.

Die noodsaaklikheid van ‘n totaal “ander” teologie

Deur Sakkie Spangenberg & Jean Oosthuizen op 1 Mei 2017

.

(Onderhoude gevoer vir Litnet.)

Onlangs het Izak (Sakkie) Spangenberg in 'n voordrag daarop gewys dat "'n totaal ander teologie of filosofie nodig" is om die ekologiese krisis sinvol die hoof te bied. Hy meen Albert Schweitzer se filosofie oor eerbied en respek vir die lewe kan dalk van hulp wees. Dit sluit aan by die vraag of daar versoening kan wees tussen die natuurwetenskappe en die Christelike geloof. Jean Oosthuizen voer die onderhoud.

Die teologie wat vandag deur die hoofstroom kerke beoefen word, help skynbaar min om Christene te bemagtig om op 'n sinvolle wyse deel te neem aan gesprekke oor die ekologiese krisis waarin die wêreld hom bevind. Jy het onlangs in 'n voordrag daarop gewys dat "'n totaal ander teologie of filosofie nodig" is om die ekologiese krisis sinvol die hoof te bied, en dat Albert Schweitzer se filosofie van eerbied en respek vir lewedalk van hulp mag wees. Kan jy kortliks verduidelik wat bedoel jy met 'n "ander" teologie?

Die hoofstroom kerke werk nog steeds met die Augustiniaanse teologiese model van sondeval-verlossing-eindoordeel. Hierdie model hou voor dat alle mense "in sonde ontvang en gebore word en onder God die Vader se toorn leef." Voorts, dat mense sterf omdat dit God se straf op die oersonde van Adam en Eva is. Mense moet dus van die dood gered word en in die "oorspronklike staat" van ewige lewe herstel word.

Die hoofstroom kerke se teologie draai uitsluitlik om die mens. Dit gaan om hul verlossing, redding, versoening met God en uiteindelik opstanding en lewe op 'n nuwe aarde bevry van die sondeval en sy gevolge. Die aarde soos ons dit tans ken, is volgens dié teologie 'n "gevalle aarde." Dis besmet met die gevolg van die sondeval. Hoe weet Christene dit? Want dood kom ook in die natuur voor! Dis eers met die wederkoms dat die gevolge van die sondeval omgekeer sal word en die Christene 'n nuwe aarde sal bewoon – 'n aarde bevry van die gevolge van die sondeval. Aangesien die huidige aarde moet vergaan, kwel die ekologiese krisis min Christene. Van hulle vra: Waarom moet ons moeite doen om die aarde te red as dit tog eendag moet vergaan? Ons taak is om mense van die ewige dood te red, nie die aarde van vernietiging nie.

Die tradisionele teologie is totaal ongeskik om sinvol deel te neem aan gesprekke oor die ekologiese krisis wat ons beleef. Wat behels hierdie krisis? Mense het met hul ongebreidelde aanwas ("wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde") en ongekende grypsug ("onderwerp die aarde en heers daaroor") 'n krisis op aarde geskep. Ons het te veel geraak en die aarde het nie meer genoegsame drakrag om ons te onderhou nie. Ons vernietig ons omgewing; roei plant- en dierespesies voor die voet uit; besoedel die atmosfeer, die grond, riviere en oseane. Mense is op 'n plundertog waarvan ons die gevolge nie volledig kan voorsien nie. Aan die ander kant is die aarde besig om hom op ons en ander spesies te wreek, want ons het die natuurlike balans wat op aarde bestaan, met ons houding en handelinge versteur.

Hoe lyk die ander teologiese model waarvan jy praat?

Die teologiese model wat van hulp kan wees, is een wat afskeid neem van die Augustiniaanse teologiese model. Dis een wat nie meer vertel dat mense in sonde ontvang en gebore word en dat dood God se straf op sonde is nie. Dis 'n model wat geharmonieer kan word met die stand van ons kennis rondom die ontstaan van die heelal, ons sonnestelsel, die aarde en lewe op aarde. Die evolusieleer ken nie iets soos 'n sondeval of dat daar 'n oerouerpaar was wat deur hul toedoen dood in die natuur ingedra het nie. Ons spesie, homo sapiens sapiens, is volledig deel van die "boom van lewe" wat op aarde ontstaan het en ons moet leer om in harmonie met alles rondom ons te leef. Ons is "lewens wat leef te middel van ander lewens wat leef," soos Schweitzer dit verwoord het.

Die navorsing oor die historiese Jesus kan Christene help om 'n ander teologie te ontwikkel. Jesus het immers nie verkondig dat hy na die aarde gestuur is om die mensdom van God die Vader se toorn oor die erfsonde (en ander sondes wat mense sou pleeg) te red nie.

Wat het Jesus dan verkondig en waar kom die huidige idee vandaan dat Jesus na die aarde gestuur is om ons te red van God die Vader se toorn oor ons sondes?

Hierdie teologiese model is deur latere teoloë ontwikkel en deur Augustinus tot 'n magtige teologiese denkmodel ontwikkel. Nuwe-Testamentici is dit tans eens dat Jesus se prediking op die koninkryk van God gefokus het (vgl. Markus 1:14-15). Hierdie koninkryk is nie een of ander geestelike ryk nie.

Jesus het geglo in 'n aardse koninkryk van God. Sy prediking moet in die konteks van die 1ste-eeuse Judaïsme verstaan word en daardie prediking het duidelik politieke tone gehad. God se koninkryk staan teenoor die Romeinse koninkryk (meer korrek: keiserryk) wat op uitbuiting, plundering en oorlog gegrond was.

Jesus het nie gekom om die mensdom van sonde en dood te red nie. Hy is soos ander Jode van sy dag gebore onder die juk van die Romeinse keiserryk wat hulle oormatig belas, hul hulpbronne geplunder en hul lewensverwagting ondermyn het. Jesus kom en poog om die uitgebuite, onderdrukte en verslae Jode te bemagtig deur hulle te vertel van God se ryk. Hy verkondig as 't ware die volgende: "As God vandag in Palestina sou regeer het, sou die wêreld totaal anders gelyk het. Word bewus van daardie koninkryk en leef dit uit." Hoe anders die wêreld kon lyk, illustreer hy deur vir die randfigure van die samelewing om te gee en deur 'n niegewelddadige, maar tog veroordelende houding teenoor die Romeinse heersers en hul Joodse meelopers in te neem. Sy prediking en handelinge is afgestem op omgee vir ander. Ons kan hierdie boodskap tans uitbrei na "sorg en omgee vir alle lewendes op aarde."

So, hoe lyk die ander teologie dan waarvan jy praat en hoe verskil dit van die hoofstroom teologie wat kerke vandag verkondig?

Die "ander" teologie is 'n teologie van omgee, empaties meeleef met ander; die koestering en versorging van mense, diere en plante. Dit verkondig nie 'n sondeval nie; vertel mense nie dat dood die gevolg van sonde is nie; reken nie dat die aarde eendag moet vergaan en met 'n nuwe vervang gaan word waar alles net rooskleurig sal wees nie. Dis 'n teologie wat radikaal anders is as die huidige een. Dis 'n teologie wat fokus op lewe en die onderlinge afhanklikheid van alles wat lewe. Die digter Lina Spies vang iets van die nuwe vas in haar gedig met die titel "Geloofsbelydenis van 'n afvallige". 'n Gedeelte daarvan lees soos volg:

Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is

Ons kan die "ander" teologie dus tipeer as 'n teologie van eerbied, respek, meeleef en omgee. Dis ook 'n teologie wat nie uitsluitlik op mense fokus nie, maar op alles wat op aarde leef en beef. Dit gaan nie meer om redding van die mensdom nie, maar om versorging van die aarde en alles daarop.

Jy reken dat Albert Schweitzer (1875-1965) se filosofie van "eerbied en respek vir lewe" van hulp kan wees in die ontwikkeling van 'n ander teologie. Brei meer hierop uit.

Albert Schweitzer was gedurende die veertiger- en vyftigerjare van die vorige eeu byna net so beroemd en so geëerd soos Nelson Mandela aan die einde van daardie eeu. Ongeveer 12 eredoktorsgrade is wêreldwyd aan hom toegeken. Die rede waarom hy mense se verbeelding aangegryp het (en steeds aangryp), is dat hy sy oortuigings so sterk uitgeleef het en bereid was om hom (saam met enkele ander) uit te spreek teen die ontwikkeling van kernwapens. Die Nobelprys vir Vrede is in 1952 aan hom toegeken vir die werk wat hy by sy hospitaal in Lambarene (Gaboen) gedoen het en vir sy lewensfilosofie "Ehrfurcht vor dem Leben" (wat ek vertaal met "eerbied en respek vir lewe"). Dit was in Afrika dat hy gesnap het dat mense deel is van die groter geheel en dat dit hul taak is om lewe te respekteer, te koester en te bewaar.

Schweitzer het nie na Afrika gekom en die tradisionele teologie van sondeval-verlossing-eindoordeel verkondig nie. Hy het na Afrika gekom om diensbaar te wees en iets vir mense in nood te beteken. Hy het 'n roemryke loopbaan as Nuwe-Testamentikus, filosoof en musikus prysgegee en medies gaan studeer om dokter te word en só diensbaar te kan wees.

Ek het verlede jaar in 'n lesing met die titel "Is versoening tussen wetenskap en die Christelike godsdiens moontlik?" (Februarie 2014) slegs kortliks na sy lewensfilosofie verwys en Pieter Botha het in 'n volgende lesing hierop uitgebrei. Ons herdenk vanjaar Albert Schweitzer se 140ste geboortedag en 50ste sterfdag en beplan om in Oktober by Unisa aandag aan sy nalatenskap te gee.

Alhoewel Albert Schweitzer nie van 'n "nuwe hervorming" in die Christendom gepraat het nie, verwoord sy lewensfilosofie dit wat ons as 'n "nuwe hervorming" of 'n nuwe teologie kan beskou. Wat interessant is, is dat John AT Robinson in dieselfde jaar waarin Schweitzer dood is, 'n boek gepubliseer het met die titel A New Reformation? (Londen: SCM). Voorts word die jaar 1965 ook beskou as die geboortejaar van die Gaia-hipotese waarvan James Lovelock die vader is. Lovelock self koppel nie sy hipotese aan Schweitzer se lewensfilosofie nie, maar daar is onmiskenbare raakvlakke. Die Gaia-hipotese beskou die aarde as 'n lewende entiteit waarin verskillende sisteme meewerk om lewe op aarde moontlik te maak en in stand te hou. Die sienings van Schweitzer, Robinson en Lovelock kan (wanneer ons dit verweef) meehelp om die "ander" teologie te ontwikkel. Christene moet die boodskap van "Die hemel en hoe om daar te kom" verruil vir die boodskap van "Die aarde en hoe om hier te leef."

Watter bydrae kan Schweitzer se perspektief lewer tot 'n sinvolle gesprek tussen natuurwetenskaplikes en gelowiges?

Wanneer ons Schweitzer se filosofie van "eerbied en respek vir lewe" en Lovelock se Gaia-hipotese op mekaar laat inspeel, bring dit ons by die punt waar natuurwetenskaplike insigte en filosofiese (en teologiese) nadenke mekaar verryk. Net soos Schweitzer ons bewus gemaak het van 'n groter prentjie (lewe is onderling verweef), het Lovelock ons bewus gemaak van 'n nog groter prentjie (lewe is nie net onderling verweef nie, maar ook verweef met die aarde en al sy sisteme).

Die ligging van die aarde in ons sonnestelsel en binne die groter Melkwegsterrestelsel het die moontlikheid van die ontwikkeling van lewe meegebring. Daar is tans 'n vakgebied bekend as astrobiologie wat hierdie wonderbaarlike ligging van die aarde en hoe dit tot die ontwikkeling van lewe op aarde bygedra het, bestudeer en beskryf. Hierdie vakgebied verweef die fisika, sterrekunde, geologie, biologie en ekologie met mekaar en maak ons bewus van die wonderlike planeet waarop ons leef. Ons kan Schweitzer se filosofie hiermee saam verweef en dan begin praat van die "vergroening van die Christelike godsdiens." Fisika, sterrekunde, geologie, biologie, filosofie en teologie staan dan nie meer los van mekaar nie, maar speel vrugbaar op mekaar in en help ons om die ekologiese krisis te verstaan en daadwerklik en korrek te handel om die aarde as lewende sisteem steeds gesond en intak te hou.

Is dit regtig nodig om nog gesprekke tussen die wetenskap en geloof te voer as daar vandag soveel ander alternatiewe buite die geloofstradisie is om sinvol oor die lewe te praat? Is die gaping tussen geloof en rede nie al te groot om nog enigsins 'n brug daaroor te probeer bou nie? Wat is die nut vir wetenskaplikes en gelowiges om met mekaar in gesprek te tree?

Vir my is die Christelike geloofstradisie 'n lewende tradisie en ek wil dit nie sonder meer oorboord gooi nie. Daar word tans wonderlike navorsing gedoen oor die Bybel en die interpretasie daarvan en oor die historiese Jesus.

Vir mense wat nog iets met die tradisie in ons dag wil maak, kan die navorsing op die terrein van die Bybelwetenskappe help om die tradisie lewend te hou en te wys dat hierdie navorsing ook relevant kan wees vir die vraagstukke waarmee ons worstel.

Maar die Christelike godsdiens kan homself nie meer voorhou as die een wat die allerantwoord het vir die krisis wat ons beleef nie. Die teologie van sondeval-verlossing-eindoordeel se rakleeftyd het verstryk en ons kan nie meer hiermee sinvol aan gesprekke deelneem nie. Slegs 'n ander teologie open 'n deur na sinvolle deelname.

Wat kan hedendaagse predikante doen om hiermee te help?

Predikante moet ook leer van die fisika, sterrekunde, geologie en biologie, sodat hulle iets kan verstaan van die mens se werklike posisie in die groter heelal. Teoloë en predikante moet na natuurwetenskaplikes luister en die inligting wat laasgenoemde aan mense deurgee, tot 'n nuwe lewenswyse verwerk. Die teologie kan nie meer die natuurwetenskappe troef met "geopenbaarde waarheid" soos dat dood die gevolg van 'n sondeval is nie. Predikante, pastore en priesters kan mense help om die nuwe wetenskaplike inligting te verwerk en sinvol deel van hul lewens te maak.

Pieter Botha verwys in sy artikel waarna jy hier bo verwys, ook na die gebrek aan sukses met moraliteit. Hoe is dit moontlik dat moraliteit en die bewaring van die aarde en sy ekologiese sisteme besig is om agteruit te gaan ten spyte van soveel vooruitgang op wetenskaplike terrein, mooi demokratiese ideale en tegnologiese ontwikkeling?

Die mensdom het homself uitverkoop aan die vryemark-ekonomie met sy beklemtoning van ekonomiese groei en verbruik. Die filosofiese mensbeeld wat dit verkondig, het iemand beskryf as homo economicus: "Ons is in hierdie wêreld om geld te maak en sakkevol daarvan." Wie is volgens hierdie filosofiese mensbeeld die suksesvolles in die wêreld? Hulle wat by die dag ryker word en kan koop wat hul harte begeer. Wie word as die misluktes gesien? Hulle wat nie ekonomies presteer en hul lewensomstandighede kan verbeter nie. Ons sit eintlik in 'n knyptang, want presteer moet ons presteer, vooruit moet ons gaan, maar op dié manier verloor ons iets van ons menswees. Ons verloor die bewussyn dat ons lewens vervleg is met die aarde en alles wat daarop leef en beef.

Die verstommende van Albert Schweitzer se lewe is dat hy sy rug kon keer op hierdie mensbeeld wat reeds in sy dag aan die opbloei was. Hy kon sakkevol geld gemaak het – daarvoor was hy met 'n briljante verstand toebedeel. Maar hy verkies die pad van diensbaarheid en om só te leef dat hy die lewe vir ander moontlik kan maak.

Wanneer mens na die groot kloof tussen wetenskap en geloof kyk, kan mens nie anders as om te wonder of daar regtig versoening kan wees tussen die twee nie?

'n Versoening tussen die Augustiniaanse teologiese model van sondeval-verlossing-eindoordeel en die moderne natuurwetenskappe is totaal onmoontlik. Daar is natuurlik teoloë wat op dié punt met my verskil en wat poog om die twee te probeer versoen, of ten minste 'n gesprek met mekaar te laat voer. Die twee Afrikaanssprekende teoloë Wentzel van Huyssteen en Ernst Conradie is voorbeelde hiervan. Beide is produktiewe skrywers en hulle skryf hoogs komplekse boeke oor die Christelike teologie en die natuurwetenskap, maar hulle bly te gebonde aan die uitgediende teologiese model om ons werklik vooruit te help.

Schweitzer beskou Arthur Schopenhauer en Friedrich Nietzsche as twee belangrike etiese denkers van die 19de eeu. Tog hoor mens maar min van hulle in gewone kerklike kringe.

Ons kan nie van alle predikante verwag om kennis te dra van die publikasies van hierdie twee filosowe nie. Hulle boeke is nie van die maklikste werke om te lees en gesprekke oor te voer nie. Wat ek egter van predikante verwag, is om kennis te neem van die huidige teologiese gesprekke en om nie weg te skram van die publikasies van Philip Kennedy, Don Cupitt, Anne Primavesi, Lloyd Geering, Nigel Leaves en nog ander moderne teoloë en Bybelwetenskaplikes nie. Voorts moet hulle hulle ook vergewis van die bestaande kennis op die terreine van die sterrekunde, geologie en biologie sodat hulle lidmate kan help om die nuwere kennis sinvol te verwerk.

Waarom word mense soos Nietzsche en ander denkers deur baie gelowiges as boos voorgehou? Het hulle nie dalk meer van moraliteit en etiek geweet as baie gelowiges nie?

Daar was maar nog altyd die neiging om mense wat nie binne die tradisionele bane dink en praat nie, verdag te maak. Veral wanneer hulle kritiese vrae oor die Christelike geloof begin vra. Dit geld natuurlik van Friedrich Nietzsche en ander filosowe van die laat 19de eeu. In ons eie land was dit ook die geval met die Stellenbosse filosoof Johan Degenaar. Hy is nou wel nie 'n laat 19de-eeuse filosoof nie, maar hy het die vermoë gehad om daardie filosowe se insigte en kritiese vrae verstaanbaar aan studente te kommunikeer. Die mensdom het egter kritiese denkers nodig, want ons almal word so maklik deur populêre skrywers en sprekers op sleeptou geneem.

Die meeste gelowiges en wetenskaplikes het darem seker een ding gemeen, hoewel hulle dit uit totaal verskillende hoeke beskou, naamlik dat daar 'n misterie aan die lewe is wat voortdurend verander. Sou dit nie dalk 'n goeie vertrekpunt wees wanneer daar oor geloof en wetenskap gesels word om meer oor die misterie van lewe te praat en nie soveel klem te lê op die "sekerhede" nie?

Ek kry soms die gevoel dat teoloë en predikante die sogenaamde misterie van die lewe as agterdeur gebruik om nie met die vrae wat die moderne wetenskap aan die tradisionele teologie stel te worstel nie. Daar is 'n klomp dinge waarvan ons vandag seker is en dit is dat daar nie 'n sondeval in die oerverlede van die spesie homo sapiens sapiens was nie en ook dat dood nie God se straf op die oersonde van Adam en Eva is nie. Hierdie twee sekerhede stel die tradisionele teologie voor groot uitdagings, en 'n gesprek tussen natuurwetenskaplikes en teoloë kan eers werklik begin as teoloë hierdie sekerhede in hul teologiese uitsprake, gesprekke en prediking verdiskonteer.

Daar is darem by baie mense 'n al hoe groter wegbeweeg van die dogmatiese godsdiensbenadering meer na die mistieke. Is die mistieke soos wat jy hier bo noem nie nog méér wollerig nie en hoe versoen mens dit met rede?

My antwoord op die vorige vraag is ook hier van toepassing. Ek is nie gemaklik met die "mistieke tradisie" in die Christelike geloofstradisie nie, want dit ontduik die rasionele vrae waarmee teoloë gekonfronteer word. Kom ons ruim eers die puin op wat die wetenskaplike tsoenami van die 17de tot 19de eeu op die terrein van die teologie veroorsaak het en praat daarna oor die wonder van lewe en die wonder van bewussyn.

Baie mense, soos jy self, sê ons moet vandag anders oor God dink. Schweitzer aanvaar ook Nietzsche se kritiek dat God anders bedink moet word. Is die hele idee van God nie dalk reeds uitgedien nie? Hoe kan mens God "anders" bedink as God volgens baie reeds dood is?

Die "God is dood"-filosowe en -teoloë is verkeerd verstaan. Hulle het nie die uitspraak "God is dood" as 'n algemeen-geldende uitspraak bedoel nie, maar dit gerig op die tradisionele Westerse verstaan van God: God as 'n geestelike opperwese wat almagtig, alwys, alomteenwoordig en alwetend is; wat in die hemel woon van waar hy die ganse mensdom daagliks (24/7) dophou en hul dade een vir een opteken sodat hulle met die oordeelsdag rekenskap daarvan kan gee. Met die verandering in die Westerse wêreldbeeld (van 'n geosentriese na 'n heliosentriese een) en met die verdwyning van die drieverdiepingheelal (hemel, aarde en onderwêreld) was dit nie meer moontlik om God op die tradisionele manier te beskryf en te verstaan nie. Daardie verstaan van God het hom te pletter geloop en die God van daardie wêreldbeeld was dood, want dit het nie meer vir mense sin gemaak nie.

Don Cupitt bied 'n goeie riglyn vir hoe om nuut oor God / die goddelike te dink en praat. Hy het mense bewus gemaak van hoe hulle spontaan 'n nuwe woord in hul spreektaal ingevoer het in die plek wat hulle ouers en voorouers vir God gereserveer het, naamlik "lewe." So vra mense deesdae mekaar: "Hoe behandel die lewe jou?" Of hulle sal sê: "Die lewe is vol verrassings." By ander geleenthede mag hulle ook sê: "Die lewe het my stief behandel." Maar dis nie al nie; "lewe" word in allerlei ander uitdrukkings gebruik wat wys dat mense op die hier en nou fokus en nie meer op 'n sogenaamde hiernamaals nie.

Die lewe speel hier af en ons almal kry net een "spelbeurt." Op dié manier kom Schweitzer se uitdrukking "eerbied en respek vir lewe" ook aan bod. Alhoewel Schweitzer dit nie so bedoel het nie, het sy filosofie die deur na 'n nuwe verstaan van God / die goddelike geopen. 'n Mens sou kon argumenteer dat teologie op dié manier bloot etiek word: 'n lewe goed en weldeurdag geleef, is belangriker as allerlei spitsvondige menslike uitsprake oor 'n karakter wat slegs in antieke mense se verhale bestaan.

Sakkie Spangenberg, Departement Bybelse en Antieke Studie, UNISA

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.