Mag ons nog bid? (2)

Deur Dr. Piet Muller op 1 Mei 2012

Hierdie artikel dien ook as die inleiding tot die nuwe boek, Kom ons Bid, waarvan medeskrywers is: Abel Pienaar, Gert Janse van Rensburg, Willem Nicol, Ronell Bezuidenhout, Fanie Cronje, Gerhard Bothma, Johan Herholdt, Rothea Kleynhans, Annemarie Swart en Mariëtte Snyman. (Griffel Uitgewers.)

Daar word vertel van 'n Amerikaanse Evangeliese afvaardiging wat Rusland besoek het om ekumeniese bande met die Grieks-Ortodokse Kerk te smee. Die Amerikaners was gretig om dit duidelik te maak dat hulle hul gespreksvennote as gelykes beskou en het die leier van die Ortodokse afvaardiging gevra om die verrigtinge met 'n gebed te open.

"Jy bedoel ... julle wil hê ek moet bid vir ons gesprek?"

"Ja, open dit asseblief vir ons met 'n gebed."

Hierop het die priester opgestaan, na die konsistorie gegaan en 'n rukkie later teruggekeer, ten volle geklee in sy priesterlike gewaad en – met rituele handelinge en al – twintig minute lank uit die Ortodokse gebedeboek gebid.

Van rituele gebed tot openbare gebed

Hierdie verhaal, of dit apokrief is of nie, illustreer die gapende kloof wat ontwikkel het tussen die gebedsgebruike van die vroegste Christene en hoe Protestante vandag gebed beskou. In die vroegste dae was gebed 'n handeling wat in 'n rituele ruimte of ná 'n ritueel van suiwering plaasgevind het. In die OuTestament lees ons dat mense spesiale plekke vir gebed en offers besoek het. Heilige plekke, soos die berg Moria, was hiervoor nodig.

Ons lees in die Nuwe Testament dat die eerste Christene van Jerusalem gereeld na die tempel gegaan het om te bid. Jesus se bediening het meestal buite Jerusalem plaasgevind, sodat hy natuurlik nie in die tempel kon gaan aanbid nie. Hy het hom dikwels na eensame plekke teruggetrek. Dit laat 'n mens vermoed dat dit 'n rituele handeling was.

Oor gebed self, staan daar in Jesus se opgetekende woorde merkwaardig min. Daar bestaan selfs rede om te wonder of hy werklik die gebed wat deur Lukas en Mattheus* (verskillend!) oorgelewer is, aan sy dissipels geleer het. Dit lyk eerder of dit uit maklik onthoubare frases bestaan wat later tot een gebed saamgesnoer is. Jesus het immers meer oor vas as oor bid gepraat. Die kern van wat hy oor gebed gesê het, kom egter daarop neer dat 'n mens nie van gebed 'n openbare vertoon moet maak nie, maar dat jy in jou binnekamer moet ingaan om te bid, waar niemand anders jou kan sien nie – maar dit kan ook geïnterpreteer word dat jy in jou eie gemoed moet bid. Die vroeë Christene het albei maniere as reg aanvaar. Petrus het byvoorbeeld so lank op die leerlooier se huis in Joppe gebid dat hy óf in vervoering geraak óf aan die slaap geraak het toe hy 'n visioen gehad het.

Wanneer 'n mens op die spoor van die geskiedenis teruggaan, besef jy gou dat gelowiges op verskillende tye verskillend gebid het. Lees 'n mens wat verskillende kerkvaders deur die eeue oor gebed geskryf het, gaap daar afgronde van verskille tussen hul benaderings. In Protestantse kringe word dikwels geglo dat om 'n geskrewe gebed "op te sê" bloot "ydele herhaling van woorde is". Maar rituele gebede was juis wat Christene meestal deur die eeue gebid het. Dat 'n mens tot God moet bid in jou eie woorde, met vrome eerbied, kom van Calvyn. Hierdie opvatting steun op die opvattings van die Renaissance, waarin die mens sy eie waardigheid herontdek en as individu na vore getree het.

Die Middeleeuse Kerk het 'n ryk gebedspraktyk gehad wat grootliks uit rituele gebede bestaan het – geskryf deur enkele begenadigde bidders, soos Franciskus van Assisi en andere. Gebedeboeke het gebede vir die hele liturgiese jaar bevat en die idee was dat hoe meer 'n mens hierdie gebede bid, hoe meer word jou gees met die strekking daarvan deurtrek. Hoewel gebedeboeke ook gebede vir tye van nood bevat het, was dit gewoonlik op geestelike groei gerig.

'n Middeweg tussen Calvyn se opvatting oor gebede en die rituele gebede van die Katolieke Kerk vind 'n mens in die brief oor gebed, geskryf deur die Grieks-Ortodokse geestelike, biskop Theophanes die Kluisenaar (1815-1890) in die negentiende eeu:

"Dit is die wese van die aandgebed om God te dank vir wat gedurende die dag gebeur het, sowel goeie as slegte dinge; om vergifnis te vra vir wat jy verkeerd gedoen het, om te belowe dat jy sal probeer om die volgende dag beter te doen en dat God jou deur die nag moet bewaar. Bid dit in jou gemoed en met jou hele hart.

"Die wese van die oggendgebed is om God te dank vir slaap, rus en vir jou herstelde kragte, en dat hy jou moet help om alles tot sy eer te doen. Doen dit met jou hele hart en jou hele gemoed. Saam met sulke oggend- en aandgebede kan jy jou behoeftes aan God noem, veral geestelike behoeftes. Dan kan jy ook jou daaglikse sorge na Hom bring, soos wat 'n kind dit sal doen: 'Sien Heer hoe siek en swak ek is! Help en genees my!' Al hierdie dinge kan jy in jou eie woorde aan God sê, sonder die hulp van 'n gebedeboek. Probeer dit en as dit werk, kan jy die gebedeboek laat staan; maar as dit nie vir jou werk nie, moet jy die gebedeboek gebruik, anders eindig jy dalk sonder enige gebed."

'n Mens moet onthou dat Theophanes die Kluisenaar se woorde in die eerste plek gerig was aan monnike, dit wil sê mense wat reeds in 'n afgesonderde of "heilige ruimte" geleef het. Uit sy woorde kan 'n mens egter twee belangrike beginsels oor gebed aflei: Gebed is in die eerste plek bedoel om 'n persoonlike verhouding tussen die aanbidder en die Groot Misterie op te bou en daarom moet dit in 'n vaste praktyk of vaste ritueel ingebed wees. Tweedens kan gebed wat nie deel van 'n vaste praktyk is nie, nie geestelike groei by die bidder veroorsaak nie en is dit dikwels weinig meer as bygeloof!

Volgens 'n vroeë Griekse kerkvader, Evagrios die Eensame (345-399), is "gebed die gemeenskap van die intellek (gees) met God". Dit is nie in die eerste plek 'n pleidooi om gunste of hulp nie, maar 'n dialoog met die Grond van ons Bestaan. Die doel daarvan is om die verhouding tussen die bidder en die Groot Misterie te versterk. 'n Geestelike lewe sonder gebede moet noodwendig verskrompel en verdroog omdat daar geen "gebedsdialoog" is wat dit voortdurend voed nie.

Die Grieks-Ortodokse Kerk het 'n lang tradisie van hesychia, of stilheid, opgebou. Die teologiese aanleiding daartoe was Jesus se vermaning dat 'n mens nie slegs in jou binnekamer moet bid nie, maar om ook nie te veel woorde te gebruik nie omdat die Vader buitendien weet wat ons nodig het. Na aanleiding hiervan sou 'n mens kon vra: "Hoekom dan hoegenaamd bid, as God dan reeds weet wat ons gaan vra?" Die antwoord hierop is dat gebed juis nie 'n gebeurtenis is waartydens jy met 'n wenslysie na God gaan nie, maar 'n dialoog is om jou verhouding met die Groot Misterie te versterk en in jou spirituele lewe gevoed te word.

"Dit is nie uit woorde dat gebed gebore word nie," skryf biskop Hilarion Alfeyev (1969-), 'n moderne Russies-Ortodokse geestelike (sien Wikipedia):

"Gebed is nie bloot die somtotaal van ons versoeke tot God nie. Voordat dit uitgespreek kan word, moet 'n gebed eers in 'n mens se hart gehoor word. Alle ware meesterstukke, hetsy musiek of poësie, is nie bloot gekomponeer uit onverwante letters of klanke nie: Dit is eers gebore in die diepte van die outeur se hart, en het daarna gestalte gekry in klanke of letters. Gebed is ook kreatiewe werk wat nie uit woordrykheid gebore word nie, maar uit 'n diepe stilheid, uit gekonsentreerde en aanbiddende stilte. Voordat 'n mens die pad van gebed volg, moet jy eers innerlik stil word en menslike woorde en gedagtes aflê.

"Die menslike hart, gedagtes en mond raak eers stil wanneer dit ondergedompel word in die golwe van gebed," sê Johannes Klimakos, die sesde-eeuse geestelike van Antiochië. "Intelligente stilte is die moeder van gebed, die wêreldse indrukke verdwyn van sy hart; sy gesig is grondwaarts gebuig wanneer hy God ontmoet in die diepste stilheid van sy hart."

Metropolitaan Kallistos (Ware) van Diokleia (ook bekend as Timothy Ware, gebore 1926) sê weer:

"Om stilheid te bereik is die moeilikste en mees deurslaggewende deel van gebed. Stilte is nie negatief nie – nie 'n pouse tussen woorde, 'n tydelike onderbreking van spreke nie – maar reg verstaan, is dit uiters positief. 'n Houding van aandagtige waaksaamheid en veral van luister. Die hesychas, iemand wat hesychia bereik het,naamlik innerlike stilheid en stilte, is by uitstek iemand wat luister. Hy luister na die stem van gebed in sy eie hart en hy begryp dat sy stem nie sy eie is nie, maar die van 'n Ander wat binne hom praat" (aangehaal deur biskop Hilarion Alfeyev in sy internet-artikel, Prayer and Silence).

Sedert die vyfde eeu het daar in die Oosterse Kerk 'n metode van gebed ontstaan wat krypte melete (geheime werk) genoem is, dit wil sê innerlike meditasie. Dit kom vandag nog wydverspreid voor en bestaan slegs uit die herhaling van 'n kort formule, soos die Jesus-gebed: "Heer Jesus Christus, ontferm u oor my"; of "Heer, erbarm u."

Sint Theophanes die Kluisenaar skryf in 'n brief aan een van sy broeders:

"Jy moet van jou kop af na jou hart afdaal ... Jy skryf dat jy hoofpyn het van die aandagtige gebed. Dit gebeur as 'n mens net in jou kop bid. Maar wanneer gebed na die hart toe afdaal, is dit nie moeilik nie, want die kop sal leeg word van gedagtes. Alle gedagtes is in die kop en volg die een op die ander, onmoontlik om te beheer. As jy egter jou hart ontdek en slaag om daarin te kan bly, word dit maklik om jou gedagtes te beheer; sodra gedagtes hul verskyning maak, soek jy jou toevlug in jou hart en die gedagtes sal verdwyn" (aangehaal deur biskop Hilarion Alfeyev, op cit).

Die verskil tussen die Ortodokse Kerk en die Rooms-Katolieke Kerk word miskien die heel beste uitgedruk deur Evagrios die Eensame se opmerking oor wat teologie is: "As jy 'n teoloog is, sal jy waarlik bid" (Philokalia, deel 1):

"Dit beklemtoon die eenheid van teologie en gebed; die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Vir die kerkvaders was teologie nie 'n abstrakte teorie oor 'n 'onbekende God' nie: eerder 'n soeke na 'n persoonlike ontmoeting met Hom. Ware teologie gaan nie 'oor' God nie maar is 'in' God. Dit beskou God nie as 'n objek nie, maar wil met Hom gemeenskap hê as 'n persoonlike Wese. Christelike teologie word afgelei van gebed en mistieke ervaring. Dit staan teenoor 'objektiewe' navorsing wat abstrak na God kyk. Suiwering en stilheid van gemoed, wat so nodig is vir gebed, is ook die grondslag van teologie" (Metropolitaan Hilarion Alfeyev, op cit).

Ná die Renaissance en die Verligting, en die Westerse Kerk (veral die Protestantisme) se omhelsing van die wetenskap en die wetenskaplike metode as 'n manier om inligting oor God te verkry, was daar omtrent geen gemene grond meer tussen die Westerse en die Oosterse Christelike gemeenskappe nie.

Die Westerse Kerk het onlangs eers weer die waarde van stilte ontdek. Ongelukkig is die gangbare opvatting nog dat "die vurige gebed van 'n gelowige" 'n kragtige verbale petisie tot God is, omtrent soos wat 'n advokaat voor 'n regter sal betoog. Hierdie soort gebed het veral in Protestantse kringe 'n teologiese "kunsvorm" geword. Daarenteen word die stil gebed, wat vandag al meer bekend staan as die "Gebed van die hart", nog deur te veel gelowiges as "Oosters" beskou omdat hulle nie meer met die vroeë geskiedenis van die Christendom bekend is nie.

Die enigste Protestantse groep wie se aanbidding rondom stilte en luister gestruktureer is, is die Religieuse Vriendekring (Society of Friends, ook bekend as Quakers of Kwakers). Hulle sit in stilte in 'n kring en wanneer iemand voel dat hy of sy (want albei geslagte het sedert die stigting van hierdie beweging gelyke status geniet) van binne gedring word om iets te sê, sal so iemand opstaan en 'n paar kort woorde spreek en dan weer in stilte gaan sit. Geen wonder dat die Kwakers tydens die Engelse Burgeroorlog deur George Fox gestig is nie. Hierdie groep onderskryf geen formele geloofsbelydenis nie en al wat 'n mens hoef te aanvaar om by hulle aan te sluit, is dat "daar iets van God in elke mens is." Hoe 'n mens ook al van iemand anders verskil, is dit nog steeds moontlik om gemeenskaplike grond te vind deur te konsentreer op daardie "iets van God in elke mens."

Tradisionele Kwakers bid nie in die openbaar nie, selfs nie aan tafel nie, en hou geen preke nie. In hul geskrifte kry 'n mens 'n uitstekende beskrywing van die "stil stem" binne-in hulle, deur wie hulle insig en inspirasie verkry. Hoewel die Religieuse Vriendekring, in vergelyking met ander kerkgenootskappe, by wyse van spreke slegs 'n handjie vol mense is, het hulle waarskynlik meer as enige ander kerkgroep gedoen om die gevangenis- en regstelsel te hervorm, geesteskrankes 'n menswaardige behandeling te gee en selfs om slawerny afgeskaf te kry. Die Kwakers was ook die organisasie wat Emily Hobhouse tydens die Anglo-Boereoorlog na Suid-Afrika toe gestuur het. In albei Wêreldoorloë het hulle ambulansdienste aan beide kante van die stryd beman en in 1969 het hulle ontmoetings gereël tussen Katolieke monnike en Zen-Boeddhistiese monnike waaruit die herontwaking van die Westerse meditasietradisie gebore is. As daar dus een groep is wat sigbare bewys kan lewer van "hoe die gees in hulle werk", dan is dit die Kwakers.

In Kwaker-geskrifte vind 'n mens dikwels briljante uiteensettings van wat gebeur as jy bereid is om te swyg en om juis van luister die kern van jou gebedslewe te maak. Geoffrey Hubbard skryf in Quacker by convincement (bl. 191-192): "Om God te soek moet die kanaal tussen die mens en sy diep onbewuste oopgemaak word; hiervoor moet 'n mens die dominerende ego stil maak, sowel as die onophoudelike agtergrondgeraas van jou denke. Hoe om dit te doen hang van mens tot mens af, want vir elkeen sal die aard van die obstruksie, en gevolglik ook die oplossing, anders wees."

Hy skryf verder: "Die enigste manier om 'n skeptiese en praktiese mens te oortuig is om so iemand aan die ervaring bloot te stel. Dit is ietwat van 'n skokterapie as dit werk; aan die ander kant is dit die maklikste ding ter wêreld vir iemand om te weier om hom oop te stel vir invloede, of dit nou uit die verbeelding kom of nie. Dit is waar van sowel 'n leek as 'n sielkundige; aan laasgenoemde kan ons sê dat ons nie ontken dat dít wat ons binne-in ons waarneem die onbewuste is nie – Jung se kollektiewe onbewuste, die 'diep onbewuste' – en in ons ervaring kan dit gelykgestel word aan die individu se bewussyn van God."

Die ontmoeting met die Absolute

As gebed dan in wese 'n ontmoeting met die Absolute is, hoe vind hierdie ontmoeting plaas en wat is die aard daarvan?

Die Duitse teoloog Rudolf Otto (1869-1937) het 'n studie van hierdie soort ontmoeting gemaak en dit in sy bekendste boek, Das Heilige, beskryf. Sedert hierdie werk in 1917 verskyn het, tot met Otto se dood, het dit 26 drukke beleef en is dit in verskillende tale vertaal. Dit het op die rakke van mediese dokters, psigiaters en andere beland, maar vir sy mede-teoloë was die onderwerp wat hy behandel het "te irrasioneel" vir die teologie van die moderne periode, waarin die wetenskap en die teologie nog as vennote beskou is.

Otto het die woord numineus geskep om die ervaring wat hy beskryf het, mee te benoem. Hy het die ervaring verder beskryf as 'n mysterium tremendum et fascinans, 'n oorweldigende en terselfdertyd aangrypende misterie. Daarmee bedoel hy ervaringe wat 'n gevoel van huiwering en ontsag veroorsaak, of wat in Engels as awe beskryf kan word of in Duits as Ungeheuer. Volgens Otto is religie nie "gebore uit vrees of 'n denkbeeldige wêreldangs" nie, maar uit 'n gevoel van ontsag vir "die heilige".

Otto verskaf 'n pragtige voorbeeld van wat hy bedoel:

"'n Twaalfjarige seun is stokalleen besig om op 'n oesland are op te tel. Dit is 'n skitterende somerdag. Vanaf die hoogte waarop hy staan, neem hy die hele omgewing waar. Die diepblou van die hemel strek in 'n verhewe stilte uit oor die goue velde, ver oor die land. In die verte hoor 'n mens af en toe die geroep van die maaiers en die geklap van 'n sweep. En byna onaards, getemper deur die sonoorspoelde lug, sweef na gelang van die ritme van die ure, die slae van die kerkklok oor die omgewing. Dan kom die siel van die seun in beroering en voel hy 'n diep verlange; die ene aandag en vol verlange sit hy daar. Die ontroering word sterker, dit groei uit tot 'n bedwelmende akkoord. Reusagtig groot voel hy dit rondom hom sweef – hy het geen verklaring vir hierdie raaiselagtige, indringende aanwesigheid nie, wat ook niks gemeen het met alles wat hy van God gehoor het nie; hy dink selfs nie daaraan om hierdie "iets" in verband te bring met die "God" wat hy uit die heilige verhale ken nie. Sy voorstelling van God en dit wat in hierdie ervaring deurwerk, het niks met mekaar te doen nie. En nou stort dit met volle drukkende krag op hom neer, 'n ontsagwekkende vloed, 'n ontasbare werklikheid. Angstig gryp hy sy sakkie are wat in die voor lê en maak dat hy wegkom uit hierdie benarde situasie. Hy hardloop of sy lewe daarvan afhang en kom uitasem op die dorp aan waar hy probeer wegkruip vir die huiweringwekkende wat hom wil oorweldig. Toe hy by die huis kom, gaan sit hy voor die toe deur en nadink oor wat gebeur het – ja, hy skaam hom oor sy dwase gedrag, maar hy word nie daarvan verlos nie, sy verwondering bly met hom. Die aanwesigheid bly na hom roep en sal hom nooit weer verlaat nie" (Otto, Das Gefühl des Überweltlichen, Ioc cit, bl 275, aangehaal deur Van den Berk op cit).

Wat opvallend is van hierdie soort ervarings, is hoe dikwels stilte en afsondering daarin 'n rol speel. Dit is asof Die Heilige homself slegs openbaar wanneer 'n mens se gemoed stil geword het, óf deur innerlike stilheid óf deur uiterlike stilte. Vergelyk die verhaal van Elia wat vir Agab vlug en dan in die woestyn gaan skuil (1 Kon.19:11-13). Dan sê God vir Elia: "Kom uit en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan."

Daarna is daar eers 'n sterk wind, toe 'n aardbewing en daarna 'n vuur. Maar God was nie in een van hierdie verskynsels nie. "En ná die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan" (1983-vertaling).

Die Nederlandse digter, Nicolaas Beets, dig so:

De moerbeitoppen ruischten;
God ging voorbij;
Neen, niet voorbij, hij toefte;
Hij wist wat ik behoefde,
En Hij sprak tot mij.

Die Switserse sielkundige Carl Gustav Jung, wat saam met die Amerikaner, William James, die eerste sielkundiges was wat spirituele en religieuse ervarings ondersoek het – vertel in sy outobiografie hoedat hy as kind 'n sekere verskeurdheid in sy gemoed ervaar het as gevolg van sy ma se gereelde siektes en sy pa se morbiede gemoedstoestand. Toe vind hy 'n ritueel wat hom help om sy innerlike verskeurdheid te heel. In 'n gat in 'n ou muur het hy 'n vuur gemaak en met behulp van al die kinders in die buurt het hy die vuur voortdurend aan die brand gehou. Selfs toe hy dekades later weer hulle ou huis besoek het, het die herinnering aan daardie vuur 'n numineuse gevoel by hom opgewek. Dat die vuur nie maar net 'n "kindergril" was nie, besef 'n mens as jy terugdink aan watter rol ewig brandende vure deur die eeue in godsdienstige rituele gespeel het.

Die Franse Jesuïet en paleontoloog, Teilhard de Chardin, vertel van 'n ervaring uit sy kinderdae soortgelyk aan Jung s'n: Hy het stukkies yster begin versamel en op verskillende "heilige" plekke weggesteek, ter verering van die "god van yster". In sy boek La Coeur de la Matiere (Die hart van die materie), verduidelik hy waarom juis yster: "... omdat daar in my kinderlike ervaring niks in die wêreld harder, swaarder, duursamer ... was as hierdie wonderlike substansie, tasbaar in 'n vorm wat nouliks voller kon aanvoel."

"Ek kan kwalik 'n glimlag onderdruk as ek aan hierdie kinderspel terugdink. En tog moet ek erken dat in hierdie instinktiewe gebaar, om 'n stukkie metaal te aanbid, 'n intense gawe en 'n reeks neigings opgesluit gelê het waarvan my latere geestelike lewe slegs maar die ontplooiing was" (aangehaal deur Tjeu van den Berk uit Het Numineuze).

Volgens Jung is die belangrikste numineuse ervaring in die Christendom se geskiedenis Paulus se visioen op die pad na Damaskus. Sonder hierdie ervaring, reken Jung, sou Saulus steeds aangehou het om Jode te vervolg, en sou die rasionele leerstellings van die jong geloof geen indruk op hom gemaak het nie. Juis hierdie ervaring het hom in staat gestel om vanaf 'n heel ander perspektief na die Christendom te kyk. Tekenend van hoe dramaties hierdie ommekeer was, merk 'n mens aan die feit dat sy naam daarna verander van Saulus na Paulus.

Paradigmaverskuiwing: teïsme en panenteïsme

Ons leef in 'n tydperk waarin die teïstiese godsbegrip besig is om plek te maak vir 'n panenteïstiese godsbegrip; waarin God nie meer 'n antropomorfiese persoonlikheid is wat 'n entjie bo die aarde woon nie. Daarom is daar talle diep spirituele mense wat voel dat hulle nie meer mag bid nie. Byna instinktief voel hulle aan dat dit verkeerd is om die "Groot Misterie" met 'n inkopielysie van versoeke lastig te val. Ons gebede het ongelukkig meestal vervlak tot 'n "help my en beskerm my" vlak.

'n Paradigmaverskuiwing in die godsbegrip van 'n beskawing is altyd ingrypend en pynlik en dwing 'n mens om veranderinge aan jou diepste oortuigings aan te bring. Dit veroorsaak 'n eksistensiële angs, want wat die mens bo alles begeer is om binne 'n konsekwente waardestelsel te leef. Begin jy om veranderinge op een punt van jou waardestelsel te maak, beïnvloed dit noodwendig alle ander opvattings ook. Daarom dat dit so angswekkend kan wees en mense hul meestal teen verandering probeer verset in 'n poging om die status quo te behou. Die verandering in godsbegrip wat besig is om plaas te vind, is net so 'n ingrypende paradigmaverskuiwing as wat die ontstaan van monoteïsme was toe Israel begin getuig het: "Hoor Israel jou Elohim (gode) is een God" (vrylik vertaal).

Hierdie paradigmaverskuiwing word boonop deur die Verligting van die sewentiende eeu vertroebel toe wetenskap en godsdiens probeer hande vat het, en God die hipotese geword het waarmee dinge verklaar moes word wat op daardie tydstip nog nie deur die wetenskap verklaar kon word nie. God self het 'n verklaarbare en beskryfbare objek geword, pleks van 'n voorwerp van huiwering. Maar soos wat die wetenskap meer en meer kon verklaar, het die heerskappy van God ook kleiner en kleiner geword – tot op die punt dat die materialistiese wetenskapsbeskouing reken dat God as hipotese nie langer nodig is nie.

Nou het ons die punt bereik waar 'n drieverdieping-wêreldbeeld – met God bo in die hemel, die aarde in die middel en hades of die hel onder die aarde – nie langer geregverdig kan word nie. Uit die nuwe kosmologie weet ons dat daar nie in die heelal van "bo" en "onder" sprake kan wees nie. Hiermee saam verkrummel ook die idee van 'n antropomorfiese God wat in die "hemel" woon.

Godsdiens betaal vandag die prys vir die feit dat hy hom laat verlei het om te glo dat God "iets" is wat bewys kan word, soos enige ander onderwerp van wetenskaplike studie "bewys" kan word, of dat 'n mens hoegenaamd feitelike opmerkings oor God kan maak. Binne die bestek van 2000 jaar se Christendom was dit 'n kortstondige maar duur dwaling. Karen Armstrong stel dit só:

"Ons het daaraan gewoond geraak om te dink dat godsdiens aan ons inligting moet verskaf: Is daar 'n God? Hoe het die wêreld ontstaan? Religie was nooit veronderstel om aan ons inligting te verskaf oor vrae wat binne bereik van die menslike rede lê nie. Dít was die taak van logos. Die taak van religie, nou verwant aan dié van kuns, was om ons te help om kreatief te lewe, vreedsaam en selfs vreugdevol te midde van werklikhede waarvoor daar nie maklike verklarings is nie en probleme waaraan ons self niks kan doen nie: sterflikheid, pyn, smart, wanhoop en verontwaardiging oor die onreg en wreedheid van die lewe. Oor die eeue heen het mense van alle kulture agtergekom dat deur hul denkvermoë tot die uiterste te beproef, en deur so onselfsugtig en deernisvol as moontlik te lewe, hulle 'n transendensie ervaar wat hulle in staat stel om hul eie lyding met sereniteit en moed te aanvaar. Wetenskaplike denke kan ons vertel waarom ons kanker het, kan dit selfs genees. Maar dit kan nie vrees, teleurstelling en verdriet wat saam met die diagnose kom, aanspreek nie. Dit lê nie op sy terrein nie. Godsdiens werk nie outomaties nie; dit verg 'n groot mate van toewyding en kan nooit slaag as dit oppervlakkig, vals, of selfbevredigende afgodery is nie" (Karen Armstrong, The case for God, Epilogue).

Sy voeg by: "Godsdiens is 'n praktiese dissipline. Insigte daartoe word nie verkry deur abstrakte spekulasie nie, maar deur geestelike oefeninge en 'n toegewyde leefstyl."

Kom ons bid wil daarom ook 'n praktiese boek oor gebed wees. Dit wil metodes ondersoek waarmee gebed weer sentraal gestel kan word in ons daaglikse spiritualiteit. Daarom gaan dit ook kyk na hoe Christene van ander tye en kulture gebid het en watter praktyke die toets van die tyd deurstaan het.

Die Griekse kerkvaders het byvoorbeeld 'n sielkunde van stilte, en 'n metodologie oor hoe om daarmee om te gaan, ontwikkel. By hulle kry ons woorde soos hesychia (stilheid); nipsis (indagtigheid, waaksaamheid of mindfulness); ekstasis (letterlik buite jouself tree – om God te ontmoet) en apatheia (afwesigheid van geestelike lyding).

Daarom skryf ons hier oor meditasie of die "gebed van die hart", oor indagtigheid of mindfulness as 'n spirituele praktyk, maar ook oor ander gebedspraktyke wat die eeue oorleef het – soos om met 'n bidsnoer te bid. Die Katolieke rosekrans het byvoorbeeld tydens die Hervorming ontstaan en aan duisende gewone mense toegang verleen tot 'n mistieke ervaring te midde van hul daaglikse lewe – en hulle daardeur van Protestantse neigings weerhou! Maar die Grieks-Ortodokse komboskini, 'n bidsnoer van geknoopte tou – wat 'n mens binne jou sak kan dra sodat niemand eers weet jy bid nie – is selfs nog ouer.

Van die apostel Paulus self kom die "gebed sonder einde", waarin 'n mens 'n woord of frase, wat terselfdertyd 'n geloofsbelydenis is, onophoudelik in jou gedagtes herhaal. Terwyl dit ook 'n beproefde gebedspraktyk is om op bepaalde ure van die dag verskillende gebede te bid.

Omdat mense van mekaar verskil en hul spiritualiteit dus ook verskil, skryf ons oor gebedspraktyke vir verskillende tipes mense. Terselfdertyd leef ons in die 21ste eeu en moet ons ook skryf oor gebed en die onbewuste; oor gebede vir siekes en of 'n mens deur te bid werklik iets prakties vir iemand anders kan doen.

Ter afsluiting bevat die boek ook 'n aantal gebede vir verskillende omstandighede. Party van hulle is oud en tydbeproef en ander weer splinternuut.

* In hierdie boek word by die internasionale gebruik gehou om Mattheus en Thomas met 'n "th" te spel en word die vereenvoudigde spelling van die Afrikaanse Bybelvertaling van 1983 nie nagevolg nie. Die radikale vereenvoudiging van die spelling van eiename in die 1983-vertaling was nie 'n onvermengde seën nie, omdat dit gelei het tot die Engelse uitspraak van talle Afrikaanse familiename. Die belangrikste oorweging is egter om internetkommunikasie met ons stamlande te vergemaklik. Sowel Nederlands as Duits het hul spelreëls vereenvoudig, maar nogtans die eksplosiewe "th" van Thomas en Mattheus (wat agter die tande gevorm word, pleks van teen die verhemelte) behou. Wanneer hierdie name as Tomas en Matteus gespel word, sal Google dit nie onder die Germaanse tale indeel nie. (Redakteur)

Dr. Piet Muller, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za