Om die Rubicon oor te steek

Deur Ds. Willem Bakkes op 1 Januarie 2011

Publisiteit maak my beangs aangesien ek nooit die moontlike lesers kan ken nie. Ek val onder die dekonstruksie se vloek. Die woorde gaan los van die skrywer en loop hulle eie pad. Dus kan die sogenaamde "oorspronklike bedoeling" van 'n "outeur" nie bepaal word nie.

Hierdie is bloot 'n kort skets wat sommige kontoere in my denke en ervarings besoek.

Ek is 'n sensitiewe mens, wat ander se opinie maklik myself aantrek. Ek trek ook ander se lyding maklik aan. Dit is ook een van die groot vrae waarmee ek myself aanhoudend, knaend besig gehou het en dit is die vraag na mens en dier se lyding. Op 'n stadium het ek gedag dit is Godgedrewe, maar nou dink ek anders. Lyding is bloot deel van die ritme van die natuur. Die lewe het nie sin nie, ons ken sin toe daaraan.

Waar begin mens met so lewenskets, of eie kommentaar? By die punt wat Abel my gevra het om iets oor myself te skryf. Ek ly anders as die normale mens want ek het 'n ongesonde dosis depressie /skisofrenie (alhoewel ek nie dinge hoor of sien wat nie bestaan nie). Ek noem dit eerder 'n distorsie van tyd. Dit voel of goed tweemaal gebeur. My gedagtes raak stadiger en ek sukkel om inligting te prosesseer. My psigiater reken dit is ook wat met sommige epilepsie-lyers gebeur. Nietemin het ek soms las daarvan, veral as ek situasies van spanning beleef. Die innerlike wonde wat nie bloei nie is soms moeilik om te behandel.

Toe Abel my vra om iets te skryf was ek in die proses om weer in 'n negatiewe kurwe in te beweeg en ek moes hom vra om twee weke of so te wag. Hy wag nog steeds (dit is al begin Desember). Jammer Abel maar ek het net nie kans gesien om iets oor myself neer te pen op daardie stadium nie. Nou voel ek tog meer in beheer en wend 'n daadwerklike poging aan.

Ek wonder of mens die ontwikkeling in denke maklik kan vaspen en of mens dit hoegenaamd ontwikkeling kan noem, so asof andersdenkendes dan onontwikkeld sou wees. Ek bedoel dit nie so nie. Leef en laat leef asseblief. My denke het begin verander op universiteit, veral in die taalkunde. My teologie sien ek as 'n bykomstigheid wat ek met baie geesdrif aangepak het, aangedryf deur wat vromes 'n roepingsbewustheid sou noem. Dit alles het gehelp om my te leer om hard te werk en om te dink.

Ek het moedswillig die afgelope maande nie swaar akademiese werke gelees nie en my eerder daarop toegespits om die lewe te leef en te geniet, om bietjie my gedagtes te temper en nie te "hoog" te probeer dink nie. Ek onthou my ma het altyd, as sy gehoor het die gemeente beroep dokter so en so, gereken hulle maak 'n groot fout want die gemeente gaan sukkel om hom te verstaan. Vandag dink ek sy het 'n punt beet gehad. Nie dat ek dink die gemeente is dom nie, allermins.

Ek weet dat ek nie iets nuuts kwytraak nie, want my denke is geslyp deur ander onopnoembare boeke en mense. Vir hulle is ek ewig dankbaar.

Van die Christelike teologie het ek geleer dat die grootste gawe van die Christusgebeure was dat ons verlos word. Ek het baie gewonder waarvan mens verlos word, maar vandag dink ek dat mens ook verlos word van Christus self. Ons is vry om op ons eie pad te loop. Ons kan die slawerny van die kerk vryspring. Daar is nie so iets dat iemand 'n "houvas" op iemand anders het nie. Ons kan kies.

Ek het die weg gekies van boeke. Boeke is my beste vriende. Sommige besoek ek oor en oor, lees asof ek nie genoeg kan kry nie. Met boeke voel ek ten volle in beheer, ek kan lees of ek kan die boek terugsit as ek nie verstaan nie en oor 'n jaar weer probeer snap.

Ek is tog ook 'n sosiale mens wat graag wil weet wat ander dink. Ek wil graag help. Ek wil ook graag gehelp word; ek moes in my lewe leer ek kan nie self regop bly nie. Ek sou in jonger dae byvoeg dat dit Goddelike hulp is, maar vandag ervaar ek dit is menslike hulp.

Kan ek onthou wanneer ek die Rubicon oorgesteek het? Nee ek kan nie. Dit is 'n reis oor 'n baie lang brug, en ek is nog nie klaar daarmee nie. Ek het nog nie aan die anderkant aangekom nie.

Die Rubicon metafoor bepaal die weg waarin die gesels loop. Ek sal dus mooi moet dink wat die vergelykingspunte is as ek die metafoor inspan. Ek dink die mees betekenisvolle vergelykingspunt is dat mens nie kan terugdraai nie. Die brug agter jou staan nie meer nie. Dit is 'n eenrigting. Ek kan nooit weer terugkeer na kinderlike onskuld nie.

Ek wil dit duidelik stel dat ek nie gearriveer het nie. Dus weet ek nie alles nie. Ek kan wel beduie dat ek al baie in my lewe gely het. Ek kan net dink aan die eksistensiële vrees van alleenwees. Die idee dat God jou sal verlaat en hel toe stuur. In knetterende vlamme en vuur wat ewigdurend brand is jou voorland. Ek moet vertel dat dit 'n kosmologie is wat mense vandag nog aangryp. Met sy voordele en nadele. Dit is eenvoudig veel makliker (nie reg nie) om vir 'n laerskoolkind wys te maak daar is 'n duiwel en 'n hel as om te probeer verduidelik dat daar 'n ander manier is om God te sien, naamlik volgens 'n eietydse begrip en idioom. Ons sukkel om die eietydse idioom te verwoord. Ek weet nie regtig wat nou die ideale post modernistiese mens sou wees nie.

Die waarheid bly ons ontwyk. Dit word nie vasgevang in die Bybel of figure soos Christus nie. Die sogenaamde heilige koeie soos belydenisskrifte moet herbekyk word. Ek beskou die fundamentalistiese verstaan van belydenisskrifte eerstens as 'n politieke oplossing. Die prentjie kom dikwels by my op van die soldate wat by die deur wagstaan om enigiemand wat nie die opgestelde belydenisskrifte aanvaar nie op te donner (in die naam van die staat).

As mens dan nou jouself wil steur aan die belydenisskrifte of die Bybel kan ons byvoorbeeld histories-krities daarna kyk. En natuurlik met ander lesersstrategieë ook. Resepsie estetika sou baie interessante resultate oplewer. Ek hou van 'n tipe dekonstruksie. Die hele idee dat taal 'n verweefde sisteem is van teken en referent wat elke mens wat die taal hoor of lees dekonstrueer en weer opnuut in sy of haar eie kop konstrueer tot 'n op daardie moment singewende taaluiting.

Dit maak die waarheid vir my sodanig dat mens moet praat van waarhede. Net soos mens in my opinie moet praat van Gode; en nie een God nie. Elke mens het tog tot haar eie opinie geraak oor die goddelike, hoe dit daarna uitsien, en 'n eie prentjie gekonstrueer van watter godsdienstige tradisie nou ook al. Dus beskou ek die hele idee dat daar 'n progressie in denke was tot monoteïsme as loutere snert. Eintlik is daar nie so iets nie. Mense wat met meer as een godskonsep werk is ook nie agterlik nie want mens moet jou varkies mooi op hok hou om tred te hou met die gode.

Hierdie bepaaldheid van die waarheid en gebondenheid tot tyd en ruimte binne taaluitinge kan baie pastoraal aangewend word in narratiewe terapie. Dit is soos 'n katarsis om die eie storie te vertel en die "waarheidsmomente" daarin te ontdek of te herontdek. Ons vertel dieselfde storie nooit presies tweekeer dieselfde nie. Ons konstrueer elke keer weer iets uniek en anders as ons die lewenswerklikheid in taal probeer vasvat.

Toe ek jonk was, was daar net sekere inligting aan my deurgegee en ander inligting weerhou. Daar was op skool vir my vertel dat alles in die Bybel waar was; en nie net soos ander stories soos van byvoorbeeld hekse en drake nie, en dat die Bybel van God direk af kom. Daar is elke saalperiode vir die val van die ystergordyn gebid en teen die Kommunisme (goddeloosheid).

Daar was nooit vir my die geleentheid om hierdie inligting in twyfel te trek op skool nie. Dit is 'n goeie voorbeeld van wat in die rekenaarbedryf bekend staan as "garbage in, garbage out."

Dit is ook 'n voorbeeld van hoe die taaluitinge wat ek gehoor het, gekonstrueer was in my "geslote" verwysingsraamwerk. Dit is soos een vriend dikwels sê: "Willem jy weet mos hoe dink hulle." Hierdie hulle is dan diegene wat nie hulle eie verwysingsraamwerk kan verander nie. Want ek weet dat indien so 'n raamwerk eers gevestig is dit spanning en inspanning verg om dit te verander. Daarom is ek nog nie klaar met die Rubicon nie. Dit is 'n lewensreis om die brug finaal oor te steek. Die dood is die finale punt, en dan niks. Tog bly ek Christen! Ek kan die dinge nie bedink vanuit 'n nie-Christelike raamwerk nie want my tradisie is Christelik.

Ds. Willem Bakkes is predikant in die NG Kerk.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za