.

Omgee verander stories

Deur Dr. Flip Schutte op 1 September 2018

.

Daardie helder sonskynoggend in Oktober, toe sy haar voet uit die bed op die grond neersit, besluit sy: Vanjaar doen ons 'n kerskonsert met die kinders.
Die heel dag loop sy met die kinders in haar kop en dink 'n rol en 'n plekkie vir elkeen uit. Daar is so baie vrywilligers betrokke by die plek van veiligheid, dat sy dink hulle sal darem 'n redelike gehoor vir die opvoering bymekaar kan maak. Sy kry 'n Josef en Maria en 'n mooi pienk pop om baba Jesus te wees. Maria kry net elke keer stuipe as die pop se oë vir haar loer. Op die ou end moes hulle toe maar Jesus se oë toeplak dat Maria net kan ophou gil.

Sy vat twee sterkerige seuns om die donkie te wees. Een is die voorpote en een agter, met Maria wat dan bo-op die donkie sit en Josef wat langs die donkie loop. En toe besluit sy, klein Hendrik van Wyk moet die herbergier wees. Hendrik sukkel met leer. Sy pa en ma is albei erge druggies en hy was woes verwaarloos en ver agter met sy ontwikkeling toe hy deur die maatskaplike werker na die huis gebring is. Maar hy gaan aan. Sukkel net baie met leer en onthou.

Gelukkig is die rol van die herbergier nie moeilik nie en dit het nie baie woorde nie. Al wat Hendrik moet sê, is: Hier is nie plek nie.
En so oefen hulle die kersverhaal, die hele Oktober en November; en vroeg Desember, maak sy 'n skare bymekaar om na die opvoering te kyk. Voor die vertoning begin, gaan sy weer met elkeen gou al die bewegings deur en sy herinner Hendrik aan sy woorde. En toe klap die mense hande en die donkie en Josef en Maria verskyn op die verhogie. Jesus met sy toegeplakte oë is onder 'n kombers op Maria se skoot, want hy is nog nie gebore nie.

En so kom hulle toe by die herberg aan. En Josef vra: Meneer het jy nie vir ons slaapplek nie. En Hendrik sê: Nee, hier is nie plek nie. In plaas daarvan dat Josef toe die donkie vat en aanstap, is hy so begeesterd deur die grootsheid van die aand en die oomblik, dat hy weer vir Hendrik vra: Meneer, slaapplek net vir een nag? En Hendrik antwoord: Hier is nie plek nie.

Josef probeer vir oulaas en sê: Maar my vrou gaan 'n baba kry en ons soek plek waar sy en die baba kan gaan lê, seblief meneer, het jy nie ons slaapplek nie?
Klein Hendrik van Wyk draai so skuins en kyk van die verhoog af, uit die toneel uit, tot waar hy die huismoeder sien sit en hy sê: Tannie Ansie, is daar wragtag nie 'n kussing en 'n kombers iewers dat ons vir hulle 'n bed kan maak nie?

En so kan 'n hart wat omgee, 'n ander mens se hele storie verander.

Partykeer is ons so vasgevang in die rolle wat ons vertolk en bly ons so getrou by die teks van die drama, is ons so ingestudeer in die karakter wat ons vertolk, dat ons opgehou het om mens te wees, ons hart te wys en om te gee. Ons het nie die waagmoed om soos klein Hendrik die storie te verander omdat ons omgee nie.

* * *
Jo Black sing 'n lied met die titel "Skepe". In die lied sing hy: 'n Skip word in die hawe gebou en in die hawe lyk dit mooi vir my en vir jou. Maar dis nie waarvoor skepe gemaak word nie. Ons is gemaak om uit te gaan op die golwe van die diepste oseaan. Kry jou maste reg, haal die anker uit, hys die seile hoog ... Laat die kompas van jou siel weer jou hart bepaal. Ons is gemaak in hoop se naam, ons is gemaak om uit te gaan.

Voel jou hart weer klop en tel jou skouers op. Vind jou rigting in die sterre en die helder maan. Ons is gemaak om uit te gaan.
Sjoe, vir my leer dit 'n diep les oor die lewe: Want dis daar op die golwe van die diepste oseaan waar die lewe gebeur en waar ons die binnekant van ons hart kan wys. 'n Hand na mekaar kan reik en kan spieël hoe omgee lyk. Soms moet mens uit jou eie storie klim en met 'n kussing en kombers 'n veilige hawe vir 'n moeë reisiger skep al sê die teks anders. Ons is gemaak om uit te gaan.

* * *
Op die Duitse platteland in 'n klein dorpie voor 'n kerkie het daar 'n beeld van Christus gestaan met oop uitgestrekte hande. Op 'n koperplaatjie onder die beeld het gestaan: Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is. Met een of ander bombardering tydens die Tweede Wêreldoorlog is die kerkie en die beeld beskadig en studente het as vrywilligers na die oorlog daar restourasiewerk gaan doen. Die beeld se hande het tydens die bombardering afgebreek en dit was net weg. Hulle het oral daar rondom die beeld gesoek en dit nêrens gekry nie. Toe besluit die studente om die beeld net so te los. Hulle haal toe net die plaatjie af en vervang dit met 'n ander inskripsie wat lees: Ek het geen ander hande buiten joune nie. Dit, na aanleiding van 'n gedig van Teresa van Avila, 'n Spaanse non wat in 1515 gebore is. Sy het haar nonne-orde hervorm deur hulle kaalvoet te laat loop. En sy het 'n gedig geskryf waarin sy verwoord dat die mens die goddelike se hande en voete, oë en ore in die wêreld is en dat ons moet uitreik en omgee ... Ek het geen ander hande buiten joune nie!

Ons is gemaak om uit te gaan. Om hande en voete wat omgee, in die wêreld te wees. En soos klein Hendrik van Wyk, kan ons, deur om te gee 'n ander mens se storie verander.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.