.

Om buitengewoon te leef

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Augustus 2018

.

Ek lees onlangs 'n boek van 'n Maleisiese Hindoe, Vishen Lakhiani, wat tans in Amerika bly. Hy vertel dat hy nog sommer 'n klein seuntjie was toe hy dinge begin bevraagteken het, veral die reëls van sy godsdiens. Hy het op 'n dag na sy ma toe gegaan en vir haar gevra waarom hulle nie McDonald's burgers mag eet nie. Sy het geantwoord: want dit word van beesvleis gemaak. Hy het dadelik geprotesteer en gevra: maar waarom mag ons hoender en skaap en selfs vark eet, wat ons Moslem maatjies nie mag eet nie, maar ons mag nie beesvleis eet nie? Sy ma het geantwoord: want dis een van die reëls van ons godsdiens.

Hy het toe begin oplees oor waarom hulle nie beesvleis mag eet nie. En toe ontdek hy dat veral koeie vir eeue lank as troeteldiere aangehou is omdat hulle so mooi en sag was en sulke lang wimpers en mooi oë het. En later is hulle amper as heilig deur sekere Hindoe-sektes beskou. En dis waarom hulle dit nie mag eet nie, want die Hindoes eeue gelede het gereken dat 'n mens nie jou troeteldiere mag eet nie.

Gewapen met hierdie kennis konfronteer hy toe sy ma en sê vir haar: Maar koeie is nie meer troeteldiere nie. Honde en katte is nou. En daarom eet mense nie hond of kat nie. So, tegnies beteken dit dat hulle maar kan beesvleis eet, want koeie is nie meer troeteldiere nie. Sy ma het na sy argument geluister en hom toe toestemming gegee om 'n McDonalds burger te gaan koop. En dit was die begin van 'n reusagtige omwenteling in sy lewe.

Volgens hom het dit sy lewe na 'n volgende vlak toe geneem. Na die vlak van 'n buitengewone lewe; want toe hy een reël begin bevraagteken, toe volg die volgende en die volgende en toe kom hy agter hoeveel reëls, dogma en strukture hou ons gevange sonder dat dit enige betekenis of waarde het. Ons laat toe dat dit ons lei en beheer, bloot net omdat dit daar is. Nie omdat dit sin of betekenis het nie.

Dit is die wonderlike van hierdie oorgangstyd waarin ons geslag leef. Ons word blootgestel aan die kennisontploffing en daarmee saam aan inligting wat ons bemagtig om nuut na dinge te kan kyk; wat ons in staat stel om ou gebruike en dogmas te bevraagteken en ons eie opinie oor sake te vorm.

En die voordeel van hierdie tyd is dat die debat hoofsaaklik nie in wetenskaplaboratoriums, kerkraadsvergaderings en universiteitsklaskamers plaasvind nie, maar in mense se gesinskamers, op sypaadjies; tydens uitstappies in die natuur, in meditasiekringe, jogaklasse en koffiewinkels, dwarsoor die wêreld.

Net toe hierdie nuwe debat oor godsdiens en spiritualiteit sy kop begin uitsteek het, is almal wat die hoofstroom tradisionele godsdiens hoegenaamd bevraagteken het, as ateïste uitgekryt. Deesdae gaan dit al bietjie beter. Nie alle godsdienstiges dink meer dat almal wat nie meer deel van die kerk is, hel toe gaan nie, want baie gelowiges glo ook nie meer aan die hel nie. En nie almal buite die kerk dink, die wat daar agtergebly het, kan nie krities dink of weet nie hoe om met inligting om te gaan, of is dom omdat hulle hierdie godsdienskruk in hulle lewens nodig het om die aanslae van die lewe mee te oorkom nie.

Op 'n stadium was diegene buite die kerk se sterkste argument dat hulle nie kan verstaan hoe 'n god van liefde, wat almagtig en alwetend is, selfmoordbomdraers, oorloë, hongersnood, kinderpornografie en puisies op tieners se gesigte kan toelaat nie. Ander het weer die stryd toegetree vanuit die dogmadebat oor die onsterflikheid van die siel, lewe na die dood, sonde, vergifnis en die mitologiese ontstaan van Jesus as karakter in die evangelies.

Maar die bestaan van God per se, het feitlik niks met godsdiens te make nie, of met die idee van boosheid in die wêreld, of met onsterflikheid, reïnkarnasie of lewe na die dood nie. Dis temas wat vir die mens dalk belangrik is en omdat godsdiens en spiritualiteit ook gaan oor sinvinding en lewensdoel, het mense begin om hierdie temas in die debat in te sleep en het mense daaroor begin dogmatiseer. God is dus geantropomorfiseer, vermenslik, en dis waar die misterie verdwyn het en die dogma begin het.

Die Griekse filosoof Xenophanes, wat tussen 570 en 475 voor ons huidige jaartelling geleef het, het al gesê dat as perde gode sou gehad het, sou hulle god soos 'n perd gelyk het. Hy sê dat as beeste en leeus hande gehad het en hulle sou hulle gode kon teken, sou dié na beeste en leeus gelyk het. Die sewentiende eeuse Franse sosiale kommentator en politieke denker, Charles de Secondat het daarby gevoeg dat as driehoeke gode gehad het, sou hulle god ten minste drie sye gehad het.

Meeste mense projekteer dus hulle verstaan van die lewe en hulle idees op hulle gode en skep dus 'n god wat lyk en doen soos hulle dink 'n god behoort te wees. In baie kringe word die debat vurig gevoer oor wat was eerste: die hoender of die eier. Het god in die begin die mens geskape en toe, om die guns te beantwoord, skep die mens 'n god...?

Hoe dit ook al syn, die punt is: Die feit dat ons mag vrae vra en krities mag wees oor dogmas en reëls, wat ons vir jare in vormpies gegiet het en wat ons slaafs moes gehoorsaam, al het dit geen sin gehad nie, die feit dat ons van sulke reëls en dogmas ontslae kan raak, help ons om vry te wees. Om buitengewoon te kan begin leef.

Want in 'n buitengewone lewe, laat mens jou nie bind en lei deur reëls en quasi-waarhede van buite nie. Jy kan kies en besluit wat is belangrik vir jou, wat maak sin vir jou, wat gee aan jou lewe betekenis, wat dien jou verhoudings met die mense rondom jou en wat maak sin binne jou lewens- en wêreldbeskouing. En in daardie opsig kan jy jouself definieer. Jy kan die grense om jou bestaan trek, of oop los.

Jy kan groei en ontdek. Jou eie beperkinge word jou enigste beperkinge. Niemand sit meer 'n plafon bokant jou kop as jy dit nie toelaat nie. Niemand druk jou meer in 'n vormpie of boksie as jy nie gewillig daarin klim nie. Jy en jy alleen perk jouself in, of gee dan ten minste toestemming dat 'n sisteem of 'n ander persoon jou begrens.

Vishen het dit ontdek die dag toe hy sy eerste McDonald's burger geëet het. Daarna het hy begin om 'n buitengewone lewe te leef. Ons mag ook dit wat ons inperk en beperk, afskud en ons eie reëls vir ons eie lewe formuleer. En aansit by 'n selfgedekte tafel en sien en smaak dat dit goed is. Buitengewoon goed.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.