.

Die kwessie van goed en kwaad – Deel 2

Deur Willie Booyens op 1 April 2016

.

Menswees beteken onder andere die kapasiteit tot onwenslike kwadelike optrede wat mees algemeen lyding tot gevolg het. Sodanige kapasiteit het spanning tot gevolg by die deel (individu) en die geheel (mensdom). Die strikvraag is dan of die mensdom gedoem is, vir altyd, om te ly weens hierdie spesie se kondisie naamlik die vermoë tot goed en kwaad. Verskeie voorstelle bestaan om hierdie kwaal van die mensdom teen te werk sodat groter heil bewerkstellig kan word. Dit wissel van die bereiking van verligting / "enlightenment," bekering, die bereiking van eenheid met God, die beoefening van filantropie (totdat dit selfs verarming bewerkstellig van die filantroop), die verkryging van wysheid om die status van "volkome mens" te bereik, vrede te maak met kwaad, die ego te omvorm en mees algemeen: bestraffing deur sosiale stelsel en regstelsel.

In Maart 2016 se artikels raak Abel in die artikel "Om in die donker te skyn" aan die onderwerp. Meer spesifiek voer hy aan dat aanvaarding 'n oplossing bied vir die konundrum van sekere kwale wat die mens en die mensdom teister. Ek haal lukraak aan:

"Aanvaarding van dit wat gebeur het, dit wat voor jou besig is om te ontvou, is die eerste stap in die rigting van liefde. Die grond vir kragtige verandering en transformasie innerlik sowel as uiterlik.

"Boeddha wys dan ook uit, dat die alternatief vir aanvaarding, is die begeerte dat dinge anders moet wees, en dit, is die grootste bron van lyding sê hy.

"Aanvaarding is om te kies om saam met dit wat is te vloei, eerder as om dit teen te staan, te probeer beveg, verander of te beheer. Aanvaarding van wat is, is dus ten eerste om wakker te word vir die werklikheid. Dit wat is. Ongeag goed of sleg. Net wakker, net bewus."

Maar ten spyte van die helende effek van aanvaarding staan en bly die mensdom steeds gebuk onder die destruktiewe gevolge van kwaad synde van die deel (mens) of die kollektief (mensdom). Aanvaarding is soms maar net 'n pleister ter behandeling van die kwadelike verwonding vanuit onaanvaarbare gedrag of owerheidsbestuur.

Die bioloog van Australië, Jeremy Griffith, in sy boek Freedom: The End of The Human Condition, betoog spesifiek oor menswees se kapasiteit tot kwaad. Daarin teoretiseer hy onder andere oor die feit dat die mens die buitengewone kapasiteit besit om beide goed EN kwaad te beoefen en beklemtoon dit, die sg. "Human Condition." (Sien ook Die kwessie van Goed en Kwaad – Maart 2016.) Tweedens bied hy oplossings aan anders as aanvaarding, om die mens en die mensdom te help om ontslae te raak van hierdie destruktiewe kapasiteit in poging om 'n heilsame bestel te skep.

Griffith het sterk teenkanting ervaar van die "establishment" in Australië in sy pogings om sy siening te propageer. E.O. Wilson in sy boek The Social Conquest of Earth minag die belangrikheid van die "Human Condition" en beskryf dit, die mens se dualistiese natuur, as niks meer as die stryd van selfsugtige instinkte (kwaad) se konflik met die onselfsugtige instinkte (goed) binne die wese van die mens.

Daarenteen, anders as Wilson, betoog Griffith vir die aanvaarding / erkenning van die, vir Griffith, hoeksteen-waarheid dat instink versus intellek die fondasie is van die verklaring oor die mens se kapasiteit tot goed EN kwaad. Maar daar is 'n kinkel in die kabel. Volgens Griffith is instink NIE die skurk nie. Dit is wat die mens se intellek aan die mens-spesie gee wat te blameer is.

Agtergrond

Die konvensionele siening is dat daar geen rigting of doel of betekenis in bestaan/"existence" is nie, en dat verandering (in die materiële bestel) lukraak is. Daarenteen egter, voer Griffith aan, is daar 'n voor die hand liggende patroon in die natuur van die bestaan van orde en vorming van kompleksiteit in materie in groter en stabieler entiteite. Daarom voer hy aan daar tog 'n antwoord is op die groot vraag: Wat is die betekenis van lewe? Sy antwoord is binne sy skepping, die filosofie van "Integrative Meaning."

Griffith beskryf dit as 'n Negatief entropiese gedrewe bestel waar die skep en opbou van orde plaasvind ten spyte van die natuurwet wat stel dat die skepping stadig maar seker in wanorde/hoë entropie verval. Die nie-wetenskaplike beskrywing is: onvoorwaardelike onbaatsugtige onselfsugtige gedragspatroon ter wille van die groter geheel. (Iets wat vergelyk kan word met wat in mierkolonies plaasvind).

Griffith put uit talle historiese figure se werke, o.a. antieke filosowe soos Plato se The Republic, geskrifte van die Christendom, Islam, Boeddhisme en nader aan ons, Jan Smuts se Evolution and Holism, Alan Paton se Cry the Beloved Country, Sir Laurens van der Post se geskrifte, Eugène Marais se Siel van die Mier en natuurlik talle ander mense.

Dit laat Griffith verklaar: "HOWEVER, until we could explain our seemingly imperfect human condition, explain why humans appear to have been living in defiance of 'Integrative Meaning', namely in a divisive competitive and selfish way, such a truth could not be faced. BUT, as seen in the previous chapter, since we CAN now at last explain the good reason why we humans have been divisively rather than integratively behaved, we CAN finally admit the truth of Integrative Meaning and acknowledge that there is a direction or purpose to existence. And furthermore, since our concept of 'God' is actually the personification of the unbearably condemning truth of Integrative Meaning, through admitting this truth humans can also demystify 'God' and, by so doing, change from being a 'God'-fearing species to a 'God'-confronting one. Yes, the instinct vs intellect explanation of the human condition makes sense of and reconciles all the unresolved manifestations of the polarities of the human situation – 'good' vs 'evil', idealism or 'God' vs human's non-ideal existence, religion vs science, holism vs mechanism, altruism vs egotism, communism vs capitalism, conscience vs conscious, and so on – thus ameliorating or healing, and finally ending, the psychologically upset, divisive way we have been living!"

Waar het alles begin?

Griffith voer aan dat alles terug gevoer kan word na die evolusionêre gebeurtenis toe die mens die status van volle bewussyn verkry het in 'n evolusionêre sprong in sy ontwikkeling.

Die verkryging van die vlak van 'volle' menslike bewussyn het konsekwensies gehad vir die mens-spesie. Waar sy evolusionêre voorganger onder die beheer van instinkte, deur sy genetiese bestel gestaan het, en onskuldig was in sy optrede, het die gevorderde mens-spesie nou ook 'n intellek ontwikkel wat egter ook gedragbeheer uitoefen. Die mens-spesie is nou gedwing om besluite neem wat getemper word deur sy instinkte, sy vermoë van geheue, sy vermoë om oor die gevolge van sy besluit te dink, en alles wat saamgaan met sy bewussyn. Onskuldigheid moes plekmaak want die mens het nou 'n ego ontwikkel.

Die mens-spesie het dus sy onskuldigheid verloor met die verkryging van die hoë vlak van bewussyn. Met sy intellek kan die mens tussen goed en kwaad onderskei deurdat mens ervaring en wysheid opbou. Daarom, betoog Griffith, is die kwessie van kwaad 'n saak van biologie. 'n Biologiese verklaring kan meebring dat 'n kuur gevind word vir die mens se selfsugtige, verdelende kondisie, aldus Griffith.

Die kuur

Vervolgens skryf Griffith, kan kennis en insig die mensdom help om vordering te maak in die soeke na 'n kuur vir die "Human Condition." Hy kom tot die slotsom dat dit eerstens nodig is om te verstaan (d.w.s. kennis opbou) hoekom die mens goed en kwaad geneigd is, om te besef dat opvoeding 'n belangrike rol speel in die onderdrukking van geneigdheid tot kwaad, om die filosofie van wat hy bestempel as "integrerende oriëntering" / onvoorwaardelike onselfsugtige gedrag as lewenswyse uit te leef.

Talle religieë bou om die konsep van omgee uitgedruk in liefde. Griffith haal aan uit Koll 3:14, 'And over all these virtues put on love, which binds them all together in perfect unity.' En dit, skryf Griffith, som beduidend liefde se effek in sy konsep van integrerende oriëntering op.

Uiteindelik, betoog Griffith, ontmasker die konsep van "Integrative Meaning" die misterieuse God en word God opgeneem daarin. Uiteindelik moet die mens ook tot besef kom dat sy vrees vir God eintlik maar net vrees is vir homself, aldus Griffith.

Verder stel Griffith dat die mens geseënd is met talle gene wat, met huidige kennis, bleik geen belangrike bydrae maak tot die funksie van die mens se liggaam nie. Griffith teoretiseer dat gene, wat 'n groot rol kan speel in gunstige gedrag, gestimuleer kan word tot ontwaking. Daardeur kan ander gene, wat ongunstige gedrag aanhelp, onderdruk en/of geneutraliseer word.

Griffith skryf dat die kuur begin by opvoeding van die kind. Die tipe opvoeding wat hy bedoel beklemtoon die aspek van koestering/"nurturing." Dit eindig nie daar nie. Wanneer mense mekaar koester ontwaak gedrag wat as gunstig beskryf kan word.

Met die nodige biologiese kennis ter verklaring, word die proses van volwassewording gelei (opvoeding) tot 'n aanvaarbare lewenswyse d.w.s. 'n lewenswyse wat die klem plaas op die opbou van die samelewing en die planeet aarde in plaas van die van kortsigtige selfvernietiging. Die proses kan bestempel word as meer as net transformasie van die mens en die mensdom, dit is inderdaad transfigurasie van die mensdom. Griffith erken die uitdaging en stel dat dit geslagte sal duur om vordering te maak. (Opmerking: Of daar genoeg tyd is, is 'n ander saak. Vordering word glo bewys in sy groep van aanhangers in Australië.)

Die albatros om die mensdom se nek

Die verstaan van die rol wat intellek speel, verlos die mensdom van die las van onwaardigheid.

Griffith kom tot die siening dat dit tyd is om te erken dat die mens, met sy vlak van bewussyn, die wonderkind en held is in die storie van die evolusionêre bestel en nie die onwaardige entiteit soos wat die sondeval in die tuin van Eden impliseer nie. Die mens-spesie is die kroon juweel van 'n evolusionêre materiële bestel. Materie het 'n vlak van bewussyn verkry en met gepaardgaande keusevryheid en die vermoë om dit wat mooi en goed is te bou en te koester of om dit op te voeter. En, verklaar Griffith, dit is 'n biologies-wetenskaplik verantwoordbare siening. Dit in ag geneem en ten spyte van die mens se tekortkoming, bewys dit die mens se liefbaarheid.

Opmerkings

Griffith verkondig 'n lewens- en wêreldbeskouing vry van geloof en dogma, dus nie 'n godsdiens nie. Tog betoog hy vir 'n geloof in die bedoeling van die mens se bestaan en wel om die stadige verloop tot wanorde om te keer waar die mens hom ook al bevind. Ook spreek hy nie die moeilike argumente van naturalisme en super-naturalisme aan nie en daarom is sy siening ietwat eensydig.

Griffith slaag daarin om 'n paar pleisters te verwyder en die bedsere van die mens-spesie te ontbloot. Hiermee poog hy om die moderne mens wakker te skud uit sy posisie van fatalisme, aanvaarding van sy lot/ 'dit is soos dit is' tot 'n posisie van konfrontasie van die bestel in 'n strewe na verbetering, na die volledige mens en mensdom, na 'n hemel op aarde, Eden, Utopia, Paradys, Shangri-La of enige term van filosofieë en godsdienste van sodanige bedeling. Die bereiking daarvan, al is dit eers oor geslagte heen, is dan volgens Griffith uiteindelik werklike "Vryheid."

Miskien is Griffith oor-optimisties in sy siening dat die konsep van "Integrative Meaning" die misterieuse God verklaar en oorbodig maak. Te veel misterieuse aspekte, wat hy ignoreer, bestaan steeds onbeantwoord.

Griffith stel 'n kuur voor vir 'n melankoliese mensdom wat 'n trappie verder gaan as die van tradisionele betoë. Nie net word die individu betrek nie maar ook die sisteem, die groter deel en uiteindelik die geheel, die organisme met 'n begin maar met die potensiaal van eindloosheid. Tog skiet hy tekort om globale sosiale strukture, wat regering insluit, en selfs 'n wêreldregering, te betrek in 'n plan om 'n beter, heilsamer bedeling te vestig.

Griffith se boek is interessant. Hy stel nuwe perspektiewe en daag mens uit om jou verskille met hom, te regverdig.

Een van die uitdagings aan die leser is die saak van die aard van die mens-spesie. Die uitdaging bestaan daarin dat 'n mens 'n keuse moet maak tussen twee pole. Is die mens in sy wese iets getipeer as "goddelikheid" ten spyte van sy rehabiliteerbare streep van kwadelikheid OF is die mens maar net 'n gevorderde maar selfsugtige "dierlike" wese waar geen salf aan te smeer is nie? In eersgenoemde keuse, glo mens, bestaan die potensiaal dat die mensdom kan transformeer en hopelik transfigureer, aldus Griffith. In laasgenoemde geval is die siening dan dat die toekoms van die planeet aarde uiteindelik gedoem is weens die mens se aandeel.

Ten laaste was dit interessant, vir my altans, om Griffith se idee van koestering te koppel met die nuwigheid in minstens die VSA van werkklasse waar mense geleer word om te koester.

Willie Booyens –

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.