Lê die Woord dalk aan die wortel...?

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Oktober 2010

Ek mag verkeerd wees, maar myns insiens is die kerk se belydenis oor die Bybel die wortel van die ganse probleem waarmee ons vandag op die godsdiens en geloofsterrein sit. Lees mens die debat wat op die oomblik weer aan die gang is in die koerant oor evolusie en die Piet Strausse van ons wêreld, kan mens nie anders as om 'n verkeerde lees van die Bybel agter dit raak te sien nie. Kyk 'n mens na die reaksies in briewekolomme oor elke stofwolkie wat opslae maak, sien 'n mens 'n bepaalde Skrifbeskouing en manier van omgaan met die Bybel agter die argument lê.

God het nooit vir enige mens gesê dat die Bybel (soos wat dit in een volume na Gutenberg uitgegee is) sy Woord is nie. God het nooit vir enige skrywer gesê om te gaan sit sodat Hy aan hulle kan dikteer wat sy wil is nie. Niemand het met 'n notaboekie agter God aangestap toe Hy by wyse van spreke: die hemel en die aarde geskape het nie, so niemand weet presies hoe dit gebeur het dat alles ontstaan het nie. Om die waarheid te sê: Selfs die God wat sulke dinge sou kon doen, en sou kon sê, is 'n beeld en skepping van die skrywers van die literatuur wat in die Bybel opgeneem is.

In die Duitse letterkunde het Goethe 'n bepaalde gesag. In Latyn het ons Horatius, Plinius, Vergilius... In die Engelse literatuur is dit Blake en Shakespeare. In Afrikaans is dit Opperman, Van Wyk Louw en Breyten. Met verloop van tyd ontstaan daar literatuur wat sigself onderskei van ander. Dit staan uit. Dit kry 'n bepaalde status en dit word as standaard werke getipeer. Dit kry 'n tipe kanonieke status. Die outeurs van daardie werk maak nie aanspraak op 'n bepaalde status vir hulle werk nie. Die lesers en die gemeenskap waarbinne daardie literatuur funksioneer, daar waar dit gelees en bestudeer word, het 'n bepaalde gesag en status daaraan toegeken.

Gesag is dus iets van buite wat aan bepaalde literatuur toegeken word deur die gebruikers van daardie werke. Maar dit is nie te sê dat mens nie ook iets anders mag lees, mag geniet en baat by mag vind nie.

Dieselfde tipe proses het ook met antieke literatuur gebeur. Mense het begin verhale vertel oor die lewe ... oor hoe hulle die goddelike verstaan, oor hoe hulle dink die goddelike by hulle betrokke is en oor hoe hulle die rol van die goddelike in hulle wêreld gesien het ... en hierdie verhale is later op skrif gestel. Die verhale het in omloop gekom en in sekere kringe is van die verhale meer gelees, gebruik en oorvertel as ander. Deur middel van 'n spontane proses het sekere verhale dus meer gewild in sekere gemeenskappe geraak en mettertyd het daardie verhale 'n bepaalde status in daardie gemeenskap gekry.

Mense het begin om dit as gesaghebbend, as standaardwerke te beskou en mense het begin om 'n gesag aan daardie werke toe te skryf.

Omdat meeste antieke tekste religieuse tekste is, het die gemeenskappe waarin daardie verhale funksioneer het, uit mekaar se verhale troos en inspirasie geput. Eeue na die ontstaan van die verhale het mense begin sê dat daardie verhale goddelike gesag in hulle gemeenskap het, want dit vertel die verhaal van die pad wat hulle voorouers met God geloop het. So het daar, omdat mense 'n bepaalde gesag aan die tekste toegeken het, 'n belydenis begin ontstaan dat die tekste 'n goddelike oorsprong het, in die sin dat dit goddelik geïnspireer is.

God het dit nooit gesê nie! Mense het daardie aanname gemaak en die gesag aan die teks toegeken.

Later van tyd het niemand dit meer bevraagteken of betwyfel nie. Almal het maar net aanvaar dat die tekste gesag het, 'n goddelik geïnspireerde oorsprong het en by wyse van afleiding en belydenis dan: God se Woord is.

Omdat jy dus bely dat dit God se Woord en daarom outomaties dan ook "die Waarheid" is, het dit 'n paradigma geword wat die grense getrek het vir mense se totale lewens- en wêreldbeskouing. Jy mag net vrae vra en net antwoorde gee wat binne daardie paradigma tuis is.

Maar genadiglik het die moderne wetenskap sigself nie laat bind en begrens deur daardie paradigma nie. Wetenskaplikes het die resultate van hulle ondersoek begin verdiskonteer in hulle lewens- en wêreldbeskouing en so het ons by 'n punt gekom waar ons die kanoniek aanvaarde geestelike bundel uit die eerste eeu ontmasker het vir wat dit werklik is, naamlik 'n antieke bundel mitologiese verhale wat vertel hoe 'n bepaalde groep mense op 'n bepaalde stadium in die geskiedenis oor die goddelike en oor die wêreld gedink het.

Baie mense is tans besig om die Bybel vir hulleself te dekanoniseer. Hulle maak hulleself los van die gesag en die houvas wat die tekste op hulle gehad het en hulle ervaar dit as 'n konkrete verlossing ... 'n tipiese Golgota en leë graf ervaring.

As 'n mens by daardie punt kom, sien jy inspirasie, hoop, bemoediging en die goddelike in soveel ander verhale en tekste raak. Elke boek wat jy lees, elke tydskrif wat jy deurblaai. Elke fliek, teaterstuk, toneel. Elke gesprek met 'n ander mens. Elke gebeurtenis in die lewe is amper 'n teks waarin jy iets oor die liefde, oor die lewe, oor medemenslikheid, oor al hierdie spirituele temas kan aflees. In dit en agter dit alles ervaar jy ook nog die nimmereindigende teenwoordigheid van dit wat jy as goddelik beskou.

So ontstaan daar weer vir jou nuwe tekste. Nuwe verhale en idees waaraan jy waarde heg, gesag toeken, wat belangrik word vir jou lewe. En so vervang een kanon 'n vorige kanon.

In die ritme van die tyd is dit 'n ewige proses. 'n Proses van kanoniseer en dekanoniseer. Van gesag verleen en van gesag stroop. Dis hoe die proses werk. As 'n mens dit verstaan, het jy begrip vir die fundamentaliste. Die teksie-mense en die beroeppers op die Woord van God. Hulle is nog vasgevang en midde in die paradigma. Daarom veroordeel hulle almal wat al aanbeweeg het want dit bedreig hulle stabiliteit en sekuriteit. Hulle word gekonfronteer met idees waarvoor hulle nog nie ryp is nie, want daar is nie plek daarvoor binne hulle paradigma nie.

Debatte, redenasies en argumente met die wat nog daar is, help eintlik nie! Ons praat by mekaar verby. Ons verstaan mekaar verkeerd want ons vertrek vanuit verskillende wegspringblokke. Die uitbeweeg uit een paradigma na die oorbeweeg in 'n volgende is insigself 'n evolusionêre proses. Dit neem tyd! As mense nie eers die basiese filosofie agter evolusie verstaan nie, hoe gaan hulle dan nog die paradigma-evolusie en die dekanoniseringsproses verstaan?

Die slotsom is dat ons moet ophou om mekaar in debatte te etiketteer. Kom ons skep maar net ruimte en hê begrip vir mekaar se waarhede. Die tyd kan nie ryp gedruk word nie.

Dr. Flip Schutte is 'n teoloog en skrywer. Sy nuuste boek is Diaspora van die nuwe Christene. Hy is ook die leraar van Sola Fide gemeente in Pretoria. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za