.

Die ontdekking van Sanskrit

Deur Gerrit van Wyk Kruger op 1 September 2018

.

(Soos gepubliseer op Litnet.)

Grieks, Afrikaans en Russies (saam met baie ander Europese tale) was oorspronklik een en dieselfde taal. Met die ontdekking van Sanskrit aan die einde van die 18de eeu in Indië is 'n model in die Vergelykende Taalkunde geskep wat dít, en nog veel meer, onteenseglik bewys. Hierdie model word vandag ook gebruik om, mutatis mutandis, die linguistiese verband aan te wys tussen ons eie verskeidenheid van Bantoe-tale, asook by die Noord-Semitiese groep van Naby-Oosterse tale waartoe Hebreeus hoort.

Toe Alexander die Grote in die vierde eeu voor Christus op sy reuse veldtogte deurgedring het tot in Indië het hy gou besef dat die Indiese élite mense van groot erudisie was. Net soos die Egiptenare, wat hom 'n ere-Farao gemaak het, het die "Ariërs" van Noordelike Indië ook 'n oeroue geskiedenis van ontwikkeling agter hulle gehad. Die Egiptiese priesters het Solon, die ou Griekse staatsman en wyse, al indertyd daarop gewys dat die Griekse beskawing self maar van "onlangs" was. En hulle piramides, wat dit millennia voorafgaan, bevestig dit ook. In Noord-Wes Indië sou die voorvaders van die Hindoes met hul vier Vedas (godsdienstige geskrifte), in Sanskrit geformuleer, ook bewys dat hulle 'n oer-oue taalkundige konneksie met Grieks en Latyn gehad het.

Dit was die Britse Ryk wat Indië vir die Weste oopgemaak het en Sanskrit as taal daar ontdek het wat so bitter na-aan die Weste se eie Grieks en Latyn lê, asook na-aan daardie taal-dialekte in Europa wat plaaslik uit Latyn ontwikkel het, soos Italiaans, Spaans, Portugees en Frans. Dit was sir William Jones wat in 1786 in 'n toespraak voor die Royal Asiatic Society van Bengale in Kalkutta die eier die eerste gebreek het. Hy het Sanskrit met Grieks en Latyn vergelyk en gesê: "(It demonstrates) a stronger affinity, both in the roots of the verbs, and in the forms of grammar, that couldn't(?) possibly have been produced by accident; so strong, indeed, that no philologer could examine all three without believing them to have sprung from some common source, which, perhaps no longer exists". En verder: "The Sanskrit language, whatever be its antiquity, is of wonderful structure; more perfect than the Greek, more copious than the Latin, and more exquisitely refined than either." Dit was veel gesê, en het die Europese taalgeleerdes van ná die Renaissance vir een van hul allergrootste linguistiese verrassings gesorg.

Teoreties het William Jones ook verder gegaan en gesê dat Germaans en Kelties, hoewel dit in 'n ander idioom verloop het, dieselfde oorsprong as Sanskrit kan hê, en daarby ook oud-Persies (Irannees). Dit was profetiese woorde wat maar te waar geword het.

Die ontdekking van Sanskrit in die Ooste (Indië), na soveel eeue der eeue van afsondering van Europa, met die totale onbewustheid in die Weste van die bestaan daarvan, maar tog só verbonde aan oud-Grieks en Latyn – juis daardie twee tale wat vir die Europese Renaissance gesorg het – was epogmakend. Ewe skielik het Europa hom taalgewys self herontdek.

Engelse, en veral Duitse geleerdes het dringend en volhoudend gewerk om die nuwe blokraaisel te ontrafel. Aan Britse kant was daar William Jones, Charles Wilkens, HT Colebrooke en Horace Wilson en aan die Duitse kant was daar weer manne soos Johann von Herder, die Von Schlegels, Wilhelm von Humboldt en selfs die groot Goethe. Daar was fonoloë soos Jakob Grimm en Karl Adolf Verner wat die klankwette tussen Sanskrit en sy Europese familie vasgelê het, en vergelykende taalkundiges, vir sinsleer en woordeskat, soos Wackernagel, Thumb, Bloch en Brugmann. Dit was inderdaad 'n nuwe en wye-wye wêreld vol uitdagings vir taalvakmanne. Die Westerse taalnavorsing het nou 'n geheel nuwe era betree, naamlik dié van 'n histories-evolusionêre analise van taal. Voorheen was taal beskryf óf op 'n stagnerende wettiese wyse (alles te reguleer deur taalwette en taalreëls), óf op 'n bloot empiriese wyse (ook "eksterne" taalbeskrywing genoem), óf met 'n wysgerige taalbenadering waarin die psigiese rasionaal van die taal, as produk ágter die rede van die mens, gesoek word – soos by die klassikus Gottfried Hermann aan die begin van die 19de eeu. Nou egter, vir die heel eerste keer, kon vergelykende taalkunde op 'n gans breër vlak toegepas word.

Thomas Young was die eerste om die term "Indo-Europees" in 1813 te skep om Sanskrit met sy Europese moederland te verbind. Hierdie uiters veelsydige man, wat die Bybel reeds twee keer deurgelees het op die ouderdom van vier jaar, was eintlik 'n mediese dokter van beroep. Hy het veral in die optika belanggestel, die transmissie van lig deur golwing gedefinieer, die drie basiese kleure (blou, groen en rooi) vasgelê, die astigmatisme by die menslike oog ontdek, en die oppervlak-rekgrens van vloeistowwe bestudeer. Hy het ook vir Jean François Champollion die pad oopgemaak om die hiërogliewe van die Rosetta Steen te ontsyfer (wat in 1799 deur die Franse militêre offisier Boussard in die Nyldelta van Benede-Egipte ontdek is, opgestel in Egiptiese hiëroglifiese én demotiese skrif naas oud-Grieks).

Sanskrit (oorspronklik "samskrita", met die betekenis van "volkome", "volmaak") was die antieke heilige taal wat die Hindoes van Noordwes-Indië in hul Vedas gebruik het. Eintlik is hierdie Vedas meer antiek as die Klassieke Sanskrit self. Die Sanskrit van die Vedas is te vergelyk met Homerus se Grieks wat ook 'n pre-klassieke vorm gehad het teenoor die Grieks van die Goue (Klassieke) Era van Griekeland ten tyde van Perikles teen 500 vC. Daarna sou nog, uit Klassieke Sanskrit, die meer alledaagse Prakrit ontwikkel het (wat op sy beurt weer vergelyk met die Hellenistiese Grieks waarin die Nuwe Testament geskryf is).

Klassieke Sanskrit was in Noordwes-Indië gebruik vanaf 1500 vC. Dit is op datum te vergelyk met die gebruik Lineêr-A en -B, die oudste Griekse sillabiese skrif (wat hul alfabetiese skrif voorafgegaan het) wat deur sir Arthur Evans op Kreta en elders op die Peloponnese opgediep is, en eers in 1952 deur John Chadwick en Michael Ventris ontsyfer is). En dit is gebruik tot ongeveer 200 vC. Op sigself moes dit egter reeds 'n lang voorgeskiedenis gehad het. Dit was teen die einde van die derde of begin van die tweede millennium voor Christus dat die Europese migrasie na die subkontinent van Indië, soos na die Griekse Balkan, reeds plaasgevind het. Die Sanskrit van die Vedas was 'n argaïese, kunsmatige taal wat, net soos Homerus se Grieks, nooit werklik 'n spreektaal was nie. Slegs die Hindoe-priesters en geleerdes het dit gebruik. Dit kan vergelyk word met die gebruik van Latyn in die Roomse Kerk (en Skool) van die Middeleeue, en steeds daarna. Tot aan die einde van die 19de eeu was hierdie Latyn die akademiese taal in Europa. En die Vatikaan gebruik dit vandag nog as amptelike kerktaal.

Toe die Europeërs (of Ariërs, die sogenaamde "edelras") in Indië aangekom het, het hulle hul godsdiens saam met hulle gebring en dit oorgeplant op die plaaslike Dawiede. En al hul heilige boeke (die Rig, Sama, Jajur en Atharva Vedas) is daarin opgestel. Dit kan amper vergelyk word met die Statenvertaling wat die Hollanders saam Kaap toe gebring het in 1652, wat pas 15 jaar eerder in Nederland voltooi is, en eers in 1933 ver-Afrikaans is in Suid-Afrika. Maar soos die ou Nederlandse Bybel het die Vedas die Skriftuur vir die plaaslike Indiese bevolking gebly – tot vandag toe.

Teen die vierde eeu voor Christus het Panini sy groot Sanskrit-grammatika in agt boekdele (die Asjtadhjaji) opgestel, geskryf in 4000 soetras, oftewel uiters bondige formulerings van die taalwette van Sanskrit. Vandag kan hierdie grootste wetenskaplike grammatika van alle tye alleen werklik verstaan word binne die gebruik van 'n reeks algebraïese sigla wat na die werke van sy voorgangers verwys. Panini vorm slegs die afsluiting van 'n lang Vediese tradisie. Eers in 1887 het Otto von Böhtlingk te Leipzig die eerste Duitse vertaling van Panini se groot grammatika uitgegee. Die eerste vier dele van Panini se grammatika is analities (vir die vormleer), die laaste vier dele weer sinteties (vir die sinsleer). So 'n Sanskrit-grammatika was egter indertyd uiters nodig om die Veda-tekste by seremonies en rituele teologies reg te lees en te interpreteer. Vader Paulinus a Sancto Bartholomaeo het in 1790 die eerste Sanskrit-grammatika vir die Weste in Rome uitgegee.

Sanskrit is, soos Grieks, 'n hoogs-geïnflekteerde taal met vervoegings van die werkwoord en verbuigings van die selfstandige naamwoord en sy adjektiewe. As uitgangspunt by sy logología, oftewel "leer van woord", wou Panini alles reduseer tot etimologiese dhâtares, oftewel woordwortels, dit is die basiese simplekse van samegestelde woorde. 'n Leidende kenmerk van Sanskrit is sy oorvloedige gebruik van die a-klank, binne die sillabiese karakter wat dit dra, na feitlik elke konsonant, behalwe as 'n ander vokaal vereis word. Sanskrit het 48 letters wat bestaan uit 34 konsonante, 14 vokale en diftonge (tweeklanke). Verder het alle naamwoorde (en sy onmiddellike korresponderende adjektiewe) drie geslagte, naamlik manlik, vroulik en neutrum (onsydig). Dit het ook getalaanwysing by die vervoegings en verbuigings van woorde, naamlik enkelvoud, meervoud en 'n tweevoud dualis (tweevoud). Naamwoorde kan tot agt naamvalle hê: Nominatief vir die onderwerp; Vokatief as aanspreekvorm; Akkusatief vir die voorwerp; Genitief vir oorsprong en besit; Datief vir die indirekte voorwerp; Ablatief om verwydering mee aan te toon; Lokatief vir die aanwysing van plek; en Instrumentalis vir implementering. By sy werkwoorde het dit Tempus (tyd: hede, toekoms en verlede), Vox (diatetiese vorme soos Aktief, Passief en die Refleksief of Wederkerende vorm), asook Modus (modale vorme soos die Indikatief, die Vokatief, die Subjunktief en die Imperatief). Dit alles maak die lees en analise van die Sanskrit uiters ingewikkeld, maar tegelyk 'n instrument van uiters akkurate segging net soos by oud-Grieks – "The finest instrument human thought has ever played upon," soos die klassieke historikus JB Bury dit eens gestel het.

Die ductus, dit is skriftipe, wat in Sanskrit gevolg word, is die Devanagari, oorspronklik ontwikkel uit die Noord-Indiese monumenteskrif wat bekend staan as Gupta, en uiteindelik gevorm is na die Brâmî-alfabet, só gebruik reeds sedert die 7de eeu AD, en vervolmaak in die 11de eeu. Die Devanagari-skryfstyl word gekenmerk deur sy lang horisontale strepe aan die koppe van die indiwiduele letters, en daar word, soos in Hebreeus, van regs na links geskryf. In die oudste Griekse inskripsies was die boustrophêdón-styl ook gebruik, dws waar heen en weer geskryf word soos die os met die ploeg draai na elke nuwe ploegvoor. Immers, woordskeiding was nie aanvanklik daar nie, want die geskrewe lyn loop aaneen reguit soos spraak op die mens se tong voortvloei.

Die woordeskat in Sanskrit is ongeëwenaard. Dit is ongewoon ryk aan sinonieme en kon (net soos Grieks) feitlik enige woord deur samestelling, agglutinatiewe hipertrofie, skep. Die langste woord in die Griekse taal vind ons in die komedieskrywer Aristophanes se Ecclêsiásuzai ("Vroue in die Parlement"), waar ons 'n woord vind wat 169 letters lank is (met teksvariasies) as die jota-subscriptum ingesluit word. Dit was naamlik die naam van 'n tafelgereg waarvan al die bestanddele in één woord opgeneem is.

Panini het Sanskrit eenvoudig Bhasa, die Taal, genoem (net soos ons eie GRA in die Paarl Afrikaans in die 18de eeu genoem het), terwyl hy die Vediese taaleie bestempel het as Chandasa, dit is metries, omdat die bundels van verskeie himnes daarin in digmaat, Samhita's, gegiet is. Die sutra's verteenwoordig 'n stel aforismes, mnemotegnies opgestel, waarop gekommentarieer moet word in Sanskrit-tekste. Daarteenoor is 'n mantra 'n mistieke formule van inkantasie in Boeddhisme.

Die beste inleidende verslag oor Sanskrit bly vandag nog steeds T Burrow se The Sanskrit Language (Faber & Faber, Londen, 1956). Dit gee 'n redelik volledige oorsig van die linguistiese verwantskap tussen Sanskrit en die ander Indo-Europese tale. Die ontdekking van Sanskrit het immers die moderne Vergelykende Taalkunde tot gevolg gehad. Burrow beskryf die Indo-Europese voorgeskiedenis van Sanskrit in Indië, 'n taal wat vir meer as 2000 jaar primêr die beskawingstaal van die Indiese sub-kontinent was – ingevoer uit Europa. Dit ondersoek ook die aansienlike invloed wat die vóór-Ariese tale in Indië self op Sanskrit gehad het. Uit 'n histories-vergelykende oogpunt wys dit ons dan hoe proto-Indo-Europees met behulp daarvan gerekonstrueer kan word, iets wat ons ontsaglike insig gee in die wording van die moderne Europese tale – waarvan Afrikaans óók deel is. Terwyl Afrikaans 'n Afrika-taal is, is Engels in Suid-Afrika vandag niks anders as 'n oorgeërfde koloniale taal wat nie op hierdie kontinent ontstaan het nie.

'n Hele ry Engelse en Duitse navorsers het die wonderbaarlike ontdekking en die belang van Sanskrit vir Europa opgevolg, soos sir William Jones self, Charles Wilkens, Henry Thomas Colebrooke en Horace Hayman Wilson in Engeland, en Johann Gottfried von Herder, Johann Wolfgang Goethe, Friedrich en August Wilhelm Schlegel, en Wilhelm von Humboldt in Duitsland. Jakob Grimm het in 1820 een van die belangrikste fonetiese wette in Indo-Europees met behulp van Sanskrit geformuleer, toe hy bewys het hoe die klapperklanke (eksplosiewe) k, t en p in die Teutoonse (oud-Germaanse) tale, met insluiting van Goties, verwissel het na die aspiratae gh, dh en bh.
In 1875 het Karl Adolf Verner die klaarblyklike uitsonderinge op Grimm se klankwette nog verder verduidelik. Dit was 'n aller-belangrike mylpaal in die fonologie van Indo-Europees.

Uitgebreide literatuuraangawe

T Burrow, The Sanskrit Language (Londen, 1956); B Ghosh, Linguistic Introduction to Sanskrit (Calcutta, 1937); J Masion, Esquisse d'une histoire de la langue sanskrite (Paris, 1931); J Bloch, L'indo-aryan du Veda aux temps modernes (Paris, 1934); Albert Thumb, Handbuch des Sanskrit (Heidelberg, 1905); Arthur A Macdonell, A Sanskrit-English Dictionary (London, 1893); idem, Vedic Grammar (Strassburg, 1910); WD Whitney, A Sanskrit Grammar (vyfde uitgawe, Leipzig, 1924); L Renou, Grammaire sanscrite (Paris, 1930); idem, Grammaire de la langue védique (Paris, 1952); V Pisani, Grammatica del Antico Indiano (Roma, 1930-33 – onvolledig); R Pischel,Grammatik der Prakrit-Sprachen (Strassburg, 1900); WS Allen, Phonetics in Ancient India (Oxford, 1953); J Kurylowicz, L'acccentuation des lingues indo-européennes (Cracow,1952); A Meillet, Les dialectes indo-européennes (1908, 1922); idem, Introduction a l'étude comparative des langues indo-européennes (agste uitgawe, Paris, 1949); JG Bühler, Indische Paläographie (Strassburg, 1896); M Mayrhofer, Kurzgefasstes etymologisches Wörterduch des Altindischen (Heidelberg, 1953, vervolgens); J Pokorny, Indogermanishes etymologisches Wörterbuch (Bern, 1948, vervolgens); F Specht, Der Ursprung der indogermanischen Deklination (Göttingen, 1944, 1948); Jacob Wackernagel & Albert Debrunner, Altindischen Grammatik (in drie volumes, Göttingen, 1896-1954); H Brugmann, Grundriss der vergleichende Grammatik der indo-germanischen Sprache (tweede uitgawe, Strassburg, 1897-1916).

Post Scriptum

Die Hindoes van Indië het ook vir ons die hedendaagse digitale syfersisteem gegee waarvan, deur die bemiddelde toedoen van die Arabiere, ons dit vandag nog gebruik. Die vroegste gebruik hiervan (in plaas van die Romeinse akrofoniese lettersisteem) dateer in Europa uit die jaar 976 AD. Die Hindoes het dit reeds in die derde eeu voor Christus ontwerp, en die geheim daarvan was dat hulle by nul (zero) begin tel het en nie by een nie, en daarby getalwaarde aan die posisie van die syfers gegee het. Die Hindoe karakters vir 1, 4 en 6 lyk vandag nog basies dieselfde by ons. Ook 'n uiters bruikbare erfnis wat ons uit ou Indië ontvang het.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.