.

Om met nuwe oë te sien

Deur Dr. Piet Muller op 1 September 2014

.

Toe die Britse geneesheer, William Harvey, in 1628 sy groot studie oor menslike bloedsomloop publiseer, het dit so 'n storm van verontwaardiging veroorsaak dat dit hom byna sy lidmaatskap van die Kollege van Interniste gekos het.

Terwyl Harvey as jong student aan die universiteit van Padua, in Italië, kadawers gedissekteer het, het hy agtergekom dat are kleppe het wat verhoed dat die bloed "agteruit" vloei. Hieruit het hy die logiese afleiding gemaak dat iets die bloed in 'n bepaalde rigting pomp en dat daardie pomp die hart moet wees. Maar dit het byna dertig jaar geneem voordat hy sy bevindinge gepubliseer het.

Dit was veral in Italië 'n totaal onaanvaarbare gevolgtrekking. Die hart is immers die setel van die mens se religieuse lewe, en kinders word aangemoedig om "hul hartjies vir Liewe Jesus te gee." Dit was ook die hoogtepunt van die kultus van die "Heilige Hart van Jesus," en kloosterskole van die Heilige Hart het gefloreer.

So verontwaardig was 'n agbare professor in medisyne in Padua, dat hy geskryf het dat 'n mens dalk in Engeland die menslike hart kan hoor klop en die pols kan waarneem, maar dat geen nugter geneesheer in Italië nog ooit so iets gehoor het nie!

Die kritiek op Harvey bewys baie goed dat ons almal die werklikheid sien deur die lig wat deur die skille op ons oë val. Ons sien wat ons verwag om te sien; en ons verwagtinge word geskep deur die samelewing waarin ons grootword en "leer sien".*

Daar word vertel dat toe die ontdekkingsreisiger, Kaptein Cook, by die Suidsee-eilande aankom, die Suidsee-eilanders nie sy skepe kon raaksien nie. Sulke groot 'kano's' was eenvoudig nie moontlik nie en het daarom ook nie bestaan nie. Eers toe die skepe hul bote laat sak en strand toe begin roei, het die eilandbewoners van hul teenwoordigheid bewus geraak.

Of dink daaraan dat dit twee honderd jaar se intense "Hoër Kritiek" gekos het, voordat 'n kritieke massa van Bybelnavorsers in staat was om om die "historiese Jesus" te onderskei van die kultiese Jesus, wat deur die Sinode van Nicea (335) en sy opvolgers geskep is. Dat dit ook maar onlangs was dat navorsers weer vars na Jesus se woorde en optrede kon begin kyk, sonder om dit deur deur die bril van die Evangelie van Johannes te sien.

Soms is dit goed om deur die oë te sien van mense wat buite jou eie tradisie staan. In die verlede het ek my al dikwels verbaas dat mense van buite die Christendom dikwels 'n ander Jesus ontdek het as wat ek binne die Christendom leer ken het. So het Jesus se woorde vir Mahatma Gandhi, tydens Indië se vryheidstryd teen Brittanje, feitlik 'n handboek vir sy filosofie van geweldloosheid geword.

In die Christendom self was dit meesal net kleiner randbewegings, soos die Kwakers, wat die "geweldlose Jesus" ernstig opgeneem het. Binne die hoofstroom van die kerk het hierdie Jesus totaal verlore gegaan. Tog staan sy geweldloosheid in swart op wit aangeteken in sowel die Bybelse as nie-Bybelse evangelies:

"As jy jou offergawe op die altaar wil plaas en dit val jou by dat jou broer iets teen jou het, los dan jou offer net daar en gaan maak eers vrede met jou broer." (Math 5:23 en 24.)

"Julle het gehoor dat gesê word ''n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand,' maar ek sê vir julle om julle nie teen die slegte mense te verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang vir hom." (Math 5:38 en 39.)

"Julle het hoor sê dat 'n mens jou naaste moet liefhê en jou vyande haat. Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders van die Vader ... kan wees, want hy laat Sy son opkom oor die slegtes en die goeies, en laat dit reën oor die regverdiges en die onregverdiges." (Math 5:43.)

"Moenie oordeel nie sodat julle geoordeel word nie, want met die oordeel waarmee julle oordeel sal julle geoordeel word en met die maat waarmee julle meet sal julle ook gemeet word. Hoekom sien jy die splinter in jou broer se oog, maar die balk in jou eie oog sien jy nie raak nie?" (Math 7:1-3. Soos in al die vorige gevalle was dit 'n eie vertaling.)

Almal wat Jesus hierdie woorde hoor sê het, het ook goed geweet wat die breë konteks is waarteen hy dit sê: Die verdrukkende Romeinse besetting en die oplaaiende gevoel van verset, wat slegs geweld as 'n oplossing gesien het. Soos hulle tweehonderd jaar tevore gedoen het, toe die Griekse bewind met geweld omver gegooi is deur die Makkabeërs, wou al hoe meer Judeërs en Galileërs die Romeine met geweld die see in jaag.

In die tyd van Jesus was daar al lestai (terroriste of vryheidsvegters, afhangende van watter kant van die politieke draad 'n mens na hulle kyk). In die evangelies word hierdie woord meesal vertaal met "rowers," sodat 'n mens nie die politieke betekenis van die word sal agterkom, as jy nie daarna soek nie. Maar Jesus was duidelik nie 'n bewonderaar van die lestai of rowers nie. Met 'n besondere versiendheid was dit vir hom duidelik dat gewelddadige verset op 'n ramp gaan afstuur. Wat uiteindelik in die jaar 70 gebeur het, toe die tempel verwoes en die Jode uit Jerusalem verdryf is.

Let gerus daarop dat die man in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan juis op pad Jericho toe deur lestai oorval en byna dood geslaan is. Hoe ironies dat Jesus uiteindelik self tussen twee lestai gekruisig is.

Soos Gandhi tweeduisend jaar na hom, was Jesus duidelik 'n voorstaander van geweldlose verset. Hoe effektief hierdie benadering op die lange duur kan wees, is in die vierde en vyfde eeue bewys, toe Christene met hul geweldloosheid die Romeinse Ryk "van binne af oorgeneem" het.

Tussen sewe en agt eeue na Jesus se dood het 'n wonderwerk gebeur toe Christelike geweldloosheid en naastediens en Boeddhistiese deernis mekaar op die groot handelsroetes van Asië raakgeloop het.

Hieruit is die ideaal van die Bodhisattva (letterlik verligte wese) gebore. Iemand wat uit medelye 'n spontane behoefte ontwikkel om 'n Boeddha te word, sodat sy of hy nie net haarself nie, maar alle wesens, insluitende die natuur, tot verlossing kan help lei. Dit het die Mahayana Boeddhisme in staat gestel om 'n teologie van geweldloosheid te ontwikkel, wat die Christendom self nooit ontwikkel het nie – hoewel die boublokke daarvan soos edelstene in Jesus se woorde lê.

Toe die moderne Zenmeester, Thich Nhat Hahn na die terreuraanval op die World Trade Centre in New York gevra word of hy aan boosheid glo en of terroriste as boos bestempel kan word, was sy antwoord: "Boosheid bestaan. God bestaan. Boosheid en God is twee aspekte van onsself. God is die diep begrip, die groot liefde in ons ... die verligte gees wat deur alle onkunde en onwetendheid kan sien.

"Wat is boosheid? Dit is wanneer die gesig van God in ons verduister word..."

"In die Bybel staan dit duidelik: 'Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.' Dit beteken dat boosheid 'n daad van groot onkunde en wanbegrip is. Daar skuil miskien selfs 'n reeks wanbegrippe agter 'n daad van boosheid; daarom moet ons insien dat onkunde en wanbegrip die wortel van alle kwaad is. Elke menslike wese bevat in hom- of haarself die elemente van diep begrip, diep medelye, maar ook van onkunde, haat en geweld".**

Miskien moet 'n mens meermale jou oë aan ander uitleen, en 'n slag van 'buitekant af' na jouself en jou tradisies kyk. Dalk sien ons dan iets raak wat ons nog nie voorheen ingesien het nie.

*J.H. van den Berg: Zien, J.H. van Schaik, Pretoria.
** What would I say to Osama bin Laden? Thich Nhat Nahn in gesprek met Anne A. Simkenson.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.