Mite? Mite. Mite!

Deur Prof. Diek van Wyk op 1 Februarie 2012

Hierdie bydrae van Prof. Diek van Wyk het oorspronklik in die elektroniese nuusbrief Markplein (November 2011) verskyn.
Markplein staan onder beheer van Diek van Wyk en Coenie Nolte.

"Both dreams and myths are important communications from ourselves to ourselves. If we do not understand the language in which they are written, we miss a great deal of what we know and tell ourselves in those hours when we are not busy manipulating the outside world." Erich Fromm

Renosterstropery is die afgelope tyd telkens in die nuus. Verskeie oplossings word aan die hand gedoen om dié euwel te bestry. Kenners is dit egter eens dat dit nie uitgeroei sal word voordat, soos dit gestel word, die mite dat renosterhorings medisinale waarde het die nek ingeslaan is nie.

Dit wil voorkom of elkeen iets anders onder mite verstaan. Dit is dus miskien goed om die begrip mite te herbesoek en klaarheid daaroor te probeer vind. Want wanneer mens mooi na hierdie voorbeelde kyk – of enige ander wat jy verkies – dan blyk dit dat jy met 'n spektrum van betekenis te doen het wat gerieflikheidshalwe in drie verdeel kan word – wat in die titel van hierdie stuk as Mite? Mite. Mite! weergegee word.

Die voorbeeld van renosterstropery verteenwoordig die een eindstuk van die drieluik. Hiervolgens is 'n mite misleiding, onsin, onwaarheid. Renosterhorings het geen medisinale waarde nie en dit is ook nie 'n seksopkikker nie uit watter hoek of vanuit watter gesigspunt jy dit ook al bekyk. Daarom word dit as 'n mite, as onsin, beskou.

Die begrip mite het egter 'n tweede betekenis, die middelstuk van die drieluik. Dit word naamlik ook gebruik vir wat in Grieks as mythos bekend staan. Op die gevaar af dat ek die voor hand liggende opdis, wil ek tog verduidelik waaroor mythos, d.w.s. mite in hierdie sin, gaan.

Karen Armstrong wys in haar boek The Battle for God daarop dat premoderne samelewings twee maniere van dink, praat en ken ontwikkel het, wat geleerdes onderskeidelik mythos en logos noem. Dié twee bestaanswyses was onderling aanvullend. Elkeen het sy terrein van bevoegdheid gehad en beide was as essensieel beskou.

Mythos het te doen gehad met dit wat as tydloos en konstant in menslike bestaan beskou is. Dit was 'n kyk op die oorsprong van lewe, die grondslae van kultuur en die diepste vlakke van die menslike gees. Dit was nie gemoeid met praktiese aangeleenthede nie en dit was nie bedoel om letterlik verstaan te word of om empiries demonstreerbaar of bewysbaar te wees nie. Dit het aan mense die konteks gegee wat sin gemaak het van hulle alledaagse lewe, dit het hulle aandag op die ewige en die universele gefokus. Dit was gewortel in die onderbewuste en het 'n beroep gedoen op intuïsie, min of meer op dieselfde wyse as waarop musiek, poësie en kuns tot die mens spreek. Die primêre vervoermiddel van mythos was verhale wat innerlik, onder die oppervlak, verby die uiterlike besonderhede daarvan, geldigheid gehad het, verhale wat uit en uit simbolies, metafories was.

Logos was ewe belangrik vir die premoderne mens. Dit was die rasionele, praktiese, pragmatiese denkwyse wat mense in staat gestel het om effektief in die wêreld te funksioneer. Anders as mythos, moes dit met eksterne werklikhede ooreenkom as dit effektief wou wees. In ons tyd het logos uitgegroei tot moderne wetenskap en tegnologie.

Om die rol van mythos te illustreer, kan die voorbeeld van Isaac Luria (1534-72) se skeppingsmite, soos dit in Armstrong se boek weergegee word, aangehaal word. Luria het geleef in 'n tyd toe Jode 'n eksistensiële krisis belewe het. Net meer as 'n halwe eeu tevore is hulle deur Ferdinand en Isabella voor die keuse gestel om Spanje te verlaat of hulle tot die Christendom te bekeer. Dié wat pad gegee het se lewens is totaal omver gegooi en van alle sekerhede gestroop. Dié wat agtergebly het se wêreld het eweneens inmekaar getuimel, omdat alles wat vir hulle bekend en vertroud was ineens drasties moes verander. Elders in Europa is daar wreed teen Jode gediskrimineer en is hulle op talle maniere vervolg. Dit was 'n baie donker uur in hulle geskiedenis.

Luria, wat 'n raak aanvoeling vir die psigiese gesteldheid van sy volksgenote gehad het, het 'n nuwe skeppingsverhaal verkondig. Daarvolgens het Ein Sof, die ontoeganklike Goddelikheid, in 'n gewelddadige proses van ontploffings en rampe in Homself terug getrek om plek te maak vir die wêreld. Ein Sof het die vakuum wat Hy geskep het, probeer vul met heilige lig, maar die "pype" waardeur dit moes vloei, het gebreek en vonke daarvan het geval op die woesterny wat nie God is nie. Sommige vonke het terug gekeer na Hom maar ander was vasgevang in die God-lose wêreld. Hierna het die Shekinah, die goddelike teenwoordigheid op aarde, in voortdurende ballingskap in die wêreld rondgedwaal terwyl hy onophoudelik verlang daarna om met die Goddelike herenig te word.

Luria se skeppingsmite het 'n geweldige impak op Jode in Europa gehad. Dat dit strydig was met die skeppingsverhaal van die Bybel, was nie vir hulle ter sake nie. Wat ter sake was, was dat dit betekenis aan hulle lewens gegee het; dit het hulle in staat gestel om hul lot te verstaan en te aanvaar. Dit het vir hulle gesê dat die heelal, en nie net hulle omstandighede nie, gewelddadig ontstaan het en dat ballingskap ingeskryf is in die gronde van bestaan, dat dit 'n fundamentele bestaanswet is. Dit het egter ook 'n positiewe boodskap ingehou: God treur nes hulle; sy teenwoordigheid dwaal net soos hulle troosteloos op aarde rond. Maar daar is ook vonke van sy lig in al die chaos. Dié mite het hulle lewens draaglik en selfs blymoedig gemaak. Dit het hulle psige aangespreek.

As jy volgelinge van Luria sou gevra het of hulle glo dat die heelal werklik so ontstaan het, sou hulle nie geweet het waarvan jy praat nie. Dít is die wese van mythos. Onder die oppervlak van die skynbaar bisarre verhaal het dit geldigheid, waarheid, vir sy volgelinge gehad.

Die begrip tweede taal word gebruik om te verduidelik hoedat sekere dele van die Bybel, insluitende die skeppingsverhaal, verstaan moet word. Tweede taal is die stroombedding van mite, of dan mythos. Dit vra van die leser die vermoë om te begryp dat "er niet staat wat er staat". Tweede taal is uit en uit metafoor. Dit stel nie; dit vertel verhale, dit gebruik beelde, dit suggereer.

Marcus Borg vertel die storie van Rooihuid wat altyd van sy stam se skeppingsverhaal gesê het hy weet nie of dit werklik so gebeur het nie, hy weet net dat wat hy vertel waar is. Dit is waaroor mite in die tweede betekenis gaan: nie die waarheid van logos nie, maar die waarheid van mythos. Dit was ook die waarheid van Luria vir die Jode van sy tyd; dit het betekenis aan hulle lewens terug gegee.

Waarom het mite dan vir ons die meer algemene betekenis van onwaarheid gekry? Die moderne mens se wêreldbeeld is in 'n hoë mate verwetenskaplik. Anders gestel: logos het mythos grootliks verdring. Die oppervlakbetekenis van die premoderne verhaal is gevolglik van sy dieperliggende betekenis losgemaak; die eerste taal van logos het by die tweede taal van mythos oorgeneem en metafoor het feit en stelling geword. In die proses is die mantel van onsin om mite gehang.

Waar kom ek dan aan my stelling dat alle mense in, deur, vanuit en danksy mites leef? Dit is slegs 'n voortsetting van die mythos-begrip. Ek wil dit so verduidelik.

Elke mens het dit nodig om die werklikheid vir haar/hom sinvol te interpreteer om dit leefbaar te maak – soos mythos dit vir premoderne mense gedoen het. Dié interpretasie is 'n komplekse ver-beeld-ing van die werklikheid waartoe talle faktore bydra en waarin talle faktore 'n rol speel. Ver-beeld-ing nie in die sin van 'n visuele voorstelling nie, maar van 'n hoofsaaklik geïnternaliseerde greep op die werklikheid wat andersins onbegryplik sou wees. Vir baie mense is religie 'n kragtige komponent van dié interpretasie; dit is vir hulle 'n betekenisdinamo, 'n singewende bron. Hierdie omvattende, deels bewuste maar grootliks geïnternaliseerde, ver-beeld-ing en sy deelkomponente noem ek mites. Nie mites in die negatiewe betekenis van onsin nie, maar mites in die mythos-betekenis: dit wat vir die individu sin en betekenis aan sy/haar bestaan gee.

Diegene wat religie verwerp en wat dink dat die wetenskap die enigste waarheidsarbiter is en dat religie mite in die sin van onwaarheid is, leef, paradoksaal genoeg, ook met mites. Vir hulle is die wetenskap, of een of ander sekulêre beginsel of sisteem, die betekenisdinamo, die singewende bron. Of hulle sit met 'n diffuse, ongeartikuleerde ver-beeld-ing van die werklikheid waaruit hulle sin en betekenis van die werklikheid put. Dit is hulle mites.

Hierdie siening is 'n aanvaarding en voortsetting van die logos-mythos-beginsel. Dit aanvaar dat logos wetenskap en tegnologie geword het en dit aanvaar dat mythos sy metaforiese bodem verloor het. Anders gestel: Dit gaan uit daarvan dat logos nou wetenskap en tegnologie is en dat mite verskraal is tot dit waarna die metaforiese verhale van weleer met hul metaforiese lading wou wys. Ek kan dit ook só stel: Mite in die betekenis van mythos, d.w.s. oppervlakteks gekoppel aan diepliggende betekenis en/of waarheid, het geboorte gegee aan 'n nageslag van twee oneenderse nakomelinge, t.w. oppervlakteks as onsin sonder waarheid en diepliggende betekenis sonder ondersteunende oppervlakteks.

Dus: Mite? Ja, mite. Beslis, mite!

Diek van Wyk

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za