as wie ook al nie ... wees net daar as 'n energieveld van bewuste teenwoordigheid.

Ons vertolk rolle en klim in karakters omdat ons glo dat ek en wie ek is en wie ek verteenwoordig nie genoeg is nie. Ek het daardie rol nodig om my te help regop hou. Ek het die rol nodig sodat ek volkome kan wees wie ek wil wees. Ek het die rol nodig sodat ek meer kan wees as wat ek eintlik is.

Ons moet vrede daarmee maak dat in ons posisies wat ons in die samelewing vervul, daar altyd iemand gaan wees wat superieur ten opsigte van ons gaan wees en daar gaan altyd iemand benede ons wees. Maar in die essensie van ons wese is niemand benede of bo enigiemand anders nie. Ons is almal gelyk omdat ons almal dieselfde is, omdat ons almal een is.

Hierdie is dalk een van die moeiliker spirituele lesse wat ons op ons reis deur die lewe moet leer. Maar leer, sal ons dit moet leer, want die diepgang van ons spiritualiteit hang nogal tot 'n groot mate hiervan af.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.