My konsep vir die ontwikkeling van ons godsdiens
in moderne idioom

Deur Gert Brynard op 1 September 2011

In die begin was daar die 'oerknal'; toe energie-massa en ruimte-tyd wat in 'n punt met zero volume (singularity) bestaan het, begin uitdy het om die kosmos/heelal te laat ontwikkel. Ruimte en die materiële dy steeds uit. Uit dié 'massa-energie'1 en ruimte-tyd 'formeer' alles, ontwikkel alles en word alles onderhou.

Wanneer die mens hieruit ontwikkel het, noem hy hierdie misterieuse bron en onderhouer van hierdie proses – "god". Dit bevredig die behoefte wat by hom ontstaan om die bestaan van 'n skepper/formeerder en beskermer wat hy nie kan sien of kan verklaar nie, te identifiseer. 'n God word gekies om verantwoordelik te wees vir elke spesifieke aspek van die alledaagse lewensondervindinge – die natuur, die begryplike en die onbegryplike.

Lewe in al sy vorme ontwikkel doelmatig oor tyd. Die erkenning van die lewe wat as 'mens' bekend is, word beskryf in taal deur die verhaal van Adam en Eva2; man en vrou – om die metode van vermeerdering in getalle te verduidelik. So word alle eienskappe en handelinge mettertyd in denke en taal vasgelê. Dit is dan ook die uitstaande eienskappe van die mens – die brein3 met sy vele funksies wat alles kan uitdink en oor alles kan besluit. Hieruit blyk dit dat die mens breinvermoëns ontwikkel het wat, uit sy besef dat hy nie alles waaraan hy dink kan verstaan nie, sy misterieuse god(e) skep en beskryf in terme van dit wat vir die bestaan van alles nodig is en ook intuïtief kan besluit oor wat reg en wat verkeerd is en dit kan uitvoer; wat keuses vanuit sy gegewe morele karakter kan maak en sin aan sy taalgebruik kan gee. 'n Vrye wil.4

Uit Mesopotamië kom 'n stam wat besluit om net een god vir hulle te skep en te erken en hulle noem dié god JHWH. Jahwisme na Judaïsme. Vanaf ongeveer 4000 jaar gelede, word "religieuse" verhale om alles wat toe bekend was en die betekenisse wat daaraan geheg word, leefwyses, geskiedenis en godsdienste in epiese verhale deur o.a. die Sumeriërs in skrif vasgelê. Uit hierdie geskrifte word dié gekies wat volgens die samestellers geïnspireerde religieuse waarde en wette verteenwoordig en dan verder ingekleur en aangevul word met eietydse sienings, interpretasies en taal. Oor die volgende ongeveer 2000 jaar word geskrifte gekies en eers die Tanach saamgestel vir die Judaïsme. Die Tanach het ook 'n sterk nasionalistiese dimensie en sommige van die stories is 'n legitimering van die nuwe staat met setel in Jerusalem onder Dawid.

Uit almal word uiteindelik 39 geskrifte, vertaal en saamgestel in wat nou bekendstaan as die Ou Testament.5 Om die godsdiens te vestig word alle verhale as komende direk van hul God beskou en verkondig. Dit wat hul God se wil, handelinge en verordeninge is, word in die verhale verweef.

Die nageslagte van Abraham versprei oor die Midde Oosterse gebiede en versamel hoofsaaklik in Israel en omstreke. Gedurende die tydperk van oorheersing van Israel deur die Romeinse Ryk, verskyn Jesus van Nasaret op die toneel. Die historiese Jesus was 'n besonderse Joodse profeet, 'n uitnemende Joodse wysheidsleermeester, en 'n Joodse gelowige wat naby God geleef het. Hy was deurdrenk van God se Gees en het God se hart aan sy tydgenote kom wys en Sy koninkryk kom 'voorleef'. Hy het God se liefde, barmhartigheid en empatie beklemtoon en teen die godsdiensleiers van sy dag getuig dat God meer begaan is oor liefde. Hy oortree Joodse verordeninge en verontagsaam en misken Romeinse en priesterlike wette. Die gevolg is dat hy gestraf word deur kruisiging. Gelowiges nou Christene.

Sy volgelinge, het hom nou al as die profeet/messias wat in die Ou Testament voorspel was, aanvaar. Die tydperk na sy kruisiging is in misterie gehul. Die verloop word in vertellings wat na 50 jaar begin verskyn, in die eerste geskrifte – eers die skrywes van Paulus en later in die Evangelies op uiteenlopende wyses herhaal/oorvertel – die boeke van die Nuwe Testament6 volg. Hierdie verhale, soos in die geval van die Ou Testament word ook mettertyd doelmatig saamgestel.

Jesus word gekruisig, staan op en word verenig met God. Jesus Christus se geskiedenis versinnebeeld nou die teenwoordigheid van God in almal se lewe deur Sy gees, oorwinning oor kwaad (leë graf) en die nuwe lewe deur sy opstanding. Hierdie verlossing uit die las van sonde en die nuwe lewe soos deur Christus se dood en opstanding in die histories en metaforiese opstandigsverhale vertel, kan en sal almal ervaar wat sy voorbeeld van liefde, vertroue in God, barmhartigheid, empatie ens. volg.

Soos God energie-massa, ruimte-tyd is, so is Christus en Heilige Gees deel daarvan en dit is ons Een God wat ons Die Drie Enige7 noem. Dit is die godsdiens wat ons oor die eeue ontwerp, ontwikkel, en aangepas het en wat ons aanhang in die geloof dat ons God oor ons waak. Na Protestante – Gereformeerdes.

Die taal waarmee die kerk oor die opstanding van Jesus praat, ook oor die vleeswording, die kruisiging, die nagmaal en die lewende teenwoordigheid van Christus, is soos alle teologiese taal, metaforiese, menslike taal oor geestelike ervaringe en historiese gebeure.

Geloofsbegrippe

Dit maak dus nie saak hoe en wat presies wanneer en onder watter omstandighede plaasgevind het nie. Ons mag en sal altyd soek vir rede en verduideliking, maar omdat alles altyd net interpretasie en spekulasie sal bly, moet ons berus in die godsdiens wat ons aanhang sonder om mekaar oor verskille in opinie te verguis. Die kern van die kern: 'n gerigtheid op God. Dan berus ons ook in dit wat ons geskenk word totdat ons na oorsprong van energie en massa (stof tot stof en asem/gees) terugkeer. Jy gaan liggaamlik dood; gees terug na God = ewige lewe. Onvernietigbaar in ewigdurende siklus. Alles het 'n begin en 'n einde, uit en terug na die bron waaruit alles weer nuut kan begin.

1.  Energie en massa (materie) kan nie deur die mens geskep of vernietig word nie. Energie-massa kan in verskeie vorms manifesteer. Energie is ekwivalent aan massa. Massa-energie; ruimte-tyd is al wat aan die begin bestaan het. "Ons weet dat energie-massa die grondslag van alles in die skepping is. Indien ons aanvaar dat vir God, om God te wees, 'n minimum vereiste moet geld, naamlik dat Hy ongebonde aan ruimte en tyd moet wees, kan 'n mens God sien as die bron (van) energie-massa. Dit bewys nie Sy bestaan nie, maar dit skep die logiese moontlikheid van Sy bestaan. As 'n mens dit saamlees met die onvernietigbaarheid van energie-massa, het ons ongetwyfeld die moontlikheid dat ons na die 'dood' bewustelik kan voortbestaan in die sfeer van God."

2.  Die verhaal van Adam en Eva illustreer 'n lewenswaarheid. Die lewe is vol keuses. Die mens is 'goed' geformeer sodat hy deur middel van die gegewe intelligensie sy bestaan op die aarde kan 'bestuur'. As jy die verkeerde keuse maak moet jy die gevolge dra. Dit het nie te doen met pratende slange en erfsonde nie; ook nie met hel (wat dit ook al is) of die voorspelling van 'n ewige lewe nie maar met pyn, lyding en 'n eindige lewe. Terug na oorsprong.

3.  As die mens nie oor n brein beskik het nie sou God nie vir ons bestaan het nie. Met jou brein onthou jy, lag jy, beleef jy emosies, huil jy en kla jy. Godsdiens word in jou brein gebore? Sonder die menslike brein sou mense nie gelowig of ongelowig kon wees nie. Wat ons waarneem met ons sintuie, kan weeg, kan meet, toets en bewys, bestaan. Wat jy nie kan meet nie, bestaan nie. Die kleur rooi bestaan mos nie vir 'n blinde persoon nie. Ons kan energie-massa, ruimte-tyd meet, maar nie in konkrete terme beskryf of vernietig nie. Dit is alles erkenbaar en aanvaarbaar vir die brein.

4.  Vrye wil is 'n oorsaak, nie 'n gevolg nie. Omdat ek nie hoef nie, as ek nie wil nie, maak dit dat ek wel 'n vrye wil het.

5, 6.  Die samestelling van die Ou Testament kom uit singewende mites, verhale, vertellings en geskrifte, soos bv. die Gilgamesj epos ea, met retrospektiewe teologie. Baie interpretasies en redegewende toevoegings word deur betrokkenes soos Tertullianus, Augustinus, Hieronymus ea. ingevoer. Erfsonde, Lucifer as satan, hel ens. is voorbeelde. (Die woord "Lucifer" kom bloot van die Latynse vertaling van Jesaja 14 wat gedui het op die môrester in die Hebreeuse teks en eers deur die kerkvaders figuurlik misinterpreteer is as 'n verwysing na diabolus.) Die invloed van die gebrek aan kennis blyk bv. uit die storie dat die son stilgestaan het om Josua die oorwinning te besorg, wys egter ook dat dit nie "God se onfeilbare Woord" is nie, maar mense se woorde oor God. 'n Groep kies en besluit uiteindelik oor watter geskrifte geskik is vir insluiting en die res word nie verder oorweeg nie.

Die skrywers en mense van die twee geloofsgemeenskappe waaruit die Bybel ontstaan het, te wete die Joodse en die Christelike (Nuwe Testament), het hulle belewenisse van hulself, hul omgewing en God onder meer in metaforiese taal uitgedruk. Ons kan ook sê dat die Bybel historiese geheue en metaforiese narratief kombineer. Dit beteken nie die Bybel is onwaar nie.

Dit beteken om die Bybel in sy meer-as-letterlike betekenis, in sy meer-as-feitelike betekenis te lees. Dit stel eerder belang in die betekenis van die Bybelse stories, gedigte, mites en geskiedenis as in die feitelike korrektheid daarvan.

Wanneer ons sê dat ons die Bybel histories, metafories en sakramenteel moet sien, sê die opkomende/ontluikende visie nie daardeur dat die Bybel nié deur God geïnspireer is nié. Dit verstaan die Goddelike inspirasie net anders. Die Bybel is nie die Woord van God nie, maar woorde oor God (Boodskap van God) en deurdrenk met al die gebrekkige en foutiewe sienings wat die mense van die pre-moderne tyd gehad het. Ons moet aanvaar dat Jesus van Nasaret nêrens in die Ou Testament genoem word nie. God is in die stories 'n werkwoord, 'n werkende krag, energie, inspirasie. Die Bybel getuig van God se genade, liefde en verlossing vir alle mense en moedig ons aan om as verloste mense telkens van sy genade en liefde in woord en daad te getuig.

"Die maagdelike geboorte (vertaal die Grieks vir "jong vrou" almha in Hebreeus as "ongetroude jong meisie" Parthenos in Grieks), was in die vroeë Christelike kerk 'n manier gewees om te sê Jesus was op 'n besondere manier God. (Mattheus 1:16 sê: "en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.")

Dit is histories en metafoor. Daar is 'n ryk tradisie van verstaan in die Bybel waarvolgens historiese gebeurtenisse ook simbolies en metafories geïnterpreteer is. Die uittog, die intog in die beloofde land, die ballingskap, die vleeswording, die kruisiging, die opstanding en hemelvaart is alles historiese gebeure, maar wat in die loop van tyd simbole vir die verstaan van God se liefde geword het. Hierdie simboliese én metaforiese interpretasies wat aan die groot verhale van God geheg word, doen niks afbreek aan die historisiteit daarvan nie; Maak die fyn analise oor presies hoe dit moontlik is of gebeur het, onnodig.

Het Jesus uit die dood opgestaan?, "Ja", want die verhaal sê so. Nie 'n historiese feit, maar die waarheid vir dié verhaal. Die werklike misterie van die opstanding is:

7.  Die Drie-Enige soos ons die term gebruik, het nie in die tyd van die Ou Testament bestaan nie. Jesus het dit ook nie so gebruik nie. Jesus was nie' n Christen nie. Na baie struwelinge in dié verband het Konstantyn, tot sy voordeel, in 325 BCE ingegryp en die term en die definisie daarvan erken en bekragtig. Dié mees dramatiese aanpassing in ons oorspronklike monoteïstiese godsdiens. Ek sal ook immer 'n "soeker" bly en ek dank my NG Kerk daarvoor; dis waar ek my oorspronklike erg sintetiese voete gevind het en hulle toe onder my uit geskop was.

Ek voel nou vir eers heel gemaklik met hierdie beskouing, want ek kan 'n greep daarop vind en gemaklik en weer meer ontspanne daarmee wees. Dit soek nie veroordeling nie, maar reg en teregwysing en rigtingaanduiding is baie welkom. Ek is nie 'n "kenner" soos Oom Angus nie en foute-in-feite mag voorkom alhoewel ek ook swaar op kenners se insigte leun.

Gert Brynard kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za