My geloofsreis

Deur Hendrik Pelser op 1 Julie 2011

Die Wit Kerk in Middelburg, dis waar my reis begin het.

Die waarheid is effens anders, want ons was in die baksteen kerk van Middelburg-Suid, maar dit is die Wit Kerk wat in my gedagtes vassteek, omdat dit so mooi was. Was nog steeds mooi die ander dag toe ek daar verby is.

Mooier as die steenkerk oorkant die groentewinkel, daar waar my ma gewerk het die tyd van my geboorte. Die winkel het aan my pa behoort en my ma het die toonbank beman terwyl my pa kunsmis bemark het aan die boere.

Hy was goed daarmee, so terwyl sy hart gebrand het om self te kan boer. Iets wat hy later bewys het hy kan net so goed mee wees.

Die vierde kind was ek, gevolg deur 'n vyfde so twintig maande later.

"Wie gaan vir al die kinders sorg?" het een oom glo gevra, so rondom die vyfde se aankoms.

"Moet jy die daaroor worrie nie" sou my pa sê. En woord by die daad gevoeg om behoorlik vir ons almal te sorg.

Toe ek my verstand kry het my ma nie meer die groentewinkel bedien nie. Sy het vir vyf kinders gesorg. In 'n huis met 'n massiewe tuin in Weber Straat.

Die kerk (Dis nou die Steen kerk), was nie eintlik iets om te onthou nie. Ek onthou dit was effens donker met gange aan die agterkant. En dit is dit.

My pa was 'n diaken, daar in die voorste banke. My ma moes die vyf van ons onder beheer hou. Iets wat sy met 'n ysterhand verrig het. Stil sou ons daar sit, so met ons natgekamde kuiwe en lang kouse. (Langbroeke sou eers heelwat later kom.) Skoene was verpligtend. Dit was 'n plek van respekte.

Toe trek ons na 'n ander dorp toe.

Waar my pa 'n streekbestuurder pos gekry het. Met 'n kantoor, en 'n sekretaresse. En 'n groot huis.

En 'n ander kerk.

Ek kan nie eers die gemeente se naam onthou nie, maar die dominee was 'n swartpak mens. Baie soos 'n vampier. Geen vreugde. Net die vrees. Die vrees van ewige verdoemenis. Verlore is jy. Kom kerk toe en ons sal sien of ons jou kan red.

Ons trek plaas toe, 'n paar jaar later. Nog 'n kerk. Nog verdoemenis.

Trek weer. Nog 'n kerk. Erger verdoemenis. Die leraar was vroeër tussen die Hindoes. Bose geeste beheer mense. Sy taak is om hul uit te dryf. Ons is verdoem.

Dalk kan hy ons nog red.

Die hoofkandelaar in die kerk het dertien arms met dertien ligte.

Dertien? Is dit nie een of ander ongelukkige getal nie. Daar is dalk iets boos daaraan.

Ons is verdoem. Jy moet elke week 'n gees uitdryf as jy enigsins op die Here se A-lys wil kom.

Sondig.

Verlore.

Dalk kan hy ons nog red.

Ek gaan Hoërskool toe. Hou van lees.

Lees die Bybel. Meer as een maal regdeur. Ek dink so knap by die drie keer.

Ek word sestien en moet aangeneem word.

In die Suid gemeente. Nee, dit is nie meer Middelburg nie. 'n Ander Suid..

Standerd nege. Dinsdagaand in die koshuis. Die leraar kom my sien. Ek hou nogal van hom. Hy is nie 'n swartpak mens nie.

Hy wil weet of ek gered is.

Ek ken die Kategismes beter as enige ander in my groep. Ek het dit gelees, en geleer.

Is ek gered?

Hoe moet ek weet? Maar ek dink dit sal hom gelukkig maak as ek "Ja" sê. En my Ma.

So, ek sê "Ja". En voel skuldig daaroor vir 'n klomp jare.

Hoe moet ek weet? Die verdoemenis word gepreek en hulle vra of ek gered is?

Ek word aangeneem in 'n nuwe pak.

In die aand, met kerse? Is dit nie sondig nie? Die kerse, meen ek. Ons kerk het nie sulke uitheemse dinge toegelaat in die verlede nie.

Ek skryf matriek, gaan weermag toe, en uiteindelik universiteit.

Sondagaand, Universiteitskerk. Dis waar jy 'n meisie heen kan neem sonder dat sy dink jy wil haar misbruik. Ten minste kom die studente dan ook in die kerk.

Die boodskappe gaan my meestal verby terwyl die hormone deur my are suis. Het sy my drukkie beantwoord? Die bleddie sweet aan my hande. Sal die verhouding iets word of nie?

Ek ontmoet my droom meisie tydens die seevakansie van April in my derde jaar. Sy kom van 'n klein dorpie in die Wes Transvaal af.

Volgens haar mag ek haar nie besoek terwyl sy op skool is nie. Ek sit dus droëbek vir die res van die jaar.

En toe kom sy stad toe.

En sy was alles wat ek van gedroom het.

Ek begin werk.

Ons trou.

Twee jaar en 'n bietjie.

Ek werk dat dit bars.

Sy verwag.

Sy sterf.

Dit is seker wat God wou hê. Niks anders maak sin nie. Sy was jonk, pragtig, gelowig.

Miskien was ons nie gelowig genoeg nie. Miskien was dit die straf omdat ons nie so gereeld in die kerk was die laaste jaar nie. Die naweke was maar kort as jy net elke tweede naweek by die huis was. Maar miskien is dit ons straf.

Nee, die Here pluk sy mooiste blomme, sê ander mense.

Nee, dit is hoe die Here jou kry om jou lewe reg te stel sodat jy sy kind kan wees. Jy moes deur 'n skok ervaring gaan sodat jy jou lewe vir die Here kan gee.

Dit was al wat sin gemaak het in die raamwerk waarbinne ek grootgemaak is.

Die Here laat jou "suffer" sodat jy 'n beter kind kan wees.

Maar niks maak sin vir my nie.

Ek is alleen, en soekende.

Biddend.

Want dit is al wat ek ken.

Miskien skuldig aan een of ander kern sonde.

Want dit is een van die dinge wat ek wysgemaak word.

Gestraf.

Want dit is al wat ek ken.

My skuld.

Want dit is al wat sin maak in die kerk wat leer van straf en sonde, en wat vergeet om te leer van liefde en onvoorwaardelike verlossing.

Ek verlaat my werk. Vind 'n ander, met minder druk en meer tyd. Snaaks genoeg, vir 'n hoër salaris. By die Universiteit, as dosent. Werksure is net tot een uur.

Elf maande tot die dag toe 'n kollega by my deur inloer, so net voor huistoegaan tyd.

"Nie lus om nou huis toe te gaan nie. Wat van ietsie om te eet?"

Ek en hy het nie so baie gepraat sedert hy van sy langverlof af teruggekom het nie

Ek wou eers nie, maar gaan tog.

Ons kuier lekker. Hy begin vertel van die gebedsgroep vir manne wat hulle op Saterdae in hulle gemeente het.

Ek hoor, luister, en word deur een of ander ongelooflike mag getref.

Skielik is God in my, met my. Ek is vir ewig verlos.

Niks kan my ooit weer van die verlossing skei nie.

Ek leef Romeine 8.

Ek is vir ewig vry.

Ek dwaal uit die restourant. Soek 'n foon en skakel my moeder. Ek moet haar vertel.

Ek is vir ewig bevry. Niks kan my ooit weer bind nie.

Ek is vry.

Loof die Here! Ek is vry!

My nuwe lewe begin.

"n Rukkie hierna ontmoet ek my tweede liefde. God is my genadig en ek mag weer lief hê.

Ons trou en ons begin om God uit dankbaarheid te dien.

Diakenskap en Bybelstudie.

Wyksbesoek en Introspeksie.

Here, ons is so sondig en onbevoeg.

In sonde ontvang en gebore. Vuil van sonde. Here, ons doen ons bes.

Ek word weer gebind – deur die Kerk.

Ander huis, nuwe gemeente. Weer diaken. Groot ouetehuis met heelwat ouer mense. "Dominee, hoekom dra die diakens nie meer swart pakke vir die nagmaal nie?" "Die nuwe dinge pas nie in ons kerk nie Dominee." vra die omie tydens elke Kerkraadsvergadering.

Later sterf ook die swartpak omie af en ons kan 'n kerkraadsvergadering deurgaan sonder die swart pak storie. Wat maak die goed saak in 'n mens se soeke na God. Die almagtige wat die heelal geskep het. Swart pakke maak tog seker nie saak nie. Hy was gewoond aan klede met sandale.

Leierdiaken.

Post 1991. Die ledetalle daal. Die bydraes word minder. Die diakens ook.

Kerkraadsvergadering. Die gesukkel vir fondse is als die diakens se skuld. Hulle besoek nie al die lidmate elke maand nie.

Watter diakens? Hulle word al minder.

Ons moet meer kry. Ek word soms aggressief verdedigend. Hoekom gee ons nie die diakens "knuckle dusters" sommer ook nie. Dan kan ons die lidmate wys hoe moet hulle bydra. Hulle gee ook te min. As ons hulle meer besoek met die "knuckle dusters" kan ons hulle sommer ook hieroor oortuig.

Gevegte in die konsistorie. Die duiwel doen beslis sy beste werk daar. Dominee, jy het dit verkeerd. Die wêreld is aan die verander. Mense wil nie meer bang gepraat word nie. Mense moet bydra wanneer hulle kerk toe kom. Omdat hulle wil. Nie omdat die belasting-gaarders van die kerk hul tuis besoek nie.

Ek begin selfs meer bid en meer Bybel lees.

Sewentien jaar. Ek raak betrokke in argument met 'n agnostikus en my Bybel lees neem vorm aan om teenargumente te kan voer. Vir die eerste maal lees ek nie net 'n stukkie uit die Bybel elke keer as ek lees nie. Ek begin verwante gedagtes in verband bring. Ek lees al vier die evangelies en die Ou Testament rondom elke gedagte.

Dit maak nie altyd sin nie.

Hoe is Judas dood? Het hy die dertig silwerstukke teruggeneem en in die tempel neergegooi en toe homself opgehang en die priesterhoofde het daarna 'n stuk grond gekoop as begraafplaas vir vreemdelinge en dit "Bloedgrond" genoem soos per Matteus 26, of het hy (Judas) met die geld 'n stuk grond gekoop en daar vooroor geval en oopgebars sodat sy ingewande uitgepeul het soos per Handelinge 1.

As God self die Bybel geïnspireer het as die enigste onfeilbare woord en dit is alles waar. Hoekom sal die feite mekaar weerspreek?

"n Groter kontradiksie. Op die hoeveelste dag het Jesus opgevaar? Vir my hele lewe het ek hemelvaart gevier op die veertigste dag.

Lukas sê die vrouens het die dag van die opstanding na die graf gegaan, op dieselfde dag aan die Emmaus-gangers verskyn, wie toe dadelik na Jerusalem teruggegaan het waar hulle die elf apostels bymekaar gevind het. Terwyl hulle oor die dinge gepraat het het Jesus tussen hulle verskyn waarna hy hulle uit die stad uitgelei het en opgevaar het. Die derde dag.

Handelinge, wat volgens die intro deur die skrywer van Lukas geskryf is, sê dat Jesus in die loop van veertig dae verskeie kere aan die apostels verskyn het en vir hulle gesê het dat hulle nie van Jerusalem af moet weggaan nie. Toe hulle bymekaar was (op die veertigste dag) is hy opgeneem.

Volgens Johannes het hulle teruggekeer na hul normale lewens as vissermanne en Jesus het hul by die see van Tiberias gevind waar hulle op sy advies die buitengewone groot vangs van visse gehad het. Volgens Johannes het Jesus toe nog baie ander dinge gedoen wat nie in al die boeke op aarde sou vervat kon word nie.

Jesus sê (volgens die drie evangelies, Mattheus, Markus en Lukas (soos gevind in Mattheus 24 : 34 en 35) "Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit."

Wat?? So wat is die onfeilbare waarheid waaraan ons so gebind word deur die kerk? Ons lag oor ander mense wat eindtydvoorspellings maak en ons gaan gladweg verby hierdie een wat in die "absolute ware Bybel" sit.

In die tyd besluit iemand dit is na agtien jaar as diaken tyd vir my om Ouderling te word.

Wie, ek? Om wat te doen. Mense se siele in die hemel te kry, en hul basse op die kerkbanke.

Wie, ek? Ek, met die klomp onwaarhede wat ten hemele skreeu. Wat gaan ek vir hulle sê? Daar is nog 'n klomp ander weersprekende "waarhede" in die "onfeilbare" Bybel. Dit is God se woord en onvoorwaardelik waar? Watter van die ander "waarhede" is ook onwaar.

Skuldgevoelens. Here ek kom ook nie by alles uit nie. Die werk is baie, die tyd min. Ek self is in sonde ontvang en gebore en ek moet ander mense se siele red. Here, hoe doen ek dit?

Altyd skuldig, altyd te min gedoen. Die bydraes is te min. Die mense is te min. Julle moet hulle gaan besoek.

Wanneer Here. Deesdae is die hekke vroegdag gesluit. En ons kom eers laat by die huis.

Ons sal julle wys hoe om dit te doen.

Kerkraadskursus. Vrydagaand en Saterdag.

Ons sal julle wys hoe om dit te doen.

Saterdagoggend.

Ons sal julle wys hoe om dit te doen.

Ons is nie so baie mense daar nie. Net die ou "getroues".

'n Donderslag van die leeraar.

Esegiel 34. "Ek gaan optree teen die herders". "Ellende wag vir die herders van Israel" (dis nou ons, die kerkraad). "So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulle self sorg! Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie die wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie die wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders."

O Here, ons is sondig. Ons het u in die steek gelaat. Ons is strafwaardig.

Die opstand stoot op in my keel. Wat het geword van Jeremia 31 vers 31? "Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit." Vers 33 – "Dit is die verbond wat ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 'n Man sal nie meer vir sy buurman of broer voorhou: "Jy moet die Here dien" nie want almal sal my dien, klein en groot sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie", of Joël 2 vers 32 "Almal wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word", of die volgende gedeelte van Esegiël 34 :"Ek sal self my kleinvee se herder wees."

Skielik kom die kerk in perspektief. Ons is slawe van 'n sisteem wat gemaak is om ons te bind aan iets wat nie eers bewys kan word as waar nie. Moenie "worry" nie. Gee net jou bydrae en kom sit in die kerk en ons gee jou 'n "one way ticket" hemel toe...

Vandag sê ons "Kom na ons toe want ons God se las is lig en sy juk is sag." Maandag vra ons "Waar was jy Sondag?" Jou las mag nie lig wees nie, en as die juk sag is ly jy nie genoeg vir die saak van die Here nie.

In ons Bybelstudiegroep, waarin ek op 'n manier inforseer is, is daar klaarblyklik niemand anders wat glo dat hulle gered is nie. Dit kan net nie so maklik wees nie, blyk hul mening te wees.

"God is regverdig" is 'n ander besprekingspunt.

En dit beteken?

"Hy sal Mugabe straf."

My wiele val af.

Dit is die begrip van God se regverdigheid?

My sinne skreeu in weerstand. God is Liefde! Sy liefde hou nie straf in nie, maar vergifnis. Dit was nie God wat Hitler gestraf het nie. Dit was baie duisende ongelowige Russiese soldate wat Berlyn ingeneem het oor die lyke van hul makkers en tienduisende westerse gelowiges wat bomme laat reën het oor die Duitse stede, wat veroorsaak het dat Hitler sy eie lewe geneem het. Dit nadat hy miljoene onskuldige mense hul lewens gekos het.

"Waar was die regverdige God waarvan julle praat toe?" Hy was daar maar het net toegekyk. Die manier waarop mense God se betrokkenheid by gebeure, goed of sleg, plooi om dit vir hul self te regverdig verstom my.

God is liefde. Hy het die mens 'n vrye wil gegee. Die wil om goed of sleg te wees. En as enige mens kies om sleg te wees is dit maar net so. En dan gebeur slegte dinge. 'n Dronk mens ry 'n kind dood. Rowers skiet 'n mens. Mugabe lei mense in armoede in en laat 'n klomp vermoor.

Sleg.

God staan nie reg om jou te straf nie. Jy is net op jou eie sleg.

Dit is jou keuse. Soos dit die keuse van ander slegte mense is.

Geen straf nie. Net Hartseer. God se hartseer, dat jy nie die mooi en die goeie gekies het nie. Net God se hartseer dat Hy nie die mooi saam met jou kan deel nie.

En dit is waar ek toe was, moeg vir die selektiewe keuse van "waarheid" deur mense om jou in 'n vorm te buig wat hulle teen hul eie vrese beskerm. Moeg om te hoor dat alles in die Bybel "waar" is omdat die Bybel sê dit is waar. Die Bybel met al die kontradiksies in. Die Bybel wat vertel van die "wraakgierige", "naywerige", o so menslike God dat vir my duidelik is dat die mens God gevorm het na sy (die mens) se vorm.

Die besluit was maklik om weg te draai van die menslike konstruk, na God.

Net ek en God.

Die liefdevolle een.

Nie die strafsugtige veeleisende een van die kerk nie. Die liefdevolle, geduldige, almagtige een van die heelal.

Ek kon nie aangaan nie. Ek moes begin soek na die waarheid en afskeid neem van die enge denke wat God probeer afruk aarde toe sodat mense Hom kan beheer met hul reëls en hul kontrakbepalings waarmee hulle, deur op 'n sekere wyse op te tree, hom kan dwing om hulle te vergoed daarvoor.

Ek moes uit die kerk bedank. Ek kon nie meer aangaan in die konstruk nie. Daar moet 'n ander waarheid wees.

My geestelike reis het uiteindelik werklik begin.

En vir die eerste maal was ek vry van sonde, vry van skuld.

Dankbaar, tevrede.

Op reis saam met God. Al ontdekkende van die wonderlike skepping waarin God ons geplaas het.

Ek weet nog nie hoe dit als werk nie, maar dit maak my glad nie meer bang nie.

God is onmeetbaar groot en elke dag leer ek om dit meer te waardeer. God is sigbaar in elke ding, elke mens, die skoonheid van die skepping, die musiek en elke ervaring.

Dit is my reis.

Mag ek jou ontmoet so op my reis.

Hendrik Pelser

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za