.

Om met liefde as jou godsdiens te leef

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Junie 2015

.

As jy vir mense sê dat jy buite-kerklik is en aan geen godsdiens behoort nie, maar dat jy tog spiritueel is, kyk hulle jou snaaks aan. Dit klink op die oor af na 'n teenstelling, want hoe kan jy spiritueel sonder 'n godsdiens en sonder 'n kerk wees. Dis asof iets vir hulle nie sin maak nie.

Maar die feit dat 'n mens die kerk met al haar bagasie en die godsdiens met al sy dogmas uit die formule vir jou spiritualiteit gehaal het, maak dat jy met 'n tipe minimalistiese perspektief sit, een wat gestroop is van talle erfgoed. 'n Perspektief wat jou dalk weer by die essensie van spiritualiteit kan uitbring.

'n Spiritualiteit sonder die wette en voorskrifte van Jesus of Mohammed, sonder die filosofie van Boeddha of Confucius. Sonder die tradisies van tempels, katedraal of moskee. 'n Spiritualiteit waarvan net die kern behoue gebly het, naamlik: Liefde.

Liefde word dan jou wet, jou motivering, jou strewe, jou enigste goed, jou, godsdiens!

Sonder 'n beeld oor 'n bepaalde godheid in jou kop, of 'n skema oor hoe godsdiens werk, hoef jy nooit te worstel met vrae soos: Waarom ly onskuldige kinders aan ongeneeslike siektes en hoekom kry goeie mense swaar, nie.

Die Liefde sê net: Jy moet daar wees vir hulle. Die vrae agter die lyding, veroorsaak nie meer geloofskrisisse in jou lewe nie, want dit is hoe die lewe is. Sulke dinge gebeur. Dis deel van die pakket! Ons hoef dit nie te verstaan of te verklaar nie. Ons hoef mekaar net by te staan, te ondersteun en daar te wees vir mekaar terwyl ons op hierdie reis met al sy hindernisse en spoedwalle is.

Ons hoef ook nie bekommerd te wees oor die persoon wat ly of sterwend is se siel nie. Is hy gered of verlore? Gaan sy hemel toe of hel? Sonder kerk en godsdiens is mens ook geontmitologiseer en daarom ook vry van daardie mitiese bagasie. Ons het hierdie lewe en dit is genoeg. Dis al wat daar is en waarvan ons seker kan wees. En hierdie lewe is genoeg. Die betekenis van die lewe lê daarin dat ons dit ten volle moet leef. Sin lê dus in die leef van die lewe self.

Alles in ag genome en gemeet aan ons posisie in die groot heelal, is ons lewe eintlik so 'n klein spikkeltjie. Soms dink ons dat ons groot dinge nodig het om dit die moeite werd te maak. Dinge soos 'n ewige lewe in 'n paradys, groot suksesse, bomenslike ervarings, grootse filosofieë, of eeue-oue godsdienste wat sin aan ons bestaan kan gee, maar dis nie waar nie!

As ons eerlik wil wees, moet ons erken dat dit juis klein dingetjies is wat betekenis gee. Ons vind ons sin en ons ontdek die waarde van die lewe in onvergeetlike oomblikkies van geluk wat ons van tyd tot tyd ervaar. Om lekker te lag saam met iemand; om 'n goeie en diep gesprek met iemand te hê; 'n ete saam met mense wat vir jou spesiaal is met goeie kos en wyn; werkstevredenheid; 'n kaalvoet stap op die strand; om 'n verskil, al is dit ook hoe gering, in iemand se lewe te maak; om jou kinders gelukkig en tevrede te sien; om gesond te wees en goed te voel; om 'n goeie fliek, teaterstuk of musiek te kan ervaar; om 'n potjie kaart saam met iemand te speel, of 'n koue bier op 'n warm dag te kan drink...

Vir my is God in die detail! Nie in die groot godsdienstige waarhede en intensiewe dogmatiese konstrukte nie. God is in die detail van ons elke dagse bestaan.

En die sin vir ons bestaan vind ons in die feit dat ons elke dag net ons heel beste doen op alle vlakke waar ons leef en beweeg en dat ons met alles in ons vermoë die beswil van almal rondom ons sal probeer bevorder – met ander woorde dat ons die liefde sal leef.

Die lewe en die hele wêreld is ongelooflik ryk en die wêreld en die hele lewe is ongelooflik kompleks. So kompleks dat dit ons soms kan oorweldig. Dit maak dat ons soms onttrek en in ons veilige kokon wegkruip. Maar hierdie kokon verskraal ons lewe tot 'n werk-toe en huis-toe-gaan bestaan. 'n Veilige semi-bewuste bestaan. Ons onttrek na 'n lewe met vaste roetines, rituele en gewoontes. 'n Hok waarin ons veilig voel. Eet, slaap, werk, televisie kyk ... en so raak baie mense slaapwandelaars wat deur die lewe slomp en al die opwindende dinge misloop.

Die lewe is hard. Vol uitdagings. Nie altyd maklik nie. Baie hard vir baie mense!! Vol slaggate vir ander. Moeilik om jouself bloot te stel en te waag. Maar dit is hoe dit is. Ons hoef dit nie met bonatuurlike redes te probeer verklaar nie. Dis hoe die natuur werk. Maar die hartseer ding is dat mense wat in staat is om lief te hê en die veelvlakkigheid van die lewe te geniet en te waardeer, dit nie doen nie. Hulle maak hulle oë toe om hulleself te beskerm en bou dik mure om hulleself waarin hulle hul diepste binnestes wegsteek. Maar as jy jou oë en jou hart toemaak en sluit vir die wêreld om jou, loop jy so baie mis! Dan gaan soveel mooi en goeie oomblikke van die lewe by jou verby sonder dat jy dit ervaar.

Dis waarom ons maar die lewe moet vat soos wat dit kom. Kyk die uitdagings en jou probleme vol in die oë. Aanvaar die vrees, die hartseer, die teleurstelling, die pyn, want dit is onlosmaaklik deel van die lewe. Dis eerliker as om te probeer voorgee dat alles altyd goed gaan. Want die lewe is nie volmaak nie en met niemand gaan dit net altyd goed nie. Die lewe is lig en donker. Skadu en son!

As ons onsself probeer beskerm teen die seer en ongelukkigheid van die lewe, ervaar ons dalk minder pyn, maar dan maak ons onsself ook minder ontvanklik en meer toe vir al die goeie goed en vrolike oomblikke wat betekenis aan ons lewens kon gee. Die lewenspakket bestaan uit beide.

Soms raak ons bang en onttrek ons omdat ons dink dat ons alleen in hierdie bootjie is, maar liefde werk nie so nie. Ons is nooit alleen nie. Rondom ons is daar mense wat vir ons lief is, en al voel ons alleen, is daar darem altyd iemand wat in ons belangstel, na ons welstand verneem, aan ons dink, en in moeilike tye daar is vir ons. Die liefde laat ons in mekaar se oë kyk en dan sien ons ietsie van onsself daarin. Dan voel ons nie meer so alleen nie.

So, selfs sonder 'n kerk en sonder 'n godsdiens, beleef ons iets spiritueels. Ons kan dalk nie altyd met klinkklare antwoorde en mooi geformuleerde getuienisse rondloop nie, maar ons ervaar ten minste die lewe. En ons leef bewus! Ons harte word warm en ons weet: Die liefde is rêrig!! Dis my rigtingwyser en my godsdiens, my lewensfilosofie en my anker. My hoop en die grond vir my bestaan.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.