.

My bespiegelinge as “Sekte-leier”

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Julie 2017

.

Ek probeer al die afgelope paar jaar om nie meer by debatte oor God, godsdiens en die hiernamaals ens, betrokke te raak nie. Hoofsaaklik omdat die tipe gesprekke meestal emosioneel gelaai is en sodoende nie werklik vorder nie.

Maar soms gebeur daar iets en dan kan ek nie anders as om myself weer te waag in die emosionele rondomtalie gesprekke. 'n Persoon wat baie sterk voel dat ek die oorsaak is van heelwat mense se verlorenheid het my nou weer in die week aangevat. Die persoon sê dat Renaissance gemeenskap 'n gevaarlike sekte is en geen sinvolle hoop of rigting vir mense bied nie.

So, toe antwoord ek die persoon soos volg:
God, as hy/sy bestaan, is per definisie transendent (gans anders). Godsdiens is nie.
God word gesien as volmaak. Godsdiens nie.
Die bestaan van God is oop vir debat. Die bestaan van godsdienste is 'n voldonge feit.

Godsdiens is tog duidelik 'n menslike skepping. 'n Behoefte vervulling. 'n Idee konstruk wat ontstaan het toe die mens bewus geword het van sy sterflikheid, sy einde.
Hierdie einde het soveel vrees en angs by die mens gewek dat daar eenvoudig net 'n konstruksie van lewe na die dood geskep moes word. Idees van reïnkarnasie, ewige lewe tot 'n detail uitgewerkte hiernamaals het gevolg.

En so het vele godsdienstige spekulasies oor wat gebeur die dag as ons ons laaste asem uitblaas, 'n staanplek in die mens se psige gevind.

Dit het van die vroegste tye af troos gebring. En die hoofagente van hierdie troos, godsdienste. Daarmee saam natuurlik ook 'n duur prys – onvoorwaardelike lojaliteit en gehoorsaamheid.

Want wie sal nou willens en wetens sy kans op ewige lewe verspeel as die godsdiens waarin hy of sy hulle bevind dalk net die sleutel hou tot die poorte van 'n lewe na die dood. Zoroastrianisme, wat reeds 1000 v.C. ontstaan het, was van die eerstes wat begin konstrueer het aan 'n hemel en hel konstruk. Hulle het selfs so ver gegaan om te sê daar is ook 'n tussen-in-hel, waar alle siele eers gesuiwer moes word voordat die paradys beërwe kon word. 'n Tipe wagkamer.

Hierdie leerstellings oor die lewe na die dood is net so oorgeneem deur o.a. die Christene en Islam. Die Rooms-Katolieke Kerk het selfs geleer van die vagevuur, 'n tussenin hel, wat deur die lewendes met geld afgekoop kon word om so te verseker geliefdes haal darem later die hemel.

Net so is die tradisionele Christelike verstaan van hemel en hel, hiermee saam verweef. En alles natuurlik vanuit die tyd se verstaan van die werklikheid.
Meeste godsdienste is dus nog in hulle kerk gebou op 'n antieke wêreldbeeld, die wêreldbeeld wat gegeld het tydens hulle ontstaans-geskiedenis.

'n Wêreldbeeld waar die kosmos uit drie verdiepings bestaan (hemel, aarde en onderwêreld) en die mens uit twee dele ('n verganklike liggaam en 'n onsterflike siel.)
Daarom is dit heel logies dat lewe na die dood gesien is as 'n onsterflike siel wat opgaan na die hemel of 'n afgaan na die hel. 'n Verstaan wat gekry is by die antieke Egiptenare se oortuigings.

Hulle het geglo dat 'n boot die dooies se siele oor die Nylrivier sou neem na die Koninkryk van die Dood. Daar aangekom sal sekere vrae gevra word en op grond van die reg of verkeerde antwoorde sou die ewige bestemming ingegaan word of nie.

Hierdie geloof in 'n lewe na die dood wat godsdiens al eeue vir die mensdom bring is (natuurlik) net soos die bestaan van God, 'n onbewysbare konstruk.
Hierdie konstruk rondom wat gebeur nadat ons sterwe, is in die geval van godsdiens 'n fisiese plek van ewige lewe, beloning of straf. Dit bring soveel gemoedsrus dat mense blindelings daaraan vashou. Want dit bring 'n gevoel van beheer. Ons weet nou wat om te doen en nie te doen om hierdie ewige lewe te beërwe.

Ek koop egter nie meer in op die antieke, voor-wetenskaplike wêreldbeeld van byvoorbeeld die Bybel en die Koran nie. Hemel en hel is vir my slegs metafore om te praat oor die transendente, net so reïnkarnasie ook.

Ek persoonlik aanvaar my sterflikheid en werk hard daaraan om die idee rondom die Groot Niks of 'terugkeer na vanwaar ek kom,' te aanvaar.
Ja, die lewe hier en nou is vir my veel belangriker as 'n opgemaakte idee van die hemel, en hoe om dáár te kom. En sodoende kry Lewe in al sy fasette weer bewustelike betekenis vir my. Die lewe self word weer heilig vir my.

Omdat "hy of sy is in die hemel" by die afsterwe van 'n geliefde soos 'n eggenoot, kind, ouer of nabye vriend, ook nie meer vir my werk nie, moet ek nou eerlik worstel met die pyn van verlies.

Ek kan nie meer valse troos vind in "die mooiste blommetjie word gepluk vir die tuin van God" nie. Ek het nog steeds die vrae van hoekom nou? Kon ek nie meer gedoen het nie? Kon dit nie anders gewees het nie? Hoekom soveel lyding?
Die verskil is net nou, dat ek die dood as 'n natuurlike deel van my menslike bestaan aanvaar. Dit maak egter nie die pyn en hartseer minder nie. Ek moet soos enige ander nog steeds deur die pyn werk van die verlies van iemand naby my.

Alles in ag genome maak dit vir my nog steeds meer sin om die konstrukte van hemel en hel, soos dit voorkom by die Christene en Moslems, metafories te verstaan.
Daarom is die hel vir my 'n metafoor vir verwerping, pyn, verlies of ego wat my lewe in die hier en nou versuur. En enige emosionele keuses wat 'n mens maak vanuit vrees, is tog hel.

Die hemel daarteenoor is 'n lewe waar elke keuse vanuit liefde gemaak word. Die goddelike is vir my liefde. Dus is 'n lewe vanuit liefde – hemel!
Om dood te wees is dus nie vir my 'n realiteit terwyl ek lewe nie en die lewe is geen realiteit meer vir die wat dood is nie. Daarom, om die dood te vrees is volgens my om te sterf voor jy sterf. Nee, die lewe is bedoel om geleef te word.
Miskien is dit tyd dat ons die raad van die mistikus Hafiz van Persië begin volg: "The great religions are the ships, Poets the life boats. Every sane person I know has jumped overboard."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.