.

Olifantstories

Deur Douwe van der Zee op 1 Julie 2013

.

How could you possibly 'know' anything from which you are separate?
A separate being can only truly know itself. Yet in knowing yourself, you can come to know that you are not separate. If you can come to know that you are not separate, you can return to union and relationship and through union and relationship to true individuation and true knowing.
– A Course of Love
(Mari Perron)

Daar is 'n video van 'n veldgids ('game ranger') op die Internet wat skynbaar in die bravado van dronkenskap na 'n olifant toe hardloop en hom wegjaag. Meer as 'n miljoen mense het al die video gesien. Tussen al die honderde kommentare van kritiek was daar hier en daar een van iemand wat die man geken het en hom as 'n besonder toegewyde, passievolle gids ervaar het. Om die waarheid te sê, jy kry in die eerste plek nie werk by Singita as jy nie so 'n persoon is nie. Wat het dan verkeerd geloop?

As iemand wat sowel jare lank in die veldgidsbedryf gestaan het as heelwat self-ondersoek gedoen het, dink ek ek het 'n mate van begrip vir die man se gedrag. Almal weet dit was die 'verkeerde' ding. Maar wat skynbaar min mense besef is dat ons glad nie so rasioneel is as wat ons dink nie.

Hoekom voel so baie van ons so diep aangetrokke tot die natuur? Ons weet daar's iets in die natuur wat ons mis, maar min van ons vind dit. My vermoede is dat die gids se 'verkeerde' gedrag in werklikheid 'n onbewuste desperate poging was om die eenheid met die natuur te ervaar wat sy lewe as 'lodge' gids hom nie gebied het nie. Want as veldgidse in hul werk werklik vind wat hulle hoop om te vind, waarom is dit so dat bitter min gidse dit langer as twee of drie jaar uithou voordat hulle 'uitbrand'?

Die gids se houding teenoor die olifant verskil in wese glad nie van ons samelewing as geheel se houding teenoor die natuur nie. Ons gedrag teenoor die natuur is dikwels presies die teenoorgestelde van wat ons oor die natuur voel. In sy boek Biophilia skryf E.O. Wilson: "The natural world is the refuge of the spirit, remote, static, richer even than human imagination. But we cannot exist in this paradise without the machine that tears it apart. We are killing the thing we love, our Eden, progenitrix, and sibyl." So baie van ons doen dieselfde met ons verhoudings.

Hierdie houding teenoor die natuur lê baie diep gewortel in ons hele wêreldbeskouing. 'n Algemene aanname in die godsdiens is dat God die mens as 'heerser van die natuur' aangestel het. Aan die ander kant het Francis Bacon, die persoon wat algemeen as die 'vader van die wetenskaplike metode' gesien word, vroeg in die sewentiende eeu dit al onomwonde gestel dat dieuiteindelike doel van die wetenskap is om die natuur te domineer en te beheer. Hierdie uitgangspunt was nog nooit so 'n sterk dryfveer vir wetenskaplike navorsing as vandag nie.

In ons voortdurende pogings om ons mag oor die natuur (en ander mense) te probeer vestig skat sommiges dat ons al 40% van ons landbougrond verloor het, die tempo waarteen spesies uitsterf is hoër as ooit tevore in natuurlike uitsterwings, en die water, lug en grond is versadig met gifstowwe. Met ons oormatige gebruik van antibiotika en genetiese manipulering is ons in sommige gevalle besig om supermonsters te skep waaroor ons skynbaar geen beheer meer het nie. Ons torring aan dinge waarvan ons eintlik niks weet nie.

Daar is 'n ander manier. Wanneer ons ons eenheid met mekaar en met die natuur begin ervaar, is dit nie meer nodig om mag oor die natuur of oor ander te probeer uitoefen nie.

Op 'n staptoer laasjaar met 'n aantal boere van Swellendam het ons die oggend net teen 'n heuwel in die iMfolozi-wildtuin begin uitstap toe 'n olifantbul van die ander kant af oor die heuwel kom – op dieselfde pad. Sipho, my medegids wat voor geloop het, laat nie op hom wag nie. Hy skree "Come!" en begin hardloop. Die res van die groep volg hom.

Absoluut op die ingewing van die oomblik loop ek skuins op die bul af. Dit was een van daardie weinige oomblikke waar ek volkome op my intuïsie ingestel was en my rasionele verstand nie 'n kans gekry het om dit te kom opmors nie. Op daardie stadium was ek absoluut vreesloos (iets heel anders as om vrees te ontken).

Toe die bul my sien, storm hy op my af, maar ek kon sien dit was maar halfhartig, so ek steur my nie eers daaraan nie. So in die lyn van hy't gevoel dis die regte ding om te doen. Ek hou net aan stap en gaan staan bo die wind van hom, sodat daar geen verrassings kan wees nie. Daar begin ek toe met hom praat. Enigiets wat in my kop opgekom het.

Die olifant stop, draai om, loop so 'n paar treë en staan en kyk vir my so 20 meter weg.

"Magtag, maar jy is darem 'n ongelooflike wese!" is die woorde wat uit my mond kom om die onbeskryflike gevoel van eenheid wat ek met die dier ervaar te verwoord. Op daardie stadium het ek die olifant geken, en ek het geweet die olifant ken my, en ek het myself geken, en daar was eenheid, en daar was vrede.

Terwyl ek so met die olifant staan en kommunikeer, sien ek die groep is nou ver weg, maar reg in die pad van die olifant. Ek wys vir hulle om heeltemal in 'n ander rigting te beweeg, want die olifant gaan presies daar loop waar hulle nou staan.

So al asof die olifant verstaan het, begin hy net daar in die rigting van die groep loop.

"Hokaai!" sê ek vir die bul. "Jy kan nie nou al loop nie. Hulle is nog nie reg vir jou nie. Gee hulle net kans om weg te kom!"

Hy stop, draai om en staan weer vir my en kyk – net mooi lank genoeg om die groep kans te gee om weg te kom! Toe loop hy.

Toe ek weer by die groep aansluit, is daar groot opgewondenheid. En dis alles op video.

Kon die olifant my 'verstaan'?

Nee, ek dink nie hy kon my woorde verstaan nie. Maar daar was beslis kommunikasie. "In union and relationship" is die woorde wat A Course of Love gebruik om die essensie van ware kommunikasie te beskryf. In haar boek Kringe in 'n Bos (of was dit nou Toorbos?) gee Dalene Matthee 'n pragtige kriptiese beskrywing van hierdie soort kommunikasie met olifante.

'n Paar jaar gelede staan ek met 'n groep mense op die rand van een van die talle bos-eilande in die Okavango en kyk hoe honderde olifante die palmvrugte afskud en vreet. Terwyl ons staan en kyk is daar 'n voortdurende stroom van olifante wat by hulle aansluit. Uiteindelik is ons vasgekeer tussen 'n see van olifante en die bos. Die 'polers' wat saamgestap het (mense wat die mokoro's met stokke deur die water gestoot het) wou deur die bos terugstap kamp toe. Dit was egter laat, en deur die bos sou ons nie voor donker by die kamp uitkom nie. En daar was nie 'n manier wat ek in die donker in daardie bos sou stap nie. 'n Leeu in die dag is een ding; 'n leeu in die nag iets heel anders!

Daar was net een uitweg. "Kom!" sê ek, en stap reguit op die olifante af. Die 'polers' huiwer, en die toeriste sien dit en huiwer ook, maar toe hulle sien ek stap, toe volg hulle. Dit was weer een van daardie wonderlike oomblikke – oomblikke wat almal van ons by tye ervaar – waar my innerlike sekerheid oorgeneem het.

Soos ons stap, maak die olifante voor ons oop, en maak weer toe agter ons. Een van die basiese dinge wat jy as veldgids leer is dat jy nie naby teeltroppe kom nie. Olifant mammas sal enigiets doen om hul kalfies te beskerm. En tog het ons deur hulle gestap sonder dat daar 'n teken van aggressie was. Dit was asof die olifante besef het ons het geen ander uitweg nie.

Op 'n staptoer in die Pilanesberg-wildtuin met 'n baie lekker groep mense sit ons die aand rustig om die kampvuurtjie en gesels toe ek baie subtiel bewus word van 'iets'. Ek weet nie of ek dit gehoor of gevoel het nie. Dit was nuwemaan en ons kon niks sien nie. Ek sien die ander gids is ook bewus van iets en ek sê vir die mense iets in die lyn van "Hou net aan gesels asof niks gebeur het nie, maar ek dink hier's 'n olifant." Toe ek my flits aanskakel staan die olifantbul so drie meter agter my. Doodstil en rustig staan hy vir ons en kyk.

Hoewel ek eintlik van beter geweet het, stap ek toe om my geweer te gaan kry. Ou indoktrinasie wat weer inskop, maar nou ja. En toe gaan die ander flitse aan. Die olifant skud sy kop, draai om en loop weg. Ek sweer hy't gesê, "Kan julle mense nie nou maar net rustig wees en die oomblik geniet nie? Vir wat moet julle alewig 'n bohaai opskop?!"

In sy boek The Elephant Whisperer vertel Lawrence Anthony die fassinerende verhaal van hoe hy 'n aantal onbeheerbare en aggressiewe olifante 'aanneem' en dan deur oneindige geduld die stadium bereik waar die olifante hul aggressie verloor en hóm as deel van die trop aanvaar. Die boek het 'n internasionale topverkoper geword. Daar is verskeie videos oor Lawrence en sy olifante op Youtube. Hier is een van hulle.

Die aand nadat Lawrence laas jaar oorlede is, het verskillende olifanttroppe – 'n totaal van 31 olifante – spontaan van heinde en verre in die Thula Thula-wildtuin na sy huis toe geloop en vir twee dae en twee nagte daar vertoef sonder om te eet. Hulle was jare laas by die huis gewees. Die foto hierbo is van een van die troppe geneem terwyl hulle op pad na die huis was. Die olifante het gewéét hy is oorlede en hulle het 'hul laaste eer kom betoon'.

Interessant dat hierdie insident baie min opspraak in die media verwek het. As 'n olifant iemand doodgetrap het sou dit waarskynlik baie meer opspraak verwek het. Hoekom?

Lawrence Anthony se olifante het geweet toe hy dood is. Noem dit instink, gevoel of wat ook al, maar daardie 'weet' was 'persoonlike', 'subjektiewe' – en terselfdertyd universele – ervarings wat ons nooit 'objektief' sal kan verstaan nie. As olifante op daardie manier kan weet, hoekom sou ons dit nie kon doen nie? Baie van ons wéét dat ons ook sulke ervarings het, maar bly dikwels stil omdat ons bang is dit gaan ons belaglik laat lyk. Wat is in werklikheid meer belaglik as die idee dat 'n paar miljard mense almal dink hulle is die enigstes wat reg is en al die ander verkeerd?

In 'n artikel in Africa Environment and Wildlife (nou Africa Geographic) van Julie 1999 skryf Julienne du Toit soos volg oor 'n ervaring op 'n wildbesigtigingsrit in die Phinda-wildtuin:

"A psychic, called Jan Weiss, was playfully predicting which animals they would see next, and was right every time – much to [field ranger] Rodgers' amazement, not to mention that of his trackers. Suddenly she frowned and asked him what had happened to the elephants, as they were suffering. He told her that they had been rescued from a cull. She asked to see them. What happened next blew Rodgers' mind as he openly admitted.

"Weiss pinpointed exactly where the elephants would be and the pattern they would be in. She was right. She then proceeded to meditate on a blanket and, after hours had elapsed, said the young matriarch had given them permission to approach on foot. Rodgers said he had never seen the elephants so at ease, neither before nor since. They had been totally wild, and had always run from humans."

"I'm the world's greatest skeptic," skryf Du Toit, "but that woman has got something, some kind of power, that she's using for good purposes. The whole thing was uncanny. I'll always be a skeptic, but not about that."

Toe ek Jan Weiss later self ontmoet het, het ek die storie by haar self gehoor. Sy's 'n doodgewone mens soos ek en jy.

Ek het 'n groot deel van my lewe as gids in die bos deurgebring. Vir 'n paar jaar was ek direkteur van die Veldgidsverening van Suider-Afrika (FGASA), en in daardie tyd was ek direk betrokke by die opstel van eenvormige kwalifikasies vir gidse. Dit was gebaseer op wetenskaplike kennis. Vandag sou ek dit nie meer kon doen nie. Wetenskaplike kennis maak nie 'n gids nie.

Vir gidse wat met mense geloop het in gebiede waar potensieel gevaarlike wild (die 'groot vyf') voorkom was en is hul vermoë om vinnig en akkuraat te kan skiet nog altyd 'n belangrike deel van hul (ons) opleiding.

Wat my opgeval het was dat, hoewel die Wilderness Leadership School (vir wie ek staptoere doen) reeds 56 jaar staptoere in die iMfolozi- en ander wildtuine doen, en waar die groepe sonder beskerming in die bos slaap, daar in al daardie tyd vir sover ek weet drie diere geskiet is. In teenstelling daarmee is daar in die Krugerwildtuin, waar daar eers in die tagtigerjare met staptoere begin is en die groepe in beskermde kampies slaap, reeds honderde diere geskiet. Is die Kruger-wildtuin se diere dan soveel aggressiewer? Ek het daar ook al gestap, en dis nie my ervaring nie.

Die WLS het altyd maar aanvaar dat 'n mens met 'n geweer moet stap, maar nooit eintlik veel aandag aan vuurwapens gegee nie. In die Krugerwildtuin, daarenteen, was die wapenopleiding 'n baie belangrike deel van die opleiding. Vir baie jare was 'n deel van die opleiding dat die gidse 'n olifant moes skiet wat deur 'n helikopter op hulle afgejaag is. Vandag nog weier die Krugerwildtuin om enigiemand anders se skietkwalifikasies te aanvaar.

Let asseblief daarop dat ek hierdie nie as kritiek bedoel nie. Ek ken baie van die (voormalige) staptoerveldwagters, en het baie respek vir hulle. 'n Goeie oorlede vriend van my, Bruce Bryden, was vroeër hoofveldwagter in die Krugerwidtuin, en hy het 'n groot aandeel in die wapenbenadering gehad. Bruce het in sy lewe duisende olifante geskiet as deel van die uitdunningsprogram. Hy was dikwels die man wat langs die voornemende gids gestaan het om die stormende olifant op die laaste nippertjie te skiet as die gids mis...

Bruce het my self vertel dat, wanneer hy in dieretuine by die olifanthokke verby geloop het, die olifante op hom afgestorm het.

"Ons ken slegs ten dele," het Paulus geskryf. Aan die een kant weerhou ons godsdienstige 'kennis' (dogma) ons van dieper insigte oor die aard van die lewe self en van die persoonlike ervaring van God, of wat ons die uiteindelike waarheid ook al wil noem.

Aan die ander kant het die geweldige vooruitgang in die tegnologie baie van ons verblind vir 'n werklikheid wat nie aan wetenskaplike analise onderhewig is nie, maar waarvan talle van ons weet dat dit bestaan.

Die bure se kinders speel gereeld by my, en dit amuseer my hoe dikwels hulle 'weet' hoe dinge is en my probeer oortuig dat ek verkeerd is. Ons vind 'n duisendpoot en ek sê, "Look at the millipede!" "It's not a millipede," sê hy, "It's a shongololo!" Hy wéét, want dis dan wat sy ouers vir hom gesê het! En wie's ek om vir hom te kom sê dis dieselfde ding as 'n 'millipede'?!

Is dit nie maar wat ons almal doen nie? Is ons 'geloof' gebaseer op 'n diep vertroue op God, of is dit eintlik maar net al die vreesgebaseerde 'kennis' wat deur ons ouers en onderwysers aan ons opgedis is? En iewers in ons weier daardie klein kindjie om te erken dat sy of haar ouers dalk verkeerd was...

En so voer ons oorlog teen mekaar in die naam van God en oorlog teen die natuur in die naam van die Wetenskap.

Uiteindelik het dit niks met rasionaliteit te doen nie, maar alles met rasionalisering van ons dieperliggende gevoel – van vrees.

In die woorde van die beroemde psigoanalis Erich Fromm in The Art of Loving: "The experience of union, with man, or religiously speaking, with God, is by no means irrational. On the contrary, it is as Albert Schweitzer has pointed out, the consequence of rationalism, it's most daring and radical consequence. It is based on our knowledge of the fundamental, and not accidental, limitations of our knowledge. It is the knowledge that we shall never 'grasp' the secret of man and of the universe, but that we can know, nevertheless, in the act of love." 'n Mens kan dieselfde sê oor eenheid met die natuur.

Lawrence Anthony se aksies het, glo ek, hul oorsprong in Liefde gehad. My eie kommunikasie met olifante het ook, glo ek, sy oorsprong in Liefde. Daar waar die hart en die verstand 'n eenheid vorm en lei tot wat Einstein 'n 'holy curiosity' genoem het. Dis nie iets wat tot spesifieke mense beperk is nie. Almal van ons het inherent daardie vermoë – tot die mate waarin ons vrees kan laat vaar.

"Waar liefde is, is geen vrees nie," staan daar in die Evangelie van Johannes.

Dis deur ons 'kennis' – waarvan ons almal dink dat ons dit het – dat ons die natuur, en daardeur uiteindelik onsself vernietig. Wat ons nou nodig het is 'n ander soort 'kennis' – om te 'ken' as 'n daad van liefde. Sulke kennis is nie net 'kopkennis' nie, en ook nie net 'hartkennis' nie, maar kennis van die kop en die hart in eenheid. Dis nie kennis wat van buite af kom nie. Dis terselfdertyd 'n subjektiewe en 'n universele belewenis.

En as ons in eenheid die Liefde vind, en God is Liefde, het ons dan nie God ook gevind nie?

Douwe van der Zee

As voormalige biologiese wetenskaplike wat besef het dat nóg die wetenskap nóg die godsdiens ons menslike probleme gaan oplos, het Douwe hom al hoe meer op die menslike psige en spiritualiteit toegespits. Deur jare lank outentiek met kinders te speel, het spesifiek die geweldige krag en vatbaarheid van die bewussyn van klein kinders – en die kragtige effek daarvan op ons lewens – sy belangstelling geprikkel. Hy skryf, gee praatjies en doen werkswinkels oor verskeie aspekte van vroeë kindertyd en mens en natuur, en doen wildernisstaptoere in die iMfolozi- en Pilanesberg-wildtuine. Meer inligting is op sy webwerf douwevanderzee.co.za beskikbaar.
Hy is bereikbaar op

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.