Om HARDOP te MAG sê...

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Oktober 2011

Ons Afrikaners sukkel baie met die onsekerheid wat die moderne wêreld met sy vele opsies, teenoorgestelde standpunte en uiteenlopende idees by ons wakker maak. Ek meen vir elke een kenner op 'n gebied, is daar drie ander kenners wat sê hy praat nonsens. Dit is net nie meer so eenvoudig om te sê iemand of iets is reg of verkeerd nie.

Die sosioloog Peter L. Berger en die Nederlandse filosoof Anton Zijderveld het juis na hierdie verskynsel verwys in hulle boek, In Praise of Doubt: "Modernity produces a social world of freedom and lost certainties as a result of 'plurality,' or the proliferation of many competing worldviews and lifestyles."

Dit veroorsaak baie innerlike spanning en vrees by mense. Dit bring mee dat daar dan gepoog word om hierdie spanning te verwerk. So kry jy mense wat heeltemal onttrek en glad nie meer deelneem aan enige gesprekke wat sensitiewe sake soos godsdiens en politiek aanraak nie. Hulle ontvlug na 'n bekende, nie-bedreigende en eenstemmige wêreld. Hulle laat geen nuwe inligting of opponerende idees toe nie. Dit laat hulle veilig en in beheer voel.

Die tweede groep mense is die soekers, dit is mense wat kies om met onsekerheid saam te leef. Hulle spook daagliks om teenstellings en opponerende inligting sinvol te integreer. Hulle soek na 'n sinvolle middelpunt. Hierdie groep ag die vrye vloei van inligting en toegang tot verskillende idees, baie hoog. Maar meer nog as dit, die vryheid om self te kan besluit, sonder sensuur, hoe hulle hul werklikheid wil vertolk.

Die derde groep mense is opportuniste wat saam met die gewilde en meerderheid opinie gaan. Hulle sien geleentheid vir oorlewing en natuurlik persoonlike bevoordeling in hierdie keuses. Hulle is dan ook gewoonlik die mense wat sê "Ek sal verandering van binne bewerk." Daardeur probeer hulle onder die radar beweeg.

Die vierde groep is die fanatici. Hulle klou krampagtig vas aan hulle verstaan, wat volgens hulle die enigste korrekte verstaan is. Enige ander idees word met suspisie bejeën en indien iemand met hulle sou verskil, sou dit dadelik as vyandig en 'n persoonlike aanval beleef word.

Hierdie laaste groep is natuurlik die gevaarlikste groep as dit kom by die behoud van 'n gesonde oop, vrye en demokratiese gemeenskap. In ons geval is dit gewoonlik die Afrikaner-fundamentaliste, wat bestaan uit beide wit en swart fanatici. Dink maar net aan mense soos die ANC-jeugleier Julius Malema en die Regse VVK lid Abel Malan wat onlangs die filosofie prof. Anton van Niekerk aangerand het.

Hierdie mense funksioneer uit 'n diep minderwaardigheidsgevoel en 'n vrees vir die verlies van selfbehoud. Hierdie vrese sit gewoonlik om in uitings van woede en geweld. Die gevolg is dat die redelike en demokratiese weg stelselmatig verskraal word, omdat die soekers wat glo versoening is slegs moontlik deur oop gesprek, al banger word om hul sê te sê. Kyk maar net hoe daar met beledigings, dreigemente en haatspraak in briewekolomme, op radioprogramme, op webtuistes en in ander openbare ruimtes die 'soekers se stemme' stelselmatig verdring word.

Die realiteit van die saak is egter dat sonder oop dialoog en debat, word enige gemeenskap vinnig die broeiplek van onderdrukking, ongelykheid, korrupsie, miskenning en geweld.

"Democracy is integrally linked with public reasoning" verduidelik Amartya Sen (Nobelprys ontvanger en filosoof van Indië). As mense nie kan openlik en eerlik redeneer oor hulle verskille nie, dan is die alternatief om met mekaar te baklei. Kyk maar net na lande waar daar nie openlik oor godsdiens-verskille gepraat kan word nie. Die woede, geweld, menseregte miskenning en selfs bloedvergieting in sulke lande is skrikwekkend.

Die filosoof Karl Popper het met sy idée van 'n "open society" hierby aangesluit. Hy het gesê, 'n gemeenskap wat oop is vir kritiese debat en waar opponerende idees aanvaar en verdra word, is 'n gemeenskap waar verdraagsaamheid, respek, ontwikkeling van selfwaarde en demokrasie sal kan floreer.

Openbare redenering en debat is dus van onskatbare waarde vir die vrye vloei van idees. En daarmee saam bring dit insig en groei. Dit beteken verseker nie dat almal met almal sal saamstem nie. Maar die vryheid om self jou eie sinvolle middelpunt te vind en te mag redeneer en self besluit wie jy glo en wie nie, is een van die waardevolste vryhede wat 'n mens kan hê.

Amartya Sen sê verder dat openbare redenering van onskatbare waarde is vir vryheid en vooruitgang: "Three essential features of public reasoning especially are: First, it involves respect for pluralism and an attitude of tolerance for different points of view and lifestyles. Second, public reasoning demands an open public discussion of issues of common concern. Third, public reasoning encourages political commitment and participation of people in public action for the transformation of society."

Om eerlik, twyfelend en in die openbaar te mag praat, stry, verskil en bely is nie net nodig vir demokrasie nie, dit is onontbeerlik nodig vir persoonlike vryheid en groei. Daarom is dit so nodig dat elkeen van ons sal veg vir die reg om deel te kan hê aan die openbare gesprek, ook natuurlik vir die regte van diegene met wie ons verskil. Veral vir hulle. Dit laat my aan die woorde van die Franse filosoof Voltaire dink: "I do not agree with what you have to say, but I'll defend to the death your right to say it."

Daarsonder sal ons bitter min wedersydse begrip vir mekaar kan ontwikkel en sal ons nooit as gelykes in vrede hierdie mooi land van ons kan bewoon nie. Daarom is dit so belangrik dat mense sal verstaan dat vryheid van spraak die pad is na vrede.

Openbare redenasie en dialoog kan slegs werk as daar onthou word dat idees belangriker is as gesag. Daarom in enige openbare gesprek, kan daar geen van die deelnemers (of hulle individue of deskundiges of van 'n gesags-instansie is) die monopolie op die oplossings of resultate hê nie.

Dit impliseer dat daar werklik geluister moet word voordat gereageer word. Geen vooraf uitgewerkte antwoorde kan toegelaat word nie. Dit verg natuurlik moed en selfvertroue om eerlik en oop na sterk argumente te luister en dan eers daarop te reageer.

Ek is 'n kampvegter vir hierdie vorm van openbare redenasie en dialoog. Daarom stem ek ook heelhartig saam met die Indiese filosoof Amartya Sen as hy sê: "...democratic politics requires the protection of political freedom (such as free speech, uncensored media, freedom from political prosecution or persecution), as well as public participation and social deliberation. Broadly speaking, democracy is integrally linked with 'public reasoning', and the three different features to which you refer all fit into that broad understanding of democracy."

In Suid-Afrika kan ons verseker trots wees op ons Grondwet. Dit waaroor Popper, Sen en vele ander filosowe gepraat het, is binne ons grondwet 'n werklikheid. Maar deel van die realisering van hierdie waardes van ons grondwet, lê by die betrokke wees en aktiewe deelname aan die openbare gesprek.

Die tyd is hier dat ons as burgers van 'n vrye samelewing opstaan vir ons regte. En as jy wonder waar om te begin is die antwoord voor die hand liggend. Ons moet sê die wet op beperking van die vrye vloei van inligting is nie aan nie.

Want indien die ANC en regering se beplande mediatribunaal suksesvol is en daardeur word mediavryheid ingeperk, is vryheid tot eerlike oop redenering en dialoog ook in gedrang. Hiermee saam ook andere regte soos godsdiensvryheid, vryheid van assosiasie en taal ens.

Kom ons begin hier. Kom ons veg saam vir die onderhouding van Artikel 16 van ons Grondwet: "Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is die vryheid van die pers en ander media: die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing."

Die reg om te kan verskil en die reg tot die vrye vloei van inligting is onontbeerlik vir 'n vrye gemeenskap. Ons is die nuwe generasie van vrydenkers, vryburgers, mense vir wie die beginsels van liefde, eerlikheid, gelykheid, integriteit, kreatiwiteit, respek, kritiese denke, oop soeke, verantwoordbaarheid, verdraagsaamheid, vryheid ens. ens... ononderhandelbaar is.

Kom ons sê hardop, dat ons die reg het, om hardop te kan sê...

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za