.

Om op te staan

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Julie 2018

.

Elke mens het 'n storie om te vertel. Party mense se stories is seerder, of donkerder, of meer dramaties as ander se stories. Ons almal se stories loop deur lig en donker, opdraand en afdraand, deur pyn en geluk ... Niemand kom sonder letsels anderkant uit nie.

Dis net altyd vir my merkwaardig dat soveel mense na krisismomente dikwels so gou weer aan die gang kom. Ek verstom my aan mense se veerkragtigheid.
Uit die Ou Nabye Ooste is daar twee kort verhaaltjies waaruit mens nogal iets kan leer.

Die een vertel 'n staaltjie uit die profeet Elia se lewe. Deur sy toedoen, is daar 'n hele klomp Baälpriesters doodgemaak. En uit vrees vir sy eie lewe, vlug hy toe, verby Berseba, tot in die woestyn. Daar in die hitte en ongenaakbaarheid van die woestyn, kruip hy onder 'n besembos in en wens dat hy kan doodgaan. Hy is bang Isebel gaan hom kry en dan gaan sy hom laat doodmaak. So, hy sien nie kans om gevang te word en tereg te staan nie. Hy wil uit die situasie ontvlug want alles het net vir hom te veel geword; toe vlug hy woestyn in en hoop hy gaan dood, voordat hulle hom in die hande kan kry.

Hy wikkel hom daar onder 'n besembos in en raak van pure uitputting aan die slaap. Toe hy wakker word, neem hy die besluit dat hy sal opstaan en dat hy verder gaan stap.
Die ander verhaaltjie is uit die eerste eeuse Mediterreense wêreld. Dis die een van die seun wat vir sy pa sy erfporsie gevra het en dit toe op meisies en partytjies uitgemors het totdat hy nie meer 'n sent oorgehad het nie. Moedeloos en siek en sat vir sukkel, gaan werk hy toe by 'n boer op 'n plaas waar hy varke oppas. Toe hy sien hoe die varke aan die peule smul, verlang hy na die kos by sy ouerhuis en hy neem 'n besluit. Hy sê vir homself: Ek sal opstaan en na my pa toe teruggaan. En toe staan hy op.

Ek lees gedurende die week die verhaal van 'n vrou wie se man haar verlaat het kort na die geboorte van hulle kind. En vir dae het sy net gesit en huil. Alle belang by die lewe verloor. Maar toe besluit sy om op te staan, en om haar kind groot te maak en vir hom die beste te gee wat sy kan. En vandag is sy 'n gesiene sakevrou en haar seun is volwasse en op sy eie bene, en baie dankbaar vir sy ma se positiewe bydrae tot sy lewensukses.

Ons almal ken merkwaardige stories van mense wat dalk gehoor het hulle het kanker en wat toe besluit het om terug te veg en te oorwin. Of iemand wat 'n been of 'n arm in 'n ongeluk verloor het, en toe 'n vername sportster geword het. Mense wat in rolstoele beland het en nie gaan lê het nie. Mense wat die moed gehad het om 'n besluit te neem en hulle lewe te verander.

Mense verloor hulle lewensmaats, kinders verloor hulle ouers en ouers verloor kinders. Mense verloor hulle werk, hulle huise, hulle sekuriteit. Daar is diegene wat bly lê en nooit weer herstel nie. Daar is die wat handdoek ingooi. Daar is die wat die wêreld en almal rondom hulle kwalik neem en blameer vir hulle verlies en pyn. Daar is die wat aan die drink gaan en nooit weer nugter wil wees nie. Daar is die wat God verantwoordelik hou en hulle geloof verlaat. Daar is die wat op 'n hopie gaan sit en bid, want net God kan hulle uit die moeras oplig en totdat dit gebeur sal hulle hulle lyding en die beproewing met gelatenheid al sittende probeer verduur.

Maar dan kry jy ook altyd die wat 'n besluit neem en opstaan. Om 'n besluit te neem, vra innerlike krag, maar dit is geweldig bemagtigend. Want dis jou besluit. Jy kon dit neem en jy neem verantwoordelikheid daarvoor. Die aksie van "om 'n besluit vir jou lewe te neem" is gekompakteer met energie en dit dra 'n mens nogal 'n ver ent.

Party mense besluit om op te hou rook. Hulle sit die pakkie sigarette neer en twintig, of dertig jaar later dra daardie besluit hulle nog steeds. Party mense besluit dit oor hulle leefstyl of gewig, of oor negatiewe, verkeerde of dreinerende vriende. Party besluit dit oor 'n loopbaanskuif of 'n werkverandering, of verhuising na 'n ander dorp of plek toe. Die energie wat daar in 'n besluit is, is verstommend.

Dis die een ding wat ons almal kan doen, as ons wil! En, dis iets wat ons onsself van tyd tot tyd skuld. Dit verander 'n mens se lewe, jou koers, jou ingesteldheid, jou perspektief en jou fokus. 'n Besluit is 'n belegging in jou menswees. Dit bemagtig jou emosioneel en dit kan van jou 'n ander mens maak. Jy moet dit net besluit.
'n Besluit is met ander woorde 'n instrument waarmee ons invloed op die toekoms kan uitoefen en daarom is dit so kragtig.

As Orpheus nie besluit het om om te kyk nie, kon hy sy Eurydice teruggekry het. As Adam en Eva (tong in die kies – volgens die mitologie) besluit het om nie na die slang te luister nie, het die Christelike meesternarratief vandag anders geklink. As die ANC se NUK nie besluit het om vir Zuma in 2008 president te gemaak het, het Suid-Afrika vandag anders gelyk.

Besluite het krag en energie. Positief en negatief. Dit kan die hede verander en die toekoms in 'n rigting stuur.

Maar die wonderlike daarvan is dat dit binne elkeen van ons se vermoë is om besluite te kan neem vir ons eie lewe en dit kos niks. Party besluite vra moed en durf. Maar die energie wat loskom as ons 'n besluit eers geneem het, maak dit meestal die moeite werd.

Elia kon onder die besembos uitkruip en die verlore seun het opgestaan en huis toe gestap. Hulle kon dit doen omdat hulle so besluit het. Ons kan ook besluite neem wat die rigting en toekoms van ons lewe drasties kan verander, die punt is: ons moet dit net neem.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.