.

Krag om na binne én buite te beweeg

Deur Dr. André van Niekerk op 1 Februarie 2017

.

Terwyl China al hoe meer "na buite" beweeg en hul president die eerste keer die Wêreld Ekonomiese Forum toegespreek het, is daar in die Weste 'n beweging na die binnekring. Brittanje wil die Europese Unie verlaat en nog lande kan dit dalk later vanjaar doen. Die nuwe VSA-president se slagspreuk is "Amerika eerste." Hy maak sy land se hekke toe, maar geleenthede vir aardverwarming wawyd oop.

Te oordeel na die reaksies hierop voel baie van ons tuis by dié beweging. Verskeie kragte werk hiertoe mee:

Naas dié tipiese kragte van die verbruikerskultuur is daar ook die godsdienskragte.

By een van die oudste gemeentes – Korinte – was dit al kenbaar. Die inwoners van die stad was toe al daar baie meer individueel as elders ingestel. Sterk wedywering het bestaan en op handwerkers is neergesien.

Wie jy ken en watter name jy kan noem, is waarskynlik toe al gebruik, want mense het hul identiteit in eksklusiwiteit gevind. Ook Christene het gespog met: "Ek is bevriend met die welsprekende Apollos," of "Ek behoort aan die groep van Sefas."

Ons sou vir Paulus wou sê: "Moenie so ontsteld hieroor wees nie. Dis normaal as mense in kleiner groepe tuiskom." Maar vir Paulus bedreig hierdie groepvorming die hart van die geloof, die lig van Christus op God en die lewe. Ons durf nie die kruis van Christus van sy krag beroof nie. Ons doen dit wanneer ons logiese óf-óf-verklaringe van die kruis maak.
(1 Korintiërs 1-3.)

In sy lewe het Jesus dit getoon dat God se vreemde geluk nie in selfstandigheid gevind word nie, maar in afhanklikheid; nie in vermyding van pyn nie, maar juis in saamly; nie in selfhandhawing nie, maar in die moed om ter wille van ander se geregtigheid op te tree.

In Jesus se kruis is hierdie teenstrydighede saamgevat. God werk juis nie met logiese skemas van óf dit óf dat nie, maar met die spanning van én-én. Luther sien die misterie goed raak: God werk onder sy teendeel. Mag deur onmag, heerlikheid deur menslikheid, oorwinning deur verlies, eenheid deur verskeidenheid, nuwe lewe deur die spanning van én-én.

Die beweging na ons binnekringe is 'n manier om spanning te ontvlug. Ons behoort eerder die lewe se skeppende spanninge te bevriend. Dan kies ons vir: 'n Beweging na jou eie binnekring én na die vreemdeling; vir aanvaarding van emosies oor wat ons eie is én kritiese denke; vir die noodsaak van die "kop" én die "kleintoontjie" in die gemeenskap; vir die viering van die lewe nou én die verantwoordelikheid vir die toekoms; vir die ekonomiese belange van ons land én vir die ekologiese herstel van ons planeet.

(Soos gepubliseer op Netwerk24.)

Dr. André van Niekerk

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.