.

My vlug weg van vroomheid af en my soeke na moraliteit

Deur Prof. Hennie Swanepoel op 1 Oktober 2014

.

Ek het grootgeword toe sonde nog sonde was en elkeen 'n naam en pedigree gehad het. En saam met die sonde was die skuld en saam met die skuld was die wroeging en saam daarmee was die sekere wete dat ek 'n lae misbaksel is wat verseker hel toe gaan.

En daardie sondes! Die ergste en doodsonde, die onnoemlike wat ek tot vandag beswaarlik kan uitspreek, so kom ons fluister dit "seks met 'n meisie" – gruwelik! Die meer common sonde waarvoor ons aanhoudend met woord en gebed gestriem is, was draadtrek, nie dat dit ooit so genoem is nie. Dit is nie eers masturbasie genoem nie. Selfbevrediging en as die dominee of ouderling die dag ernstig is, selfbesmetting. En dit was nie net in die erediens nie. Die KJV het genoeg gesorg dat een of ander oom wat natuurlik nooit in sy lewe aan homself gevat het nie, vir jou vertel wat van jou gaan word as jy die verskriklike sonde pleeg. En die oom se prognose was so verskriklik dat jy in groot nood vir liewe Jesus gevra het om te vergewe en krag te gee. Maar ag, die behoefte was so groot!

En dan was daar die mindere sondes, maar erg genoeg om jou steeds in die hel te laat beland. Daar was om na Elvis te luister en die ergere sonde om na hom te luister en te dans. Erg ook was om na LM Radio te luister want hulle het Elvis en die Beatles se plate gespeel, selfs op 'n Sondag! Een wat gelukkig nou nie vir my as jongman gepla het nie was grimering. Mens moes egter maar versigtig wees vir fliek want daar het die duiwel maklik 'n vastrapplek gekry en die maatstaf was altyd of Jesus die fliek sou gaan kyk het. Die moeilikheid was dat my en Jesus se smaak verskil het. En dan was daar 'n horde ander sondes wat miskien nie almal ewe ernstig was nie, maar wat deur my kategeet as ewe ernstig as die ander "doodsondes" uitgewys was. Daar was byvoorbeeld die volgende: sport op 'n Sondag, dansmusiek, en op 'n Sondag nog erger, op 'n Sondag sonder baadjie en das loop, met 'n swart persoon van die ander geslag vriendelik wees, om lui te wees. Maar die sondes van versuim was meer en erger. Om nie elke dag te lees en te bid nie, om nie voor te berei vir die kategese nie, om nie gehoorsaam te wees aan jou ouers nie, om nie gereeld kerk toe te gaan nie, om nie te doen wat die dominee van die kansel af gesê het jy moet doen nie. As ek nou terugkyk na al die sondes wat deur die kerk verordineer is, sidder ek en is ek tegelyk vies oor die kloosterlewe wat ek gedwonge moes ly.

En so het die kerk my gevorm om mooi in die Victoriaanse leefstyl in te pas. My verbondenheid aan die kerk was sodat ek nie hel toe sou gaan nie en omdat dit die regte ding was om te doen. Die duisende Sondae wat ek by die kerk deurgebring het, was 'n aflaat vir my sondes (ge-erf en aangeleer). Hoe om God Ou Testamenties te vrees het ek goed geweet. Hoe die stelsel deur God daargestel, lyk en funksioneer, van ontvangenis tot by hiernamaals het ek geken. Wat die kerk en my profetiese taak was, het ek net die helfte geken, dié wat die kerk en staat gepas het. Wie my naaste werklik was en wat naastediens werklik beteken het, was in kerklike strukture vasgelê. Die Diakonie het vir ons eie armes (Blankes) gesorg en as jy verder as dit wou uitreik was jy welkom om die Sendingkommissie se sendingnaweek een keer 'n jaar by te woon. Dwarsdeur my vormingsjare het die kerk nie een van die duisende geleenthede wat hy gehad het gebruik om my te help om tradisionele mure na vreemde mense af te breek nie, om my naaste onder hul geledere te soek nie. Dit was die terrein van die Sendingkommissie, maak nie saak of die vreemdeling 'n gelowige was of nie. Die Sendingkommissie was eintlik die kerk se Bantoesake-department om apart te hou wat moes apart wees. Daar was dus in elk geval geen sprake van mure afbreek nie, hoër bou ja. Die kerk het my nooit gehelp om te leer hoe ander mense God dien nie – dit was uitheems en daardie mense was in elk geval toetentaal verdwaald, aldus die kerk en sy Evangelisasiekommissie en daarom na alle waarskynlikheid op pad hel toe. Wat die kerk as die waarheid beskou het, was so in sy dogma ingebed dat soek daarna onnodig was.

Van hierdie vroomheid moes ek wegkom. Ek was daarvan oortuig dat ek van moraliteit meer as nege-tiendes van die lidmate geweet het. Ek moes en het gevlug in die hoop dat buite die kerklike strukture God my sou toelaat om sy nie-kerklike kant te leer ken. Helaas, ek het gou geleer dat God binne die kerk bestaan, seker omdat hy na alles 'n maaksel van die kerk is. En om hier buite te soek is soos om die woestyn in te gaan. Dit is 'n lang en onseker pad; dalk 'n pad na nêrens!

En hier sit ek nou as 'n ou man met 'n uitstekende kennis van al die sondes, uitgevaardig en afgekondig deur God of sy verteenwoordigers hier op aarde. En ek weet hoe om al hierdie sondes met versiersuiker van die vroomheid toe te maak sodat niemand ooit sal weet wat se onheile daaronder skuil nie. Maar ek sukkel om die moraliteit van menswees te begryp en om een daarmee te word. Die kerk het dwarsdeur my lewe altyd my kop na God gedraai, nooit na die aarde nie en vir lank het ek, soos die gesang vir baie jare gesê het, gedink die aarde het min waarde. Die moraliteit wat ek deur die kerk en die christelike Afrikaanse samelewing geleer het, het (met 'n blik op die hiernamaals) bestaan uit jy mag nie of jy moet. As kerklidmaat was my visie altyd vertikaal, God bo en ek onder. Die kerk het my nooit geleer om horisontaal te kyk nie, hoe om op hierdie aarde as aardling te lewe nie. Die moraliteit van die aarde was en is 'n duistere boek. Ek weet hoe om te lewe om in die hemel te kom. Ek is deur al die lae van vroomheid, maar hoe om in hierdie wêreld tot sy voordeel vir die hede en die toekoms te leef, moet ek as volwassene buite die kerk leer. Die kerk het nooit my help soek na die waarheid nie asof dit reeds deur heilige geskrifte en formuliere sy besit was.

En ek leer nog steeds. Dit is my soeke, 'n soeke na 'n moraliteit wat ek met my hele wese kan aanhang en waarin en waardeur ek dag vir dag sal groei om nog 'n stukkie van die groot waarheid vir oulaas te leer, om nader daaraan te beweeg en om selfs so deel daarvan te word in 'n omhelsing wat uiteindelik sin aan die lewe sal gee.

WAARHEID OOR DIE WAARHEID – mymering van 'n ou man

Sal ons ooit die waarheid in die hand kan hou...
Dié wat Pilatus oor gevra het
Twee duisend jaar gelede
Is die waarheid ooit in klip of rots te vind
Kan mens dit in donker skagte onder grond
Ontdek en myn asof dit 'n edelsteen is in jou hand

Waar soek ons na die waarheid
Wanneer weet ons, ons het gevind
Hoe sal ons weet dat dit die ware waarheid is
As elke preker en profeet sy eie waarheid
In katedraal, op straathoek verkondig en verkwansel
Wat is waarheid bly nog steeds die vraag

En so soek ons voort
Deur donker bos en bar woestyn
Na dit wat waarheid is
Met dié hoop dat as ons ons laaste uur betree
Ons sal kan sê
Ek het gevind.

Prof. Hennie Swanepoel, e-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.