.

Oor die aanleer van ‘n nuwe taal wat kan lei tot ‘n hele nuwe manier van wees

Deur Eleen Polson op 1 Februarie 2017

.

'n Refleksie oor Marshall Rosenberg se lewenswerk: Nie-gewelddadige kommunikasie (Non-violent Communication, NVC).

Inleiding

Ek het vrede gemaak met die feit dat ek altyd 'n student gaan wees. Hoe langer ek leef, hoe meer leer ek en hoe meer besef ek hoe min ek eintlik weet. Vandat ek my vooropgestelde idee dat ek eintlik 'behoort te weet' opgegee het, en die vrees vir die onkunde bevriend het, is dit makliker. Nou ontvou my lewe as 'n opwindende, soms angswekkend, soms ekstatiese reis. My nuutste ontdekking slaan my asem weg in die trefkrag wat dit het. Dit is gelyktydig elegant en eenvoudig asook fenomenaal moeilik en uitdagend. Pure Zen. Wat dit so kragtig maak, is dat die essensiële boodskap daarvan besonder tydig is in ons ongelukkige wêreld. My wonderlike nuwe mentor is Marshall Rosenberg (1934-2015) en sy nie-gewelddadige kommunikasie (Nonviolent Coomunication, NVC).

Kommunikasie in ons samelewing

Ons is nooit geleer om te kommunikeer nie. Dit was nie 'n skoolvak nie, en op universiteit het Kommunikasiekunde nie juis gegaan oor hoe om self met mense te kommunikeer nie. Dit was voor dit in die vak plek gemaak het vir ander wetenskappe, soos sosiologie, sielkunde en antropologie. Ons kommunikasie vaardighede het ons aste ware saam met moedersmelk ingekry, en is deur ons samelewing voorgeskryf. Hierdie samelewing van ons is gebaseer op 'n hiërargiese struktuur wat al die laaste 8000 jaar in plek is, ongeveer toe mense in groot groepe begin saam leef het in die landbou-era. Daar was 'n koning, hoofman, tsaar of 'n dergelik amp wat outoriteit moes afdwing. Dit was nodig dat onderdane nie te veel vir hulself dink nie. Die gewone burger of stamlid is ekstern gemotiveer en moes aan reëls – wat reg en verkeerd uitgewys het – voldoen om in te pas en die sisteem te laat werk. Dit het mettertyd gelei tot die paradigma waarin ons vandag steeds funksioneer waar elke persoon as reg of verkeerd geklassifiseer word; alle gedrag kan geëvalueer word volgens 'n gemeenskaplike eksterne maatstaf. Volgens Marshall Rosenberg (2012, 2015) kan hierdie ingesteldheid nie anders as tot geweld te lei nie: as ek reg is, moet jy verkeerd wees, en ek sal my punt beveg of verdedig. Ek sal myself aanval en straf as ek myself as verkeerd beoordeel. Ons is die hele tyd besig om ons eie egos te beskerm en is in 'n konstante staat van verdediging – of die 'ons' nou 'n individu, 'n groep mense of a soewereine staat is. Straf, geweld en beloning is geregverdig in hierdie scenario en ons kinders word van kleins af geleer om met straf en beloning gemotiveer te word. "Hy vra vir 'n pak slae." is bekend in meeste families. Om nie eens te praat van geweld as vermaak en ontspanning nie: van die Blou bulle wat die Stormers pak, tot reekse wat in familie tyd op TV wys en waar reg en verkeerd aan die orde van die dag is.

Die taal wat ontwikkel rondom hierdie manier van dink en doen, is staties, beskrywend en kategoriserend: "Sy is..., Ons is..." As ons nog 'n "altyd" of "nooit" kan bysit, voel ons soveel meer geregverdig in die opinie en posisie wat heeltyd van ons vereis word. In sielkunde het ek geleer dat stereotipering "normaal" is en 'n strategie vir oorlewing in ons komplekse samelewing. Dit kan moontlik al die geweld begin verklaar, omdat ons dit as normaal aanvaar.

Maar is daar iets anders? Kan ons anders optree? Alhoewel my oë oopgegaan het vir hoe alomteenwoordig ons statiese taal en denke is, het nie-geweldadige kommunikasie (NVC) vir my 'n alternatief voorgehou wat uiters bevrydend voel – as ek myself betyds kan keer om my ou patroon te herhaal en eerder die nuwe manier van dink en doen te oefen.

Die alternatiewe paradigma

Marshall Rosenberg baseer sy verstaan van die alternatiewe paradigma op die werk van die teoloog Walter Wink en ander historiese figure wat ten spyte van oorweldigende struikelblokke met genade (compassion) kon optree. Hy voer aan dat ons oorspronklik geskep is om te funksioneer uit 'n heel ander posisie: een waar elke mens wil gee, wil deel, die wêreld 'n beter plek wil maak en bevrediging put uit samewerking en mededeelsaamheid. Die grootste menslike vreugde en genoegdoening (die woord sê dit alles!) ontstaan as ons ander en ons eie behoeftes bevredig en so die wêreld aktief 'n beter plek maak. Dit maak ons gelukkig om te deel, om op te offer en om te gee – mits dit vrywillig gedoen word.

Die kruks van NVC is dat ons aktief moet kies om nie uit die paradigma te funksioneer dat iemand reg of verkeerd is nie. Ek kan kies om myself nie aktief te beskerm of verdedig nie. Ek kies om 'n posisie in te neem waar ek die kondisies skep waar ALMAL se behoeftes bevredig kan word.

Klink dit onmoontlik? Utopies?

Die teendeel word bewys, nie net deur my eie beperkte ervaring van die implementering van hierdie beginsels nie, maar ook deur Marshall se goed gedokumenteerde werk met strydende faksies in die midde-ooste, Kroasië, die Kongo en plaaslik met huwelike en verhoudings konflik. Soek gerus na onderhoude met hom op Youtube om die beginsels in aksie te sien.

Die praktyk van nie-geweldadige kommunikasie

Die essensie van die NVC-proses, is dat 'n persoon in kontak is met sy/haar eie gevoelens. Gevoelens is aanduiders van onderliggende behoeftes. "Positiewe" gevoelens soos vreugde of rustigheid gee 'n aanduiding dat jou basiese menslike behoefte bevredig is. Daar is ander gevoelens, soos woede of benoudheid wat aanduiders is van behoeftes wat nie bevredig is nie, of behoeftes wat bedreig word. Ons eerste uitdaging is om bewus te word van wat ons in die moment voel. Aangesien dit vaardighede en insig is wat tot dusver nie ontwikkel is nie, ervaar ek myself en meeste ander mense as ongeoefen en lomp om gevoelens te identifiseer. In meeste situasies weet ek vaagweg dat ek kwaad of moedeloos is, maar is ek soms heeltemal 'clueless' oor die onderliggende behoefte. My eerste vraag is "Wat se behoeftes? Mag ek enigsins aan my behoeftes aandag gee? Is dit nie selfsugtig nie?" Die laaste aanname dat self-loosheid 'n groot waarde is lei ek af uit my godsdiens en my voorsate se oorlewing deur moeilike tye deur hulle selflose fokus. Dis as ware in my gene ingeprent.

Nadat ek my vergewis het van die natuurlike aard van menslike behoeftes en die noodsaaklikheid daarvan om hierdie vaardigheid te ontwikkel en te verfyn, kan ek by die tweede uitdaging kom: Hoe om my behoeftes en gevoelens op so 'n manier te kommunikeer dat ek nie die luisteraar op die verdediging sit nie, en so die kanse vergroot om my behoeftes bevredig te kry. Volgens Marshall is die meeste van ons kommunikasie 'n powere poging om te kry wat ons wil hê. Ons verskraal eintlik die sukses om enigeen gelukkig te maak met hoe ons praat. Ons strategieë om ons behoeftes te bevredig is meestal 'n evaluering van hoe iemand anders verkeerd is. Ons beskuldig of dreig of vereis, maar dit kommunikeer nie regtig duidelik wat ons wil hê of nodig het nie.

Byvoorbeeld: As my man laat tuis kom, kan ek sê: "Hoekom is jy altyd laat? Hoekom bel jy nie voor jy ry nie. Jy gee nie vir my om nie. Jy maak my kwaad as jy dit doen." So sit ek hom dadelik op die verdedig, aangesien ek op die aanval is. Ek maak afleidings oor sy optrede en evalueer sy gedrag as foutief. Dit word gestel as 'n gegewe, 'n statiese situasie met baie min ruimte vir oplossing of versoening. Die alternatief wat NVC voorhou is: "Ek voel gefrustreerd as ek verwag dat jy 6-uur tuis sal wees aangesien jy my vanoggend gesê het dat jy 6-uur tuis gaan wees. Ek het 'n behoefte om warm kos op die tafel te sit en voel magteloos as dit koud en taai word. Ek het ook 'n behoefte om ingelig te word en in ag geneem te word. Kan ek jou vra om my te bel as jy in jou kar sit op pad huis toe?"

Klink eenvoudig. Vertrou my: dit neem baie oefening om nie te blameer of emosioneel te reageer nie, maar is verbasend effektief.

Daar is vier (op die oog af) eenvoudige stappe:

  1. Beskryf die gedrag wat maak dat jou wêreld nie ideaal is nie, in feitlike terme – sonder enige evaluasie of veroordeling.
  2. Kom in kontak met die gevoelens wat jy ervaar as gevolg van hierdie situasie.
  3. Identifiseer jou behoeftes onderliggend wat nie bevredig is nie, en kommunikeer dit.
  4. Stel jou versoek in konkrete terme, en nie as 'n vereiste nie.

Indien jy jou eie binnelewe so kan verwoord, gee jy die grootste geskenk aan die wêreld: 'n ten volle bewuste persoon wat in kontak is met wat lewendig is in hom en haarself, en bereid is om dit te deel. Vanuit hierdie posisie is dit ook moontlik om ander te hoor met 'n oop gemoed. Dit gee aan jou die vermoë om verby dreigemente en beskuldigings te hoor en die onderliggende gevoel en behoefte raak te sien en terug te reflekteer. Op hierdie manier is dit moontlik om by 'n punt te kom waar albei partye se behoeftes helder en duidelik is, en vanuit daardie plek is oplossings verbasend maklik. Selfs net die ingesteldheid dat oplossings tot meeste situasies moontlik is, skep 'n gewilligheid om op 'n ander manier te kommunikeer. Dit is waar nie-gewelddadige kommunikasie vir my 'n deur oopgemaak het waar ek gedink het daar net muur is.

Ek glo wat G.K. Chesterton gesê het oor die Christen ideale is ook van toepassing op nie-gewelddadige taal: "The Christian ideal has not been tried and found wanting. It has been found difficult; and left untried." Ek is opgewonde oor die moontlikheid van anders dink, ander praat en anders wees. Ek nooi almal uit wat hierdie behoefte het, om dit saam met my te ondersoek en te probeer.

Eleen Polson

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.