.

Om ‘n vakuum te vul

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Oktober 2014

.

Buite-kerklik, tog nog gelowig!

Dit is juis die tweede gedeelte van die tema vir vandag se kongres wat my ernstig laat dink. Met buite-kerklik het ek lank reeds nie 'n probleem nie. Dit is die "maar nog gelowig" deel, wat my met vrae vul. Want as ek sê dat ek gelowig is, moet ek tog kan definieer in wat of wie ek glo, of waarin is my geloof geanker of begrond? En daardie vraag kan ek nie met sekerheid of oorgawe antwoord nie.

Soos wat 'n mens op jou spirituele reis die verskillende lae van die ui afskil tydens die ontmitologiseringsproses om na jou waarheid te soek, raak die vakuum wat in mens se lewe ontstaan al groter. Maar gelukkig is dit nie 'n vakuum wat ontstel en gespanne maak nie, maar 'n vakuum wat eienaardig genoeg, troos. Dis 'n bevestiging van die nie-weet-nie en die groot misterie van die lewe, en dit troos my meer as daardie sekerhede wat op die ou einde leeg blyk te wees.

Die "kerk" en die "geloof" ding, is baie persoonlik en elke mens het sy of haar eie mening daaroor, daarom kan mens nie regtig universele slimmighede oor die verskynsel kwyt raak nie, behalwe as jy dit in navorsing begrond en in akademiese feite giet, maar my lyne wil ek vandag eerder outobiografies trek, want dit is hoe dit vir my sin maak.

Die hele godsdiens- en geloofspiramiede het in my lewe soos een groot kaartehuis ingetuimel, toe een van die eerste hoekstene begin krake wys. Dit het begin by die Bybel.

Toe ek dit die dag vir myself uitgemaak het dat die Bybel nie die geopenbaarde Woord van God is nie, maar 'n bundel mitologiese geskrifte, toe hou niks meer stand nie, want my hele geloof was Bybels gefundeer.

Onmiddellik was my godsbeeld daarmee heen want die beeld wat ek van God gehad het, was afgelei uit die verhale wat mens in die Bybel oor God gelees het. My godsbeeld was gevorm deur kerklike belydenisse. Dit was gebou op geloof en nie feite nie.

Die hele sonde, verlossing en dankbaarheid skema was daarmee heen toe ek ontdek dat die Jesus-verhale gehersirkuleerde Griekse mites is en dat die opstanding net in die verkondiging van die kerk, maar nooit in die geskiedenis plaasgevind het nie.

So, daar was ek toe sonder 'n Woord, sonder 'n Jesus en sonder 'n beeld van God. Ek het toe ook opgehou om met woorde te bid, want ek het nie geweet met wie om te praat en wat om te sê of te vra nie.

Dadelik was my kerklidmaatskap toe ook in gedrang want die kerk is die ruimte waar my geloof in hierdie bepaalde godsbeeld versterk word. Dis waar ek die beeld van hierdie God aanbid en verheerlik. Dis die ruimte waar ek my kennis oor hierdie beeld van God vermeerder. Dis die ruimte waar dogmas oor hierdie godsbeeld in stand gehou word. Nou lyk God nie meer soos die beeld wat ek al die jare van "hom" gehad het nie.

God is nou nie meer daardie koning op 'n troon wat straf en vergewe, gebede verhoor en genade betoon nie. Daar hang nie meer 'n bebloede verlosser aan 'n kruis nie en die klip wat vir so lank weggerol was, is nou weer terug op sy plek. So, ek het niks meer in die kerk verloor nie en dit het geen sin vir my om daarheen te gaan nie. En so word die vakuum net groter. Nie meer 'n Woord nie, nie meer 'n Beeld nie, nie meer 'n Kerk nie!

En omdat God nie meer lyk soos die God waarin ek al die jare geglo het nie, het ek tot 'n groot mate ook die geloof verloor, want alles waarin ek geglo het, was deel van die eienskappe van daardie beeld. Dit was 'n kruis en opstandingsgeloof. Dit was 'n geloof in 'n God wat van buite ons wêreld wonderwerklik kon ingryp in ons wêreld om my gebede te verhoor. Dis was 'n geloof vol sekerhede en troos!

Toe ek dit alles verloor en die vakuum ontstaan, was my dringende vraag: waarin of in wie glo ek dan? Wat troos my nou in lewe en in sterwe?

Ek sou graag wil bely dat ek nog in God glo, en tot 'n mate glo ek nog in die goddelike, maar ek het nie 'n idee hoe die goddelike is nie, want ek weier om weer 'n klomp goed in 'n beeld in te lees en sodoende vir myself 'n nuwe dogma te skep. Dan hou ek dit eerder leeg.

En ek weet ook nie meer so mooi wat ek daarmee bedoel as ek sê dat ek in die goddelike glo nie, want wie is die goddelike ... so, die inhoud van my geloof is anders as wat dit in die vorige paradigma was. Ek glo nie nou meer 'n klomp goed wat ek net kan bely nie. Ek glo nie dat 'n godsbeeld vir my iets kan doen of dat ek iets van 'n bepaalde beeld kan verwag nie. Wanneer mens die beeld van die realiteit skei, of die geloof van die werklikheid losmaak, wat bly dan oor? Wat is dan die inhoud van geloof?

Ek glo nou hoogstens dat daar iets is. Dalk is dit iets groter, dalk is dit iets goddeliks? Ek weet nie! Maar dis al wat ek glo. Ek kan die goddelike nie eienskappe gee nie. Ek weet nie of die goddelike 'n persoon, 'n energie, of 'n beginsels soos lig of liefde is nie.

So, dit laat my wonder of ek dit "geloof" kan noem. Dalk is dit nie geloof nie. Sou dit dan beteken dat vandag se tema vir my eerder kon werk as dit "buite-kerklik en ongelowig" was. Dalk? Dalk ook nie. Want totaal ongelowig is ek ook nie! Dalk moet ek eerder bely: Ek glo nie eintlik in iets nie. Ek laat bloot die ruimte in my spirituele bewussyn dat daar 'n misterieuse grootheid kan wees waarvan ek niks weet of verstaan nie. En ek vind vrede in die onsekerheid van iets wat vir my onbegryplik bly! Ek omhels op hierdie stadium die onbekende misterie.

Terwyl ek myself en my eie denkproses dekonstrueer, vang ek myself dat ek besig is om die vakuum te probeer vul. Toe daar op my rakkie vir godsbeelde 'n vakante gaatjie is, het ek onmiddellik kreatief begin konstrukte skep om die leë plek te vul. Ek het presies dieselfde gedoen destyds toe die Woord ook vir my weggeval het. Toe het ek begin om spirituele dokumente uit ander tradisies te lees. Ek het die Tomas-evangelie begin bestudeer. Enigiets gedoen net om daardie vakuum te vul.

Toe die kerk en daardie sosiale struktuur nie meer daar is nie, het ek dadelik begin om allerhande praatjies, kongresse en byeenkomste by te woon. Konstant het ek probeer om die leë plek wat die ou paradigma gelaat het, te vul...

Toe vra ek myself: Is dit nodig en waarom doen ek dit? Is dit 'n sosiale verskynsel dat 'n mens sekerhede en antwoorde wil hê, of is dit sosiale druk, dat mens aan iets wil behoort en jouself moet kan verantwoord?

Loop die spirituele reis dan deur geloof en die kerk, of is dit juis 'n alleenreis na binne?

Ek kom agter dat mense wat die kerk verlaat het nie noodwendig behoefte het om weer by 'n kerk of 'n groep in te skakel nie. Daar is 'n klein handjie vol wat wel daardie sosiale behoefte het. Maar gelukkig vir hulle bestaan daar soveel alternatiewe in die vorm van meditasiegroepe, besprekingsgroepe en spirituele byeenkomste dat mense maklik 'n ruimte vind waarby hulle inskakel.

Die groot behoefte volgens my waarneming is dat mense wat buite-kerklik is tog steeds wil hê dat daardie groot lewensmomente deur iemand gefasiliteer moet word. Die doop van 'n nuwe baba, 'n huwelik, 'n begrafnis. Daar is families waar iemand in die familie of vriendekring self die kinders inlyf deur middel van 'n ritueel. Daar is families wat self rondom 'n ete of 'n afskeidsgeleentheid 'n afgestorwe geliefde groet. Daar is paartjies wat in die hof gaan trou en dan net 'n onthaal vir familie en vriende hou.

Maar tog, sou ek dink, dat dit tydens hierdie tradisionele rituele is, waar mense die kerk dan nou sou mis, of dalk moet ek eerder sê dat mense se behoefte 'n spirituele fasiliteerder of geestelike leier is om die oomblikke vir hulle te bemiddel.

Maar nou is dit so met enige produk of diens ... die oomblik as daar 'n behoefte in die mark is, verskyn daar 'n verskaffer. Daar is talle advertensies in koerante en op die internet van huweliksbevestigers wat hulle dienste aanbied. Daardie selfde persone is ook dikwels bereid om begrafnisse en dope te hou. So die buite-kerklikes het reggekom. Daar is fasiliteerders in die mark beskikbaar.

Buite-kerklik is dus nie meer 'n probleem nie. Daardie vakuum is gevul. Dit is net die "maar nog gelowig" deel wat vir talle 'n debatteerbare punt bly.

Persoonlik het ek vrede daarmee gemaak dat my spirituele reis nie die navolg van 'n geprojekteerde goddelike konstruk buite myself is nie, maar dat dit 'n reis is na binne. Na my eie kern en die goddelike bron diep binne in myself.

Die vakuum moet dus vir eers vakuum bly. En ek is bereid om nog vir 'n wyle sonder 'n gedefinieerde godsbeeld buite-kerklik te wees met die geloof dat daar op my reis na binne wel vrede te vinde is!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.