.

‘n Nuwe Verbond

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Januarie 2018

.

Ons is kinders van ons tyd en ons kan niks daaraan doen nie. Ons tyd is 'n oorgangstyd. 'n Tyd van verandering. Ons kan nie die tydsgees ontsnap nie. In 'n sekere sin is dit iets wat ons lewe reguleer tot die dag van ons dood. Dit bepaal selfs die tipe kos wat ons eet, die werke wat ons doen en die drome wat ons droom. Dit bepaal tot 'n mate waar ons bly en hoe ons sterf. Ons koop daarby in of ons nou wil of nie. Soos wanneer jy 'n rekenaarprogram of toepassing aflaai. Jy kan dit nie begin gebruik voordat jy nie eers die blokkie gemerk het aan die einde van die ellelange kontrak wat sê "I agree," nie! En as jy die blokkie gemerk het, het jy toegang tot die program.

Die totale kontrak van die tydsgees kan opgesom word in een sin wat vra: Is jy bereid om die ou paradigma om sin in die lewe te vind, eenkant toe te skuif en 'n soeker te word, ter wille van die vooruitgang van die mensdom?

Sien, tot onlangs toe het die meeste kulture gedink dat die mens 'n rol speel in een of ander groter kosmiese plan. Daar is geglo dat die plan opgestel is deur almagtige gode en dat geen mens aan die plan kan verander nie. Die plan gee sin en betekenis aan die mens se lewe, maar dit beperk die mens se mag, want die gode is in beheer.

Die mens is gesien as iets soos 'n akteur op die planke van die lewensverhoog. Daar is 'n bepaalde teks waarvan die akteurs nie kan afwyk nie en selfs die detail van hoe en wat om te doen, staan in die regisseursnotas. Dis alles uitgewerk. Lank gelede reeds. Die akteur moet dit net uitvoer. Die mens se insette in hierdie lewensdrama is beperk want Hamlet kan nie vir Claudius in toneel een vermoor nie, hy kan ook nie Denemarke verlaat en in 'n ashram in Indië gaan bly nie. Shakespeare sal dit nie toelaat nie! Net so kan die mens nie sekere pyn, siektes en ellende en hartseer ontsnap nie. Die drama se teks laat dit nie toe nie.

Maar omdat die mens geglo het dat alles uitgewerk is deur alwetende en almagtige gode, het die mens geglo dat sy lewe sin het, want die sin was opgesluit in die tonele wat afspeel en waaraan die mens dan deel het. Daar was sin daarin om 'n goeie soldaat vir jou land te wees. Dit was 'n roeping met 'n hoër doel. As jy hartseer of pyn ervaar het of siek geword het, of in 'n ongeluk was, of jou werk verloor het, of 'n vak gedruip het, of as 'n ou of 'n meisie jou gelos het, of as dit 'n droë jaar was, of as daar vloede was ... agter alles was daar 'n doel en in alles was daar tog 'n stuk sin en betekenis te vind. Want hierdie dinge moes gebeur as deel van 'n groter plan. En die almagtiges en alwetendes maak nooit 'n fout nie. Hulle bring beproewings oor jou pad om jou sterker te maak en hulle laat donker dae toe om jou lewe te besoek, want in dit moet jy iets leer en sin en betekenis vind. Alles gebeur tog met 'n doel. Daar is 'n groter plan daaragter. En ons moet net vertrou dat die groot storieverteller 'n goeie einde vir alles uitgewerk het. Indien nie dadelik of in jou leeftyd nie, dan definitief in die lewe hierna.

Dis hoe die paradigma vir eeue gewerk het. Maar die moderne mens verwerp hierdie idee van 'n groter kosmiese plan vir die mens. Die mens is eintlik die enigste spesie wat nie deel van die plan is nie, want elke ander dier of insek of vis of voël speel 'n rol in die groter ekologie en as hulle sou uitsterf het dit bepaalde implikasies. Die mens is die enigste spesie wat eintlik maar kan uitsterf en niemand gaan ons mis nie. Alles sal sonder ons kan aangaan. Ons vervul geen funksie in die kosmiese plan nie.

Die moderne mens het dus agtergekom dat die fiksie wat vir die vorige paradigma gewerk het, nie meer geldig is nie. Ons het 'n nuwe meesternarratief nodig om by in te koop. Ons het nuwe fiksie nodig. Ander verhale. Ons glo nie vandag meer dat alles vooraf uitgewerk en bepaal is nie. Ons glo nie dat daar iets of iemand daar buite is wat ons te hulp gaan snel nie. Dinge gebeur, een ding na die volgende ding. Die moderne mens glo nie in die doel agter die ding wat gebeur nie. Die moderne mens glo die ding wat gebeur het 'n oorsaak. En ons moet uitvind wat die oorsaak daarvan is. Om dit te kan beheer of voorkom dat dit weer gebeur, moet ons die oorsaak ken. Ons fokus het dus van doel na oorsaak verskuif.

En omdat die moderne mens nie meer dink dat hy gepredestineer is om een of ander rol te vervul wat deur die gode vir hom uitgewerk is nie, glo die mens dat hy nou eintlik tot enigiets in staat is. Die moderne mens word ingeperk net deur sy onkunde en gebrek aan kreatiwiteit. Omdat daar geen paradys na die dood wag nie, het die moderne mens besluit om aan te hou navorsing doen. Navorsing word die hoogste goed in ons dag, want dit kan mens help om 'n paradys op aarde te skep. Ons hoef nie meer te berus as siekte en ellende op ons pad kom, omdat dit kwansuis vooraf vir ons bestem is nie. Ons kan die oorsaak daarvan navors en dan 'n kuur daarvoor probeer vind.

Offergawegeld wat voorheen vir die gode bestem is, word in ons dag navorsingsgeld om wetenskaplike deurbrake te bewerk om die lewe vir ons beter te maak. Navorsing bring beter tegnologie wat meer geld vir die ekonomie kan genereer sodat meer navorsing gedoen kan word met daardie geld, sodat vinniger vervoermiddels en beter kos en beter medisyne vervaardig kan word, sodat ons beter en gesonder kan wees om meer navorsing te kan doen, sodat ons dalk eendag 'n wondermiddel kan ontdek wat die ewige jeug kan verseker en die dood kan elimineer, of die wonderkuur tot volkome geluk, of 'n manier waarop ons nie meer aan atmosfeer gebonde is nie, sodat ons die heelal kan gaan bewoon. En daar is geen gode wat die moderne mens kan stop in die navorsing en verbeeldingsvlugte nie.

Mynbouwetenskaplikes en inligtingstegnologie kenners is op die oomblik besig om rekenaaraangedrewe myntoerusting te ontwerp waarmee hulle van 2023 af goud op die maan gaan myn en hulle beplan om teen 2030 goud op Mars te begin myn.

Almag en alwetentheid wat voorheen net vir die gode beskikbaar was, raak al meer binne bereik van die mens. Die moderne mens is onophoudelik besig om navorsing te doen, te ontdek, goed uit te vind en om eksponensieël in kennis te groei.

Tog is die moderne mens blootgestel aan meer eksistensiële angs as enige van al die vorige geslagte. Korea of Amerika, of wie ook al, kan dalk met die druk van 'n knoppie alle lewe op aarde uitwis. Ons navorsing en kennis vertel vir ons dat ons binne 'n paar jaar van nou af mekaar gaan doodmaak vir water en vir hulpbronne. Ons navorsing vertel vir ons dat daar komete of stukke ster besig is om op ons af te peil, wat die aarde kan vernietig. Die druk na meer geld en kennis en navorsing, plaas ongekende druk op ons en dit skep angs. Die moderne mens neem dus nie net toe in mag en kennis nie, maar ook in angs. En die ou verhale en fiksie werk nie meer vir ons om van ons angs ontslae te raak nie, want ons glo nie meer dat alles ten goede sal uitwerk nie. Nou wat nou? Talle mense het reeds aanvaar dat die lewe geen sin het nie. Ons moet maar net werk en bestaan, totdat ons beurt verby is.

Niemand daarbuite of daarbo het 'n plan met ons nie. Niemand gaan ons te hulp snel nie. Niemand het ons lot vooraf bestem nie. Ons is eintlik maar op ons eie in hierdie ding. Niks gebeur met 'n doel nie, als gebeur eintlik maar net. Dit gebeur. En daarna gebeur daar weer iets. Ons soek nie meer na die doel van dinge nie, ons het geleer om na die oorsaak daarvan te soek. En as ons die oorsaak kry, kan ons navorsing doen om die oorsaak aan te spreek of te probeer elimineer.

En so leef ons deesdae.

In ons dag en tyd het ons die blokkie gemerk en gesê: "I agree" sonder dat ons die kontrak gelees het, want ons wou net so vinnig as moontlik toegang tot die program gehad het. En nou sit ons daarmee. Maar omdat ons in 'n oorgangstyd is, is ons nog nie heeltemal robotte of kunsmatig intelligente wesens nie. Ons het darem nog so 'n stukkie van oue ook in ons. En daarom worstel ons soms steeds met die vraag na die sin van die lewe en met die vraag of alles die moeite werd is. Daar is tans nog nie pille daarvoor nie. Ons moet die antwoord nog self vind. Iemand is êrens in 'n wit jas en 'n donker vertrek besig met navorsing daaroor, maar vir tyd en wyl moet ons met fiksie van ons angs ontslae raak en moet ons tog op 'n manier sin vind.

Daarvoor is ons op mekaar aangewese. Verhoudings is in ons tyd dalk belangriker as ooit. Praat, kuier, deel brood en wyn en skep fiksie en visie. Deel verhale. Die oue is vir ewig verby. Ons het die blokkie gemerk wat ons soekers gemaak het. In ons strewe na vooruitgang en 'n nuwe verstaan het ons mekaar en mekaar se stories en mekaar se brood en wyn nodig.

Omdraai wil ons nie. Terug is nie 'n opsie nie. Ons het die blokkie gemerk om vorentoe te gaan. Navorsing en oorsake uitpluis en angs en nuwe ontdekking is waarmee ons moet deel. Maar daarby is daar ook darem ook brood en wyn en mekaar. Maar sonder 'n teks en sonder 'n regisseur.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.