.

Mag ons nog glo?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Junie 2016

.

Niks bly ooit staties nie, alles is voortdurend besig om te verander. Trouens, verandering beteken lewe, terwyl stasis die begin van ontbinding en verval is. Dit geld ook vir godsdienste.

Die Hindoeïsme het byvoorbeeld verander vanaf 'n geweldadige Ariese godsdiens wat oorlog verheerlik en diere-offers op 'n massale skaal vereis het. Dit het verander in 'n godsdiens van nie-gewelddadigheid, van innerlike dissipline en innerlike askese. 'n Godsdiens van jogi's en joga.

Iets soortgelyks het met die Boeddhisme gebeur. Die Boeddha het veertig jaar lank van stad tot stad geloop en sy dharma verkondig aan konings, bedelaars en prostitute sonder om iemand te veroordeel. Sy soetras of lesings is deur sy dissipels gememoriseer en uiteindelik neergeskryf in die Pali-kanon.

Na sy dood is sy leer ook verkondig in China, Tibet, Japan en Suidoos-Asië. Dit het tot 'n intellektuele revolusie aanleiding gegee en Boeddha sou waarskynlik moeilik sy eie dharma herken het in sommige van die leerstellings van die Mahayana-Boeddhisme. Honderde nuwe soetras of preke is in die Boeddha se naam geskryf, wat elkeen terug herlei kan word na 'n woord, 'n frase of 'n paragraaf wat hy self iewers gesê het.

Die Christendom self is 'n goeie voorbeeld van hoe 'n lewende godsdiens steeds besig is om te verander. As 'n mens vandag aan 'n groep mense sou vra: "Waaraan moet 'n mens glo om 'n Christen te wees?" sal seker meer as 90% antwoord dat Jesus se kruisdood vir ons sondes betaal het en dat gelowiges dus nie hoef te vrees dat hulle na hul dood hel toe sal gaan nie, maar wel hemel toe.

Maar dan moet 'n mens "reg glo."

Jy moet glo aan 'n (manlike) God met verskeie menslike trekke, wat in die hemel woon en wat van tyd tot tyd ingryp in menslike aktiwiteite.

Dat God deur sy Gees 'n seun by 'n maagd verwek het en dat hierdie seun gekruisig is om vir ons sondes "te betaal." Sondes wat ontstaan het deurdat die eerste paar mense, Adam en Eva, ongehoorsaam was in die Paradys.

Na sy kruisdood is God se seun begrawe, na drie dae weer opgewek en het later liggaamlik opgevaar hemel toe. Miskien sal hierdie 90% dit nie presies so beskryf nie, maar as 'n mens ouer as 50 is, is die kans uitstekend dat dit die beeld van die Christendom is wat jy sedert jou kinderdae geleer het. Dit is 'n beeld van die Christendom wat vir miljoene mense groot troos en selfs geestelike groei besorg het. Daar is steeds miljoene vir wie dit 'n bron van troos en inspirasie is, en dit is reg so.

Maar Jesus se eerste dissipels en die eerste gemeente van Jerusalem sou dit moeilik vind om "die Weg," soos wat die leer van Jesus eers genoem is, in hierdie leerstellings te herken. Hulle het hulle veral besig gehou met die basiese vraag: Wie was Jesus? Hierdie man wat deur die Romeine gekruisig is, maar wie se leer en die gesprekke oor hom nie wil sterf nie. Trouens, talle mense het nie net geglo dat hy 'n profeet van God was nie, maar dat hy so gelewe en geleer het dat God se liefde en deernis in hom sigbaar geword het. Party Christene het begin praat van die "lewende Jesus," die Jesus wie se woorde en dade voortleef in mense wat hul lewenswyse op sy lewe geskoei het.

In die Grieks-Romeinse wêreld is sy lewe vergelyk met die van die bekende gode, soos Mithras, Adonis, Attis, Osiris en veral Dionysus. 'n God-mens wat uit 'n maagd gebore is en in sy lewe nie herken is vir wat hy was nie en smadelik om die lewe gebring is. Maar na drie dae het hy opgestaan, Hades toe gegaan en die dooies daar gaan verlos – en hy sal dit vir ons ook doen.

In die vierde eeu het die briljante Augustinus, wat 'n taamlik lang jeug van seksuele losbandigheid gehad het, tot bekering gekom. Hy het begin wonder waarom hy ooit so opgetree het en tot die gevolgtrekking gekom dat sonde en verleiding in die wêreld gekom het omdat Eva vir Adam verlei het om van die boom van kennis van goed en kwaad se vrugte te eet.

Na hom het Anselmus gevra: "Hoe sal 'n mens ooit weer van hierdie erfsonde verlos kan word?" Hy het die insig gekry dat hierdie erfsonde so groot is dat geen berou of diere-offer groot genoeg is om daarvoor te vergoed nie. Hiervoor sal die offerdier self 'n god moet wees. Hierdie goddelike offer was Jesus, die seun van God. Sy bloed koop ons vry, mits ons Jesus as ons persoonlike verlosser en saligmaker aanvaar.

Nadat die groot debate oor die verhouding tussen God en Jesus omstreeks die agtste eeu uitgewoed was, het die klem begin val op die korrektheid van hoe die rites van die kerk uitgevoer word. Ortodoksie was om dinge op die "regte" manier te doen.

Die onfeilbaarheid van die Bybel was nie 'n groot kwessie nie, omdat die Bybel beskou is as woorde oor God en dat die Katolieke kerk die reg het om dit te interpreteer vir elke omstandigheid. Buitendien het die Pous se uitsprake dieselfde gesag as die Bybel.

Hiermee het die Hervorming natuurlik hewig verskil. Om "hulle Christendom" te onderskei van dié van Rome het die hervormers die Bybel verhef tot die finale gesag en Woord van God. Sedert Copernicus het dit natuurlik al moeiliker geword om die Bybel letterlik te glo. En namate die wetenskap gevorder het, het dit moeiliker en moeiliker geword. Veral omdat iets absoluut uniek gebeur het: vir die eerste keer in die geskiedenis is waarheid gelyk gestel aan bewysbaarheid, sodat daar vir die metaforiese en allegoriese manier van verstaan geen plek was nie.

Dit het weer 'n ingrypende verandering in die betekenis van die woord geloof teweeg gebring. Waar Paulus nog kon praat van geloof as 'n soort eksistensiële sprong in die donker, het geloof nou iets geword wat 'n mens met die Latynse word assensus kan beskryf, oftewel toestemming aan jouself om dinge wat nie met jou gesonde verstand of met die wetenskap strook nie, as die waarheid te aanvaar.

Voorheen was geloof eeue lank iets wat 'n mens prakties kon ervaar. Jy kon self vasstel hoe jou geloof jou in oomblikke van krisis ondersteun en die moed gee om aan te gaan. Maar nou het geloof iets geword wat 'n mens intellektueel moet aanvaar, terwyl jou gesonde verstand skreeu "pasop!"

As gevolg daarvan sit ons met 'n krisis op hande: mag ons onsself nog Christene noem as ons nie meer kan glo soos wat sowat 90% van alle Christene reken 'n mens moet glo – maar waarskynlik in hul binneste ook nie meer volledig kan aanvaar nie?

Mag 'n mens jouself nog 'n Christen noem as jy nie aan 'n bonatuurlike god glo nie, wat 'n entjie bo die aarde woon en van tyd tot tyd die natuurwette ophef om in die geskiedenis in te gryp?

Natuurlik mag ons. In die Bybel vind ons meer as een siening van God. Dink maar aan hoe Paulus ver buite die grense van die teïsme dink wanneer hy skryf, "in Hom is ons, leef ons en beweeg ons."

Is dit nie wat ons vandag sal noem panenteïsme nie? Vergelyk dit met die beeld wat Dr. Ronel Bezuidenhout gebruik in Kom ons Bid: Dis soos 'n baba in sy ma se baarmoeder. Hy is in sy ma en sy ma is in hom, maar hy is nie sy ma nie.

Mag ons ons nog self Christene noem as ons nie langer glo aan die maagdelike geboorte nie? Natuurlik mag ons. Paulus het nie eens geweet van die leerstelling oor maagdelike geboorte nie. Hy het geskryf dat Jesus uit 'n "gyne" ('n dood normale getroude vrou) gebore is.

Mag ons onsself nog Christene noem as ons nie glo aan die letterlike opstanding uit die dood nie? Natuurlik kan ons, want daar is geen teken dat die eerste Christene Jesus se opstanding beskou het as die resussitering van 'n lyk nie. Kan 'n bygebringde lyk deur 'n toe deur loop? Kan 'n bygebringde lyk in 'n oogknip verskyn of weer verdwyn?

Dit is duidelik dat daar iets tydens die eerste Paastyd gebeur het wat beangste dissipels die moed gegee het om uit hul skuilplekke te kom en Jesus se leer openlik te verkondig. Talle het beweer dat Jesus aan hulle verskyn het. Net soos later aan Paulus ook. Maar daar is geen teken dat Jesus in die vorm van 'n menslike liggaam aan Paulus verskyn het nie.

Eienaardig genoeg is dit nie hierdie "moeilike" vrae wat die grootste probleem oeplewer nie. Dis 'n oënskynlik eenvoudige vragie: "Glo jy nog aan die hel?"

Want as daar nie iets soos erfsonde is, soos Augustinus en Anselmus geglo het nie, dan is daar ook niks waarvan ons verlos moet word nie; en as daar nie 'n hel is waarheen "sondaars" vir ewig verdoem word nie, dan verval die rede waarom sowat 90% van alle Christene reken ons behoort Christene te wees.

Kan ons werklik nog Christene wees as ons nie soos die 90% ander Christene glo nie? Ja ons mag! Maar maar dan moet ons, soos die eerste Christene, weer van voor af ontdek wie Jesus was. Die afgelope paar eeue was ons so behep met Jesus as ons offerlam, dat ons vergeet het dat hy ook 'n radikale leermeester was, wie se leerstelling deur die bewindhebbers as "staatsgevaarlik" beskou is. Want hy het geregtigheid verkondig en was teen ekonomiese uitbuiting. Hy was besorg oor gewone mense en nie so seer oor die rykes en magtiges nie. Hy het geen onderskeid op grond van inkomste of sosiale status gemaak nie. Hy het geleer dat deernis en vergifnis op die lang duur sterker is as woede en geweld. En al het die Romeine hom om die lewe gebring, het sy Weg later die Romeinse Ryk op 'n bloedlose manier oorgeneem.

Hy het die koninkryk van God verkondig, nie vir 'n lewe na die dood nie, maar vir hierdie wêreld. Hy het vir ons 'n leerplan vir geestelike groei opgestel, sodat ons stap vir stap kan leer om ons self meer deernisvol en vergewensgesind te wees.

Kom ons ontdek weer hierdie haas onbekende Jesus, want ons 10% verteenwoordig die toekoms en die nuwe groei in 'n Christendom wat homself, deur allerlei leerstellings, in 'n hoek vasgeverf het.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.