.

My Storie

Deur Corrie Kühn op 1 Februarie 2015

.

Ek glo vandag my spirituele reis het so sewentig jaar gelede begin, toe ek so tien jaar oud was.

Die Mikstokkie:  Pa wou laat boor vir water. 'n Oom het met 'n mikstokkie gekom, dit op 'n sekere manier vasgehou en kruis en dwars begin loop. Skielik het die stokkie se punt afwaarts begin draai. "Hiers water!" Verstommend! Opsluit wou ek ook "water wys." Die oom het gewys hoe ek die stokkie moet vashou. Tevergeefs. Die stokkie wou nie bokant die oom se gemerkte plek draai nie; ook nie bokant 'n emmer water nie; ook nie binne-in die dam waar ek kniediep ingegaan het nie. "Nee," sê die oom, "die stokkie draai net bokant 'n ondergrondse wateraar, en ook net by party mense." "Maar Oom, as wáter die stokkie se punt aftrek, dan moet enige water dit mos doen, al hou wie ook al die stokkie vas." Die ander ooms teenwoordig het vir my gelag; hulle het die waterwyser-oom geglo! Daardie dag het twee dinge in my kindergemoed ingekruip (al kon ek dit toe nog nie by die naam noem nie): wantroue en bygelowigheid. Hoe kon iemand vir my iets probeer wysmaak as ek kon bewys dit is nie waar nie en hoe kon die ander ooms glo in iets wat net nie waar is nie?

Bybelstories:  Noag se storie was eers mooi, maar toe begin ek dink: Waar het Noag genoeg kos vir elke diersoort vir so 'n lang tyd gekry? Was daar katte en muise? Hoe het hy hulle uitmekaar gehou, en as die katte nie die muise mog vang nie, wat het Noag hulle gevoer? En baie, baie ander vrae. Die onmoontlikhede van die ark-storie het die mooi verdring.
Abraham offer vir Isak: Die boodskap van die dominee, of was dit die Sondagskooljuffrou, dat God sal voorsien het totaal by my verbygegaan. Ek was heelpad in Isak se skoene, ek het saam met hom vasgemaak op die brandstapel gelê, ek het saam met hom in afgryse en ongeloof na die mes in sy pa se hand gekyk...
By Sodom en Gomorra het ek nie gedink "Dis reg so, God, delg die sondaars uit" nie. Ek het heeltyd net die angswekkende gille en gehuil van onskuldige kindertjies gehoor!!
Ek het ouer geword en my vrae het meer geword. Op die kansel het gestaan GOD IS LIEFDE, maar in die Ou Testament het ek 'n wrede, oorlogsugtige, wraakgierige God gesien. Hoe kon 'n God van Liefde tallose onskuldige mense, waaronder babas, laat doodmaak, steniging van skuldiges aan sekere "misdade" voorskryf, perde se hakskeensenings laat afsny, swanger vroue laat oopsny? Slawerny toelaat?
My uitgespreekte vrae is afgemaak met iets soos "Jy mag nie die Woord van God bevraagteken nie; elke letter van die Bybel kom van God self af." (Onthou, dit was in die 1940's toe naïewe, fundamentalistiese godsdiensbeoefening aan die orde van die dag was.)
Op 'n dag, na my knaende vrae oor die sewedag-skepping, sê 'n dominee vir my: "Dis nie dae nie; dis tydperke. Die Bybel sê dat duisend jaar vir God soos een dag is." Verligting: "elke letter" kom dan tog nie van God self af nie, maar verdere vrae in my gemoed: As die skeppingsverhaal nie letterlik is nie, watter ander dele van die Bybel ook?

My Loopbaan:  Ek betree die grootmenswêreld met 'n geloof sonder sekerhede; allesbehalwe 'n diep, oortuigde geloof in die Bybelse "waarhede". (Behalwe vir 'n kort tydperk toe ek as student in die CSV tot bekering gelei is, 'n emosionele "high" in die geloof beleef het. Rasionele denke het my binne 'n jaar terug na die werklikhede van 'n aardse bestaan gebring.) Maar ek glò tog, gaan kerk toe, neem deel, is 'n tradisionele Christen.
Ek word onderwyser. Hou skool in die Christelik-Nasionale patroon, met 'n passie vir die onderwys, en soos die patroon van my vereis, is ek betrokke by die Kerk, word kerkraadslid, by geleentheid selfs in leiersrolle. Maar 'n geloof-diepgang ontbreek steeds: ek sien nie kans om mense te leer van "geloofswaarhede" nie. So hou ek nooit Sondagskool nie, en is my saalpraatjies Maandagoggende in die skoolsaal "kapstokpreke": 'n Versie uit die Bybel word gebruik om met die kinders oor lewenswaarhede te gesels: oor eerlikheid, pligsgetrouheid, deursettingsvermoë en so meer.
Ek was maar altyd lief vir lees: koerante, tydskrifte (ook Die Kerkbode) en boeke oor godsdiens, die geskiedenis, sielkunde, wetenskap en ander. So kom ek ook uit by die mitologie, en baie van my kindervrae kry antwoorde: dis nie God nie, maar mense wat die verhale van die Ou Testament geskryf het. Mense wat hulle stories gebaseer het op stories wat die volkere rondom hulle lankal vertel het en die ander volkere probeer troef het met sterker ingekleurde stories as die oorspronklike. Aha, die bewyse was daar: net soos met die waterwyser was dit die mens wat die stokkie laat draai het. Ou, antieke stories met soveel teenstrydighede en wetenskaplike onwaarhede. En van ons word verwag om dit te glo. Bygeloof! Maar die mense gaan verder: hulle maak 'n Bybel van die stories. Party stories wat hulle nie van hou nie kom nie in die Bybel nie. En die mense gaan nog verder: belydenisskrifte en dogmas ontstaan. Augustinus en andere het die kettings verskaf waarmee ons aan die kerk gebind moes wees. Kettings wat gemaak het dat ek nie onbevange kon glo nie. Ek moes glo dat ek, voordat ek nog my eerste asemteug gegee het, reeds vol sonde was. Ek was bestem vir die verdoemenis, tensy...
Die lewe het my ook geleer dat daar van die Nuwe Testamentiese Liefde (wat sekerlik nederigheid, verdraagsaamheid, vredeliewendheid, vergewensgesindheid insluit) in die Kerk dikwels nie veel tereg kom nie. Begin by die brandstapels van die Middeleeue en loop deur die geskiedenis en kyk na al die onreg wat in die naam van godsdiens gepleeg is...
Apartheid was een van die onregte hier in ons land. Aanvanklik het ek, soos die meeste van ons maar, met die apartheidsbeleid saamgeloop. Die NG-Kerk het immers sy seën daaroor uitgespreek. Saamgeloop, maar nie heelhartig saamgestem nie. My kentering hieroor het gekom met

My Belhar-belewenis:  In die laat 1970's raak ek betrokke by eksaminering in die destydse Kleurling-onderwysdepartement. Dit bring mee dat ek mnr. T, 'n lektor aan die Skiereilandse Technikon, en my mede-eksaminator vir samesprekings by sy huis in Belhar ('n voorstad neffens Bellville) gaan besoek. En wat 'n wonderlike, verfynde mens en gesin leer ek nie daar ken nie! Op 'n dag terwyl ons na die Departement se kantoor ry, sê hy vir my hy is lief vir rugby en sy seuntjie wil graag saam Nuweland toe gaan, en hy wil regoor die middellyn sit om mooi te kan sien. "Maar, mnr. Kühn, wat sê ek vir hom? Hoe verduidelik ek aan hom ons mag net agter die pale sit?" 'n Hou tussen my oë! Enige blanke, selfs die onverfyndes en ongeskiktes mag dáár sit, maar nie hulle nie. En ek kan mnr. T nie na 'n restaurant nooi nie; nie eers na my Kerk toe nie. En in daardie mooi woonbuurt is duisende mnr. T's. (As ek daar gewoon het, het ek gehelp skryf aan die Belhar-belydenis!)
Kort daarna het my vrou by die personeel van ons plaaslike bruin Hoërskool in Vryburg aangesluit en 'n nuwe wêreld het vir ons oopgegaan. Ons het nuwe vriende gemaak. Ons het gehoor van hulle seerkry en vernederings. Maar by hulle het ons ook hoop gesien, en 'n bereidheid om te vergewe. En opregte dankbaarheid omdat ons na hulle uitgereik het. Beter Christene as ons self! Apartheid het die vertroue in ons Kerk erg laat wankel; ja, selfs ons geloof het 'n knou gekry.

Die dood en God was nie by nie (of was Hy?):  'n Hele paar van ons geliefdes sterf onnatuurlik: My skoonvader word op sy plaas vermoor, my suster se kleuter-kleinkindjie hang homself per ongeluk op, dieselfde suster word in die straat deur 'n jaende motorfietsryer op 'n voetoorgang doodgery, my skoonseun val na sy dood deur 'n hoë gebou se dak. Woorde kan nie ons hartseer en trauma beskryf nie. Ek kan nie eers probéér om dit te doen nie. Maar waar was God? Kon Hy nie maar daardie dag vir Skoonpa ('n wonderlike mens wat in vrede met almal gelewe het) gewaarsku het dat daar twee booswigte hom agter sy bakkie inwag nie? Klein Stéfan het op sy speelgoed-lorrie gestaan om die hond aan die ander kant van die swembadheining te streel. Kon God nie maar die lorrietjie se remme vasgeslaan het sodat dit nie onder hom uitloop en hy aan sy nekkie bly hang het nie? Hoekom het God nie die jaagduiwel op die motorfiets teen 'n boom laat vasjaag nie? Hoekom teen my suster vas, sy, 'n dienende Martha in haar familie en gemeenskap en Kerk? Kon God nie vir my dierbare skoonseun die swak plek op die dak laat mistrap het nie? Kon Hy? Kon Hy nie? My geloof in die Bybelse God wankel verder. Ek trek 'n streep deur Ps 121: "Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan..." En alle ander soortgelyke versies.

Die dood en God was by (of was Hy nie?):  In die 1990's raak my seun en sy vrou betrokke by Dr. W.M. se Huisgemeente in Pretoria. Hulle maak erns van hulle Godsdiens, sien af van "wêreldse" dinge, kom gereeld saam vir gebed, Bybelstudie, woordverkondiging en getuienisse. 'n Bietjie té na my sin, maar ek twyfel nie aan die opregtheid van hulle geloof nie. Veral my skoondogter beleef hierdie godsdiensbeoefening diep en ernstig. Toe doen sy borskanker op, nog maar in haar dertigs. En sy besluit: geen chirurgiese ingryping; "die Here sal my genees; Sy Woord verseker my daarvan."
Die gemeente staan by haar. Daar word baie gebid vir haar, diep en ernstig, maande en maande lank. Ook deur gelowiges in ander "outydse" gemeentes. Daar word gepleit by God, Hom op die beloftes in Sy Woord gewys...
Uiteindelik sterf sy 'n pynlike dood en laat twee pragtige dogtertjies, sewe en nege jaar oud, sonder 'n mamma agter. Ek trek 'n streep deur Jak 5:15 "En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak" en alle ander versies wat gebedsverhoring belowe. My geloof in die mitologiese God van die Bybel tuimel!

Waar is ek nou?  Ná my uittrede uit die onderwys het ek nog jare in die Willowmore-distrik geboer en sedert verlede jaar woon ek en vroulief hier op Jeffreysbaai in 'n aftreeoord, baie gelukkig met wat ons nog het: 'n lang en gelukkige huwelikslewe, dierbare vriende, seun en dogter, kleinkinders en ander familie, en vrede in ons harte. Wat geloofsake betref, die volgende:

Lewe en dood is deel van die gang van die natuur; alles het 'n begin en kom vroeër of later tot 'n einde; party gouer, party later; party "natuurlik", party "onnatuurlik." Daar is nie 'n "Mag" iewers wat besluit dat die muskiet nou doodgeslaan moet word of dat my vriend oor 'n uur 'n hartaanval moet kry nie. Dit gebeur net.

Hemel en Hel:  Ek vereenselwig my graag met wat dr. Piet Muller geskryf het na aanleiding van 'n vers uit die Evangelie van Thomas: "Die koninkryk van die Vader wat Jesus verkondig het, is nie vir eendag, iewers in 'n hemel nie, maar vir hier en nou. 'n Mens kan dit dadelik binnegaan wanneer jou geestelike oë oopgaan en jou hart en gesindheid verander. Die paspoort tot hierdie koninkryk is liefde, vergifnis en deernis, terwyl woede en haat 'n mens in die hel plaas, nie eendag nie, maar dadelik."

Jesus van Nasaret:  Al is hy nie meer vir my die mitologiese, maagdelik-geborene nie, is hy steeds my leermeester wat my leer wat Liefde waarlik beteken. As die hele wêreld, almal, net "ons naaste soos onsself" liefgehad het, sou ons 'n "hemel" op aarde gehad het.

God:  Lankal nie meer die antieke, mitologiese God "iewers daar bo" nie, maar hier by my, om my, in my. Soos vir Abel Pienaar openbaar die "oneindig-enige" God hom "op berge en in dale" aan my, van die kleinste, volmaakte blommetjie in my tuin tot by die onmeetlike uitspansel.

Dit dan, in kort, is My Storie. Jou storie lyk dalk heel anders. Jy glo dalk heel anders as ek. Jy sien die Waarheid dalk anders as ek. Maar kan ons asseblief met liefdevolle verdraagsaamheid na mekaar en mekaar se stories kyk? Vrede!

Corrie Kühn, Jeffreysbaai
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.