‘n “Nuwe” humanisme

Deur Prof. Bernard Lategan op 20 Februarie 2010

(Artikel het in By van Beeld verskyn op 2010-02-20.)

Hoe sou 'n meer menslike samelewing in Suid-Afrika lyk?

Is dit ooit vir ons moontlik om meer menslik te wees?

Waarom kry ons dit eenvoudig nie reg om 'n meer menslike samelewing in Suid-Afrika tot stand te bring nie?

Ten spyte van die hoë verwagtinge vir 'n "beter lewe vir almal", vir die herstel van menslike waardigheid, vir 'n samelewing vry van diskriminasie, ongelykheid, rassisme, seksisme, korrupsie, selfverryking en vrees, is ons skynbaar in 2010 verder van hierdie ideaal as in 1994.

Mense se lewens het eerder goedkoper geword. Selfsug, korrupsie en selfverryking gedy en nuwe vorme van diskriminasie steek hul kop uit. Die opwinding van 'n nuwe begin het plek gemaak vir die ontnugterde besef dat groot dele van die ou bestel nog hardnekkig voortduur en dat die foute van die verlede herhaal word. Geen wonder dat die sogenaamde "humanistiese tradisie" tans in 'n krisis verkeer nie – daardie tradisie wat gebou is op die reg en verantwoordelikheid van mense om self vorm te gee aan die samelewing waarin hulle wil lewe, wat menswaardigheid en fundamentele menseregte as ononderhandelbaar beskou en wat vryheid en gelykberegtiging as basiese waardes aanhang.

Elemente van hierdie tradisie is terug te vind in baie van die denkstrome wat in die loop van die geskiedenis die kontoere van die Suid-Afrikaanse samelewing help skaaf het. Dit vorm ook deel van die program van feitlik elke huidige mededinger om die mag, hoe uiteenlopend en selfs botsend hulle op ander punte mag wees.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese tradisie, wit of swart nasionalisme in voor- en na-1990 gedaante, verskillende vorme van Afrikanisme, asook die Neo-liberalistiese tradisie, belowe almal 'n samelewing wat beter en meer menslik as die verlede sal wees.

In die praktyk is min hiervan te bespeur – die realiteit is eerder een van aftakeling en 'n voortgaande ontmensliking van die samelewing.

Die Suid-Afrikaanse krisis is ingekapsel in 'n nog groter mensgemaakte bedreiging wat die hele planeet raak – die stelselmatige vernietiging van die natuur en die omgewing. Die vooruitsigte vir toekomstige geslagte lyk al hoe meer bedreigend. Menslike oordaad, selfsug en onkunde lê aan die wortel van 'n krisis wat nou reeds globale afmetings aangeneem het. Die plaaslike en die globale krisis het ten spyte van verskille twee gemeenskaplike kenmerke.

Eerstens die ervaring van willoosheid en/of magteloosheid om die gety van agteruitgang te stuit en om te keer. (Kopenhagen is die jongste voorbeeld hiervan.) Tweedens die groeiende besef dat die mens self in 'n groot mate vir albei dilemmas verantwoordelik is. Natuurlik speel ander faktore ook 'n rol, maar niemand kan die rol van human agency ontken nie. Ook nie die feit dat die mens tot dusver in 'n groot mate misluk het om 'n mensvriendelike, volhoubare en veilige omgewing vir homself en vir die toekoms te verseker nie.

Wat het verkeerd geloop? Het ons die menslike natuur nog altyd verkeerd gelees? Het ons die wisselwerking tussen individu, samelewing en natuur nog nie regtig gepeil nie? Moet ons ons voorstelling van wat 'n ideale samelewing behels, drasties hersien en ons vir 'n heel ander soort toekoms voorberei? Hierdie vrae het 'n ongekende nuwe belangstelling in die humanistiese tradisie wakker gemaak, wat selfs tot oproepe vir 'n "nuwe" humanisme gelei het.

Deur die eeue het die humanisme groot veranderings ondergaan. Dit was veral tye van krisis wat voorstanders van hierdie denkrigting telkens gedwing het om hulle verstaan van die mens en van die menslike samelewing drasties te hersien.

Die eerste golf humanisme wat tydens die klassieke Renaissance opgestu het, was grootliks Christelik van aard en is gevoed deur die herontdekking van die Griekse en Latynse oudheid. Die tweede golf, wat met die Verligting van die agtiende eeu saamhang, was in wese sekulêr. Hier was die groot stukrag die drang om die mens van alle vorme van oorheersing (kerklik of polities) te bevry, om die menslike rede sentraal te stel en te glo in die mens se vermoë om sy eie heil uit te werk. Hierdie positiewe siening is wreed deur die twee wêreldoorloë van die twintigste eeu en ander vorme van die skending van menseregte ontnugter. Dit het onder meer daartoe gelei dat 'n invloedryke groep leiers in Switserland byeengekom het met die doel om die morele waardes te herbedink wat vir die heropbou van Europa nodig sou wees. Interessant genoeg het hierdie derde golf perspektiewe van die neo-Marxisme tot die Christelike humanisme ingesluit.

Intussen het die krisis om 'n ware menslike samelewing tot stand te bring en om die langtermyn-oorlewing van lewe op hierdie planeet te verseker, globale afmetings aangeneem. Al hoe meer stemme vir 'n "nuwe" humanisme word gehoor. Terselfdertyd is dit duidelik dat die (Wes)-Europese karakter van die humanistiese tradisie heeltemal te beperk is om as globale model te dien.

Enige "vierde" golf sal veel meer inklusief moet wees deur nie-Westerse beskouings van die mens ernstig op te neem en deur insigte uit diverse denktradisies (religieus of sekulêr) in te sluit. Watter kontoere sou so 'n "nuwe" humanisme kon aanneem? 'n Mens kan aanneem die volgende kenmerke sal ter sprake kom:

Selfkrities en beskeie

Nie meer gebou op die uitsluitlike vertroue op die rede en die arrogante aanname dat die mens self die wêreld kan verander nie. Dit sluit aan die een kant die aanvaarding in van die mens se aandeel in die krisis waarin ons onsself bevind, en aan die ander kant die aanvaarding van die grense van die mens se eie vermoëns.

'n Verskuiwing van die mens as middelpunt. In vorige weergawes van die humanisme staan die mens vanselfsprekend sentraal.

Die mens is die maatstaf waarteen alles gemeet word. Die natuur, die fisiese omgewing en ander vorme van lewe is daar ten dienste van die mens. In die "nuwe" humanisme verskuif die fokus van die mens na die lewe self – wat sommige as die verskuiwing van "antropo-sentriese" na "bio-sentriese" denke beskryf. Die mens is deel van 'n veel meer omvattende "netwerk van lewe" (web of life). Daar is geen middelpunt van waaruit die geheel beheer kan word nie. Inteendeel – die mens se bestaan en voortbestaan is ten nouste gekoppel aan die welsyn van die natuur, die fisiese omgewing en alle ander vorme van lewe.

Inklusief

Hoe belangrik die historiese bydrae van die Weste tot die ontwikkeling van die humanisme ook al was, die "Weste" of die "Noorde" kan nie meer die uitsluitlike bron en vanselfsprekende maatstaf wees van wat as "menslik" en "menswaardig" beskou word nie. Ook ander gemeenskappe, byvoorbeeld in Afrika, Asië, en Suid-Amerika, het eerbiedwaardige tradisies (skriftelik of mondeling) oor wat dit beteken om mens te wees, oor grondwaardes en oor hoe menslike gemeenskappe behoort te funksioneer.

Meer nog – die "nuwe" humanisme sal (as dit werklik globaal in sy trefkrag wil wees) moet put uit sowel sekulêre as religieuse bronne en uit tradisies wat tot dusver selde oorweeg is. Daarby sal die fokus moet wees op wat elke tradisie kan bydra om 'n mensliker samelewing te skep, eerder as op watter godsdiens of tradisie "reg" is. Fokus op verhoudinge eerder as op strukture. Kompleksiteitsteorie het duidelik gemaak dat hiërargiese strukture nie meer in staat is om komplekse situasies (soos die wêreld waarin ons ons tans bevind) voldoende te beskryf nie.

Die sleutel lê nie in die verskillende (gewaande) vaste punte van die netwerk nie, maar in die verhoudinge tussen hierdie punte.

Die implikasie is dat enige "nuwe" humanisme van 'n komplekse beskouing van die mens sal moet uitgaan waarin nie net filosofiese en etiese aspekte in ag geneem word nie, maar waarin biologiese, psigologiese en sosiologiese dimensies van menslike gedrag en menslike gemeenskappe ook verreken word.

In die proses sal opnuut gedink moet word oor die verhouding tussen individu en gemeenskap, oor die minimum-vereistes van 'n menslike samelewing, oor enkelvoudige en komplekse identiteit en oor groepvorming op so 'n manier dat die groep nie opgehef word nie, maar meer "deurdringbaar" word.

Kontekstueel

Die verskillende "golwe" van humanistiese denke was elkeen 'n poging om op 'n spesifieke historiese situasie of krisis te reageer. Dit is 'n ryk geskiedenis waaruit ons met vrug kan put en illustreer dat elke tydvak nuwe denke verg en eietydse oplossings vra. Daar is geen universele of tydlose antwoorde nie – elke geslag is verantwoordelik om die brose plantjie van 'n menslike en menswaardige samelewing te beskerm, te voed en te versterk.

Dialogies en deelnemend

Die tyd is verby dat 'n spesifieke opvatting van die mens en van die menslike samelewing aan ander opgedwing kan word. Vanweë die komplekse aard van ons globale tydvak en van die diversiteit wat Suid-Afrika kenmerk, kan 'n "nuwe" humanisme alleen deur die vrye uitruil van idees, insigte en voorstelle tot stand kom. So 'n proses word egter steeds deur allerlei faktore in die wiele gery – een van die grootste hiervan is die ongelykheid (ekonomies, sosiaal, opvoedkundig) wat die Suid-Afrikaanse samelewing nog steeds kenmerk.

Normatief

Om enige wyer impak te hê, moet 'n "nuwe" humanisme verby die deskriptiewe na die normatiewe beweeg. Slegs wanneer die netelige etiese kwessies wat ten grondslag van die huidige krisis lê voldoende aangespreek word, kan 'n etiese kompas deur wedersydse aanvaarding tot stand kom wat duideliker riglyne bied om tussen menslike en onmenslike gedrag te onderskei.

Hopelik sal die resultate van die navorsingsgroep (STIAS) 'n eerste stap wees tot 'n veel meer omvattende gesprek oor hierdie belangrike tema.

Prof. Bernard Lategan is die stigtingsdirekteur van STIAS (1999 tot 2008) en was voorheen dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za