Om Jesus te skets

Deur Izak du Plessis op 1 April 2011

Hierdie artikel het in Maart 2011 in Kerkbode verskyn.

Die sogenaamde Jesus-debat het die NG Kerk die afgelope dekade met mening getref. Maar dié debat, wat 'n oënskynlik eenvormige beeld van Jesus in bykans ontelbare gedaantes versplinter het, is om verskillende redes noodsaaklik. Vir baie Christen Kerk lidmate is die debat grensverskuiwend. Vir sommige is dit helend. Vir ander is dit asof Jesus soos 'n hemelliggaam in 'n uitdyende heelal buite hulle bereik geplaas word. Die sogenaamde Nuwe Hervormers, Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit en liberale teoloë word daarvan beskuldig dat hulle twyfel saai. Oor Jesus moet 'n mens seker wees, het die benadeeldes in dié debat verklaar. Dit het tot talle onverkwiklike gesprekke gelei waarin beide kante van die debat mekaar soms openlik verkleineer het – en steeds doen – in 'n poging om hulle saak met sekerheid te stel. En in die proses word Jesus dalk steriel geteologiseer deur beide pole van dié debat.

Daar is egter een christen teoloog wat hom nie ooglopend beywer vir die een óf die ander kant nie. Ds. Danie du Toit, pas afgetrede gemeenteleraar van die NG Gemeente Waterkloof, fokus daarop om bevrydend oor God en die Bybel te praat. Baie van die Waterkloof-gemeente se lidmate getuig hoe hy hulle met nuwe oë na Jesus laat kyk het; dat hy hulle, stil en op die agtergrond, deur die debat begelei het. Sy kollega, dr André van Niekerk, skryf in Beeld (19 Februarie 2011): "Hy beoefen die kuns van Bybeluitleg (hermeneutiek) op 'n onvervangbare wyse. As liefhebber van verskeie kunsgenres het hy vroeg ingesien dat die Bybelse verhale, getuienisse en beelde nie op 'n leerstellige manier (dogmaties) vertolk moet word nie, maar juis op 'n kunssinnige manier." Deur middel van sy liefde vir kuns het Du Toit die Bybel op maniere ontsluit wat min teoloë hom kan nadoen.

Daarom nooi baie gemeentes en instansies hom om met hulle oor kuns en die kerk te praat. Een so 'n geleentheid was die onlangse teologiese dag van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch toe hy oor kuns en die opstanding gepraat het. Soos dikwels vantevore het hy aangedui hoe kunstenaars daarin geslaag het om waardevolle teologiese uitsprake te maak. Teologiese uitsprake wat eie was aan verskillende tydvakke en generasies se sienings oor Jesus. Teologiese uitsprake wat universeel getref het, maar ook deurgesny het tot 'n intiem individuele vlak waar elke mens sy eie prentjies van Jesus teken.

Oor kritiek dat die verskillende gesigte van Jesus vertwyfeling en selfs ongeloof in die hand werk, haal Du Toit vir Oepke Noordmans aan: "Hoe kan 'n mens dié vreemde boodskap hoor en geen vrae daaroor hê nie." Mag 'n mens jou eie prentjies oor Jesus teken en meen dat jy nog met die ware Jesus te doen het? Mag jy jou eie vrae aan die Jesus-figuur stel? Die praktiese teoloog en adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, prof. Julian Müller, meen dit kan nie anders nie. Müller skryf op sy webtuiste: "Jesus word vir elkeen van ons wat in Hom glo, mens in ons menslike situasie. Hy neem ons vlees aan. Nie net vlees in die algemeen nie. My en jou vlees. Daarom doen Christene deur al die eeue presies wat die skilder doen. Ons ontvang Jesus in ons wêreld, ons teken Hom op ons doek, ons gee vir Hom ons eie dekor. As ons dit nie doen nie, staan Hy buite ons wêreld en beteken Hy vir ons niks nie.

Die vraag vandag is: In watter wêreld kom Jesus vir jou tereg? Wat is die agtergrond wat jy inteken?" Die Ou-Testamentikus, prof. Jurie le Roux, meen ook dat die kunste daarin geslaag het om teologiese uitsprake te maak. Maar anders as waaraan ons vandag gewoond is. Le Roux sê: "Die hedendaagse kerk voer ywerig debat oor letterlike, metaforiese en simboliese waarhede. Dit is meestal kliniese en rasionele debatte wat geen hart aangryp nie en niemand op 'n ander manier na die wêreld laat kyk nie. Maar kuns kon dit regkry om mense anders na hulle werklikheid te laat kyk, omdat dit geloofswaarde het."

Kuns en geloof

Een van die beste voorbeelde hiervan is Mathias Grünewald se Isenheim altaarstuk, wat ook deur Du Toit op Stellenbosch behandel is. In die hoofpaneel van hierdie aangrypende werk sien die kyker 'n skokkende bleek Jesus aan die kruis. Sy kop hang slap na regs, sy mond is halfoop en sy lippe is doodsbleek. Boaan die kruis sien 'n mens net die lang vingers wat wyd en wild aan die groot spykers hang. Met 'n groot spyker is regter- op linkervoet vasgeslaan en skep die kromming van die tone (soos ook die vingers) die indruk van pyn. Die donker spikkels op Jesus se lyf is opvallend. Dit was nie die wonde van sy geseling nie, maar die uiterlike simptome van 'n noodlottige velsiekte in Grünewald se tyd. Dié siekte het in die tiende eeu in Europa voorgekom en oor die hele vasteland versprei. Die uiterlike simptome was oop sere met absesse oor die hele liggaam wat die lyer stuk vir stuk weggebrand het. Niks kon die rou swere genees nie en niks kon die ondraaglike brandpyn verlig nie. Dié mense is in die Isenheim-klooster verpleeg en Grünewald se kunswerk was vir hulle bedoel. Dit is so geplaas dat die siekes dit kon sien en daaroor kon nadink. Elke sieke het sy eie brandmerke op Jesus se liggaam gesien; elkeen het sy wonde aan Jesus se bleek lyf herken. Jesus is ook deur dieselfde brandsiekte gefolter; sy liggaam is ook deur brandende wonde verteer; Hy moes ook die ondraaglike brandpyn geken het. Deur die kunswerk het hulle deel geword van Jesus se kruisiging en het Jesus deel geword van hulle lyding. Só het die Isenheim-altaarstuk duideliker met mense gepraat as enige teoloog wat aandring daarop dat hy of sy oor die waarheid beskik.

'n Mens sal nooit dié skildery se troos kan peil nie. Dié invloed op die waarnemer van kuns, word mooi deur die Duitse filosoof Gadamer se siening van die tragedie geïllustreer. In die ontwikkeling van sy denke oor die tragedie het Gadamer by Aristoteles aangesluit. Volgens hom het Aristoteles nie abstrak daaroor gepraat nie, maar konkreet. Aristoteles wou weet: Wat gebeur met die toeskouer terwyl hy na 'n tragedie kyk? Dan antwoord Aristoteles deur te sê dat die kyker een word met dit wat hy sien in 'n proses van herkenning en herbelewenis. Volgens Gadamer neem kuns jou na die verste plekke binne-in jouself en maak dit nuwe wêrelde oop. Deur herkenning en herbelewenis kan die waarnemer van kuns dus tot innerlike rus kom.

Afrika-Jesus

Iets hiervan word ook duidelik in Afrika-kuns. Dit is kuns wat nie bedoel is om in binnekamers uitgestal te word nie, maar bedoel is vir die gemeenskap. Die funksie hiervan is onder meer om iets van Afrika in die Christelike geloof tuis te bring. Die vraag is net hoe om vir Jesus uit te beeld? Sommige stamme in Afrika beeld hom uit met 'n groot kop om op wysheid te dui. Ander stamme skep vir hom 'n groot bors om krag uit te beeld. Maar behoort hy as 'n Afrikaan uitgebeeld te word? Enkobo Mpane het sy eerste swart Christus in 1969 geskep. Dit het nie by almal byval gevind nie en die beeld is in 'n naburige klooster uitgestal. Sedertdien is Jesus in talle kunswerke in Afrika as swart uitgebeeld.

Godsdienstige vrae

Kuns het die vermoë om godsdienstige vrae te opper en om godsdienstige betekenis te kommunikeer. Deur die eeue het die kunste dit reggekry om geloof oor te dra en mense se diepste behoeftes uit te beeld, van grotkamers tot die Sistynse Kapel. Kuns as teologie verwoord, verbeeld en verklank die wonder én pyn van menswees, en druk ons diepste drome en behoeftes uit. Daarom behoort kerke meer erns te maak met die kunste. Nee, dit gaan nie help om predikante met kunstenaars te vervang nie. Verskille kom ook in die wêreld van kuns voor. Maar predikante kan gerus die kerk 'n guns doen deur kers op te steek by kunstenaars. Dit kan die kerk help om die hart van teologie vir lidmate toeganklik te maak. Die kunste kan lidmate leer om nie benoud te raak oor verskillende sienings van Jesus nie. Die kerk behoort homself toe te laat om deur die kunste op lang reise geneem te word. As gelowiges hulle prentjies van Jesus langs mekaar plaas, kan die onverkwiklike debate oor Jesus dalk omgeskakel word in 'n nuwe manier van verstaan. En dalk word die Bybel 'n bevrydende kunswerk eerder as 'n boek wat gebuk gaan onder die dwingelandy van dorre dogmas. Soos Danie du Toit getuig: "Toe ek klein was en kindervrese gehad het, het my ma dikwels vir my uit die Bybel gelees om dié vrese te verdryf. Ek onthou veral haar geliefde Psalm 27: 'Die Here is my lig en my heil – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek vervaard wees?'"

Izak du Plessis is 'n oud-predikant van die NG Kerk en is tans 'n vryskutskrywer en verbonde aan Renaissance-Gemeente. Izak kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za