Die noodsaaklikheid van ‘n Nuwe Spiritualiteit

Deur Jaco Steyn op 1 Februarie 2010

Waarom raak al hoe meer Afrikaanssprekendes deesdae ontevrede met die tradisionele Christendom? Hoekom besluit hulle selfs om die kerk te verlaat op soek na alternatiewe idees oor godsdiens en spiritualiteit?

Hierdie soekendes wil anders dink oor waardes wat vir hulle en hul voorouers onaantasbaar was. Dit wil voorkom asof hulle hoofsaaklik ontevrede is met tradisionele Christelike dogmas en die optrede en besluite van Afrikaanse kerke.

Bekende Afrikaanssprekende teoloë het veral sedert 2002 openlik begin om die tradisionele Calvinistiese waardes te bevraagteken. Die Nuwe Hervormings Netwerk en Renaissance Gemeentes in Pretoria en die Kaap was uitvloeisels hiervan. Hierdie nuwe groep soekendes het geen dogmas wat hulle verenig nie, maar hulle is egter almal bereid om méér openlik oor godsdienstige sake te gesels en te dink.

Daar moet belangrike redes wees waarom iemand die besluit sou neem om weg te beweeg van die godsdienstige waardes en norme waarmee hy grootgeword het en waarbinne die meeste van sy familielede en werkskollegas nog steeds tuis voel. Opofferings sal noodgedwonge gemaak moet word, indien hulle openlik te kenne sou gee dat hulle anders voel oor tradisionele waardes, wat as onaantasbaar en "heilig" beskou word.

Belangrike redes waarom mense ontevrede raak met
tradisionele Calvinistiese dogmas

Redes waarom mense ontnugter raak met die tradisionele dogmas en geloofsbelydenisse van die kerke, is:

Volgens die Afrikaanse drie-susterkerke se geloofsbelydenisse is die Bybel die onfeilbare Woord van God. Dit is vir baie soekende en skeptiese mense opvallend dat daar soveel onenigheid is tussen mense wat glo dat die Bybel die Woord van God is.

Bybel-fundamentaliste met uiteenlopende standpunte glo dat hulle alleen die Bybel reg verstaan en dat die Heilige Gees die "ware" verstaan van die Bybel aan hulle bekendgemaak het. Dit is interessant dat fundamentaliste so drasties van mekaar verskil oor die verstaan van die Bybel en dat daar so baie verskillende sektes en strominge binne die Christendom bestaan. Elkeen beweer dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is en dat hul eie interpretasie dié korrekte een is. Gewoonlik beweer die fundamentaliste dan ook dat diegene wat van hulle verskil vir die ewige verdoemenis bestem is.

Al hoe meer Afrikaners besef die letterlike interpretasie van sekere gedeeltes in die Bybel is onversoenbaar met ontdekkings deur die moderne wetenskap. Veral die letterlike verstaan van die "ses dae" skeppingsverhaal in Genesis, is strydig met die bevindings van ewolusionêre bioloë.

Ondersteuners van die "Jong-Aarde Skeppingsleer" beweer egter dat die ewolusieleer strydig is met die Bybel en dat die hele skepping slegs ongeveer 6 000 jaar oud is, in plaas van die biljoene jare wat deur meeste wetenskaplikes in Westerse lande aanvaar word.

Kreasionisme het veral onlangs in Amerika en Suid-Afrika meer populêr geword. In die VSA is selfs 'n "Creation Museum"! Sceptici weet fundamentaliste probeer só om die letterlike verstaan van die Bybel meer wetenskaplik aanvaarbaar te probeer maak. Op hierdie manier wil geldigheid verleen word aan hul bewerings dat daar geen foute in die Bybel kan voorkom nie. Dit is vir fundamentaliste ondenkbaar dat 'n Alwyse Opperwese wetenskaplike onwaarhede aan mense sou openbaar.

Die geloof in 'n persoonlike Skepper God, wat besluit om mense op grond van hul geloof hemel of hel toe te stuur, is vir baie soekende mense nie meer sinvol of geestelik bevredigend nie. Hulle glo dat daar nie vertrou behoort te word op die beweerde genade van 'n persoonlike Skepper God nie. Hulle begin ook anders dink oor die lewe ná die dood en begin meer objektief dink aan alternatiewe soos bv. reïnkarnasie. Dit maak vir hulle geen sin om te glo dat 'n liefdevolle Skepper die meeste van sy skepsels vir ewig van Homself af sal wil verwyder nie.

Fundamentaliste beweer egter dat die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking uiteindelik bestem is vir die hel! Die gedagte dat elke mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy lewe en met ywer moet strewe om sy eie heil te bewerkstellig, is vir baie mense meer aanvaarbaar as die tradisionele Christelike idee dat 'n mens slegs deur die genade van Bo Verlossing kan ontvang.

Ongelukkig raak mense wat nie meer tuis voel binne kerklike dogmas nie, skepties teenoor enige vorm van spiritualiteit en verwerp uiteindelik die alle sienings oor die bestaan van 'n Godheid.

Andere is op soek na 'n meer geestelik bevredigende manier van lewe en alternatiewe maniere om oor die Godheid te dink. In plaas daarvan om weg te beweeg van enige konsep van 'n Absolute of Goddelike Werklikheid, vind hulle die gedagte van 'n onderliggende onpersoonlike Goddelike Werklikheid (panenteïsme), meer aanvaarbaar. God word nie meer beskou as 'n Persoon met wie die mens 'n persoonlike verhouding kan hê nie. Menslike pogings om die Godheid te omskryf as 'n Persoon met menslike eienskappe, word as 'n verkleinering van die Absolute beskou.

Die geskiedenis van wandade wat gepleeg is in die naam
van die georganiseerde Christendom

Die georganiseerde Christendom wêreldwyd was vir jare deel van politieke doelstellings en het in baie opsigte die belange van magtige drukgroepe gedien. So byvoorbeeld het Keiser Konstantyn besluit dat 'n amptelike staatsgodsdiens 'n uitstekende manier sou wees om die Romeinse Ryk te probeer verenig. Pogings om mense meer spiritueel vry te maak en om die ou heidense wyshede te laat herleef, is op gewelddadige wyse deur die Rooms Katolieke Kerk onderdruk. 'n Belangrike voorbeeld hiervan was die onderdrukking van die Albigensiërs tydens die Middeleeue. Baie wandade is in die naam van die georganiseerde Christendom gepleeg, soos bv. die Spaanse Inkwisisie, onderdrukking van wetenskaplike ontdekkings deur mense soos Copernicus en Galileo, die Dertigjare-oorlog, ens.

Lidmate word vervreem van die kerke a.g.v.
sinodale besluite

Waarom loop die kerke leeg en is veral jongmense nie meer sulke gereelde kerkgangers soos voorheen nie? Die kerk se beklemtoning van die sondigheid van saamwoon en homoseksualiteit is uit voeling met die liberale waardes t.o.v. seksualiteit, wat veral sedert 1994 in die Suid-Afrikaanse samelewing geld. Die manier waarop veral die NG Kerk die morele (on)regverdigbaarheid van Apartheid hanteer het, het die indruk geskep dat die sinodes se besluite grootliks bepaal word deur politieke vooroordele van kerkleiers.

Waarom het die Afrikaanse drie-susterkerke vroeër jare verkondig dat aparte ontwikkeling van rassegroepe Bybels-gefundeerd is? Was ons voorouers moedswillige sondaars wat betref hul ondersteuning van Apartheid of het hulle miskien nie die Bybel so goed verstaan soos die hedendaagse "liberale" NG predikante nie? Het die Algemene Sinode van die NG Kerk in 1986 besluit dat Apartheid nie meer Bybels-regverdigbaar is nie omdat die Heilige Gees hulle gelei het om die Bybel beter te verstaan, of omdat lede van die Afrikaner Broederbond 'n groot invloed gehad het op die besluite van die Sinode?

Pogings van fundamentaliste om patriargale waardes
meer aanvaarbaar te maak

Fundamentalistiese evangeliste beskou dit as hul taak om te kompenseer vir die emosionele leegheid wat binne baie kerke aangetref word. Sedert die tagtigerjare het die Charismatiese bewegings al hoe meer populêr begin word. Angus Buchan se aandeel in die herlewing van evangelisasie en die emosies wat betrokke is by sy "Mighty Men" konferensies dra daartoe by dat veral behoudende blanke mans meer hoopvol begin raak oor die moontlikheid dat die gemeenskap na tradisionele Christelike gesinswaardes kan terugkeer. Nog 'n uitstekende metode wat fundamentaliste gebruik om "terug te veg", is om openbare debatvoering met andersdenkende mense te vermy, en daardeur te verhoed dat die publiek bewus raak van geldige teenargumente.

Die toekoms van die Nuwe Spiritualiteit

Moet daar gestrewe word na nuwe waardes en norme wat uiteindelik die tradisionele godsdienstige waardes kan vervang? Is dit nodig om mense te waarsku teen fundamentalisme? Hou fundamentalisme 'n bedreiging vir die wêreld in of moet 'n mens meer verdraagsaam wees teenoor alle godsdienstige idees?

Kan 'n Nuwe Spiritualiteit 'n bydrae lewer tot die vooruitgang van die Suid-Afrikaanse samelewing deur mense bewus te maak van die misleiding wat plaasgevind het deur godsdienstige en politieke belangegroepe? Kan 'n Nuwe Spiritualiteit ons help om te leer uit die foute wat ons voorouers gemaak het met hul slaafse navolging van godsdienstige en politieke dogmas?

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za