My storietjie

Deur Gert Brynard op 1 Mei 2011

Toe ek al 32 jaar oud was het Christiaan Barnard die eerste hart oorgeplant en gesê dis tog net 'n pomp. Om nie met jou hele hart te kan glo nie was net so 'n groot openbaring soos toe ek besef het Lord Greystoke is nie Tarzan nie; dis maar net Johnny Weismuller. Ek is verkeerd geleer en het dus verkeerd geglo. Ek is diaken, ouderling, Sondagskool-onderwyser en wat nog en die pratende slang is nog steeds satan en pasop vir 'hom.'

Ek besluit dat 'n mens 'n brein / verstand gekry het om jou in staat te stel om oor waarhede / werklikhede vir 'n gegewe situasie te besluit. Wat jy nie kan 'meet' nie bestaan nie; behalwe as jy nie anders kan as om dit as die wil van jou goeie, liefdevolle God te aanvaar nie. Die kleur rooi bestaan tog nie vir die blinde persoon nie. Dit word meer duidelik vir 'n wetenskaplik geoefende brein wat alles moet bevraagteken, ondersoek, bevestig of andersins en die 'goeie behou.'

Ek word omgeegroepleier – na aftrede – en vind dit al moeiliker om vrae te beantwoord sonder om skuldig te voel. Mens kan nie eenvoudig met alles wat jy nie verstaan nie 'n wonderwerk of God se wil as 'n ontsnaproete gebruik nie. Om die skeppingsverhaal ipso facto letterlik te lees en te verkondig is in die lig van nuwe navorsing net so verkeerd as om 'n tsoenamie as 'n wonderwerk of lyding as ons goeie, almagtige en liefdevolle God se wil te beskou. Om te moet aanvaar dat God jou pa gebruik om sy sonde aan jou oor te dra is meer as onsekerheid en dood eenvoudig sinneloos. Jy moet egter ook bereid wees om te midde van onsekerhede te bly glo.

Ek begin toe 'n reeks wat begin deur te gesels oor – wat is en waarvandaan kom ons godsdiens; wat en hoe glo ons ens. Ons praat buite-die-boks en deelname (alhoewel versigtig as 'n stelling nie uitgepraat kan word nie) is besonder goed. Dis soos dit kan wees en terselfdertyd leer jy om "Geloof sonder sekerhede" te behou en te versterk. Hoe beter jy verstaan, hoe makliker word dit om dit te glo.

Ek woon 'n lesing "Wat glo ons" by my kerk by. Toe die slang en satan ter sprake kom, sê ek dat ek nie die bestaan van 'n verpersoonlikte satan en demone aanvaar nie, want oorwinning oor die bose magte van hierdie wêreld is aan die kruis behaal. Ek word summier beskuldig dat ek dan nie God in my hart het nie, dit staan dan in die Bybel en om dit nie te glo nie is baie gevaarlik. Die spreker, met 'n teologiese agtergrond, is ook nie bereid om dit te bespreek nie. So kom ons nie nader nie, eerder verder van mekaar.

Ek bedank as omgeegroepleier sodat ek nie van verkondiging van dwaalleer skuldig sou staan nie. Ek het samespreking met die predikant verantwoordelik vir omgeebediening en versoek dat hy moet besluit of ek in prinsiep weer as 'n groepleier kan optree. Ek wag nege maande lank, met herhaalde versoeke, op 'n antwoord.

Nou besef ek die invloed van ons andersheid / diversiteit in hoe ons Christene in dieselfde God glo. Francis Collins, Willie Esterhuyse, Julian Muller, Sakkie Spangenberg, Flip Schutte, Abel Pienaar, Izak du Plessis, Anton van Niekerk, Karen Armstrong, webwerwe soos die van NGKerk (Diversiteitsforum / Kerkbode+), Teo, Kletskerk, SES en baie, baie meer kom oor my pad. Ook studiestukke van die Algemene Sinode soos: Geestewêreld en bevryding; Skrifgesag en skrifgebruik ('n uiters sensitiewe "struikelblok") ens. Die belangrikste aspek van my studie, 'n oplossing vir hoe om bymekaar uit te kom, vind ek in Diversiteitsforum.

Die forums bied die geleentheid om diversiteit te ontbloot en op 'n 'afstand' te bespreek. Wonderlik, maar dit bly 'n afstand skermutseling en liefde teenoor die naaste (en compassion) nie altyd duidelik te onderskei nie. Afstandbeheerde afwysing van 'n ander standpunt is maklik en as dit op man af kom, het jy maar net sleg gelees of verkeerd verstaan – jakkalsdraaie is oneindig. Ek besef nou dat kommunikasie met oogkontak die voor die hand liggende moontlikheid van 'n oplossing bied.

Ek propageer die werkswinkelprinsiep in dié verband by my kerk op verskillende maniere, ook op omgeegroepvlak. Eers doodse stilte: die kerkraad dink nog steeds. Omdat ek nie wil hensop nie word die Gemeentebestuurder afgevaardig om met my te gesels. Volgens sy oordeel weet die predikante doodeenvoudig nie hoe om die aangeleentheid te hanteer nie. My oorwoë mening ook. Een het gebieg, alhoewel hy afgevaardig was, dat hy nog altyd uitgestel het "want dit gaan oor diep dinge." Die bestuurder is ook andersdenkend en hy voel die teenstand teen verandering van insig duidelik onder kollegas.

Ons het 'n vrugbare gesprek en hy onderneem om (1) Die 'omgeepredikant' dringend te versoek om die verskuldigde antwoord oor die groepleier issue, met my te bespreek en te finaliseer. (2) Om dr. Ben du Toit (want hy woon naby) of dr. Botha, of Charles of ... te versoek om ons gemeente oor diversiteit toe te spreek. Hulle is nie bekend met die forum nie en ook nie dat die boodskap oor gemeentelike betrokkenheid / deelname al deurgestuur was nie. Enigste geluid van die kerkraad as sulks was 'n dankie dat ek hulle van die forum bewus gemaak het. Die omgeebedieningleierskap het laat blyk dat "my belange nie deur die diversiteitsforum gedek word nie." Ek het nie so iets aanhangig gemaak nie! Ek het hulle nou ook aan die webbestuurder se inligting – 'hoofpunte van die gesprek' van 6 Junie 2010, voorgestel en daarop gewys dat volgens my beskeie mening dit, saam met missie en visie gelees, tog heel duidelik ook my "belange" dek. Reaksie, indien enige, is nog uitstaande.

Die belangstelling in verwikkelinge in die wêreld buite hierdie gemeente se strewe na mega status, blyk duidelik uit bostaande. Ek het ook gevind dat Algemene Sinode (NGK) studiestukke wat deurgegee was vir hantering in gemeentes, nie by ons kerk verkrygbaar was nie. Ek het dit getoets deur eers so 'n dokument aan te vra en dan kry ek dit direk van Kaapkerk deur ons gemeente vir my aangevra. Geen wonder die gemeente weet daar niks van nie. In Flip Schutte se woorde: "Hierdie insig het nooit by die kerk se lidmate uitgekom nie. Die prediking het dus die lidmate onmondig en fundamentalisties gehou." Om te ignoreer is (ge)makliker as om so baie moeite te doen; d.w.s. as om te akkommodeer.

Die hoop is dat ons sodoende op hierdie manier mettertyd groep(e) op die been sal bring waar besprekings kan plaasvind, die resultate met ander groepe / gemeentes / forums sal deel / uitruil. Fasiliteerders (mense met naasteby die 'webmeester se formaat') sal gevind / opgelei (?) moet word. Die hoop dus om 'n werkende struktuur tot stand te bring is die ideaal en julle almal kan gerus ondersteun deur gebed. Ons aanvaar dat dit moeilik sal wees en in die begin sal sukkel maar die saak is belangrik genoeg om moedig te veg, nie te hensop nie.

Intussen het nog rooi ligte geflikker. Die persoon wat die "wat glo ons" lesings nog steeds lei, verduidelik uit die Bybel dat enigeen duiwels kan uitdryf as jy die gawe ontvang het en jou geloof "reg" (?) is. Twee predikante van ons gemeente, die een 'n "praktiserende" en die ander bietjie teensinnig, neem deel aan die praktyk. Die besoek van fundi's op dié gebied in Mei 2011 word gepropageer. Nog diversiteit wat skynbaar redelike plaaslike ondersteuning geniet. Ek het 'n opsomming van my gewaarwording hieroor aan die senior predikant deurgestuur met my menings, o.a. dat ek nie graag deel van 'n Rant en Dal situasie wil wees nie. Ons wil juis probeer om verminderende NGK getalle bietjie te stuit. Reaksie sal insiggewend wees en moontlik 'n invloed op ons poging hê.

Ons het ondersteuning nodig in 'n poging dat alle Christene ten minste weer in die moderne wêreld, soos jare gelede, hulself as 'kerk' kan beskou en so dan ook almal, deur God geskape, as medemens ongeag sy/haar standpunt in Godsdiensverband.

Ons sal julle op hoogte hou van toekomstige verwikkelinge – sal graag hoor van ander soortgelyke pogings en ondervindings in hierdie verband. Mens leer uit suksesse en uit mislukkings. Ons het julle kommentare nodig.

Ons hoop om lig- en goeienuusdraers te wees. Hierdie is nie om mense aan 'n gemeente / kerkverband te probeer vasketting nie, maar ek wil graag sien dat almal genoeg kennis en vertroue sal opbou om 'n rasionele keuse gebaseer op die beste inligting beskikbaar, te maak as dit dan nodig is om geloof te behou.

Ek voeg 'n klein greep uit my filosofie hierby, slegs om te toon hoe my brein dinge sien as gevolg van die energie wat die Skepper in my neusgate geblaas het toe Hy alles geskep het. Niemand was eintlik nog bereid om kommentaar hierop te lewer nie.

"Gode het mense se geloofsoortuigings en invloed nodig om te bestaan. Vir sy god sal hy ly; vir sy god sal hy sy vyande probeer liefhê en vir sy god sal hy bloedige oorloë veg. Op so 'n wese kan hy vertrou en voor hom buig en vra en dankie sê vir beskerming. Dit alles doen hy in die vorm van rituele; dans, bring van offers, aanbidding, sang ens. Hy beeld sy gode – en gewoonlik is daar 'n hoof god – uit as iets magies-misterieus d.w.s. 'Iets'; 'energie' wat hy nie rondom hom sien of aan kan vat nie; 'n mens met die kop van 'n arend, 'n lig, God; die onverklaarbare misterie / die onvernietigbare energie wat oral en in alles is.

Deur rituele dien hy sy god(e) en noem dit godsdiens. Mense het 30 000 jaar gelede in grotte (Lascaux as voorbeeld) gewoon en hul god(e) teen wande/dakke geteken. Hulle was heeldag in die teenwoordigheid van hul god(e) en bly in "kontak". So bly ons in kloosters, kom in kerke, groepe ens. bymekaar om emosioneel in kontak te bly. Alles/almal wat jy nie gereeld ervaar nie, word stadigaan vergete.

Die "waarheid" van 'n mite moet 'n realiteit in jou lewe word. Soos Simson, Tarzan, Spiderman, Buchan (?) ens. jou beïnvloed het, so moes Jahwe, Christus, Mohammed, Buddha dit doen. Hulle laat jou in verwondering en jy glo jy kan net so baie goed doen as jy hul voorbeeld volg.

Mesopotamië het baie mitologieë, Gilgamesj ens. en baie stories kan gebruik word om jou godsdiens op te bou en te ontwikkel. Oer-temas. Soos die aanleer van 'n stokperdjie hoofsaaklik geleë is in oefening en toepassing, so ook godsdiens. Leer en oefen; interpretasie, debatvoering, laat jou kapasiteit van 'n verstaankundigheid en aanvoeling ontwikkel.

Gode kan "kom-en-gaan", ander kan bygevoeg of omgeruil word. (Een God; dan Drie-Enige God, 4de eeu.) Jou keuse. Ontwikkeling vind plaas na gelang van omstandighede, kennis, insigte ens. oor veranderende eras.

So onlangs as sê 6000 jaar gelede, besluit die 'Joodse nasie om slegs een god aan te hang. Dié God wat voorheen ook onder die naam Yahweh / Elohim bekend was. Die god is almagtig, liefdevol, onsienlik en in alles, soos energie; 'n misterie. Dus nie 'n "persoon" – 'n "gestalte" – soos ons dit in taal uitdruk, nie.

In die pre-moderne kulture was daar twee erkende maniere van dinge oorweeg: om te dink en om te praat en kennis te versamel. Mythos en Logos. Logos – maak sin uit gedagtes – is om vooruit te skou, te verbeter, te ontdek ens. Dit was egter beperk; dit kon nie verdriet verlig, die betekenis van die lewe en sy teëspoed toelig nie ens. Hiervoor draai hulle na mythos (mites).

Uit al die stories – oer-temas met retrospektiewe teologie – metafore – uit die landstreke rondom word die verhaal van die nuwe godsdiens opgestel. Vanaf die skepping, hoe die 'mens,' 'lewe', na dié God se beeld geskape is, d.w.s. om so God se liefde deur sy optrede uit te straal – met sy eie vrye wil, en sy eerste verkeerde keuse gemaak het.

Dié keuse is die rede vir pyn, harde werk en 'n beperkte lewensspan. Wanneer (..in die begin..) en hoe (oerknal..?) waaruit (niks, 'singularity', iets..?) maak glad nie saak nie. Dit word later uit oer-verhale aanmekaar gesit om voorsiening te maak vir satan en erfsonde en terug na stof en nog later na die moontlikheid van 'n ewige lewe.

Ook die onderliggende rede vir uittogte, rampe (groot vloed) reëls en wette, oorloë ens. word sodoende 'neergelê.' Vanaf ongeveer 5000 jaar gelede word dit moontlik om die verhale "neer te skryf." Alle geskrifte wat betrekking het word mettertyd versamel en die "Kerkvader-skrywers" moet besluit watter geskik is om in 'n 'handleiding' saam te stel.

NS: Hierdie is my filosofie daarvan. Ek is net 'n wetenskaplike. En iemand wat wil weet.

Gert Brynard kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za