.

‘n Nuwe god op die horison

Deur Dr. Flip Schutte op 1 November 2017

.

Daar is 'n nuwe god op die horison. Hy wys op die oomblik sy spiere, sy krag en sy sjarme. Hy het 'n aantrekkingskrag soos min ander en 'n strategie waarby ander gode sukkel om kers vas te hou. Gee hom nog net 'n paar dekades kans en sy volgelinge gaan wees soos die sterre aan die hemel en die sand van die see.
Maar om hierdie nuwe god te kan raaksien, moet ons eers weer die ou gode hersien.

In antieke Babilonië het mense wanneer hulle 'n probleem in die gesig gestaar het in die donkerste ure van die nag op die dak van die plaaslike tempel geklim om na die hemelruim te kyk. Babiloniërs het geglo die sterre bepaal hulle lot en voorspel hulle toekoms. Deur na die sterre te kyk, het Babiloniërs besluit met wie om te trou, of hulle die lande moet ploeg en of hulle 'n oorlog teen 'n ander nasie moet begin of liewer moet los. Hulle het dan die beweging van die hemelliggame en hulle filosofiese interpretasie daarvan en geloof daarin, vertaal in baie praktiese prosedures wat die gang van hulle lewe elke dag bepaal en beïnvloed het.

Toe die skriftuurlike godsdienste soos Judaïsme en die Christendom op die toneel verskyn, vertel hulle 'n ander verhaal. Hulle sê toe: Maar die sterre bedrieg. God, wat ook die sterre geskape het, het die volle waarheid van als wat 'n mens hoef te weet, in sy Woord geopenbaar. So, hou op om na die sterre te kyk! Lees eerder die Bybel. Die God wat die volle waarheid in die Bybel geopenbaar het is alwys, almagtig, alomteenwoordig. Hulle gee dus 'n baie praktiese alternatief. As jy wil weet met wie om te trou, watter loopbaan om te volg, of jy 'n oorlog teen 'n buurland moet begin, gaan lees net die Bybel en volg die antwoord wat God jou daarin gee. En dan gaan doen jy dit gehoorsaam.

En toe verskyn die humanisme op die toneel met totaal en al 'n nuwe storie. Hulle sê: Mense het vir God uitgedink; mense het die Bybel geskryf; en toe interpreteer mense die Bybel op duisende verskillende maniere. So eintlik help dit nie om na antwoorde in die Bybel te gaan soek nie. Die mens self is die bron van alle waarheid. So, as jy enige dilemma in die oë staar, luister na jouself en volg jou innerlike stem. Al die antwoorde waarna jy soek, is binne in jou.

Want kyk na die twee wêreldoorloë. Kyk na Hiroshima, Nagasaki, Auschwitz, Dachau, al die dermiljoene mense wat dood en vermink is, verliese en pyn ervaar het – was dit die antwoord wat die liefdevolle, alwetende God gegee het, wat elke haar op jou kop getel het en wat weet van elke mossie wat val? Niks gebeur buite sy wil om met jou nie en als wat met jou gebeur, het hy toegelaat, want hy het 'n doel daarmee?

Nee, sê die humaniste: luister dan maar eerder na jouself. Lees Goethe, hou 'n dagboek, kyk na die sonsondergang, hou demokratiese verkiesings en gesels diep, uit jou hart uit met goeie vriende. Dis waar die antwoorde is. En mense, baie van ons ook, het die humaniste se raad begin volg: Die fisikus wat gewonder het met wie hy moet trou, het na 'n sonsondergang in die bos by 'n dam gesit en kyk en sy antwoord gevind. Die chemikus wat gewonder het of sy 'n loopbaanskuif moet aanvaar, het 'n paar sinne in haar dagboek geskryf en met 'n vriendin daaroor gepraat en haar antwoord gekry. Die bioloog wat gewonder het of 'n oorlog en geweld of vredesonderhandelinge die oplossings vir ons probleme is, het in 'n demokratiese verkiesing gestem. Die breinchirurg wat 'n ingewikkelde boek oor operasietegnieke skryf, plaas 'n inspirerende aanhaling uit Goethe op bladsy een. En hier in die ooste van Pretoria slaan iemand op 'n geelkoper ghong, dan sit tien mense met toe oë vir twintig minute stadig en asemhaal, en daarna voel hulle stukke beter want hulle het nog 'n antwoord diep in hulleself ontdek.

Maar hier aan die begin van die een-en-twintigste eeu is jou innerlike stemmetjie en jou eie gevoelens vir baie mense nie meer die beste bron van antwoorde nie. Mense gebruik verhewe algoritmes en die krag van rekenaars om reusagtige databasisse te fynkam op soek na antwoorde. En die godsdiens "dataïsme" kom met 'n nuwe verhaal wat sê: Moenie langer na jou eie gevoelens luister nie. Dis misleidend. Luister na die algoritmes. Hulle weet tot hoe jy voel!

So wanneer jy wonder met wie om te trou, watter loopbaan om te volg en of ons 'n oorlog teen Korea moet begin, dan sê die data vir jou dit sal tydmors wees om op 'n hoë berg te gaan sit en na die son of die golwe te kyk, of om dagboek te hou, of met vriende daaroor te praat. Trek jou internet profiel. Laai die toepassing af wat kyk wat "like" jy op Facebook, of Instagram en wat volg jy op Twitter. Laat die toepassing dan jou profiel pas met die profiel van mense uit jou stad, of land of wat jy ook al as parameters stel, en die program sal dan vir jou 'n keuse in rangvolgorde gee van wie die beste by jou sal pas en saam met wie jy die gelukkigste sal wees.

Op dieselfde wyse kan jy jou aanleg ook toets en loopbaankeuses maak en met 'n ander stel algoritmes kan jy bepaal wat die waarskynlikheid is om 'n oorlog teen Noord-Korea te wen. En daar kry jy jou antwoorde op jou lewensvrae. Nie in die sterre of die Bybel, of in jouself nie, maar op Google.

En Facebook word die nuwe meditasiekringetjie en die "post"-knoppie word die koperghong. Waar die Babiloniërs hulle spirituele ervaring gehad het in die donker nag op die dak van 'n hoë gebou waar hulle die sterre mooi kon sien, het die Skrif-godsdienste hulle spirituele ervaring gehad in die erediens, onder die geklank van die Woord, die samesang van korale, die kollektiewe deelname aan rituele en gebede wat aan die gode in die lug geoffer is. Die humanis het sy spirituele ervaring gehad in 'n oomblik van verligting. By die lees van 'n gedig, die tuur in die verte oor 'n bosveldhorison, die diep gesprek met 'n sielsgenoot, of die rustig-asemhalende oomblikke tydens meditasie totdat die koperghong slaan.

Maar die dataïs se mees spirituele oomblikke is oomblikke wat met die wydste moontlike gehoor gedeel word en dan deur hulle "gelike" en "geshare" word. Ek "post" 'n foto van my bord kos, my kat, my vakansie, 'n blom in my tuin, my sit en my opstaan. En hoe meer mense dit "like" en "comment" en "share", hoe groter is die oomblik en die ervaring vir my. Want die wêreld neem van my notisie. "I don't live unnoticed." Daar word van my bestaan kennis geneem. Dis spiritueel. Dis 'n ervaring. Dis ekstatiese goddelike oomblikke in my bestaan. Elke "post" wat ek maak, karteer nog 'n stukkie van my bestaan!

En waar die mens met mag in die vorige drie paradigmas die een was wat inligting gehad het en op grond daarvan besluite kon neem, oorspoel die nuwe god ons met inligting. Die een met mag vandag, is die een wat weet hoe om inligting te sif. Wat is bruikbaar en wat is bog.

En so word data in ons tyd net al meer. Verdubbel kennis elke nege maande, raak die krag van rekenaars al vinniger en sterker en die spoed van verwerking met behulp van duiselingwekkende algoritmes al vinniger. En so bult hierdie nuwe god sy spiere en sê hy die boekgode die stryd aan.

Wie wil nou nog na die sterre kyk om 'n loopbaanskuif te maak, of die Bybel lees wanneer jy 'n lewensmaat soek, of op 'n klip sit en kyk hoe die branders breek as jy moet besluit waar en in wat wil jy jou geld belê, of in 'n kringetjie sit en mediteer as jy wil weet of jy moet emigreer of bly? Google die opsies, maak data bymekaar, sif die inligting, "post" jou idee of vraag saam met 'n selfie waar jy kopkrap en kyk wat se "comments" jy kry.

Die nuwe god met die mag tot sy beskikking en die onmiddelike spirituele ervaring wat jy uit 'n paar "likes" kry nadat iets oor jou lewe – van jou ontbytpap tot die teetafel by die boekklub – "gepost" is, is vinnig besig om goddelike krag en status in die denke en lewe van mense te kry.

En so beweeg ons vorentoe. Op berge en deur dale en oral het ek sein. Met my slimfoon by my loop ek 'n bende storm en solank as wat my data hou, spring ek oor 'n muur. Al val daar tienduisend aan my regterkant, ek sal nie bang wees nie, ek google vir 'n roete uit, en al storm die vyand op my af, sal ek nie vrees nie. Ek "post" net vinnig 'n selfie en kry 'n paar "likes." En so slaan ek my oë op na die webruimte, want ek weet waar kom my hulp vandaan!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.