Mag ons nog bid?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Mei 2010

Die belangrikste les wat ek ooit oor gebed geleer het, was van my jongste seun, toe hy nog 'n rebelse tiener was. Ons het die Sondaggaste vir ete gehad en omdat een van ons gaste voorheen 'n predikant was, wat "geleer" het hoe om te bid, het ek 'n "behoorlike" tafelgebed voorberei. Ek het God vertel presies hoe onwaardig ons is om al hierdie seëninge te mag geniet en dat ons dit enkel en alleen uit Sy genade ontvang.

Toe ek "Amen" sê, kyk my seun na my en sê: "Pa, maar jy grovel mos."

Daardie woorde was 'n hou tussen die oë! In een oomblik het ek besef hoe ek nog altyd God beskou het as 'n "Groot Pappie in die lug", vir wie 'n mens kan manipuleer met mooi woordjies en kruiperigheid. Asof God 'n outydse Oosterse potentaat is, of 'n tirannieke stamhoof, na wie toe 'n mens met neergeslane oë op jou knieë moet kruip en weer agteruit kruip tot jy uit sy gesig is. Maar as 'n mens jou kaarte mooi speel, gee God jou dalk jou inkopielys vol dingetjies wat jy wil hê Hy moet vir jou doen.

Hoe moet God nie walg van al ons kruiperigheid en mooi broodjies nie!

Hierdie gebeurtenis het my in 'n ernstige krisis gedompel oor die vraag of ek hoegenaamd die reg het om te bid. Veral toe ek kort daarna 'n reis na die Benede-Oranje onderneem en besef dat daar wes van Kakamas omtrent elke vyftien kilometer 'n kerk is. Nie net omdat die kerk die nedersetting by Kakamas begin het nie, maar ook ... so is aan my verduidelik, omdat verskillende boere se behoeftes verskillend is!

Wanneer die rosyntjieboere in Januarie en Februarie hul sultanas op die rotsplate oopsprei om te droog, kan een reënbui hul hele jaar se werk ongedaan maak. Maar dit is presies dan wanneer die veeboere reën nodig het. Daarom kan hulle nie in een gemeente saambid vir reën nie!

Só het ek deur die jare agtergekom dat daar 'n groeiende aantal mense is wat probleme rondom gebed het, veral omdat die idee van 'n antropomorfiese god, 'n god wat baie soos 'n mens lyk en dink; wat ongeduldig kan word en weer spyt kan kry; wat gepaai en omgepraat kan word, vir meer en meer mense absoluut ongeloofwaardig is.

Ons het huiwerig geword om te bid, en tog is ons behoefte aan gebed en 'n spirituele lewe miskien groter as dié van die geslagte net voor ons.

Dit op sigself is nie 'n probleem nie, want as 'n mens op die geskiedenis terugkyk, merk 'n mens hoe die beeld van die godheid elke keer aanpas by wat die mense van 'n bepaalde tyd kan verstaan en begryp.

Die idee van 'n Vader in die Hemel kom uit die dae van die drieverdieping wêreldbeeld, toe die aarde nog plat was, omdat mense nie van twee halfrondes bewus was nie. Toe die blou koepel wat van horison tot horison strek die "hemel" was en die sterre wat snags sigbaar is, gode wat met hul taak besig is. En oor almal heers die Hemel Vader, wat alles wat gebeur sorgvuldig beplan en bestem.

Hierdie teïstiese siening van God was opsigself 'n reuse sprong van die gees vorentoe, vanaf plaaslike natuurgode wat elkeen 'n beperkte funksie het. Maar selfs hierdie gevorderde konsep van 'n "Hemel Vader" is deur die vordering van die wetenskap ingehaal. Om deesdae, soos Obi-wan Kenobi van Star Wars te sê: "May the Force be with you", is veel nader aan hoe ons God vandag verstaan as aan hierdie antropomorfiese siening.

'n Mens behoort die woord God alleen met groot omsigtigheid te gebruik, want dit is feitlik onlosmaakbaar belas met denkkonstruksies van die verlede. Gebruik liewer 'n onsydige woord soos "Iets", wat 'n veld van bewussyn kan wees wat alles in die skepping tot 'n lewende geheel saambind. 'n Misterie wat tegelyk "buite" die skepping is, maar terselfdertyd ook "binne" die skepping, en wat heeltemal te groot en omvattend is om deur die menslike rede beskryf te word. 'n Mens kan selfs nie eens beweer dat Dit "bestaan" nie, want "bestaan" is 'n konsep wie se skepping van iets anders afhang.

Eintlik is die Westerse wêreld hier byna 3000 jaar agter die denke van die Ooste, waar die Misterie vir baie lank al as "onpersoonlik" beskou word. Tog het dit hulle nie verhinder om diep spirituele lewens te hê nie, want as die Misterie sowel buite alles is as in alles, dan is "Dit" ook in my en in alle mense rondom my. Selfs in alle vorme van bestaan. Dan is die wêreld nie sonder meer materieel nie, maar in wese spiritueel. Dan is die Misterie nie langer "die Gans Andere" nie maar deel van die skepping self; deel van my en deel van jou. Nader aan ons as ons eie polsslag en net so intiem met ons lewens verweef as ons eie gedagtes.

Die Religieuse Vriendekring (ook bekend as Kwakers), een van die baie Protestantse groepe wat hul ontstaan in die laat sestiende eeu gehad het, vermy al eeue lank enige onnodige teologiese geredekawel oor die verhouding tussen die Misterie en die mens deur bloot te verklaar dat "daar iets van God in elke mens" is. Dit is hierdie "iets" wat 'n mens in jouself moet koester en in jou naaste moet aanspreek.

Dit open die deur tot nuwe maniere van bid wat kan lei tot groter intimiteit met die Misterie en tot innerlike heel-heid. Die soort gebed wat voorheen beskou is as die uitsluitende voorreg van mistici en dalk 'n klompie kloosterlinge, word nou binne bereik van elkeen van ons geplaas.

Maar dan moet ons die rol en taak van gebed in ons lewe anders begin verstaan: Gebed is nie in die eerste plek bedoel om God se hulp en beskerming te bekom nie, maar om 'n intieme verhouding met die Misterie op te bou. Die soort verhouding wat kan lei tot geestelike groei en groter insig in ons eie lewensituasie.

As 'n mens in die verlede gaan rondsoek, kom 'n mens af op 'n skat van ervaring van mense wat op hierdie manier 'n verhouding met die Misterie probeer opbou het. Vanaf die vierde eeu, toe die stryd tussen "ortodokses" en "ketters" in al sy felheid losgebreek het, en die "amptelike" kerk met hulp van Keiser Konstantyn tot stand gekom het, het strome gelowiges die beskawing verlaat om hulself in die eensaamheid van die woestyn te gaan vestig, sodat hulle 'n geestelike lewe kon nastreef weg van al die kerklike politiek.

Die Philokalia (letterlik "liefde vir die mooie") is 'n versameling geestelike geskrifte van die Grieks Ortodokse Kerk, wat die periode tussen die vyfde eeu en die vyftiende eeu dek. Hierin is 'n skat van ervaring opgesluit, wat ons eintlik eers weer vandag kan begin waardeer.

Hierdie "woestynvaders", so genoem omdat hulle hulself meestal in die woestyne van Egipte en Sinaï gaan vestig het, was die pioniers van die Westerse kloosterwese, maar hulle het ook 'n diep respek gehad vir die wysheid van hul nie-christelike voorgangers, soos die Pythagoriërs, die Platoniste, die Stoïsyne en die Epikureërs.

Hulle het geëksperimenteer met verskillende geestelike dissiplines en veral Paulus se vermaning in die brief aan die Thessalonisense (1 Thes. 5:17): "Bid sonder ophou", het hulle letterlik opgeneem en begin soek na metodes wat hulle in staat sou stel om sonder ophou te bid. Enkele woorde, of selfs hele frases is uit die Skrif geneem en as 'n pand of simbool gebruik van hul verhouding met die Misterie. Veral die Jesus-gebed was besonder gewild: "Heer Jesus Christus, seun van God, ontferm u oor my", of variasies daarvan, is sonder ophou gebid. Soms is dit selfs verkort tot kyrie eleison, Heer ontferm u.

In die anonieme Russiese geestelike klassiek, Die Weg van die Pelgrim, is daar 'n mooi beskrywing van hoe iemand leer om so sonder ophou te bid:
"Die starets ('n swerwende heilige) het 'n gedeelte van die geseënde Nicopherus die Eensame (een van die woestynvaders) opgesoek en begin lees: "As dit na 'n paar probeerslae nog vir jou onmoontlik is om die plek van die hart te betree ... luister dan na wat ek vir jou sê en met God se hulp sal jy dit regkry. Jy weet dat elke mens 'n larinks het om mee te praat. Laat hierdie orgaan dan oefen deur onophoudelik te herhaal: 'Heer Jesus Christus, ontferm u oor my.' Dwing jou om dit te doen en na 'n paar dae sal hierdie oefening die deur van jou hart oopsluit.

"Vir twee dae het ek effens moeite hiermee ondervind maar uiteindelik het die oefening so maklik geword en so aangenaam dat ek, wanneer ek ophou, 'n onbedwingbare behoefte ondervind het om die Jesus-gebed te herhaal. Gou het ek met gemak en vertroue gebid, sonder al die wilskrag wat ek voorheen aan die dag moes lê."

Wat hierdie pioniers van die Westerse geestelike lewe gou uitgevind het was dat 'n mens, deur op hierdie manier te bid, spoedig ook onverwagse geestelike vrugte kan pluk. Een hiervan is stilheid (hesychia), wat 'n mens ook as 'n stil gemoed kan beskryf.

St. Hesychios van Vatos, een van die woestynvaders, het opgemerk: "Wanneer die hart stil geword het, sal dit insig ontvang in die hoogtes en dieptes van kennis; en die ore van 'n stil gees sal wonderlike dinge van God hoor."

Eeue later sou die Vlaamse mistikus van die dertiende eeu, Johannes van Ruysbroek, tot dieselfde gevolgtrekking kom: "n Mens wat na binne gekeer is, na sy eie hart toe, verstaan en voel die innerlike betekenis van die Woord van God."

Wanneer 'n mens eers hierdie stilheid van hart bereik het is dit ook makliker om jou gedagtes te beheer. Die ongedissiplineerde gedagtes is soos 'n trop ape wat deur die woud trek, hier takke breek, daar 'n blom afpluk uit nuuskierigheid, 'n hap van 'n vrug neem en dit weer weggooi omdat dit nie lekker is nie. 'n Mens kom dit agter as jy jou oë toemaak en probeer om aan niks te dink nie! Dan merk 'n mens eers hoe jy bykans geen beheer oor jou gedagtes het nie, en dat dit in 'n onophoudelike stroom, kom en gaan.

Deur die gebed sonder einde te gebruik is dit asof 'n mens se gedagtes "stadiger" word en die stilte tussen die gedagtes groter. Dit stel 'n mens in staat om te besef hoedat jou gedagtes kom en gaan en baie gou kan jy agterkom as jy aan 'n gedagte aanhaak en in die sleurstroom daarvan meegesleep word.

Dit is 'n belangrike oorwinning oor jou gedagtes, want die meeste van ons bestee die grootste deel van die dag aan dagdrome waarin onsself die hoofrol speel. Dit is hierdie gedagtestroom wat vir die meeste spanning in ons lewens verantwoordelik is.

Stilheid van gemoed lei dus tot 'n toestand wat die woestynvaders waaksaamheid (nipsis) genoem het, wat weer lei tot 'n dieper toestand wat aandagtigheid (prosochi) genoem word – 'n toestand waarin 'n mens bewus is van wat gebeur terwyl dit gebeur en wat 'n noodsaaklike voorvereiste is vir innerlike groei.

Om weer die stappe van die "gebed sonder ophou" te herhaal:

Gebed is nie langer beperk tot bepaalde tye of omstandighede nie, maar word 'n deurlopende gesprek met 'n Vertroude. 'n Mens kan hierdie "gesprek" voortsit wanneer jy in 'n tou staan en wag, of wanneer die robot rooi slaan. Dit is veral voordelig om met die herhaling van jou pand-woord aan die slaap te raak, want later begin die word homself "sing" en kan jy in die middel van die nag wakker word met die vertroude se naam in jou gedagtes.

Ek het eenmaal op 'n vliegtuig siek geraak en kon skaars van die lughawe af ry tot by die naaste hospitaal. My toestand het vinnig agteruit gegaan en na 'n dag of wat kon ek selfs nie die eenvoudigste dinge vir myself doen nie. Die dokters kon nie 'n diagnose maak nie.

Daar het ek besef dat stories oor dramatiese 'sterfbed-bekerings' waarskynlik almal hoogs oordrewe is, want 'n mens bereik baie gou 'n punt waar jy selfs nie die eenvoudigste besluit kan neem nie, en ook nie kan omgee wat van jou word nie.

Terwyl ek in daardie toestand van die een skandeermasjien na die ander gestuur is, het iets wonderliks met my gebeur: my pandwoord het homself begin 'sing' sonder dat ek iets hoef te gedoen het. Ek het besef dat dit 'n wonderlike troos kan wees om met jou pand-woord in jou gedagtes te sterf.

Soos wat die pand-word meer en meer onbewuste inhoude aan die lig bring en 'n mens beter en beter begin besef wie jy is, waar jou opvattings vandaan kom en in hoe 'n mate jy ego-gedrewe is, begin jou lewe self te verander, stil en byna ongemerk. So word van die 'ou mens' 'n 'nuwe mens' gemaak. Jou pand-woord raak boonop onlosmaakbaar deel van wie jy is.

'n Goeie voorbeeld van hoe ingrypend die pand-woord en die gebed sonder einde 'n mens se lewe kan verander, is die lewe van die Indiese geestelike en politiek leier Mohandas Ghandi. Ghandi was nie 'n besonder knap student of 'n buitengewoon begaafde prokureur nie. Maar sy lewe het begin verander vandat hy die woord Rama, wat in die Hindoeïsme die verpersoonliking is van God se liefdesaspek, as pand-woord begin gebruik het. Dit het weer gelei tot sy beleid van satyagraha of geweldloosheid, wat hom die eretitel mahatma, "groot gees" besorg het.

Met sy geweldloosheid het hy miljoene Indiërs oortuig om met lydende verset vir hul land se onafhanklikiheid te stry. Uiteindelik het die Britse Ryk gekapituleer, sonder dat daar 'n skoot afgevuur is, in Indië se bevrydingstryd.

Ghandi se pand-woord het in so 'n mate deel van sy lewe geword, dat hy eenmaal verklaar het dat hy aan geen omstandigheid kan dink wat hom van sy woord sal kan skei nie. Tydens sy laaste openbare optrede het 'n sluipmoordenaar van 'n kort afstand twee noodlottige skote op hom afgevuur. Die sterwende Ghandi het sy hande in die Namaste-houding vir sy aanvaller gevou, wat 'n laaste seën aan sy moordenaar was, en met die woorde "Rama, Rama" op sy lippe gesterf.

Dr. Piet Muller

1 Mei 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za