Onderhoud met Abel

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Februarie 2012

Oor 'n koppie koffie in 'n besige winkelsentrum sit ek en 'n jong joernalis en gesels. Eintlik is dit nie regtig gesels nie, sy vra vrae en ek probeer dit antwoord. Ek was verras gewees toe sy my 'n week gelede gebel het en gevra het of sy 'n onderhoud met my kan kom doen.

Sy is van 'n bekende glanstydskrif. Ek het dadelik gesê dat ek nie dink dat my opinies goed sou afgaan by hulle teikenmark nie. Maar sy het aangehou en gesê dat hulle juis ander stemme en sienings aan hulle lesers wou bekendstel. So gesê, so gedaan.

Tussen ons, intimiderend met 'n rooi liggie aan, het 'n opnemer op die tafel gelê. "Dr. Abel, dankie dat jy bereid is om my vandag te sien. Kan ek maar sommer dadelik wegspring met my vrae?"

"Noem jy jouself nog 'n Christen? Hoekom of hoekom nie?" Sy kyk op van haar notas toe ek nie dadelik antwoord nie. Ek glimlag stadig en besef dat ek 'n lang antwoord binne 'n paar sinne sal moet probeer weergee. Want as ek dit nie kort hou nie gaan sy dit in elk geval moet verkort. En ek verkies om eerder self te besluit wat is belangrik en wat is nie.

"Ek noem myself graag 'n navolger van Jesus ... Jesus was 'n besondere mens wie se lewe en woorde getuig het van iemand wat uit sy kern geleef het. Iemand wat selfs bereid was om te sterf vir die beginsels waarvoor hy gestaan het. Dit is navolgingswaardig, nie waar nie? En beteken 'Christen' nie in sy eenvoudige vorm 'navolger van Jesus' nie. Ek weet egter dat my verstaan van wie Jesus is nie gedeel word deur meeste mense wat hulle self 'Christene' noem nie. En daarom kan ek myself nie 'n christen in die tradisionele sin van die woord noem nie. Veral nie as daarmee bedoel word dat Jesus 'n God is nie. 'n God in die sin van 'n bonatuurlike wese, wat soos die antieke mense geglo het, 'n koning is wat heers oor die aarde en 'n seun het wat hy gestuur het om sy onderdane te kom red. Hierdie antieke stories is so oud soos die mensdom self. Dink maar aan die Grieke met hulle mites soos o.a. die van Zeus met sy panteon goddelike kinders, waarvan hy ook een of twee aarde toe gestuur het om die sterflinge te red, of in die Ooste met hulle gode en gode kinders wat vir die aardlinge moes intree. Alhoewel hierdie mites gebore is in mense se koppe voel ek egter dat dit nog wel baie simboliese en metaforiese waarde vir ons het. Dit kan en mag nie net sommer afgeskryf word as onbelangrik nie. Daar lê transformerende waarhede opgesluit binne elkeen van hulle. Dit verteenwoordig menslike denke, onderbewuste, wysheid, vrese, soeke, oplossings, hoop en insigte. Weergegee in die vorm van oorvertelde stories, poësie, musiek, kuns en kreatiewe verbeelding. Natuurlik kan hierdie mites nie letterlik 'vertaal' word en net so oorgeneem word in vandag se verstaan van die werklikheid nie. En volgens my, is dit presies wat tradisionele Christene doen. Daarmee kan ek as moderne, denkende en spirituele mens nie meer myself identifiseer nie. Maar daarmee sê ek nie dat ek nie oop is vir die kragtige boodskap van hoop en liefde wat opgesluit lê binne die boodskap wat Jesus ongeveer 2500 jaar gelede verkondig het nie. Maar net so kan niemand ander mense en wysheidstradisies se stories en mites afskryf nie. As jy mooi luister is daar baie wat ons vandag kan inspireer om sinvol te leef. Mense vanuit verskillende tye, kulture en gelowe wat deur die geskiedenis van die mensdom ongelooflike waarde bygedra het tot die verstaan van ons werklikheid en ons hierwees. Ontdekkers, vrydenkers, filosowe, spirituele leermeesters en ook vele gewone mense wat hulle wêreld 'n beter plek gelos het as wat hulle dit gekry het. Mense wat deur hulle lewens, woorde en dade 'n vingerwysing geword het na die transendente (dit wat meer is as wat ons nou verstaan of ken). En ja, natuurlik is Jesus een van die belangrike vingerwysings na die transendente. Maar hy is verseker nie die enigste een nie. Daarom het ek geen probleem om van die mistieke gnosties Christelike tradisies, Boeddhisme en ander gelowe, wetenskap, filosofie en sielkunde as voertuie te gebruik in my soeke na sin en vrede, in die hier en nou. Miskien, as jy na my wil verwys as 'n progressiewe Christen, as daar so iets is, sou ek nie beswaar hê nie."

'n Minuut of wat gaan verby voordat sy opkyk van haar notas. "Sjoe, ek hoop ek het dit alles gekry ... gelukkig kan ek vanaand na die opname ook luister." Sy tik vinnig met haar pen se agterkant op die tafel terwyl sy weer na haar notas kyk. "Goed, die tweede vraag..." sy dit sê sonder om op te kyk, so asof sy met haarself praat. Dan kyk sy op, "Hoe sal jy eietydse spiritualiteit beskryf, en hoe is dit anders as die tradisionele soeke na sin in die kerk?"

"Soeke na 'n eietydse spiritualiteit is 'n innerlike behoefte wat in 'n uiterlike beweging oorgespoel het. Dit het ontstaan omdat baie mense vervreemd begin voel het van dit wat hulle godsdiens hulle leer. Dit het meegebring dat reg oor die wêreld mense in 'n innerlike geloofskrisis gedompel is. Jy kan dit amper 'n tipe van oorgangs- of geboortetyd noem. Die gemiddelde denkende mens kan eenvoudig nie meer hom- of haarself identifiseer met die voorwetenskaplike wêreld se bygelowe en misverstaan van hoe dinge werk en wat dinge beteken nie (natuurlik die wêreld waaruit meeste godsdienste kom). Want dit wat hulle daagliks sien en beleef bots met wat hulle in hulle kerke hoor. Ons leef in 'n wêreld van o.a. kwantum fisika. Ons kan eenvoudig nie meer na die wêreld kyk deur oë van bygelowige, drieverdieping wêreldbeeld van Die Bybel nie. Daarom dat mense nuwe vrae begin vra. Mense soek na nuwe maniere om te kan dink en praat oor hulle innerlike behoefte na sin. Want ons moet nooit vergeet nie; mense is kreatiewe, skeppende en spirituele wesens wat bly smag na 'n outentieke konneksie met die groter werklikheid, wat in religie verwoord word as 'God'. Hierdie behoefte aan dieper kyk, dieper verstaan en dieper beleef sal nooit weggaan nie. Daarom dat die woorde van Antoine de Saint-Exupéry, wat kom uit sy boek The Little Prince, vandag nog net so kragtig is: 'Here is my secret. It is very simple. It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye.' Ons weet dit is waar! Dit resoneer met alles binne ons! Daarom is ek as 'n filosoof en soeker-na-sin, so onvoorwaardelik verbind aan hierdie proses van soeke na 'n eietydse spiritualiteit. En hiermee bedoel ek die skep van 'n veilige ruimte waar daar nie probeer oortuig word nie, maar waar daar saam gesoek en gedink word. Die skep van 'n ruimte waarbinne daar 'n eerlike ontmoeting tussen wetenskap (fisika, neurologie, biologie, kosmologie ens), filosofie, sosiologie, teologie, kunste en Oosterse en Westerse spiritualiteit en mistici kan wees. 'n Ruimte waar mense ontmoet en met waarheid omgaan op 'n eerlike en oop wyse. Die hartseer realiteit in meeste kerke is egter dat daar geen soeke toegelaat word nie, want die kerk kies om te sê hulle het reeds al die waarheid. En daarom stop die gesprek en die soeke vir hulle! So word die kerk 'n geslote sisteem wat hierdie behoefte van vele van hulle lidmate misken. En juis dit maak dat die uitvloei uit die kerk, wêreldwyd, 'n realiteit geword het. En onthou, mense verlaat nie die kerk omdat hulle nie meer spiritueel is nie. Nee, hulle verlaat die kerk juis omdat hulle nog spiritueel wil wees. Die woorde van Lenny Bruce verwoord die gebeure vir my raak: 'Every day people are turning away from the church and going back to God. Really.' Daarom pleit ek vir 'n oop sisteem. Kan jy jou indink watter verskil die kerk kan maak indien daar green vrees vir die wetenskap, filosofie of ander gelowe sou wees nie?"

Weer moet ek geduldig sit en wag terwyl my ondervraagster besig is met haar aantekeninge. Ek bestel solank vir my en haar nog koffie. "Oukei, ek dink ek het dit. My laaste vraag..." sy blaai vinnig deur haar notas, stop en blaai weer terug. Dan sê sy, "Aah ha!" weer asof sy eintlik met haarself praat. "...Baie mense voel jy gooi die baba met die badwater uit. Dat jy nie werklik help nie maar eerder mense deurmekaar maak. Wat sal jy daarop antwoord en in wie of watter dinge in die lewe vind jy nou sin of betekenis?"

"Ek is nie besig om God weg te probeer verklaar nie, ek is eerder besig om my denke rondom die goddelike te verskuiwe. Verstaan jy die verskil? As ek dit anders kan stel, sal ek sê dat die goddelike vir my groter word en nie kleiner nie. Dat in hierdie verskuiwing dit duideliker word dat die goddelike 'n dinamiese krag is in die groot netwerk van die lewe, eerder as 'n persoon buite ons werklikheid wat iewers op 'n troon sit. Verstaan jy? Ek kyk nuut na my wêreld, eintlik nie nuut nie, maar eietyds. Ek wil die dualisme van bo en onder, en sigbaar en onsigbaar, nou laat vaar. Die heelal het nie meer vir my 'n binne- en 'n buitekant nie. Die paradigma waarmee ek nou my werklikheid verstaan is veel nader aan die idees rondom evolusie en die Oerknal en ander wetenskaplike verklarings van my tyd. Maar my filosofie gaan ook wyer as net dit wat gemeet kan word. Ek wil ook met die metafisika rekening hou. Ek wil luister en leer by almal; van die Christendom, Boeddhisme tot by die fisika. Daarom dat ek nie anders kan as om die woord godsdiens te vervang met die woord spiritualiteit nie. God is nie meer 'n God wat gevangene is van sommiges nie, nee, God is die versamelnaam van hopelik die beste wat die mens tot nou toe kon bedink, ontdek, voel, verwoord, uitbeeld en doen. Maar ook die beste wat die mens tot nou toe kon droom en hoop. Miskien is die woord God te veel gebruik en misbruik. Miskien is 'n beter woord 'Liefde'. Dalk is dit ook te oor belaai met menslike idees. Dalk is my vriend Kobus Krüger se woord 'Ongrond' 'n beter woord om hierdie idee van hoop, liefde, krag, bron, kern, energie, 'force' of onnoembare te beskrywe. Dit wat nie êrens buite nie, maar hier, binne en orals is. Dit wat in alles is en self alles is. Die begin, beweging, einde en weer begin is. Die dans van materie en donkermaterie, die dans tussen atome en die groot niks. En ek? Wie en wat is ek in al die dinge? Wel seker maar die tydelike sigbare bewussyn van die Ongrond. God wat met God dans. En my doel is om elke dag die ritme van die musiek te voel en saam te dans! Miskien as ons weer bewus word van die musiek sal ons verstaan dat elke noot belangrik is. Dat alles en almal deel is van die dans. Dit is wat vir my sin gee en my laat soek na 'n eietydse en voorlopige verstaan daarvan. Maak dit vir jou sin?"

Sy kyk stadig op. Neem die opnemer en druk die stop knoppie. "Baie dankie Dr. Abel. Ek sal hierdie onderhoud nie sommer vergeet nie ... ek is ook een van daardie soekers waarvan jy praat." Sy glimlag verleë. Sy maak haar notaboekie toe en kyk dan reguit na my. "Ek dink jy was reg ... heel moontlik gaan my baas nie hierdie artikel wil plaas nie. Maar wie weet, miskien..." Ons groet mekaar en as ek wegloop voel ek jammer vir haar. Want ek weet dat hierdie onderhoud uiteindelik in die snippermandjie gaan beland. Ek hoop net dat sy sal besef dat dit nie enigiets te doen het met haar skryftalent of kwaliteit van joernalistiek nie. Dit het suiwer te doen met wat die tydskrif se lesers wil hê en wat nie. Dat nuwe denke altyd teenstand sal kry. En hopelik behou sy haar vrydenke en kreatiwiteit. Want meer as enige ander tyd in ons geskiedenis het ons haar en ander soos sy nodig; die jong soekers wat braaf en honger vir die waarheid is!

*Wel nodeloos om te sê, het ek 'n paar dae na die onderhoud 'n kort e-pos gekry waarin verduidelik is dat die onderhoud nie gepubliseer gaan word nie omdat die redakteur van die tydskrif voel dat die lesers van die tydskrif nog nie gereed is daarvoor nie. En met 'n kort "dankie vir jou tyd" is die saak afgehandel.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za