.

Dis nooit te laat om vir die eerste keer te begin lewe nie

Deur Dr. Piet Muller op 1 Junie 2015

.

In die volksverhale wat daar om die Boeddha se lewe geweef is, kom daar die pragtige verhaal voor van Kisa Gotami wie se eerste kind vroeg gesterf het. Sy wou onder geen omstandighede afstand doen van die lykie nie en het van geneesheer tot geneesheer geloop, op soek na 'n middel wat haar kind weer lewendig kon maak. Uit moedeloosheid het 'n geneesheer oplaas vir haar gesê dat net die Boeddha vir haar so 'n sterk medisyne kan gee, en toevallig is hy en sy dissipels net buite die stad in die groot mangoboord.

By die Boeddha gekom het die treurende Kisa sommer met die deur in die huis geval: "Gee asseblief vir my medisyne wat my kind weer lewendig kan maak." Vol deernis het die Boeddha vir haar gesê dat hy wel so 'n medisyne vir haar kan maak, maar daarvoor het hy 'n handvol mosterdsaad nodig. Maar dit moet spesiale mosterdsaad wees wat uit 'n huis kom waar niemand nog 'n kind, of 'n ouer of vriend aan die dood afgestaan het nie.

Vol moed is sy terug stad toe, waar sy aan die een deur na die ander geklop het, maar oral dieselfde antwoord gekry het: "Ja, ons het al 'n dierbare verloor en jou woorde maak ons van vooraf weer hartseer."

Na 'n dag se vergeefse soektog het sy teen skemer op 'n heuweltjie buite die stad gaan sit. Een na die ander is die olielampies in die huise aangesteek en een na die ander weer uitgeblaas totdat die stad volkome donker was. So het sy sit en wag tot die môre toe. Sy het daardie nag besef wat die Boeddha vir haar probeer sê het. Daarna het sy haar kind in die oerwoud gaan begrawe en is terug na hom toe om verlof te vra om 'n volgeling van sy orde te word.

Aan hierdie verhaal het ek gedink toe iemand my nou die dag 'n artikel uit die New York Times aanstuur. Dis geskryf deur Oliver Sachs, die bekende akademiese neuroloog en skrywer van verskeie boeke wat die lys van top blitsverkopers gehaal het, soos The Man Who Mistook His Wife For a Hat.

Hy vertel hoe geseënd sy lewe was. Vyftien jaar vantevore is hy behandel vir 'n rare soort kanker in sy oog. Hoewel die behandeling hom blind gelaat het in die een oog, was sy gesondheid uitstekend. Tot op sy tagtigste jaar het hy trouens nog elke oggend 'n myl ver geswem. Toe kom die fatale diagnose: Hy het 'n kanker in sy lewer, wat reeds 'n derde van sy lewer beset. As geneesheer het hy besef daar kan geen herstel wees nie en tog kyk hy met wysheid en humor terug op sy lewe, en ook vooruit na wat nog wag.

"Dit hang nou van my af hoe ek die maande wat ek oor het gaan lewe. Ek is onder verpligting om dit op die sinvolste en mees produktiewe manier moontlik te gebruik. Ek was gelukkig genoeg om langer as tagtig jaar te lewe. In die vyftien jaar wat my gegun is na my eerste kanker diagnose het ek vyf boeke geskryf, my biografie voltooi wat in die lente gepubliseer word en nog verskeie ander boeke amper voltooi.

"Ek het die vreugde gehad van liefdevolle verhoudings en het geen werklike vyande nie. Ek kan nie juis sê dat ek iemand met 'n rustige temperament is nie. Om die waarheid te sê het ek 'n taamlik hartstogtelike geaardheid, met buitensporige geesdrif vir alles wat my interesseer. Maar daar is 'n sin wat die filosoof, David Hume, in sy biografie gebruik, wat ook op my van toepassing is: 'Dit is moeilik,' skryf hy, 'om meer onbetrokke teenoor die lewe te wees as wat ek op die oomblik is.'

"Die afgelope paar dae kon ek my lewe beskou soos vanaf 'n groot hoogte, soos wat 'n mens na 'n landskap sal kyk, met 'n diepe bewustheid van hoe alles inmekaar steek. Dit beteken egter nie dat ek klaar is met die lewe nie. Trouens, ek hoop om my vriendskappe te verdiep, en totsiens te sê aan almal wat ek lief het. Om meer te skryf, te reis as ek daarvoor krag het, en om nuwe vlakke van begrip en insig te bereik.

"Dit sal waagmoed verg, helderheid en reguit praat, terwyl ek probeer om my rekening met die wêreld te vereffen. Maar daar sal tyd wees vir pret ook (en soms ook lawwighede).

"Skielik het ek 'n helderheid van fokus en perspektief. Daar is nie meer tyd vir die onbelangrike dinge nie. Ek moet op myself fokus, op my werk, en my vriende. Ek sal nie meer elke aand nuus kyk nie, en nie langer aandag skenk aan politiek of argumente oor globale verwarming nie.

"Dit is nie 'n geval van onbelangstelling nie, maar van afgetrokkenheid. Ek is steeds diep besorg oor die Midde-Ooste, oor globale verwarming, oor toenemende ongelykheid, maar dit is nie langer my probleem nie, dit behoort tot die toekoms. Ek is elke keer bly as ek begaafde jongmense ontmoet – ook die een wat die biopsie gedoen en my kanker gediagnoseer het. Ek weet die toekoms is in goeie hande.

"Die afgelope tien jaar was ek toenemend bewus van die dood van my tydgenote. My geslag is op sy pad uit, elke dood het vir my gevoel of 'n deel van myself afgeskeur word. Daar sal nie weer mense soos ons wees as ons eers weg is nie, maar niemand is buitendien soos iemand anders nie. Wanneer mense sterf kan hulle nie vervang word nie. Hulle laat gate wat nie gevul kan word nie, want dit is die lot – die genetiese en neutrale lot – van elke mens om 'n unieke individu te wees, om sy eie lewe te lewe, te lei en sy eie dood te sterf."

Dit is hierdie paragraaf van Sacks se artikel wat my aangegryp het. Terwyl dit waar is dat niemand lewendig uit die lewe kan kom nie, is dit 'n onreg teenoor jou self en teenoor ander om te sterf voordat jy nog gelewe het. Sonder dat jy daardie unieke dinge gedoen het wat net jy kan doen en wat die lewe van jou verwag.

Dit beteken nie dat die lewe van ons verwag om dinge te doen waarvoor ons op TV en in koerante kan kom nie. Dit is ego-dinge wat meesal ons aandag aftrek van die menslike dinge wat ons eintlik behoort te doen: Soos om lief te hê, om te verstaan en om ander mense se lewens aan te raak op 'n manier wat hulle laat blom.

Maar dit is nooit te laat om vir die eerste keer te begin lewe nie.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.