.

‘n Nuwe ou manier van bid

Deur Dr. Piet Muller op 1 Februarie 2014

.

M skryf:

Ek volg jou skrywes al geruime tyd – dit resoneer met my op 'n vlak wat nie net intellektueel opwindend is nie, maar ook vertroostend en insiggewend. Baie dankie vir elkeen van jou web-publikasies. Dis manna uit die hemel – ek wou sê vir die afvalliges, maar is so uitgekuier vir die term wat om my eie nek hang vir die laaste 10+ jare. Want sogenaamde afvalligheid beteken (in meeste gevalle) mos maar net volgehoue eerlike soeke en bevraagtekening - weliswaar nie uit moedswilligheid nie, maar weens onvermoë om soos van ouds saam met ons geliefdes te glo.

Dit alles is niks nuuts nie so ek gaan die vrymoedigheid neem om jou opinie reguit te vra oor waarmee ek van tyd tot tyd vashaak nl. 'n "G/godsbeeld". Marcus Borg se definisie werk goed – "The word God refers to the sacred at the centre of existence – the holy mystery that is all around us and within us. God is the non-material ground and source and presence in which we live and move and have our being."

Teoreties is dit alles wonderlik, maar in die praktyk sukkel ek daarmee om nie meer my hoof in eerbied te kan buig voor die beeld wat ek kan oproep van 'n "Vader" nie – "Wees barmhartig soos julle vader barmhartig is." Omdat ek nie menslike eienskappe aan god koppel nie, wie en wat is hierdie vader dan? Dit klink elementêr, maar miskien is ek dan nou maar 'n stadium agter. Dis vir my moeilik om na soveel bidlose en Bybellose jare in my relatief nuwe meditasie-praktyk weer by 'n godsbeeld te probeer aanhaak. Ek wil so graag weer die Bybel begin lees as die antieke geskrif wat dit is, maar kry dit waaragtig nie reg nie – hoe doen mens dit?

Ek is lank nie meer in die verwerpingsfase van alles wat met god en gebod verband hou nie en wil nie langer my eie spiritualiteit ontken nie. Tien jaar gelede het ek 'n wavrag Christelike publikasies weggery omdat ek nie 'n enkele herinnering aan my Christelike fase wou oorhou nie. As ek nou na die boeke op my boekrak kyk is die oorweldigende bewyse van 'n nuwe alternatiewe soeke lagwekkend. Oënskynlik 'n meer sekulêre soeke, maar hoekom telkens terugkom na Richard Holloway, Marcus Borg en natuurlik die heerlike webpublikasies van jouself, Abel, Flip en Bertus?

Ek wil egter nog steeds meer hê – daardie vader wat barmhartig is en ons liefhet soos ek my kinders liefhet – wie is hy/sy/dit?

Groete, M

Dr. Piet Muller antwoord:

Beste M,

Jy het eintlik jou brief aan my "namens" ons almal geskryf! Almal wat in die ou paradigma grootgeword het het waarskynlik dieselfde probleem. M.a.w. dis "normaal" om sulke gedagtes te hê en om oor sulke onderwerpe te wroeg.

Maar kom ons begin by Marcus Borg se verduideliking van "God". Ek hou veral van daardie pragtige woorde van Paulus wat hy aanhaal: "In hom leef ons, beweeg ons en is ons". Maar presies hoe leef en beweeg 'n mens in God? Hier noem ek graag die mooi metafoor wat ek by dr. Ronell Bezuidenhout geleer het: Om in 'n panenteïstiese God te glo is baie om soos 'n ongebore kind in 'n ma se baarmoeder te wees. Ons is deel van ons ma en ons ma is deel van ons, maar terselfdertyd is Ma ook veel meer as wat ons as ongebore kinders is.

Wat ek hiermee bedoel is dat ons altyd in metafore dink wanneer ons aan God dink. God is immers 'n woord wat die uiterste grens van ons denke aandui. Daar is geen manier waarop ons op 'n logiese manier oor God kan praat nie, omdat die idee van 'n God buite ons normale ervaringsveld lê. Daarom dat mense van die vroegste tye af vir hulself metafore gevind het om die goddelike mee te beskryf. "Vader" is een so 'n metafoor, "Moeder" is 'n ander.

Die Ou Testament bied 'n hele reeks sulke metafore waarmee mense oor God gedink en gepraat het, en wat metafore was waaraan hulle 'n ervaring van die Onsienlike kon koppel. Dink maar aan beelde wat so ver uitmekaar lê as Liefde, Vrede, Rots, Skuilplek, tot by Sakkie Mirre – wat kom van die teer uitdrukking uit Hooglied: "My beminde is soos 'n sakkie mirre wat tussen my borste hang."

Vir elke mens en vir elke omstandigheid is daar 'n metafoor wat by jou geaardheid en behoeftes kan pas. Om 'n metafoor vir God te gebruik beteken nie om terug te val in 'n ou en uitgediende manier van oor God dink nie. Dit beteken net dat jy 'n metafoor gebruik om God se onsigbare teenwoordigheid vir jou persoonlik sigbaar en voelbaar te maak.

Die probleem waarmee jy worstel strek egter ook veel verder: Dit raak ons behoefte om te kan bid. Meer en meer vind ek dat mense wat "oorgeskakel" het na 'n nuwe godsbegrip, probleme met gebed begin ondervind. Dit voel dikwels vir sulke mense asof gebed niks anders is nie as 'n magiese inkantasie waarmee hulle hul omstandighede probeer verander. Dikwels begin sulke mense ook verleë voel met iets so normaal as 'n tafelgebed.

Die probleem lê natuurlik nie by gebed as sodanig nie, maar by die manier waarop ons oorwegend leer bid het: Gebed is meesal vir ons net 'n wenslysie van dinge wat ons wil hê God moet vir ons doen – terwyl die wese van gebed lê in die bou van 'n persoonlike verhouding met die Onsienlike. Gebed wat dus nie deel van 'n vaste praktyk is nie, is meesal weinig meer as bygeloof.

Elkeen moet sy of haar eie gebedspraktyk vind. Wat vir my werk is die eeue oue mantra-gebed, wat ons meesal uit die Oosterse godsdienste ken, maar wat tot 'n fyn tegniek ontwikkel is deur die vroeë Griekse kerkvaders van die vierde tot die agste eeue. Kortweg kom dit daarop neer dat 'n mens vir jouself 'n woord of 'n frase kies wat kan dien as pand van jou verhouding met God (op watter manier 'n mens God ook al beskou). Dit kan 'n woord wees soos Abba, Liefde, Jesus of wat ook al; ook die woorde uit die Ou Testament, wat in 'n vorige paragraaf genoem is. Solank dit vir jou persoonlik iets spesiaals beteken.

Begin dan om hierdie word of frase bewustelik in jou gedagtes te herhaal. Sommer 'n paar duisend maal op die eerste dag, as dit kan. Het Paulus dan nie gesê: "Bid sonder ophou", nie (1 Tes. 5:17)? Die eerste twee-drie dae is dit nogal "moeite", maar daarna begin die woord homself te sê. Dit is wanneer 'n mens moet onthou dat jy dit nie in jou "kop" moet sê nie, maar dit te laat afsak na jou hart toe, sodat dit daar resoneer.

Dit alles klink dalk baie ingewikkeld, maar as jy dit eers probeer sal jy agterkom hoe maklik dit is. Dan sal die woord homself letterlik dag en nag bly herhaal, daarom dat 'n mens jou pandwoord met soveel versigtigheid moet kies, want jy wil nie na weke se inoefening skielik nodig hê om oor te slaan na 'n ander woord toe nie.

Op 'n heel onverwagse manier het ek eenmaal 'n ondervinding met my pandwoord gehad wat my lewenslank sal bybly: Op 'n vlug terug van Durban af het ek siek geword en skaars krag gehad om tot by die naaste hospitaal te ry. Daarna is ek deur die een skandeerder na die ander gestuur om vas te stel wat my makeer. Later was ek so uitgeput dat ek die indruk gehad het dat ek net kan "laat los" en dan sal ek rustig sterf. Maar op hierdie tydstip het my pandwoord ingeskop en homself begin sing, oor en oor; moeiteloos maar met soveel troos dat ek gevoel het asof ek in die liefde van die onsigbare godheid baai.

Hierdie manier van bid kan natuurlik ook met gebeds-krale gedoen word, 'n praktyk wat ek van harte wil aanbeveel vir mense wat sukkel om aan die "nuwe manier" van oor God dink gewoond te raak. 'n Mens kan of 'n hele gebed so bid, soos op die Katolieke Rosekrans, of jy kan 'n enkele pandwoord een vir een op die krale aftel. Veral wanneer 'n mens gespanne is, is dit wonderlik as jou onrustige vingers op hierdie manier saam kan bid.

Die Christendom se oudste bidsnoer is waarskynlik die Griekse komboskoni, 'n snoer wat bestaan uit 'n toutjie met 'n klompie knope daarin. 'n Mens dra dit in jou sak, sodat jy "skelm" kan bid, al is jy tussen mense.

Maak vir jouself 'n bidsnoer deur krale van 'n gerieflike grootte op ronde rek in te ryg (juis omdat dit kan rek, hou rek langer as enige ander materiaal). Of jy kan vir jou 'n snoer op die naaste vlooimark gaan koop. 'n Lekker lange of 'n korte wat jy om jou pols kan dra.

Van die Indiese geestelike en politieke leier, Mahatma Gandhi, word vertel dat sy spirituele lewe dramaties begin verander het vandat hy as 'n middeljarige man met 'n pandwoord begin bid het. Hy het die woord Ram, die vredesaspek van God, as mantra gebruik, en het eenmaal aan 'n vriend gesê dat hy hom geen omstandigheid kan voorstel wat hom van sy mantra kan skei nie.

Die laaste woorde wat Gandhi geuiter het was juis sy mantra. Toe hy op 'n openbare byeenkoms deur 'n sluipmoordenaar vanaf 'n kort afstand geskiet is, het hy sy hande in die Namaste-houding seënend na sy aanvaller uitgesteek en geprewel: "Ram, Ram..."

Hartlike groete, Piet Muller

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.