Manifes van ‘n lafaard

Deur Klasie (skuilnaam) op 1 Januarie 2012

As my amper sestig jaar van hier rond wees my enige bitter lesse geleer het, sal ek hierdie twee wil uitsonder:

Hoekom dit my meer as 'n halfeeu moes neem om te besef dat ek uit die juk van godsdiens kon ontsnap, kan net wees omdat ek nie die skerpste potlood in die boksie is nie. Ter strafversagting kan ek dalk pleit dat ek in 'n baie godsdienstige huis grootgeword het met gereelde huisgodsdiens, tafelgebede, 'n Broederbond-pa wat kategese-leier en ouderling was en die gewone sagte indoktrinasie van 'n Christelik-Nasionale opvoeding. Niks besonders daar nie.

Op universiteit het ek redelik veilig geestelik rondgekarring, tot ek in my tweede jaar met 'n bêng op 'n kerkkamp 'bekeer' geraak het. Ek is terug van die kamp af met 'n brandende besieling om al wat Tukkie is te red, tot die verwondering van my eie gesin en vrinne. Ek moes sekerlik 'n groot klomp van hulle destyds die harnas in gejaag het.

Dat my nuwe, sterk oortuigings soms in konflik was met die inhoud van my strakke akademiese studies, het my nie veel gepla nie. Sien opmerking bo oor my relatiewe slimheid. Die duiwel was 'n werklikheid; demone was nare goed; ateïste was, soos kommuniste, uit die bose en uit daarop om die heelal te bevuil en ons koffie te laat koud word.

My bekering het my, billikheidshalwe, in kontak gebring met 'n nuwe leefwêreld van geestelike euforie, van blinde vertroue en warm saamwees. Ek het my met soveel oorgawe oorgegee aan die kerklewe, kore en operettes dat my studies 'n pynlike en knorrige tweede plek ingeneem het.

Dit het ook die vroeë jare van my loopbaan ingekleur met 'n noue verbondenheid aan die kerklewe. Ek was jeugleier, koorlid, diaken, ouderling en, mag ek erken, uiteindelik selfs 'n trotse lid van die Afrikaner-Broederbond. Gelukkig het laasgenoemde my na 'n paar jaar begin verveel en het ek my daarvan verskoon.

Intussen het die lewe aangegaan. Ek is gestraf met 'n bra soekende gees en kon nooit veel langer as so vier jaar by een plek aanhou werk nie. In die proses het ek 'n paar finansiële knoue gekry, maar ek was geseënd met 'n pragtige gesin, ek kon wyd rondreis en het baie prettige plekke te siene gekry.

Presies wanneer en hoe dinge begin verander het, kan ek nie met sekerheid sê nie. Ek onthou nog hoe ek tog, nie te lank gelede nie, ernstig en met oorgawe gebid het vir die verloop van 'n bepaalde saak. Miskien het die twyfel begin posvat toe ek so in my dertigs die oortuiging begin hou het dat God wel op 'n manier in beheer is, maar dat hy die wêreld sy gang laat gaan en ons toelaat om ons eie keuses uit te voer. Natuurwette bly dus geld en bepaal die verloop van rampe, van ellendes en swaarkry. Shit happens.

Eers hier in my vyftigs kon ek regtig nie meer vrede maak met alles nie. Ek kon myself nie meer versoen nie met 'n god wat seer as gereedskap gebruik; wat die gebeur van goeie dinge aan homself toeëien al gebeur dit ook met ongelowiges; wat aandring op lof, eer en gehoorsaamheid van juis die mense wat hy so feilbaar geskep het. En so aan en so aan.

Ironies genoeg was dit ook juis 'n begeerte om die Bybel beter te leer ken wat tot die twyfel bygedra het: 'n pragtige gekleurde boek, "What the Bible is all about" het uitgespel hoedat die verhale in die Ou Testament ook in ander gelowe weerspieël word en deel vorm van 'n erfenis van mites en verhale wat die mensdom oor die verloop van verskeie eeue met hom saamgesleep het. Voeg daarby die dosyne televisieprogramme oor evolusie en die ontstaan van die heelal, wat my laat besef het dat daar 'n gesonde, logiese alternatiewe verklaring van alles is, wat nie vereis dat ek net blindweg glo sonder om te bevraagteken nie. 'n Legio van bewyse kan nie verontagsaam word nie, en toe die skeppingsverhaal waai, was baie van die ander Bybelverhale natuurlik ook onder verdenking.

En hier staan ek nou, ek kan nie anders nie.

Dis nou waar episode twee begin, die verhaal van my lafhartigheid (sien die eerste paragraaf).

Ek gaan nog steeds kerk toe. Ek sing nog steeds in die kerkkoor. As ek gevra word om met gebed te open, prewel ek 'n toepaslike paar woorde en ek sing lustig saam aan die lekker kerkliedere.

Ek is gewoon bang om almal wat ek voor lief is te verloor. My vrou weet hoe ek voel, maar ek het geen begeerte om haar van haar sekerheid en vertroue te ontneem nie. Die verstandhouding is ook dat my kinders nie mag weet wat ek dink nie, want dit sal vir seker hulle besluitneming beïnvloed.

In my omgewing is al my vriende oortuigde, aktiewe Christene, en as hulle van my oortuiging moes weet, sou dit vir my net isolasie en eensaamheid besorg. Ongelukkig is hierdie ongeloof die een sonde wat nie vergeef sal word nie. Hulle mag mos nie in dieselfde juk as 'n ongelowige trek nie en ateïsme is mos iets wat slegte mense doen.

Ek het hierdie vriende en my geliefdes eenvoudig te lief en te nodig om die risiko te loop om "uit te kom". Daar is ook niemand anders in die omgewing by wie ek wel troos en kameraderie sou kon gaan soek nie.

Dis hoekom dit vir my so 'n riem onder die hart was toe ek onlangs van die boek te hore kom waarin daar selfs predikante is wat so huigelend moet leef. We are not alone! Die sosiale prys is eenvoudig te groot.

Ek beny diegene in Abel se groep wat openlik, met 'n oop gemoed kan bely wat hulle dink en wat vriende kon behou en aankweek. Dis vir my so 'n tragedie dat 'n mens se hele menswees verdag gemaak kan word, bloot omdat jy verkies om anders te glo. As ek die briewe in die koerant lees, die veldtogte raaksien om van andersdenkendes in die media ontslae te raak, dan is ek hartseer oor die fundamentele onverdraagsaamheid wat die Christelike denke teenoor andere kenmerk. Ek weet, ek was ook so! Die Bybel moedig dit mos aan.

So, dis ek. Dom en huigelend. En nie baie gelukkig nie.

Dis darem tog heerlik om die gesigte in Abel se groep raak te sien – mooi mense, mense wat vrymoedig vir hulleself mag dink. Ek wens ek kon almal beter leer ken. Dan sou dit seker wees soos Lennon min of meer sê:

"You may think I'm a dreamer –
but I'm not the only one.
Maybe some day you'll join us,
and the world will be as one."

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za