.

Leer om te sterf

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Maart 2018

.

Eendag gaan ons almal sterf. Al weet ons dit, spandeer ons ons tyd so asof ons vir ewig gaan lewe, want wie het tog nou die krag om oor jou uiteindelike lot te loop en tob. Om die dood in die oë te kyk, is tot 'n mate angswekkend, nie net omdat ons alles waarvoor en almal vir wie ons in hierdie wêreld lief is, moet prysgee nie; maar omdat ons gedwing word om ons vrees vir die onbekende te konfronteer. Francis Bacon het gesê ons is bang vir die dood soos wat kinders bang is om in die donker in te gaan.

In Tuesdays with Morrie sê Morrie vir Mitch: Ons almal weet dat ons gaan sterf, maar niemand glo dit nie. Want as ons dit geglo het, sou ons dinge anders gedoen het! En dan verduidelik Morrie vir Mitch wat hy bedoel. Hy sê: As ons geglo het dat ons eendag doodgaan, dan sou ons baie meer betrokke by elke dag gewees het. Dan sou ons geluister het na daardie klein voëltjie op jou skouer wat vra: Is vandag dalk jou laaste dag? Is jy gereed? Morrie sê: Maar meeste van ons loop soos slaapwandelaars. Ons ervaar nie regtig die lewe en elke oomblik nie, want ons is meeste van die tyd eintlik half aan die slaap. Ons doen dinge outomaties; ons is onbetrokke daarby; ons gaan deur die ritme van elke dag sonder om regtig te registreer wat ons doen en wat om ons gebeur, so asof ons daarvoor geprogrammeer is om deur ons dae te ploeter. En dan sê Morrie: Leer hoe om te sterf, dan sal jy weet hoe om te leef.

Maar die vraag is: Hoe leer mens om te sterf?

Die Joodse Talmud sê: Hy wat wil leef, kan eers leef as hy kan sterf. Op 'n ander plek in die Talmud sê Rabbi Elïezer 'n mens hoef net een dag voor jou dood tot bekering te kom. En dan vra een van sy dissipels vir hom: Maar hoe weet 'n mens wanneer jy gaan sterf, sodat jy dan kan weet op watter dag om tot bekering te kom. En toe antwoord die rabbi: Presies, daarom moet jy vandag jouself tot die lewe bekeer, want dalk sterf jy môre. Elke dag moet 'n dag vol klomp klein bekerings wees.

Wanneer moderne Judaïsme van bekering praat, moet ons dit nie vanuit 'n Christelike perspektief verstaan en dink dit beteken dat jy jou sonde moet bely en gereed moet maak om voor 'n oordeelstroon in die hemel te gaan staan nie.

In 'n midrash op hierdie Talmud teks verduidelik Rabbi Boruch Leff wat dit beteken om jou tot die lewe te bekeer. Hy sê: Die woord vir "onthou" in Hebreeus en die woord vir toemaak, (zachor en sagar) het dieselfde stam, wortel en oorsprong. Wanneer ons 'n gebeurtenis wat vir ons van waarde is, onthou, is dit omdat ons toe die gebeurtenis oorspronklik plaasgevind het, dit in ons geheue toegemaak en vasgesluit het omdat dit vir ons spesiaal was.

Dis soos die dag waarop jy getroud is, of waarop jou kind gebore is, of die dag toe iemand jou gevra het om die lewe met hom of haar te deel, of toe jy 'n kwalifikasie gekry het en jou professionele loopbaan vir jou begin het. Van sulke dae is daar nie net 'n foto in jou geheue nie. Dis asof daar van daardie spesiale oomblik 'n fliek gemaak is met 'n lens wat op die detail ingefokus het, en die hele fliek is in jou geheue vasgesluit. Want vir jare en jare daarna, kan jy steeds die detail met jou geestesoog sien en onthou.

En nou sê hy: die oomblik wanneer jy leer om meer oomblikke so intens te beleef en te ervaar, bekeer jy jou tot die lewe. Volgens Morrie is dit hoe mens leer om te sterf. Wanneer jy intens by oomblikke en gebeure betrokke is, omdat oomblikke en gebeurtenisse spesiaal en belangrik vir jou is; omdat jy die waarde en die flietendheid daarvan besef. Terwyl jy dan as sterfling lewensmomente waardeer en intens beleef, omdat jy nie weet wanneer dit dalk jou laaste geleentheid gaan wees nie, is jy eintlik besig om te leer, hoe om te leef.

Wanneer daar oor die dood in die boek Prediker gepraat word, staan daar op een plek dat die dag van 'n mens se dood eintlik beter is as die dag van jou geboorte. Ek weet nie of hy dit sommer net sinies bedoel nie, maar 'n hoofstuk verder sê die prediker: 'n mens moet te alle tye wit klere dra. En dan verduidelik 'n allegorie in die Talmud wat Prediker daarmee bedoel. Die verhaaltjie sê: 'n Koning het al sy onderdane na 'n groot fees toe uitgenooi maar hy het nie in die uitnodiging vir hulle gesê wanneer die fees gaan plaasvind nie. Die wyse onderdane het hulleself gaan aantrek en voorberei en hulle het by die poorte van die paleis gaan sit en wag vir die fees om te begin. Die dwases het hulle ou klere aangehou en normaal aangegaan met hulle dagtaak omdat hulle gedink het dat daar nog baie tyd is om gereed te maak vir die geleentheid. Toe skielik, maak die paleis se poorte oop en die koning vra sy onderdane om die fees te kom bywoon. Net diegene wat daar gereed gesit en wag het, kon gaan aansit en eet en drink en geniet. Die met hulle wit feesklere aan. Daarom: Dra altyd wit ... wees dus altyd gereed vir die fees.

Rabbi Boruch Leff sê die dood is 'n goeie ding in die opsig dat dit 'n beperking plaas op die hoeveelheid dae wat jy het om iets te doen. As ons onbeperkte tyd gehad het, sou niemand van ons dalk veel gedoen gekry het nie. Dit sou gevoel het asof ons nog baie tyd het, so niks sou ons gejaag het om 'n taak klaar te maak nie, maar die feit dat jy weet jou dae is getel, motiveer jou nogal om groot goed in 'n kort tydjie te probeer bereik. Dit help jou om met 'n dringendheid, intens en doelgerig te leef.

En dit is wat Mitch by Morrie ook geleer het. Toe Morrie besef dat hy terminaal is, sê hy vir sy vriende dat hulle hom nie met simpatie moet behandel nie, maar hulle moet aanhou om hom te besoek, te bel, hulle probleme te deel, soos wat hulle dit nog altyd gedoen het, want om te sterf, maak jou nie nou skielik nutteloos, uitgedien en nikswerd nie. Hy moes besluit of hy van die wêreld gaan onttrek en of hy aangaan. Hy het besluit om aan te gaan en hy het besluit om tot op die laaste dag met waardigheid, moed, humor en gelatenheid te leef. En hier naby die einde sê hy vir Mitch: Om te sterf is maar net een ding om oor hartseer te wees, maar om ongelukkig te leef, is iets totaal anders.

Morrie het besluit om intens, dringend en doelgerig te leef want die lewe self, sê hy, is eintlik 'n dodelike virus. Niemand weet wanneer kry dit jou beet nie. Om die meeste uit die lewe te kry, moet jy eintlik leef soos iemand wat besig is om te sterf, want die waarheid is: Ons is! Ons is almal besig om te sterf. Om te sterf is nie sinoniem met nutteloos en nikswerd wees nie. Dit maak juis dat gebeure vir jou dringend en intens raak, dat jy meer doelgerig raak, dat jy meer oomblikke so beleef dat dit as 'n gefokuste film in detail in jou herinneringe ingesluit en toegemaak word.

Amanda Strydom en Stef Bos sing 'n duet met die titel: My kamer, waarin hulle ook 'n interessante perspektief op oud word en sterf het. Die teks lees:

Ek het lankal immigreer na 'n kamer in my kop
Vandaar hou ek versigtig die wêreld om my dop
My kamer bied 'n skuilte as die storms buite woed
My kamer ken geheime, my kamer ken my goed
Beskut my teen 'n wêreld waar ek ongemaklik leef
Bevry my van bagasie en laat my rustig wees
Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan
My kamer het geen meubels, geen boek of skildery
Geen spinnerak of rommel om my aandag af te lei
My kamer het groot vensters, sonder luike of gordyn
Uitsig onbelemmerd, net die son wat helder skyn
Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan
Ons ken die komplot van die drama
Elke eeu word daar flink repeteer
Net die rolverdeling en dekor verander
Maar waar is die groot regisseur, waar is die groot regisseur
Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan

Morrie sê: Leef dringend, intens, doelgerig. Dis hoe mens leer om te sterf. En wanneer jy dit bemeester het, het jy ook geleer hoe om te leef.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.