.

Land van die pannekoekmense

Deur Prof. Wilhelm Jordaan op 1 Desember 2013

.

Dit het 'n deug geword om nie te diep te dink nie en die prentjie oor die vlak van redenering in Suid-Afrika lyk bra donker. Wilhelm Jordaan reken die opvoedingstelsel verdien 'n diagnose van 'ernstig siek'.

Suid-Afrikaners het 'n "absolute onvermoë om te kan redeneer".

Dit is die mening van prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat en opvoedkundige. Hy't dit gesê na aanleiding van 'n golf onverdraagsaamheid oor sy onlangse Percy Baneshik-gedenklesing waarin hy die kwessie van onderrigtaal op skool beredeneer het.

Jansen se stelling is natuurlik 'n "absolute" veralgemening. Daar is steeds baie mense wat redelikheid hoog ag en knap kan redeneer; toegegee dat mense in die algemeen daarmee sukkel. Dít is egter nie 'n nuwe ding nie.

Eeue gelede al het die vermaarde redenaar en filosoof Sokrates (469-399 v.C.) geprotesteer teen die Sofiste van sy tyd – die skynredenaars met hul maklike gevolgtrekkings en emosiebelaaide openbare verbale salvo's.

Dié kontras tussen behendige redenering en bedenklike retoriek geld vandag nog – wêreldwyd en natuurlik ook in Suid-Afrika, waar ons eiesoortige politiek-kulturele problematiek die openbare debat slordig én onheilspellend gevaarlik laat skeefloop.

Duidelikheidshalwe: Om te redeneer is om die een of ander aanspraak of gevolgtrekking te maak op grond van gepaste feite en/of ander ondersteunende of stawende stellings.

Retoriek behels ook die maak van gevolgtrekkings, maar die ondersteuning berus op ontoepaslike feite (selfs doelbewuste valshede) en stellings; sterk gegeur deur emosie.

Die prototipe van dié verskil het ek onlangs by 'n kollega gehoor: Sy versoek 'n student om leeswerk te doen oor wat N. P. van Wyk Louw oor 'n bepaalde onderwerp gesê het. Die student laat weet baie gou per SMS: "Het gaan kyk. Van Wyk Louw sucks!"

Wat 'n verbysterende oppervlakkigheid! Dis 'n verdoemende gevolgtrekking sonder deeglike teksontleding ("het gaan kyk"); met geen stawende stellings en/of feite oor die redes daarvoor nie.

Die openbare debat in Suid-Afrika oor politiek, godsdiens, onderwys, kultuur en onder meer ras wemel van sulke voorbeelde.

Briewe en SMS'e in koerante; flentertjies aanlynkommentare en tekste op Twitter en Facebook; gesprekke in teekamers, kroeë, by etes en om vleisbraaivuurtjies vertel die treurige verhaal van vervlakkende redenering onder die diktatuur van nuwerwetse, dikwels beledigende sofisme.

Jansen skryf al dié dinge aan "swak opvoeding" toe. Die formele onderwysstelsel is inderdaad tekenend daarvan en verdien 'n diagnose van "ernstig siek".

SMS-grepies en flentertjies gedagtes

In't kort lyk dit of tegnologiese geletterdheid taalgeletterdheid verdryf – of die beproefde grammatika van sinsbou (as jy skryf) en sinsontleding (as jy lees) onbelangrik is.

Dit is of studente hul studiemateriaal en die lewe in die algemeen in SMS-grepies bedink – flentertjies gedagtes wat op die een of ander magiese manier vanself 'n samehangende geheel sal word.

Wat ondermyn word, is die universiteit se eeue oue tweeledige taak: Om jongmense te skool vir 'n werk én om hulle deur algemeen vormende waardes vir aktiewe deelname aan die lewe voor te berei.

Wat ontstel, is dat baie onderwysers en dosente nie eens in staat is om die "simptome" te begryp nie. Wat nog te sê reg te stel. Hulle is deel van die vervlakking.

Dit op sigself ondermyn die geesdrif en toewyding van die talle steeds bekwame, hardwerkende onderwysers en dosente.

Die "simptome" word bevorder deur ontoereikende opvoeding in ouerhuise.

In navorsing oor die Suid-Afrikaanse gesinslewe is bevind net 35% van die ouers wat ondervra is, praat meer as 20 minute per dag met hul kinders. Net 25% van die kinders sê hulle bestee betekenisvolle tyd saam met hul ouers.

Dit bevestig die afwesigheid van rolmodelle in die opvoeding tuis wat vererger word deur verbrokkelende gesinstrukture (egskeiding, enkelouers). TV, portuurgroepe en die sosiale aanlynmedia word die onkritiese "opvoeders" wat jou toelaat om jou menings, hoe ondeurdag ook, oor mense en dinge uit te strooi.

Want die bekkige demokrasie van die sosiale media is akkommoderend; gedra deur 'n feed me-mentaliteit soos dié van die bloedsuierplant in The Little Shop of Horrors.

Bowendien is die gemiddelde, moderne ouer klaar deel van dié "kultuur" en nie werklik toegerus om lewensvormende waardes by hul kinders te kweek nie. Juis nie die soort intellektuele waardes wat die vlak van redenering sou kon bevorder nie.

Die ware intellektueel

Só gesien, is die prentjie oor die vlak van redenering en opvoeding bra donker.

Wat staan ons te doen? Of is die gang van dinge onstuitbaar in die rigting van ondergang?

Daar is hoop. Kritiese opvoeders soos prof. Jansen pleit gereeld vir 'n grondige herontwerp van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

Miskien moet dit opnuut bedink word in die trant van 'n herontwerpte vennootskap tussen die staat, onderwysinstellings en ouers.

Met dié rigtinggewende vraag: Wat moet dié vennootskap ánders as nou doen om jongmense te help om nie net 'n bestaan te kan maak nie (beroepskoling), maar om ook sin uit die lewe te kan maak (lewensgereedheid)?

Daar bestaan reeds baie nuttige programme wat dinge soos lewensgeletterdheid, lees- en skryfvermoë en dink- en redeneervaardighede bevorder. Dit word egter selde met vakonderrig geïntegreer, byvoorbeeld in die taal- en "kultuur"- vakke.

Gevolglik word sulke vaardighede in isolasie geslyp sonder oordrag na die praktyk. Bowendien is die skoolvak Lewensoriëntering 'n powere poging om algemeen vormende waardes te vestig.

'n Nuwe vennootskap sal inderdaad baat vind by die herbevestiging van en skoling in intellektuele waardes soos die "oop gesprek". Dit sal ook help met verdraagsaamheid, billikheid, insig en eerlikheid oor jou eie vooroordele. En die bereidwilligheid om lewensdinge behoorlik te ontleed en te weeg; en om na te dink oor jou eie dink.

Sulke waardes is nie die besit van hooggeleerdes en ver gestudeerdes nie. Soos N. P. van Wyk Louw gereken het, is die "ware intellektueel" enige mens vir wie dit 'n lewensreël is om oor belangrike sake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met 'n bietjie meer selfkritiek te beskou.

Om 'n intellektueel te wees is om besit te word deur die hartstog om die "waarheid" van idees oor ons mensheid en manier van saamleef versigtig en moeisaam saam te stel uit baie soorte perspektiewe.

En om nie bang, suur of beledigend te word as jóú "waarheid" nie seëvier nie.

Waar sulke waardes belangrik geag en toegepas word, kan die openbare debat gans anders verloop.

Só diagnoseer jy 'n siek opvoedingstelsel

Hierdie bydrae het oorspronklik verskyn in Beeld, By. Wilhelm Jordaan is 'n rubriekskrywer en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy raak ná baie jare steeds aangedaan oor studente wat eg wil weet en verstaan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.