.

Liefde in die tyd van Covid-19

Deur Dr. Piet Muller op 1 Mei 2020

.

Die Suid-Amerikaanse skrywer, Gabriel García Márquez, het 'n bekroonde boek geskryf met die titel Love in a Time of Cholera.

Die titel van die boek verwys natuurlik na veel meer as net na die siekte cholera, maar ook na die drif, woede en opvlieëndheid en algemene "gallerigheid" waarna die woord choleries verwys; 'n tyd waarin die bevolking oor baie dinge "gal-af gaan."

Is dit nie ook maar hoe dit in hierdie Covid-dae gaan na twee en 'n halwe weke van grendeltyd nie? Aan die een kant die haas ongehoorde liefde en deernis wat 'n mens op die sosiale media waarneem vir die armes en haweloses wat in hierdie dae die heel swaarste kry – en aan die ander kant die die stortvloed van grappe wat byna elkeen 'n "byt" het, soos wat mense se opgekropte frustrasies en woede uitborrel.

'n Mens weet nie mooi wie in hierdie dae die swaarste kry nie, die enkelinge wat alleen hierdie grendeldae moet deursien, of huwelike en gesinne wat haas ongehoorde tye in mekaar se geselskap moet deurbring. So 'n afsondering maak 'n mens noodwendig bewus van kwaliteite in jouself en in ander waarvan jy nooit geweet het nie. Goeie dinge maar ook uiters pynlike en slegte dinge. Niemand, nie enkelinge, gesinne of huwelike gaan onveranderd deur hierdie krisis kom nie. En aangesien dit die heel eerste keer is dat die hele wêreld tegelyk dieselfde krisis beleef, wonder 'n mens of ons nie op die vooraand staan van 'n geestelike en kulturele revolusie nie. 'n Revolusie wat alles, van die manier waarop ons werk tot ons diepste waardes en opvattings, sal verander.

Die een ding wat waarskynlik almal van ons in hierdie Covid-dae geleer het, is hoe groot die wêreld se behoefte aan omgee, liefde en gewone ordentlikheid is. Ons het 'n oneindige behoefte aan liefde, maar paradoksaal kan ons nie liefde gee nie omdat ons nie weet hoe om liefde te ontvang nie. Jesus beveel ons om ons naaste lief te hê soos onsself, maar ons moderne Westerse mense kan onsself nie liefhê nie. Ons skram weg van liefde ontvang, want om liefde te ontvang moet ons deursigtig en weerloos wees. Ons moet onsself blootstel aan die moontlikheid dat ons seergemaak kan word as ons ons weerlose kant aan die wêreld wys; daarom laat sak ons so moeilik ons skild om ons ware gevoelens te wys.

Daarom ontvang ons ook so min liefde, sowel van God as van die mense naaste aan ons; en vind ons dit so moeilik om liefde te gee.

In die Boeddhistiese tradisie is daar 'n praktyk wat perfek aansluit by Jesus se opdrag om mekaar lief te hê, dit is die metta-gebed. Metta is 'n Pali-woord wat vertaal kan word as mede-liefde; liefde sonder om iets terug te verwag. As ons boonop dink aan die waarskuwing van die beroemde Deense godsdiensfilosoof, Søren Kierkegaard, dat gebed nie beteken om God se arm te draai vir 'n guns nie, maar bedoel is om die bidder self te verander, dan besef 'n mens dat die metta-gebed inderdaad 'n gebed is wat ons almal mag beoefen.

Dit werk so: Ruim tydens jou stiltetyd of meditasie 'n plek in vir die metta-gebed. Begin by die persoon vir wie jy die liefste is en wens daardie persoon alles wat goed en mooi is toe. Gebruik woorde wat vir jouself betekenis het en sê byvoorbeeld iets soos: "Mag jy gelukkig en vervuld wees, mag jy heling ontvang en heel word; mag daar niks wees wat jou bevrees maak nie, sodat jy God se welbehae en liefde kan ervaar."

Doen dieselfde vir 'n tweede of 'n derde mens, of vir soveel as wat jy opreg liefde kan toewens. Wens daarna vir jouself dieselfde toe: "Mag ek gelukkig tevrede en vervuld wees, mag ek heling ontvang en heel word..." en sien in jou verbeelding hoe almal vir jou hulle liefde en goeie wense stuur.

Bid dan vir mense teenoor wie jy neutraal staan, soos 'n goeie kennis, die lede van jou leeskring of 'n winkelassistent wat altyd goeie diens aan jou lewer.

Bid daarna vir die mens met wie jy die minste oor die weg kom en wens hom of haar dieselfde goeie wense toe as wat jy vir jouself begeer. Aan die begin sal dit dalk moeilik en stroef voel, maar gaandeweg sal jy 'n warmte teenoor daardie persoon ervaar en sal dit makliker word om so te bid. Onthou dat jou vyand heel moontlik jou beste geestelike leermeester kan word. Soos die sewende eeuse mistikus, Shantideva, eenmaal gesê het: "As 'n mens nie van jou vyand kan leer nie, van wie sal jy?"

Die metta-gebed is inderdaad 'n gebed wat 'n mens self verander. Gebruik gerus die laaste dae van die grendeltyd om die liefde te word wat jy vir jouself begeer en wat die wêreld so nodig het.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.