.

Laat die gelowiges nou maar bid as hulle dan wil...

Deur Bertus van Niekerk op 1 Desember 2015

.

Koerante en die radio berig byna weekliks daaroor: dit gaan 'n droë, wit seisoen wees. Op Facebook en in koffiewinkels praat vriende oor die versengende hitte in die noordelike provinsies. Wat sou mens daaraan kon doen? El Niño gaan na verwagting die grootste droogte in die somerreënvalstreke dusver tot gevolg hê en rekord maksimum temperature lyk na ons voorland op baie plekke wat reeds onuitstaanbaar ongemaklik is.

Maak jouself gereed vir kettinggebede op al wat medium is: radio, televisie, koerante, kerke, skole, Facebook, Twitter en Youtube. Jy gaan báie foto's sien waar massas mans in kakieklere in dorre streke smagtend na die waterbeke kniel terwyl Engelse omies Bybels swaai en die Here prys dat die spoeg so spat. En bekering gaan die ding wees wat nodig is om die weerpatroon om te draai. En ek voorspel dat baie kerke en byeenkomste gaan dreun op die aanhoor van Maleagi 3:10: "Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in My huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie." Jip, die beursies sal oopgaan en die Here sal gedank word vir sy Voorsienigheid. Maar hierdie jaar gaan enigiemand wat ploeg en plant, al is dit op oormaat geloof, sleg slaap en waarskynlik verliese ly.

Toe ek gisteraand 'n dominee (no names, no pack drill) se oproep tot inkeer na die Lewende God op Facebook eggo, het meeste van my vriende saamgestem dat dit minstens aan misleiding grens. Ek het immers in die afgelope byna agt jaar buite die kerk myself omring met mense wat meer soos ek dink as die konserwatiewe dampkring waaruit ek ontsnap het. Voor die voet, as iemand met geloofteksies dweep of foto's plak wat jubel in ons afhanklikheid van 'n verjaarde Midde-oosterse geloofskonstruk, word hulle van my vriendelys verwyder of minstens versteek (in die geval van naby familie wie se fotos van kinders en katte ek tog graag soms kyk). Mens kan tog minstens waaraan jy in jou privaatruimte blootgestel word, reguleer?

Maar tog, telkens is daar agnoste en selfs ateïste wat my vra of dit regtig nodig is om te reageer wanneer gelowiges kies om hulle te verootmoedig en op hulle knieë te val voor wat hulle verstaan die Skepper en Onderhouer van die Groot Heelal is. "As dit dan nou hulle help om sin te maak uit hulle lyding, laat hulle dan pleit voor die Genadetroon. Moenie hulle ook nog die laaste bietjie ontneem wat hulle as sekuriteit beskou nie," is die argument gewoonlik. "Wat maak dit tog skade?"

Dis die kruks van hoekom ek na deeglike oorweging telkens my mond oopmaak.

Ons weet die aarde staan nie op pilare nie en draai om sy eie as terwyl hy om die son wentel. Ons besef die aarde kan nie stil staan soos in Josua 10:12 nie, want wat sal hom dan weer in beweging bring? Hoeveel te meer dat tyd nie kan terugdraai soos in 2 Konings 20:10 nie. Ons verstaan dat een lyk nie kan lewend raak as dit toevallig teen 'n ander lyk skuur nie soos in 2 Konings 13:21. Nie een van ons gaan vandag aanvoer dat ons 150 vals profete se kele moet afsny op die Magaliesberg soos Elia in 1 Konings 18:21 gedoen het voordat God dit laat reën het nie. Ons lees gewoon die Bybel nie meer so nie. Maandag tot Saterdag verstaan ons wat weerpatrone veroorsaak en ons weet dat geen Bonatuurlike Wese dit bestuur of verander nie. Inteendeel, ons besef toenemend dat ons sélf aandadig is aan ekstreme klimaatsverandering.

Ek maak my mond oop omdat ons almal weet ons leef in 'n land met meestal marginale grond vir landbou. Jy wéét as jy mielies plant in 'n El Niño-jaar dat jou kanse op 'n misoes baie goed is. Dan moet jy ander planne maak, nie bid wanneer die blare begin krul nie. Jy wéét jy moet diversifiseer of slinkser werk wanneer jy iets het, sodat jy kan oorleef wanneer daar niks is nie. Ek onthou klokhelder in die mid-80's Giel de Beer se stem in Filosofie 3: "Die mens is die enigste wese wat sy omgewing by sy behoefte kan aanpas." Nou maar hoekom dan daardie unieke eienskap prysgee en slagoffer speel, selfs van 'n God wat jou toets (teister?) voordat Hy in elk geval niks aan die droogte doen nie?

Laaste opmerking, as ek Sartre mag parafraseer: die mens is die enigste wese vir wie die moontlikheid van vryheid en keuse bestaan, maar terselfdertyd is hy gedóém daartoe. Jy kan kiés om nou te verstaan dat dit gaan droog bly tot herfs en dan planne maak om die moeilike seisoen te oorleef. Of jy kan die natuurwetenskaplike kennis tot jou beskikking ignoreer en midsomer in massas na sportstadions opruk of kerke vol sit in Februarie om te pleit dat die geïsoleerde donderstorms jou plaas raak val, en van jou laaste bietjie spaargeld in die vorm van R200-note met die draers van die "boodskap" deel. Dis jou keuse.

Aan die verkondiger van die tyding dat God droogtes kan breek en El Niño kan laat verdwyn as elkeen net opreg berou toon vir sy sondes: skaam jou. Gaan lees weer jou klasnotas van Ou Testament 510 en stof jou goeie, duur kommentare op jou boekrak af. Jý kan op jou beurt weer kies om eerder jou genuanseerde teologiese insig te gebruik om die Bybel beter binne konteks te laat tuiskom as om kerke vol desperate leke met valse hoop op uitkoms te mislei.

Bertus van Niekerk kan gekontak word by

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.