.

My siening van die godsbegrip en die wyse waarop ek my geloofslewe uitleef

Opgestel en geskryf deur Velde Breytenbach gedurende 2006

.

Vir enige mens is sy geloofsoortuigings 'n baie persoonlike saak en behoort deur andere gerespekteer te word. Ek persoonlik het die afgelope aantal jare met dié netelige saak geworstel en uiteindelik vir myself uitgemaak hoe ek my geloofslewe sien.

Vir redes wat later duidelik sal word is dit vir my belangrik om my siening oor hierdie baie netelige en sensitiewe saak met julle te deel. Laat ek dit egter baie duidelik stel – hierdie is hoegenaamd nie 'n poging om julle van my standpunt te probeer oortuig nie, al wat ek vra is dat julle sal probeer verstaan hoe ék die saak sien en my standpunte in dié verband sal respekteer.

Oor die afgelope aantal jare het ek 'n ernstige en diepgaande probleem ontwikkel met my siening en vertolking van die godsbegrip teenoor dié van die christelike godsdiens en meer bepaald ons kerke se uitlewing en verkondiging daarvan. Vir my is die godsbegrip oneindig groter as dit wat die kerke aan ons voorhou – laat ek verduidelik:

Ongeveer 15,000 miljoen jaar gelede het die Skepping plaasgevind wat deur fisici dwarsoor die wêreld as die Oerknal beskryf word. Dit was 'n ontsaglike en ongelooflik grootse gebeurtenis – so geweldig dat dit na al die miljoene jare vandag nog nie voltooi is nie. Die heelal bars steeds in alle rigtings uiteen om in die proses steeds biljoene galaksies met hul biljoene sterre, planete, mane, komete, gas- en stofwolke en meteoriete te vorm.

Die heelal kan gesien word as 'n tydlose ewigheid sonder enige einde of grense. Op daardie wonderbaarlike oomblik van die Oerknal het die heelal soos 'n blom oopgegaan. Materie wat in die vorm van gasse so geweldig verhit en saamgepers was het ontsaglike groot kernreaksies ontketen wat ongekende hitte en energie vrygestel wat met basiese elemente soos straling, waterstof en helium uiteindelik materie geword het. Op daardie stadium was daar nie eens sprake van die eenvoudigste vorme van lewe nie. Die waterstof en helium wat wel teenwoordig was, was egter verantwoordelik vir die ontstaan van elemente soos stikstof, suurstof, koolstof, kalium, kalsium, fosfor, swawel, yster, silikoon, natrium ens. wat weer boustene was vir latere ontwikkelings.

Ons eie son en planete, waaronder die aarde en sy maan het oor baie miljoene eeue (volgens berekening binne die eerste 12,000 miljoen jaar ná die Oerknal) uit hierdie onstuimige geweld van kernreaksies en kolkende gasmassas ontstaan – dit was duidelik alles behalwe 'n rustige proses. Die vorming van die aarde was 'n proses wat begin het met 'n onstuimige draaikolk van massas sterre en gas wat saamgebind en waarskynlik miljoene jare geneem het vir die aardkors om te konsolideer en uiteindelik te stabiliseer. 'n Baie digte en stomende atmosfeer het die aarde op daardie stadium omring wat gekondenseer het soos die aardkors afgekoel het en geweldig baie reën tot gevolg gehad het wat baie groot pre-historiese riviere en seë gevorm het. Daar was egter nog geen plantegroei nie en die aarde se oppervlak was 'n onherbergsame landskap van berge, vulkane en stomende lawa vloede en uitbarstings.

'n Baie belangrike bydraende faktor in die uiteindelike stabilisering van ons sonnestelsel was die feit dat daar mettertyd 'n bepaalde "orde" tussen ons planete en ander hemelliggame tot stand gekom het waar hulle in vaste bane beland het en óm mekaar begin wentel en ook om hul eie denkbeeldige aste gedraai het. Hierdie vaste patroon en afstand verhoudings wat tussen die hemelliggame tot stand gekom het, het ons seisoene, dag en nag en dus ons tydskedule tot stand gebring.

Ongeveer 12,000 miljoen jaar ná die Oerknal, deur die wisselwerking van al die elemente wat in die heelal teenwoordig was, het die eerste komplekse organiese molekules op 'n gegewe tydstip op onverklaarbare wyse begin verdeel en ewebeelde van hulself gereproduseer. Hierdie molekules was die voorlopers van die eerste lewende selle. Dit is 'n bekende feit dat hierdie molekules soos aminosure, wat 'n voorvereiste vir lewe is vandag nog op natuurlike wyse in die ruimtes tussen die sterre ontstaan – bewyse hiervan is in meteoriete gevind wat die aarde vanaf die buitenste ruimte bereik het.

Ongeveer 600 miljoen jaar gelede het die eerste baie primitiewe lewensvorme in die see ontstaan in die vorm van seegrasse en baie eenvoudige vorme van ongewerwelde diere. 'n Baie, baie klein begin van lewe waarna 'n verder 10 miljoen jaar moes verloop voordat die eerste plante op land hul verskyning maak. Met voedsel op land sou dit logies volg dat van die lewe in die see mettertyd op land sou aanpas en verder ontwikkel – op daardie stadium hoofsaaklik insekte wat "vinnig" in verskeidenheid toegeneem het.

Reptiele was, volgens bewyse wat gevind is, waarskynlik die eerste diere op land en uit hulle het weer warmbloedige spesie soos dinosourusse wat slegs enkele sentimeters lank was hul verskyning gemaak.

Die ontwikkeling van die aarde het baie stadig oor miljoene jare gestrek en verskillende tydperke het mekaar afgewissel wat behels het dat gebiede wat vandag byvoorbeeld as woestyne bekend is, in die vroegste tye moerasse en tropiese woude was en anders om. Daar was ook ystydperke, in streke wat vandag semi-woestyn gebiede is, waar reuse gletser verskuiwings plaasgevind het en waarvan onomstootlike bewyse reeds gevind is.

Ongeveer 200 miljoen jaar gelede het 'n verdere baie belangrike geologiese gebeurtenis op die aarde voorgekom toe daar 'n reuse verskuiwing van die kontinente plaasgevind het. Voor hierdie gebeurtenis het die aarde uit twee super kontinente bestaan nl. 'n noordelike en suidelike deel. In die noordelike deel het onder andere die Britse eilande losgebreek en weggedryf van die res van Europa soos ons dit vandag ken, en in die mees suidelike kontinent, bekend as Gondwanaland het groot verskuiwings plaasgevind om uiteindelik Afrika, Antarktika, Suid-Amerika, Indië en Australië te vorm.

Bewyse van die bestaan van die oorspronklike gemeenskaplike kontinente is oorweldigend. Verskillende lande wat vandag deur duisende kilometers oseane geskei word, toon soortgelyke rotsformasies, klimaatsgeskiedenisse en vorms van fossiellewe. Verder pas die onderdele (verskillende lande) soos 'n reuse legkaart inmekaar.

Die verstommende ooreenkoms wat vandag nog aangetref word in plant- en dierspesies tussen hierdie verskillende lande wat soos hierbo verduidelik, miljoene jare een kontinent gevorm het, is nie alleen bewys dat dit wel so was nie, maar ook dat baie van die spesies wat vandag nog bestaan in hierdie verskillende lande voortleef – dikwels ietwat anders as gevolg van die invloed van evolusie en miljoene jare se verdere ontwikkeling onder verskillende habitat en klimaatsomstandighede. Dink maar aan die verskillende aapspesies, olifante, krokodille, voëls en om slegs enkeles te noem wat in die meeste van hierdie lande voorkom.

Ongeveer 180 miljoen jaar gelede was daar toe eintlik 'n "ontploffing" in die evolusie proses toe talle spesies soos voëls en sommige ander reptiele soliede been, tande, werwels en ledemate begin ontwikkel het. Sommige reptiele het so groot ontwikkel (± 35 ton) dat hulle nie op land kon oorleef nie en hul toevlug tot reuse moerasse geneem het. Hierdie tydperk het ook die tydperk van reuse reptiele en dinosourusse ingelui.

Die volgende belangrike fase was ongeveer 70 miljoen jaar gelede toe baie van die voorouers van ons hedendaagse soogdiere ontstaan het – dit was onder andere die voorvaders van die olifant, renoster, perd, vark, bokspesies, krokodille, skilpaaie ens. Veertig (40) miljoen jaar gelede ontstaan die voorsate van die hedendaagse katte, hond tipes en bere, olifante met kort slurpe en tande in bo- en onderkake, hoefdiere en 'n primitiewe aap, waarskynlik verwant aan die oer voorouers van die mens maak ook sy verskyning. Dit is belangrik om te besef dat vandat die eerste aapagtige spesies begin ontstaan het, ongeveer 250 miljoen jaar verloop het voordat die moderne mens eers ongeveer 1 miljoen jaar gelede identifiseerbaar geraak het.

Soos wat die aarde deur verskillende tydperke gegaan het, het baie van die dinosourus spesies weer verdwyn omdat hulle nie by veranderende omstandighede kon aanpas nie. Ander spesies het egter aangepas en verder teen die evolusie leer opgeklim. Hierdie groep het die voorsate van al ons huidige bekende dierespesies en aapagtiges ingesluit.

As 'n mens na geskiedenis in die evolusieproses kyk, is dit baie belangrik om die tydsverlope waarvan gepraat word in perspektief te probeer sien. 'n Mens is geneig om as jy bv. praat van 200 miljoen jaar en daarná van 201 miljoen jaar, te dink aan een ekstra, maar die een ekstra beteken in werklikheid 'n verdere miljoen jaar wat 'n baie lang tydperk verteenwoordig. Anders gestel – as 'n mens die tydspan vanaf die Oerknal tot op hede bv. as 'n reguit lyn voorstel waar 1 kilometer 1 miljoen jaar sou voorstel sal die lyn 15,000 miljoen kilometer lank wees. So, 'n denkbeeldige lyn sal duisende keer om die aarde kon gaan. 'n Verdere perspektief – een mens se leeftyd al is dit langer as 100 jaar sal nie eens met die kleinste stippeltjie denkbaar op só 'n lyn aangedui kan word nie, m.a.w. 'n mens se leeftyd is nietig in terme van die tydverloop sedert die begin van alles in ons heelal.

Voorgaande is dan in 'n neutedop min of meer soos dinge verloop het sedert daardie onbeskryflike, onmeetbare grootste wonderwerk – die Skepping.

Die Skepping was egter nie 'n eenmalige gebeurtenis nie – dit was net die begin van 'n ongelooflike dinamiese proses wat tot vandag nog nie voltooi is nie. Die inherente krag van die Skepping lê juis in dié werklikheid dat die proses nog nie voltooi is nie en waarskynlik nooit voltooi sal word nie. 'n Verdere baie unieke eienskap van die Skepping is die geweldige potensiaal wat daarin opgesluit is om homself aanhoudend te vernuwe – nie alleen in die heelal nie, maar ook hier by ons op ons eie aarde wat natuurlik deel van die groter prentjie is. Met elke saadjie in die planteryk wat ontkiem om nuwe lewe voort te bring, of elke geboorte van 'n insek, vis, landdier of menslike kind word die Skeppings-wonderwerk voortgesit en hernu en ontstaan nuwe potensiaal wat ontwikkel kan word – m.a.w. 'n ingeboude "volhoubare" kwaliteit.

'n Mens moet egter baie versigtig wees om die Skepping nie nét positief te sien nie, inteendeel soos reeds vroeër verduidelik, het daar met die Skepping 'n bepaalde orde tot stand gekom wat so ver dit ons aarde betref sekere vaste natuurwette en natuurverskynsels impliseer. Juis as gevolg van die dinamika wat onderliggend aan die hele proses is, is toestande op die aarde voortdurend besig om te verander. Dele wat tans met ys oortrek is gaan as gevolg van klimaatsveranderings verander in savanna en beboste gebiede, terwyl ander dele soos Noord-Europa, soos wat tans voorspel word, weer in 'n ysland gaan verander. Die tekens is ook reeds sigbaar dat dele wat vroeër savanna gebiede was, stelselmatig in woestyne verander. Hiérdie veranderinge het weer ander katastrofiese gevolge soos plant-, see- en dierspesies wat sal moet aanpas of uitsterf.

Uit 'n menslike perspektief gesien, is daar ook ander negatiewe gebeurtenisse in die natuur soos geweldige natuurrampe, aardbewings, lawa uitbarstings, orkane, tifone, oorstromings, groot droogtes ens. en verder ook vernietigende ongeneeslike siektes en epidemies, mense en diere wat met onverklaarbare gebreke en siektes gebore word en geen kwaliteit lewe kan lei nie en dikwels vroeg te sterwe kom.

Al voorgaande dinge is deel van die groter prentjie en werklikhede waarmee ons net maar moet saamleef. Miskien is dit goed om in dié verband te besef dat die Skepping nooit plaasgevind het om die mens ter wille te wees nie. Die mens is maar net 'n baie klein onderdeeltjie van die Skepping en kan op niks "aanspraak" maak nie. Aanvaar dinge soos dit is en soos dit kom – dit is die wette van die natuur wat tydens die Skepping vasgelê is en waaraan ons as mense niks kan verander nie.

Hoe dit ook al sy, dit moes van die vroegste tye af vir die mens duidelik gewees het dat daar magte en kragte in hierdie wêreld in werking is waaraan hy blootgestel was en waaroor hy geen beheer gehad het nie, en wat hy ook nie verstaan het nie. Die mens het dus 'n geestelike vastrapplek in sy wêreld begin soek en in die proses is onder andere beelde geskep en aanbid, asook voorvader-geeste. Mettertyd het uit hierdie soeke identifiseerbare geloofspraktyke en norme van aanbidding ontwikkel wat as verskillende gelowe of godsdienste beslag gekry het. Die Christelike geloof was één hiervan wat maar slegs ± 2,000 jaar gelede met die geboorte van Christus ontstaan het.

Die godsdienste van die wêreld, en meer bepaald dan nou die Christelike godsdiens, het myns insiens die godsbegrip, soos dit tans verkondig word, van die begin af verkeerd vertolk. Volgens my beskeie mening was dit absurd en voorbarig om 'n profeet, wat slegs 2,000 jaar gelede geleef het, gelyk te stel aan die Skepping wat 15,000 miljoen jaar terug plaasgevind het. Die Skepping het met geen godsdiens iets te make nie – die twee begrippe staan los van mekaar. Die Bybelskrywers van daardie tyd het eenvoudig nie oor die kennis beskik waaroor ons vandag beskik nie. Hulle het nie 'n idee gehad van hoe die wêreld waarin hulle geleef het, tot stand gekom het nie en dit was bloot "gerieflik" om dit alles toe te skryf aan die werk van 'n superwese, wat hulle genoem het – God.

Dawkins, 'n bekroonde evolusionêre bioloog van Oxford het pas 'n boek The God Delusion gepubliseer waarin hy die godsdienste van die wêreld die stryd aansê. Hy maak onder andere die stelling dat die godsdienste van die wêreld direk verantwoordelik gehou kan word vir die gemors waarin die wêreld hom tans bevind. As voorbeelde in dié verband noem hy die katastrofiese gevolge van die 9/11 tragedie van twee godsdienste wat in konflik teenoor mekaar 'n ontsaglike ramp veroorsaak en elkeen van hulle probeer die wêreld oortuig van die korrektheid daarvan in terme van die een groep se geloofsoortuiging terwyl die ander groep dit volgens sy oortuigings veroordeel en verwerp.

Dawkins sê hierdie is maar een voorbeeld, maar daar is daagliks oor die wêreld afgryslike gebeurtenisse wat plaasvind onder die dekmantel van een of ander godsdiens wat dit regverdig. Die hedendaagse godsdienste van die wêreld is parasities van aard en nadelig vir die mensdom. Die God van hierdie tipe godsdiens bestaan nie. Volgens hierdie godsdienste is hierdie God 'n toeganklike (jy kan met hom kommunikeer) manlike persoonlikheid wat homself aan 'n paar uitverkorenes openbaar, die heelal volgens 'n meesterplan geskep het en steeds onderhou en gereeld wonderwerke tot voordeel van sy volgelinge pleeg. Dawkins sê dit is onsin, verkeerd en misleidend en dié God word soos 'n afgod benader en moet vernietig word want hy bestaan nie. Die vraag wat aanhangers van hierdie godsdienste hulself moet afvra is – waar sou hierdie God vandaan kon kom?

Indien jy dan so 'n godsbeeld aan jou kinders oordra, striem dit hul intellektuele ontwikkeling. Dit is as gevolg van mense se tradisionele godsdienste dat die oerknal en evolusie nie behoorlike plek in ons skoolsillabusse inneem nie. Om hierdie kennis van kinders te weerhou is 'n vorm van kindermishandeling.

Steven Weinberg, 'n nobel pryswenner in fisika in 1979, het onder andere gesê: "Die kerk is ongelukkig vol tragiese mistastings, oordeelsfoute, onbuigsame dogmas en godsdiensleiers het fanatiese veldtogte gevoer wat tot oneindige smart en verwoesting gelei het. Deur die eeue het godsdiensfanatici in die naam van godsdiens, onvergeeflike misdade gepleeg."

Gideon Joubert in sy boek Die Groot Gedagte sê: "Teoloë, en gewone sterflinge worstel al eeue met die probleem van die pyn en lyding in 'n tranedal wat veronderstel is om deur 'n liefdevolle God regeer te word. As daar 'n God is wat spesiale planne met ons het, het Hy baie moeite gedoen om sy besorgdheid oor ons te verberg. Dit lyk na swak maniere, selfs heiligskennis, om tot so 'n God te bid."

In die naam van God het miljoene op slagvelde gesterf en is die grond van vastelande met die bloed van goedgelowiges deurdrenk. Winston Churchill se woorde: "We are fighting a noble and a courageous war", weerklink nou nog in ons ore – asof die slagting van mense en die verwoesting van stede edel kan wees. Miljoene wit kruise oor vlaktes en dale van baie lande is stille getuienis van goeie Christene se tragiese dwalings. Duitsers en geallieerdes, Boere, Britte, broers teen broers het in burgeroorloë teen mekaar opgeruk nadat hulle in die oggend die Bybel gelees en ernstig tot dieselfde God in die naam van Christus gebid het. Die motiverings was altyd edel. Die resultate – slagting en vernietiging. Wat is bereik? Gister se vyande is vandag se bloedbroers – sinneloos!

Voorgaande is hoegenaamd nie bedoel as die "alpha en omega" waarop 'n mens jou geloofslewe of geloofsoortuigings moet bou nie. Ek dink net dit is baie belangrik dat 'n mens die wêreld waarin jy leef moet probeer ken en evalueer. As 'n mens nie kennis neem van die daaglikse aktualiteite van die wêreld nie loop jy die risiko om vinnig tred te verloor. Indien jy dus nie gereeld aan koerante, nuusberigte en geskrifte van gesaghebbendes op verskeie gebiede blootgestel word nie, dit bestudeer en beoordeel nie weet jy eenvoudig nie wat in jou wêreld aangaan nie en lewe jy in werklikheid in 'n "fools paradise" – jy dink alles is wel maar in werklikheid val die wêreld om jou uitmekaar.

In hierdie dokument het ek probeer verduidelik dat daar 'n baie belangrike gemeenskaplikheid bestaan wat alle mense van die wêreld in 'n eenheid saambind en waar die mens geen keuses kan uitoefen of aan kan verander nie – en dit is die Skepping. Wie of wat ook al verantwoordelik was / is vir die Skepping het wel verskeidenheid geskep nl. mense diere, plante, ens. Maar daar het nêrens 'n godsdiens saam met die skepping tot stand gekom nie. Elke wese wat sy bestaan aan die Skepping te danke het is gelyk. In die diere- en planteryk het daar as gevolg van inherente aangebore kwaliteite, instink ens sekere rangordes tot stand gekom wat maak dat die spesies in harmonie met hulself en die natuur leef.

Dit is egter van die uiterste belang om te besef dat dit wat die Skepping tot stand gebring het en dit wat met verloop van die evolusieproses ontwikkel het niks met godsdienste te make het nie. Met ander woorde geen godsdiens kan die Skepping vir homself toe-eien nie want dit is vér verhewe bo enige godsdiens.

Die baie bekende Prof. Nic Wiehahn het kort voor sy afsterwe verlede jaar 'n baie kosbare boekie Lewenswaardes geskryf. Volgens hom ontvang elke mens sewe lewensgawes nl. die lewe, liefde, een of ander vorm van geloof, ouers, gesondheid, talente en 'n eie besondere uniekheid of individualiteit.

Hierdie lewensgawes wat 'n mens ontvang het vorm die grondslag van sewe baie belangrike lewenswaardes waarvolgens 'n mens sy lewe moet orden nl. menslikheid, eerlikheid, beskeidenheid, ywer, deug, sindelikheid (netheid) en selfdissipline en selfbeheersing.

Ek behandel graag elk van die lewenswaardes net kortliks: –

1.  Menslikheid

Baie mense beskou menslikheid of mensliewendheid as 'n heilige opdrag. Die essensie van menslikheid is om spontaan te gee, te help, te ag, óm te gee vir, die minste te wees teenoor, te respekteer te dien en offervaardig te wees teenoor andere – kortom naasteliefde. Naasteliefde het heelwat kenmerke maar die mooiste vir my is dat naasteliefde wat gegee word, nie teruggegee kan word nie. Die gewer van naasteliefde word, nie armer as hy gee nie, maar inderdaad word hy in baie opsigte ryker. Verdere fasette of eienskappe van naasteliefde is onder andere grootmoedigheid, wysheid, vergewensgesindheid, vredeliewendheid, begenadiging, ruimhartigheid ens.

2.  Eerlikheid

Die betekenis van eerlikheid is die waarheid, sonder bedrog of valsheid, opregtheid, eerbaarheid, integriteit, getrouheid, openhartigheid, deursigtigheid, lojaliteit en egtheid. Baie skrywers is dit eens dat slegs werklik eerlike mense waarlik vry kan wees. 'n Mens se gewete is 'n ingeboude brandwag teen oneerlikheid en afhangende van hoe ons reageer op die stem van ons gewete bly ons skoon of raak ons besoedel. Eerlikheid is nie 'n reg of 'n plig nie – dit is net om so te wees en so te lewe. Eerlikheid word dikwels met kindwees vereenselwig want jy word daarmee gebore. Ongelukkig soos jy groter en ouer word, word jy dikwels beïnvloed om oneerlik te word – dit is dus 'n versoeking waarteen 'n mens voortdurend moet waak.

3.  Beskeidenheid

Baie skrywers beskou beskeidenheid as die mens se mooiste lewenswaarde en kan beskryf word as nederig, terughoudend, ingetoë, aards, bedaard, ewewigtig, beleefd, bedeesd, eenvoud ens. – kortom die moeder van alle deugde.

Beskeidenheid word dikwels vertolk as 'n swakheid maar in opregte beskeidenheid skuil daar dikwels onbewustelike krag, leierskap en grootsheid. Opreg beskeie mense is nie voor op die wa, grootdoenerig of baie praterig nie maar hul sterk punte kom dikwels na vore in tye van spanning of krisis.

Baie skrywers wys daarop dat rykdom, welvaart, voorspoed en oorvloed dikwels 'n negatiewe invloed op beskeidenheid het. Dan kom die sewe dodelikste sondes dikwels na vore, nl. hoogmoed, jaloesie, toorn gierigheid, gulsigheid, luiheid en wellustigheid.

Om beskeie te wees beteken nie om minderwaardig te wees nie. Ons word gebore met seker talente en deugde wat ons van mekaar onderskei en elke mens behoort hierdie aangebore kwaliteite te ontwikkel en aan te wend om vir jou 'n eervolle plek in die samelewing te skep.

4.  Ywerigheid

Ywerigheid vind beslag in werkywer, fluksheid, werkwilligheid, vlytigheid, werklustigheid, pligsgetrouheid, verantwoordelikheidsin, lewendigheid, betrokkenheid, om dinamies te wees en ondernemingsgees. Om te kan werk is positief, heilsaam, reddend en bevrydend en daarom is die leuse dat 'n mens "leef om te werk" as 'n geboortereg beskou moet word – dit is 'n heilige en edele opdrag. 'n Mens is tot enigiets in staat as hy net werklik wil!

5.  Kuisheid en Reinheid

Hierdie lewenswaarde kry beslag in sedelikheid, goedheid, nougesetheid, edelmoedigheid, deugsaamheid, eerbaarheid, welvoeglikheid, moraliteit ens. Dit vorm ook die grondslag vir goeie maniere en beskaafdheid in spraak en optrede en moet voldoen aan die norme wat aan verfynde, wel opgevoede en fatsoenlike mense gestel word.

Hierdie lewenswaarde is uiters moeilik om uit te leef – ons gebruik maklik vuil taal, skinder maklik van mekaar, beledig, verneder en verkleineer en benadeel mekaar. Hierdie is dus 'n lewenswaarde waaraan ons voortdurend moet werk en op konsentreer.

6.  Sindelikheid en netheid

Sindelikheid beteken om skoon, rein en higiënies op jou liggaam en omgewing te wees, terwyl netheid dui op voorkoms en omgewing wat georden, georganiseerd en gedissiplineerd moet wees.

Sindelikheid weerspieël 'n mens se karakter en ouers moet sindelikheid en netheid reeds van moedersknie af aan kinders leer en 'n voorbeeld stel want sindelikheid en netheid is boustene vir 'n sterk karakter en persoonlikheid.

Sindelikheid, netheid en skoonwees van die omgewing en in die natuur begin by die individu. Ons is aandadig aan die vernietiging van ons natuur as ons byvoorbeeld 'n sigaret stompie, stukke kougom, leë papier- en plastiekhouers, leë blikke en bottles op straat, in die veld en langs ons paaie by motorvensters uitgooi, of net laat rondlê sonder om op te ruim en skoon te maak. Wanneer die natuurlewe verdwyn en ons riviere besoedel en vergiftig is, sal ons ontdek dat geld en materiële voorspoed nie vir ons suurstof sal kan gee, en nie ons dors sal kan les nie.

7.  Selfdissipline en selfbeheersing

Dit is om altyd korrek op te tree, jou verpligtinge na te kom en stiptelik en korrek te handel. 'n Persoon wat só lewe is ordentlik teenoor homself en sy omgewing, beheersd, beskaafd in sy reaksies teenoor sy medemens. Dit moet 'n spontane optrede wees want as dit gedwonge is, is dit oneerlik.

Beskaafde mense is goed gemanierd en goeie maniere spreek uit jou gedrag teenoor andere. Goeie maniere is ook 'n weerspieëling van die respek wat jy vir jouself het – goeie maniere en kennis maak van jou 'n edel mens. Indien jy nie respek en agting vir jouself het nie, moenie verwag dat ander dit vir jou sal hê nie – respek en agting van ander moet verdien word.

Om 100% streng volgens hierdie waardes te lewe is onmoontlik want ons is almal mense met inherente tekortkominge. Waaroor ek egter geen twyfel het nie is dat indien jy hierdie lewenswaardes as raamwerk gebruik om jou spiritualiteit of geestelike lewe te orden en uit te leef, sal jy jou roeping as mens kan nakom. Dit geld vir alle mense, ongeag hul godsdiensoortuigings, met ander woorde die geloof of kerk waaraan hulle behoort verander niks aan hul verantwoordelikheid om die lewenswaardes uit te leef nie.

Lewenswaardes is ook die boustene van die spiritualiteit wat elke mens met hom saamdra deur die lewe. Dit vorm jou leefstyl, bepaal die norme en standaarde waarvolgens jy lewe en bepaal jou verhouding met jou medemens. As jy hierdie spiritualiteit werklik uitleef besef jy watter inherente krag daar in jou opgesluit lê en dat jy wondere kan verrig indien jy dit doelgerig en met oorgawe aanwend.

Die inhoud van hierdie dokument moet gesien word as die agtergrond vir my siening en uitlewing van my geloofslewe in die toekoms.

Die laaste twintig jaar van my lewe was ek baie nóú betrokke by verskillende organisasies, verenigings, skole, politiek en ook die kerk. Gedurende hierdie tyd is al hierdie instansies en ook die leiers wat daarby betrokke was "toegegooi" onder baie ernstige opregte gebede deur erkende en gerekende groot Christene. Van al hierdie gebede het daar volgens my beskeie mening net mooi niks gerealiseer nie. Van die seën wat hulle toegebid was het niks gekom nie, trouens die meeste van hierdie instansies het tot niet gegaan en van die individue wat daarby betrokke was het in die vergetelheid verdwyn.

Hierdie fenomene het my laat wonder of gebed nie dalk "verantwoordelik" was vir baie van die ellendes van ons tyd nie. Dit het mos maklik geword om net 'n roerende gebed te lewer en dan moes die saak mos soos 'n wonderwerk homself oplos, of regkom. Die gebed het, met ander woorde, 'n maklike uitweg geword in plaas daarvan om probleme daadwerklik aan te pak en reg te maak by wyse van optrede en harde werk.

In my persoonlike lewe het ek dieselfde ontnugtering ondervind. Vanaf die laat 80's toe erge droogtes ons in Noord-Natal geteister het en ek noodgedwonge handdoek moes ingooi met die boerdery en daarna die uitmergelende stres om iets te vind hoe om kop bo water te hou en my gesondheidstoestand wat op 'n laagtepunt was, het ek breekpunt bereik. Gebede het ek gevoel bring my nêrens. Eers toe ek besef nugter beplanning en baie harde werk is die enigste uitweg, het dinge beter begin gaan. Ek was op daardie stadium gelukkig ook in die wildtuin en baie blootgestel aan die vrede en inspirasie wat ek uit die natuur kon put. Ek kon my kop skoon kry en het stelselmatig weer rigting begin kry. Die wonderlike besef dat elke plant en dier met inherente krag en potensiaal toegerus is om nie maar net te oorleef nie, maar ook die voortbestaan van die spesie te verseker, en dat die mens ook met hierdie aangebore kwaliteite geskape is – jy moet dit net besef en volgens jou volle potensiaal begin leef en doen.

Dít is wat die Skepping van jou verwag!

Velde Breytenbach

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.