.

Om verhale te recycle

Deur Dr. Flip Schutte op 1 April 2017

.

Die doel van hierdie rubriek is om die evangelies net so bietjie in perspektief te plaas, want ons het grootgeword met die idee dat dit die geskiedenis van Jesus se geboorte tot by sy hemelvaart beskryf. En omdat dit die geskiedenis beskryf, het ons dit nog altyd gelees as historiese feite en is die funksie van die verhale eintlik nog altyd misgekyk. Dis verhale wat konkrete situasies aanspreek in die tyd waarin die verhale ontstaan het, net soos wat motiveringsprekers en predikers vandag steeds verhale vertel om lig in sekere situasies te bring.

Onthou, die Ou Testament het oor 'n tydperk van omtrent 800 jaar ontstaan en die Nuwe Testament in omtrent 'n 100 jaar periode. Om 'n tydlyn te trek, sou mens kon sê dat Jesus, indien daar wel 'n historiese Jesus was, omtrent in die jaar 6, 5 of 4 voor ons huidige jaartelling gebore is en dat hy omtrent dood is teen die jaar 30/33. In die jaar 60, was daar volgens geskiedskrywers uit daardie tyd omtrent so 2000 mense wat aan die Jesus-beweging behoort het en teen die jaar 100, was daar omtrent 7500.

So, dit was nie 'n massa wat die wêreld kon stormloop nie. Dit was 'n tipe sektariese beweging wat uit 'n paar duisend mense, definitief onder tienduisend mense bestaan het. En hulle was deel van die Judaïsme.

Plaas ons die geskrifte van die Nuwe Testament op 'n tydlyn, is Paulus se briewe die oudste. Dit dateer uit tussen 50 en 60. Van die evangelies is Markus die oudste en Johannes die jongste. Die evangelies dateer uit die jare 65 tot 100. Dus was nie een van die evangelieskrywers oor- en ooggetuies wat eers naastenby in dieselfde tyd as Jesus geleef het nie. Meer as 'n geslag later, amper twee geslagte, omtrent 'n volle 35-40 jaar later, is die Jesus-verhaal vir die eerste keer eers gebruik. In die eerste eeuse Mediterreense omgewing was mense se lewensverwagting gemiddeld tussen 25 en 30 jaar.

Nie een enkele mens op aarde het aan hulleself in die eerste eeu gedink as 'n Christen nie. Almal was Jode. Almal het die Ou Testament as hulle Bybel gebruik en alles wat hulle gedoen of gesê het, het daaruit gekom. Selfs Jesus was 'n Jood en hy het ook net die Ou Testament geken. Feitlik niemand kon lees nie en niemand het 'n Ou Testament gehad nie. Hulle het dit in 'n mondelinge vorm gehad en so oorvertel.

Maar almal was hier rondom die eerste eeu besig met hervormingswerk binne die Judaïsme. Soos wat Moreleta en Doxa Deo en New Life Ministries en Mosaïek en Kerk sonder Mure en al hierdie strome en bewegings op die oomblik besig is met hervormingswerk binne die Christendom en kerk. En net soos wat New Life se Jesus ander klanke maak as Moreleta of oom Angus of Greta of as Doxa s'n, het Matteus se Jesus ook anders gelyk as Markus of as Lukas se Jesus.

So, die Jesus-vehaal in die eerste eeu was nie gesien as geskiedenis nie. Dit was 'n verhaal wat as preekstof gebruik is om sekere temas van die tyd mee aan te spreek. Predikers doen dit vandag nog. En dan plooi hulle die verhaal en vir Jesus, só dat dit hulle boodskap dien en ondersteun.

Markus byvoorbeeld, vertel sy verhaal in die jaar 70 terwyl daar oorlog in Israel is. Rome neem Jerusalem oor en hulle breek die tempel af. Die Jode vlug en hulle gaan leef verstrooid oor feitlik die hele wêreld. Dis wat ons die diaspora genoem het. Markus interpreteer hierdie politieke gebeure van sy tyd as tekens van die einde wat naby gekom het. Die oorlog, die tempel se vernietiging, die lyding en ellende van die mense, interpreteer hy as die einde. En toe Markus se Jesus as karakter in die verhaal die eerste keer sy mond oopmaak om iets te sê, was dit sy eerste woorde: Die tyd het gekom. Die koninkryk van die hemel is naby. Bekeer julle en glo!

Dis die hoofkarakter se eerste woorde. Dit klink soos baie predikers in ons onstuimige tyd se openingswoorde vir hulle preke. Die einde is naby. Bekeer julle! En dan vertel hy in die res van sy verhaal hoe 'n mens moet leef om op die weg te bly wat na die koninkryk lei.

Tien jaar later en die wêreld het steeds nie vergaan nie, toe vertel Matteus 'n nuwe verhaal. Hy is 'n Jood, maar die wettisisme binne die tradisionele Joodse geloof is besig om hom onder te kry en toe besluit hy om hierdie Jesus-beweging binne die Judaïsme 'n bietjie lewe in te blaas. Daarom sê hy: Weë julle, Fariseërs en Skrifgeleerdes! Witgepleisterde grafte! Skynheiliges!

En toe teken hy 'n Jesus wat soos Moses lyk om die Jesus-beweging meer aanvaarbaar vir die Jode te maak met die hoop dat hulle daarby sal inkoop en net 'n bietjie anders na die lewe sal kyk. Soos Moses, word sy Jesus se lewe by sy geboorte bedreig en moet sy ouers met die baba vlug. Die Farao bedreig Moses. Herodes bedreig Jesus. Die verhale loop parallel. Moses word as gewer van die eerste vyf boeke beskou. Jesus gee vyf groot redevoeringe in die evangelie. Moses kry die wet op die berg. Jesus lewer sy eerste toespraak op die berg. En so probeer Matteus sy bes om Jesus te teken as 'n tipe Moses om so nuwe lewe in die ou Joodse godsdiens in te blaas.

Nog sowat 10 of 12 jaar later ontstaan die Lukas-verhaal. Teen hierdie tyd is die Helleniseringsproses goed aan die gang en die wêreld vergrieks teen 'n tempo. Die Griekse denke is meer abstrak en filosofies, daarom teken Lukas vir Jesus as hierdie geesdeurdrenkte Joodse leraar. En daarom is die openingstoneel waarin Jesus verskyn 'n tempeltoneel waar Jesus in die tempel uit Jesaja lees. En die teks sê: Die Gees van God is op my. God het my gesalf om die goeie nuus te bring. Om gevangenis vry te maak en die sig van blindes te herstel. En die klem in Lukas lê op die Gees en die werk van die Gees.

Intussen het die vergrieksingsproses gegroei en die Jesus-beweging het bietjie momentum opgetel, en toe vertel Johannes sy verhaal. Sy Jesus is baie meer misties. Hy leef nie in Galilea soos die ander drie se Jesus nie, maar Johannes se Jesus is in Judea. Sy Jesus se openingstoneel is die bruilof in Kana waar die water wyn word. En daarmee wil hy die Jesus-beweging 'n hupstoot gee. Hy sê daarmee: Om deel van die Jesus-beweging te wees, is soos om deel van 'n fees te wees waar die wyn nooit opraak nie. En in die res van sy verhaal werk hy met hierdie mistiese dualisme naamlik: Lig en donker; onder en bo; vlees en gees; lewe en dood; vals en waar; hemel en aarde. Hy laat sy Jesus ook velerlei mistiese uitsprake oor homself maak, naamlik: Ek en die Vader is een. Wie my sien, sien die Vader. Ek is die lig vir die wêreld. Ek is die brood wat lewe gee. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die weg, die waarheid en die lewe.

So, hierdie Jesus van Johannes is ligjare verwyder van die karakter in Matteus wat soos 'n klein Moses lyk, of die bekeringsprediker van Markus wat sê die eindtyd het aangebreek. Die verhaal is al 'n paar keer in die 35 jaar tussen Markus en Johannes ge-recycle en oorvertel.

So, die Jesus-verhaal is 'myth recycled.' Daar bestaan geen eerstehandse feite oor sy lewe nie. Nie een evangelieskrywer het Jesus persoonlik geken nie. En soos wat die tyd verloop het, is stukkies by die verhaal gevoeg en bygewerk om dit meer relevant vir die hoorders te maak. By Boeddha is tien teen een die verhale geleen oor die vermeerdering van die brood; die genesing van siekes en die manier van preek deur verhale of gelykenisse te vertel. Boeddha is 600 jaar ouer as Jesus en die elemente in sy tradisie was stewig gevestig toe Jesus se verhaal op die toneel verskyn.

By Mitras het Jesus tien teen een die maagdelike geboorte; die herders op die ope velde en die wyse manne met die geskenke gekry. Mitras is eeue ouer as Jesus en dit was mooi en verbeeldingryke tonele om die geboorteverhaal mee op te kikker. En so het die evangelie gegroei tot 'n volwaardige mitologie.

Nadat die sinagoge en die kerk se paaie uiteindelik finaal geskei het, is daar steeds dele by die evangelie gevoeg naamlik die verhaal waar Jesus op die water loop. Want toe moes Jesus soos God begin lyk. Hy maak toe 'n storm stil. Hy neem vrees weg. Hy doen die goed wat die Jode se God doen. En so word hy die Christene se God op die ou einde. Hy is in die verhaal ingeskryf om soos 'n god te lyk.

By 'n later geleentheid sal ek weer op van hierdie elemente fokus om te wys hoe die verhaal gebruik is om Jesus as God van die nuwe beweging te vestig, maar vir nou, wou ek net rofweg die toneel plot sodat mens die chronologie van die ontstaan van die geskrifte duidelik het en sodat mens kan sien dat dit nie geskiedenis is nie, maar 'n verhaal wat telkens oorvertel is en elke keer is elemente bygevoeg en elke keer is die verhaal vanuit 'n ander perspektief oorvertel.

Jesus is dus 'n preektema wat sê: Daar is 'n ander manier van leef moontlik as net die Joodse wettisistiese manier. Daar is 'n ander en 'n nuwe lewe moontlik, ná die Judaïsme, die tempel en die Fariseërs. Die lewe van die liefde. Draai die ander wang en stap 'n tweede myl saam!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.